Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

Ditch mediocrity deur Heléne Smuts, ’n resensie

$
0
0

Titel: Ditch mediocrity
Skrywer: Heléne Smuts
ISBN: 9780620938242

Voorlopers is nie middelmatig nie

Vir sakeleier en konsultant, Heléne Smuts, is uitdagings geleenthede om ’n transformasiereis aan te pak en middelmatigheid in uitnemendheid te omskep.

Met haar debuutboek Ditch mediocrity nooi Smuts die leser uit om los te breek van gemaksones en vrese te konfronteer. Sy inspireer die leser om ’n voorloper te wees in die onseker tye. Ditch mediocrity is nie net ’n persoonlike manifes van Smuts se eie reis nie, maar ook ’n oproep tot aksie.

Veerkragtig en ’n doelgerigte beweging vorentoe

’n Entrepreneursgees word gekoppel aan veerkragtigheid, aanpasbaarheid en innovasie. Om ’n ongelooflike span met tonne energie te lei is moontlik, sê skrywer Heléne Smuts en in Ditch mediocrity gee sy insigte oor verskeie leierskap- en spanontwikkelingsinstrumente wat gemik is op leiers wat daarna streef om hoë presterende spanne te ontwikkelDit kom met bruikbare wenke om jou van die wegspringblok af en in die baan van hoë werkverrigting te kry.

Smuts is die stigter van Credo Growth en is onlangs as Growth Consultancy-besigheidsleier 2024 in Suid-Afrika gekroon. Smuts se reis is ’n bewys dat volharding en selfherontdekking ’n doelgerigte beweging vorentoe is.

“Veerkragtigheid gaan nie daaroor om terug te bons nie, maar om doelgerig vorentoe te spring,” sê die skrywer. Hierdie sentrale filosofie onderlê haar eie reis en die insigte wat sy in haar boek bied.

’n Gereedskapstel om te ontdek

Hierdie besigheidsvrou en ma van ’n negejarige tweeling het haarself nooit as ’n skrywer gesien nie. Sy het egter besef dat hierdie wenke ander mense kan help nadat haar mentor haar aangemoedig het om haar kennis te deel deur “’n kursus aanmekaar te sit of ’n boek te skryf”.

“Toe aanvaar ek die uitdaging en skryf ’n boek,” vertel Smuts. Met fyn beplanning moes sy die boek so saamstel dat die wenke toegepas kan word sonder die hulp van ’n fasiliteerder.

Haar loopbaan strek oor meer as 15 jaar en vermeng haar kundigheid in bedryfsielkunde met haar passie vir leierskap en spandinamika. As fasiliteerder werk Smuts met globale, uiteenlopende besighede, van nywerhede tot die reis- en vervaardigingindustrie, maar sy fokus konsekwent daarop om hoëpresterende spanne te kweek en potensiaal in individue te ontsluit.

Haar boek is nie bloot ’n gids nie – dit is ’n motiverende stel gereedskap, gevul met praktiese strategieë, gedragsinsigte en werklike stories uit die oogpunt van leiers en spanlede. So help dit lesers om areas van selfvoldaanheid in hul professionele en persoonlike lewens te identifiseer. Verder rus dit hulle toe om verandering aan te wakker. Die skrywer gebruik gevallestudies en persoonlike ervarings om die leser te lei en verras ons met interessante, soms vurige en op-die-man-af, soms pittige aantekeninge om haar punt duidelik te stel. Hierdie notas maak dit persoonlik, asof jy vir dié ervare spesialis as fasiliteerder by jou het terwyl sy jou en jou span met soveel moontlik inligting en wenke toerus.

“Dit is my cheeky gedagtes,” skerts Smuts.

Inspirasie vir entrepreneurs

“Entrepreneurskap is ’n dinamiese proses. Dit gaan oor die erkenning van geleenthede in die aangesig van teëspoed en die verbintenis tot groei, selfs wanneer dit ongemaklik voel,” sê Smuts.

Ditch mediocrity is propvol wenke en die skrywer bied waardevolle lesse vir entrepreneurs, leiers en spanlede in alle stadiums van hul reise aan. Sy praat oor imposter syndrome en verduidelik dat dit meer algemeen is as wat ons besef.

“Dit is wanneer jou selfvertroue val en jy in jouself twyfel, en dit is regtig nie ’n lekker gevoel nie.” Smuts verduidelik verder dat selfs leiers in uitvoerende posisies hiermee kan sukkel. “Dit is ’n aftakelende gevoel en dit stop mense om uit hulle gemaksone te beweeg. Dit is belangrik dat elkeen van ons onsself moet waardig ag en nie moet neerkyk op ons eie pogings nie.”

Modules en voorbeelde

Ditch mediocrity is ’n handleiding met modules verskuil in hoofstukke. Selfs vir die ontspanningsleser is dit maklik om te lees en ervaar jy verskeie openbarende oomblikke. Die leser kan hom- of haarself maklik tussen die bladsye herken.

“Die boek het maar organies gegroei,” vertel Smuts oor die styl van die boek. Sy vertel dat sy begin het deur net teorie neer te pen maar gou besef het daar is voorbeelde ook nodig, vandaar het sy besef dit moet prakties wees sodat die leser dit kan toepas.

Al gebruik die skrywer feitlike voorbeelde van kliënte waarmee sy gewerk het, is dit nie ’n akademiese boek nie. “Elke scenario in die boek het regtig gebeur in die onderskeie industrieë. Dit is ongelooflik om te sien waar hulle was en nou is.”

Die leier se rol

“Jy as ’n leier moet ’n voorbeeld stel, die probleem en toksiese areas identifiseer en jy moet die tough gesprekke kan hê,” verduidelik Smuts wanneer sy praat oor wanneer ’n toppresteerder in konfrontasie is met sy of haar kollegas is, of ander mense nie goed behandel nie. Sy sê ook dat daar ’n fyn lyn is en “net so kan iemand oorsensitief wees”. Dit is belangrik dat elkeen in die maatskappy terugvoer moet kan gee en ontvang.

“Die kultuur tussen die spanlede moet goed wees en enige een in die maatskappy moet mekaar kan uitdaag ten goede van die maatskappy.”

Heléne Smuts (foto verskaf)

Smuts raak ’n sterk punt aan wanneer sy sê: “What is displayed is replayed.”

Daarmee plaas sy die klem op die leier se eie verantwoordelikheid wanneer ’n span swak presteer en maan leiers om ook hulle eie houding onder oë te neem en aan die span bewys dat jy as leier jou span wil ophef.

Vir die moedelose leier het sy ook raad. “Dit gaan inspanning en energie vat, maar jou span is nie verlore nie. Kyk na jou eie gemoed en die voorbeeld wat jy daar stel ook.”

Min wil nie leer nie

Is almal in staat tot meer? Hierop antwoord Smuts vinnig: “Daar is mense wat nie wil leer nie, maar daar is nie baie van hulle nie.”

Sy verduidelik dat elkeen in die span aan boord moet wees om die reis van middelmatigheid na topprestasie mee te maak.

Soms is dit nodig vir ’n fasiliteerder om in te spring wanneer spanne nie goed oor die weg kom nie, maar sy moedig lesers aan om die boek hoofstuk vir hoofstuk met sy of haar span deur te gaan en te implementeer.

 “Dit is ’n riglyn wat jy kan toepas en jy kan jou span daardeur lei.”

Sy noem verder dat selfs hoërskoolkinders en studente die boek lees en baat vind daarby.

Bemagtiging om te presteer

Smuts se boek inspireer entrepreneurs, leiers en individue om aan middelmatigheid te ontsnap en lewens en besighede te skep wat werklik presteer en vooruitgaan en sê dat “die sleutel tot blywende sukses lê daarin om mense te bemagtig om verandering te omhels, met egtheid te lei en vreugde in die reis te vind”.

Op die vraag of ons ’n vertaling na Afrikaans kan verwag, het Smuts erken dat, alhoewel baie van haar kliënte net met Afrikaanse fasiliteerders werk, sy nog nie aan ’n Afrikaanse vertaling gedink het nie, maar voeg by dat sy wel nou met die idee sal speel.

Lei sonder ’n titel

Enige leser kan baat vind met die lees van Ditch mediocrity. Smuts sê dat ons in ons alledaagse lewens ook leiding neem. Nie net as ouers en vriende lei ons deur ’n voorbeeld te stel nie, maar ook op die manier waarop ons teenoor vreemdes optree en met hulle praat.

“Jy lei elke dag sonder ’n titel. Jou gedrag beïnvloed ander mense.”

Familie eerste

Dié skrywer het ’n avontuurlustige adrenalienbelaaide liefde vir die natuur. Sy duik, hou van rotsklim en kamp graag.

As fasiliteerder spandeer Smuts baie tyd met ander mense en maak dit duidelik dat ons nie so besig moet wees met spanne en om ander te lei, dat ons eie mense aan die kortste end trek nie. Sy tree ook as profileerder op en haar eie profilering het getoon dat sy eintlik ’n familiemens is.

Sy is doodgelukkig op hulle familieplaas in die Overberg en sê: “Ek hou van mense en hoe mense optree, maar ek is tog ook ’n familievaste mens.”

Ditch mediocrity is aanlyn en by sommige boekwinkels beskikbaar.

The post Ditch mediocrity deur Heléne Smuts, ’n resensie first appeared on LitNet.

The post <i>Ditch mediocrity</i> deur Heléne Smuts, ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

Trending Articles



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>