Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

In reaksie op Sakkie Spangenberg se boek: Wat die Waarheid is

$
0
0

“Radical simply means ‘grasping things at the root’.” – Angela Davis

In sy lesersindruk van Spangenberg se Die Bybel, Die Christelike godsdiens en die waarheid vra Koos Kombuis as ons dan weet wat die waarheid nie is nie, wat is dit dan? Ek het in my vorige twee artikels probeer demonstreer dat Spangenberg verkeerd is oor wat die waarheid nie is nie, maar dit sal nie deug om daar te stop nie, want selfs al sou ons weet wat die waarheid nie is nie, bly Koos se vraag steeds onbeantwoord. Hiermee dan die laaste in ’n trilogie van reaksies op Spangenberg se boek.

Destyds, in 2003 tydens die God-debat op LitNet, het Spangenberg geskryf: “Slaag mens [...] om afstand te doen van die meesterverhaal, is daar niks minder as musiek in hierdie tekste nie.” Ek het die musiek van die hand gewys, want as hy reg is en die teks waarvan hy praat gestalte gegee het aan die grootste klug in die geskiedenis van die mensdom, is daar geen plek vir musiek daarin nie. Die teks is óf ’n rumoer uit die hel self óf dit is die temamusiek van die mooiste verhaal ooit. Jesus was óf ’n bedrieër van die laagste orde óf hy was wie hy gesê het hy is. Daar is geen middelgrond nie.

Nou, in die slothoofstuk van Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid skryf Spangenberg dat die pragtige katedrale en kerke nie saam met die sterwende Christendom na die ashoop gekarwei hoef te word nie, want hulle het darem kultuurwaarde. Weer eens, nee dankie. As die kerk, soos beskryf in die Nuwe Testament, ’n lewende organisme is, is sy nie hierdie lewelose, mensgemaakte strukture nie en sal dit dalk beter wees as hulle wel na die ashoop gekarwei word, want hul blote bestaan skep verwarring oor wat die kerk werklik is, die meeste van almal by Christene self.

........
Ek stem wel met Spangenberg saam dat daar fout is met die kerk, maar nie met wat dit is nie. Die probleem lê nie by die Christelike leerstellings of by die meesterverhaal nie, maar by die kerk self.
........

Ek stem wel met Spangenberg saam dat daar fout is met die kerk, maar nie met wat dit is nie. Die probleem lê nie by die Christelike leerstellings of by die meesterverhaal nie, maar by die kerk self.

Dis ’n drastiese stelling, maar laat my asseblief toe om te verduidelik.

Die kerk in krisis

“Om jouself te ken is die begin van alle wysheid.” – Aristoteles

Volgens Jim Davis en Michael Graham, skrywers van The Great Dechurching, het meer as 40 miljoen mense in Amerika alleen die kerk in die afgelope 25 jaar verlaat. Die boek is geskryf vanuit ’n evangeliese perspektief, maar dit bevat statistieke oor denominasies heen. Mense loop weg van basies elke vertakking van die Christendom; ook Pinkster- en sogenaamde mega-kerke toon ’n afname in lidmaattal. Die skrywers benadruk dit egter dat baie van die mense wat opgehou het om kerk by te woon, nie evangeliste is nie. Trouens, baie identifiseer steeds as Christene met perfek-ortodokse Christelike oortuigings. Hulle gaan net nie kerk toe nie.

Introspeksie skop gewoonlik eers in wanneer ’n kerk ’n krisis in die gesig staar, gewoonlik in die vorm van ’n kwynende lidmaattal en die gevolglike finansiële probleme. Hierop volg daar dan krisisbeheer en word daar “kreatief” gedink aan oplossings. Dalk word kerkprogramme aangepas om ’n veranderende wêreld meer doeltreffend te bereik. Dalk word daar met ’n ander kerk saamgesmelt om hulpbronne te kombineer. Dalk is daar uitreikprogramme, fondsinsamelings, beslis ’n kerkbasaar. Geen menslike poging sal egter die verdiepende krisis kan afweer as die kerk self nie die werklike rede vir haar krisis verstaan nie.

.......
Maar wat as die kerk self nie meer verstaan waaroor kerk gaan nie? Wat as die werklike krisis van die kerk nie net te vinde is in eksterne omstandighede en invloede nie, maar primêr in haar eie identiteitskrisis?
.......

Dit kan sekerlik geredeneer word dat baie moderne Christene aan oordrewe individualisme ly, aandag-afleibaar is in ’n digitale era, respek vir gesag verloor het en gewoon nie meer verstaan waaroor kerk gaan nie. Maar wat as die kerk self nie meer verstaan waaroor kerk gaan nie? Wat as die werklike krisis van die kerk nie net te vinde is in eksterne omstandighede en invloede nie, maar primêr in haar eie identiteitskrisis?

 Die ware krisis

Ecclesia reformata, semper reformanda! ’n Hervormde kerk moet altyd hervorm. (Oorsprong: Jodocus van Lodenstein, 1674)

Die 20ste eeu het op ’n baie optimistiese noot begin. Nuwe wetenskap, tegnologie, industrieë, medisyne en dies meer het die toekoms rooskleurig laat lyk. Sedert 1910 het die stemming egter aansienlik verander met oorloë, natuurrampe, armoede, ekonomiese resessies en die misbruik van tegnologie. Die opkoms en rampspoedige gevolge van ideologieë soos fascisme, nazisme, kommunisme, kapitalisme en neoliberalisme het blywende letsels gelaat.

In ’n poging om ’n mate van invloed en mag te behou, het die kerk dikwels verkeerde antwoorde gegee, haar aan die verkeerde kant geskaar en selfs teologiese en etiese regverdiging aan onreg en geweld verskaf. Baie Christene was ontnugter deur die kerk se gebrek aan integriteit en klaarblyklike diensbaarheid aan politieke agendas. Die bruid van Christus het oënskynlik die diensmeisie van allerlei wêreldse agendas geword. Al was daar sedert haar ontstaan ontnugterdes, het die kerk nou in een eeu heeltemal gemarginaliseer geraak en het mense haar in groot getalle begin verlaat. Groeiende skeptisisme is een van die kenmerke van die hedendaagse samelewing. Baie van wat eens as “heilig” beskou is, word vandag aan dekonstruksie en logika onderwerp, ook die kerk.

.........
Dit is ’n riem onder die hart om te onthou dat die kerk nog nooit vir ’n lang tyd gefloreer het sonder om een of ander ernstige krisis in die gesig te staar nie. Die kerk is altyd op ’n pelgrimsreis op pad na die Nuwe Jerusalem, altyd in opposisie met ideologieë en altyd onder bedreiging.
.........

Die kerk staan verleë oor haar eie onvermoë om op ’n gepaste wyse op die groeiende krisis te reageer. Kerkgroeitegnieke het geen betekenisvolle of blywende effek gehad om die agteruitgang te stuit nie. Die persepsie dat die kerk se groei bestuur of georganiseer kan word, is verkeerd bewys.

Die nuwe millennium konfronteer die kerk dus met haar eie mislukkings en dit is ’n saak van dringendheid dat sy haarself sal onderwerp aan eerlike introspeksie om te verstaan tot watter mate sy vir haar eie krisis verantwoordelik is en waarom sy haar aanvanklike vuur verloor het. In haar huidige gedaante sal sy dit baie moeilik vind om betekenisvol in ’n hiper-sekulêre samelewing te oorleef.

Dit is ’n riem onder die hart om te onthou dat die kerk nog nooit vir ’n lang tyd gefloreer het sonder om een of ander ernstige krisis in die gesig te staar nie. Die kerk is altyd op ’n pelgrimsreis op pad na die Nuwe Jerusalem, altyd in opposisie met ideologieë en altyd onder bedreiging. Hierdie eksterne bedreigings is egter onbeduidend in vergelyking met ’n bedreiging van binne, sou dit toegeskryf kan word aan ’n onvermoë om te weet, te wees en te bly wat sy veronderstel is om te wees. Dit is gewoonlik die diskrepansie tussen die ware aard en die empiriese manifestasie van die kerk wat lei tot krisis, verlies aan integriteit en regressie.

Semper reformandum is die beginsel dat ons altyd moet poog om terug te keer na die oorspronklike geloof, juis omdat die kerk so gereeld daarvan wegstap. Dit gaan oor die radikale nakoming van die Skrif. In hierdie sin is protes ’n geskenk aan die kerk. Dit is die protestante wat die kerk voortdurend met ’n heilige jaloesie herinner aan haar ware identiteit en aan wie sy behoort.

Om die status quo te bevraagteken

“A truth’s initial commotion is directly proportional to how deeply the lie was believed. It wasn’t the world being round that agitated people, but that the world wasn’t flat. When a well-packaged web of lies has been sold gradually to the masses over generations, the truth will seem utterly preposterous and its speaker a raving lunatic.” – Dresden James

“Some institutions are allowed to grow so old and venerable that the idea of scrapping them is unthinkably sacrilegious.” – FF Bruce

Dit is baie moeilik om ’n ding wat jy eers gesien het, op ’n ander manier te sien. As jy byvoorbeeld na ’n fliek wat op ’n boek gebaseer is, kyk en jy lees die boek daarna weer, is dit baie moeilik om jou die karakters heeltemal anders voor te stel as hoe hulle in die fliek gelyk het. Sodra iets vir jou gedefinieer is, sal jy dit selde bevraagteken. Net so word ons in die wêreld gebore met dinge wat werk soos hulle werk en wat ons as gegewe aanvaar, dinge soos die onderwysstelsel, die ekonomie, die regeringstelsel ... en die kerk. Nes ’n skool ’n hoof, onderwysers, leerlinge en klaskamers het, het die kerk ’n leraar/dominee/pastoor, ouderlinge en diakens, lidmate en kerkgeboue. Dis net hoe dit is, ongeag watter skool of kerk jy bywoon.

........
Net omdat iets tans ’n sekere voorkoms het, of op ’n sekere manier gedoen word, beteken egter nie dat dit altyd so was of altyd so hoef te wees nie. Trouens, die kerk wat ons vandag sien, is radikaal anders as die kerk van die Nuwe Testament.
........

Net omdat iets tans ’n sekere voorkoms het, of op ’n sekere manier gedoen word, beteken egter nie dat dit altyd so was of altyd so hoef te wees nie. Trouens, die kerk wat ons vandag sien, is radikaal anders as die kerk van die Nuwe Testament. Daar is so baie verskille wat so diepgaande is dat dit moeilik is om die twee modelle – die oorspronklike en die huidige – met mekaar te versoen. En dalk is hulle onversoenbaar.

Vergun my nou ’n kort geskiedenisles, want ek moet darem ’n bietjie lyf gee aan die groot stellings wat ek maak.

’n Beknopte kerkgeskiedenis

“When the Greeks got the gospel, they turned it into a philosophy; when the Romans got it, they turned it into a government; when the Europeans got it, they turned it into a culture; and when the Americans got it, they turned it into a business.” – Richard Halverson

Die Rooms-Katolieke Kerk dateer sy ontstaan terug na Pinksterdag in die bovertrek in Jerusalem. Volgens die Katolieke tradisie is die kerk ’n voortsetting van die vroeë Christelike gemeenskap wat deur die dissipels van Jesus gestig is. Die Rooms-Katolieke Kerk beskou sy biskoppe as die opvolgers van Jesus se apostels met die kerk se leier, die biskop van Rome (ook bekend as die pous), as die enigste opvolger van St Petrus wat in die eerste eeu nC in Rome in die bediening gestaan het na sy aanstelling as hoof van die kerk deur Jesus.

Die term Katolieke Kerk (Wêreldwye Kerk) is in 110 nC vir die eerste keer gebruik deur Ignatius van Antiochië in ’n brief aan die kerk in Smirna. In hierdie en ander briewe het hy aangedring op die belangrikheid van die biskoppe in die kerk. Teen die einde van die tweede eeu is die meeste kerke deur ’n enkele biskop regeer.

Protestante protesteer dat daar geen bybelse of historiese bewyse bestaan vir die Rooms-Katolieke Kerk se bewerings dat Petrus die eerste pous was nie of dat daar selfs ’n pous in die eerste eeu was nie. Selfs Katolieke historici gee dit toe. Daar is geen melding van Petrus wat ooit wes van Jerusalem of selfs naby Rome was nie, aangesien Paulus gesê het dat hy nie gepreek het waar enige van die dissipels gepreek het nie. Eamon Duffy, emeritusprofessor in die geskiedenis van die Christendom aan die Universiteit van Cambridge, stel dit duidelik in sy Saints and sinners: A history of the Pope:

Nie Petrus of Paulus het die kerk in Rome gestig nie, want daar was Christene in die stad voordat enigeen van die apostels hul voete daar gesit het. Ons kan ook nie aanvaar, soos Irenaeus gedoen het, dat die apostels ’n opeenvolging van biskoppe daar gevestig het om hul werk in die stad voort te sit nie, want al die aanduidings is dat daar vir byna ’n eeu na die dood van die apostels geen enkele biskop in Rome was nie.

........
Oornag het die Christendom die mees begunstigde ontvanger van die byna onbeperkte hulpbronne van imperiale gunste geword. ’n Geloof wat in nederige strukture vergader het, is skielik in manjifieke openbare geboue gehuisves – die nuwe kerk van Sint Petrus in Rome is geskoei op die basilikavorm wat vir keiserlike troonsale gebruik is.
........

Die eerste “wêreldwye” kerkraad van Nicaea in 325 nC het uit sowat 150 biskoppe bestaan, almal met dieselfde gesag. Toe keiser Konstantyn die hulpbronne van die ryk egter agter die kerk (en biskop) van Rome geplaas het, het dit die de facto standaard van ortodoksie geword. Konstantyn het die Christendom dus van ’n voetsoolvlakbeweging verander in ’n instelling wat beheer is deur ’n elite. Konstantyn het die massiewe staatsfinansiering waarvan die heidense tempels nog altyd afhanklik was, na die Christene herlei. Oornag het die Christendom die mees begunstigde ontvanger van die byna onbeperkte hulpbronne van imperiale gunste geword. ’n Geloof wat in nederige strukture vergader het, is skielik in manjifieke openbare geboue gehuisves – die nuwe kerk van Sint Petrus in Rome is geskoei op die basilikavorm wat vir keiserlike troonsale gebruik is.

Tog was daar in dié tyd nog geen pous soos dit vandag verstaan ​​word nie en is die titel eers tydens die tweede ekumeniese konsilie van Lyon in 1274 geskep en terugwerkend ook aan die vorige biskoppe van Rome toegeken. Tydens hierdie konsilie het die biskoppe verklaar dat die Katolieke Kerk aan die pous “volle, opperste en universele mag oor die hele kerk” toeskryf. Dit is meer as ’n duisend jaar nadat Jesus en Petrus gesterf het.

Dit alles het ’n paar beduidende implikasies. Dit stel vrae oor die hele idee van apostoliese opvolging deur die biskoppe. Meer nog, die oortuiging dat biskoppe net ouderlinge onder ’n ander naam was, word nie net deur Protestante gehuldig nie, maar ook deur Katolieke owerhede en deur die meeste sekulêre historici. As biskop en ouderling sinonieme is, dan is priester ook nie ’n afsonderlike kategorie van leke en biskop nie.

In die Nuwe Testament kom die woord presbyteros meer as 60 keer voor (Handelinge 14:23; 20:17; 1 Timoteus 5:17). Hierdie woord beteken eenvoudig ouderling of ’n ouer man. Die ouderlinge of presbiters van die eerste-eeuse kerk was ouer en volwasse Christene wat aangestel is om toesig te hou oor en om as herders te sorg vir die gemeente (Titus 1 en 1 Timoteus 3). Daar was ’n veelheid ouderlinge in elke gemeente en hulle het nooit as tussengangers tussen God en die kerk opgetree nie.

Die Griekse woord vir priester is hiereus en dit kom meer as 30 keer in die Nuwe Testament voor (Matteus 8:4; Handelinge 4:1; Hebreërs 7:1). Dit is die Griekse woord vir ’n man wat as tussenganger tussen God en mens optree. Maar ’n ouderling (presbiter) in die kerk is nooit ’n priester (hiereus) genoem nie. Met ander woorde, hierdie twee woorde is nie verwant of as sinonieme gebruik in die Nuwe Testament nie.

Wie word in die Nuwe Testament priesters genoem? Hier is die mense op wie hierdie woord toegepas is:

  • Levitiese priesters – Leviete het afgestam van Aäron (die broer van Moses) wat onder die Ou Testamentiese Wet aangestel is om in die tempel te dien (Matteus 12:4–5; Lukas 5:14; Handelinge 4:1).
  • Heidense priesters – Afgodeaanbidders wat as tussengangers tussen heidense mense en hul mitologiese, heidense gode opgetree het (Handelinge 14:13).
  • Melgisedek – ’n Priester in die Ou Testament wat op Jesus Christus gewys het (sien Hebreërs 5–7).
  • Jesus – Jesus word ons Hoëpriester genoem (Hebreërs 2:17; 3:1; 4:14; 5:1–10; 5:20). Hy is die een wat as ons enigste tussenganger dien.
  • Alle Christene – Petrus het geskryf dat alle Christene ’n “koninklike priesterdom” uitmaak (1 Petrus 2:9) en die apostel Johannes het geskryf dat alle Christene van sonde bevry is en tot priesters gemaak is (Openbaring 1:6–7).

In die Nuwe Testament word die woord priester nooit toegepas op ’n persoon wat ’n bepaalde amp in die kerk beklee nie.

Die hiërargiese struktuur (heilige ordening) van die Rooms-Katolieke Kerk wat bestaan uit pous, kardinaal, aartsbiskop, biskop, priester en diaken, skyn dus nie op goddelike of bybelse gesag te berus nie, maar op tradisie en menslike praktyke.

Wat dan van die Protestantse kerke wat op hul beurt hul oorsprong in die Rooms-Katolieke Kerk het – hoe skriftuurlik is hul eie strukture en praktyke?

Die reformasie van die sestiende eeu was die gevolg van groeiende ontevredenheid met die pous en biskoppe se toenemende misbruik van geestelike mag vir politieke en persoonlike gewin. Uit dié hervorming het die vyf solae gevolg wat die hervormers onderskei het van die leerstellings van Rome.

Van die Latynse solus, wat alleen beteken, word die solae die beste verstaan ​​as beklemtonings, nie leerstellings per se nie, wat deur die meeste van die verskillende Protestantse groepe bely word, al verskil hulle oor die spesifieke maniere waarop hierdie prioriteite in hul leerstellige formulerings uitgedruk moet word.

Die meeste van die vroegste artikulasies van die solae het die volgende drie gespesifiseer: Sola scriptura (skrif bo tradisie), Sola fide (geloof bo werke) en Sola gratia (genade bo verdienste). Elkeen is bedoel om ’n belangrike onderskeid te verteenwoordig wat afstand tussen hulle en die leerstellings van die Room-Katolieke Kerk geplaas het. Daarmee het hulle ontken dat daar enige reddingswaarde in boetedoenings, sakramente of goeie werke is.

Voeg daarby Solus Christus, of “slegs Christus”, wat die priesterlike klas oorbodig maak vir sakramentbedienings omdat Christus die enigste middelaar tussen God en mens is, en laaste maar nie die minste nie Soli Deo gloria, of “eer aan God alleen”, ​​wat in opposisie staan met die verering van Maria, die moeder van Jesus, die heiliges of engele.

Dit lyk dus of die reformasie al die belangrike hervormings gemaak het. Maar het dit?

Meer van dieselfde

“Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel. Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.” – Mattheus 23:8–10

Die reformasie het wel van biegsessies, die verering van Maria en heiliges, van altare, heiligdomme, standbeelde en loodglasvensters ontslae geraak, maar dit het die fondament van die kerkstruktuur ongeskonde gelaat. Dit het nie die organiese praktyke wat die leer van die priesterskap van alle gelowiges beliggaam, herstel nie. Die hervormers se siening van die priesterskap van alle gelowiges was individualisties, nie korporatief nie. Dit was beperk tot soteriologie (redding) en het nie ekklesiologie (die kerk) behels nie. Die reformasie het die grondgebied vir ’n gelowige priesterskap herwin, maar sonder om dit te beset, en het dit in werklikheid gereserveer vir die priesterskap van ’n nuwe eksklusiewe klas heiliges. Laat ek verduidelik.

Die leierskapstruktuur van Protestantse kerke wat ons vandag ken, is afgelei van ’n posisionele ingesteldheid wat van die Rooms-Katolieke Kerk geërf is: Daar is poste om te vul, posbeskrywings om uit te voer, titels om uit te deel en range om te trek. Terme soos pastoor, profeet, dominee, kapelaan, predikant en apostel is titels wat kerklike ampte verteenwoordig. Hulle is beroepe, soos onderwyser en prokureur. Jy kan nog op die skoolbanke sit en reeds besluit dat dit die beroep is vir jou, dat dit is wat jy gaan swot. Al wat tussen jou en jou loopbaan staan, is eksamens om te slaag, karaktertoetse kom nie ter sprake nie.

Die skeiding tussen geestelike leiers (soos pastore en dominees) en leke (gewone lidmate) is ’n direkte oordrag van pre-reformasie-Rooms-Katolisisme en is ’n terugslag na die Ou Testamentiese priesterskap. Die idee is dat slegs “heiliges” – professionele, geordende predikante, pastore en diesulkes – gekwalifiseer en verantwoordelik is vir kerkleierskap en bediening.

Die Bybel toon egter onwrikbaar dat ’n veelheid van ouer manne (ouderlinge) toesig gehou het oor die aktiwiteite van die vroeë kerke. Daar was geen enkelleiers nie. Nuwe Testamentiese leraars het onderrig op dieselfde voet as alle ander lede. Hulle het nie die vergaderings van die kerk gemonopoliseer nie. Ouderlinge was bloot geestelike volwasse mans – voorbeeldige Christene. Dit was hulle wat gebid het met hul oë oop, hul geestelike antennas voortdurend gelig. Hulle was allermins organisatoriese boegbeelde of gehuurde geestelikes.

.......
Die topswaar, hiërargiese kerkstrukture soos ons dit vandag ken, is eenvoudig nie versoenbaar met die primitiewe eenvoud van die organiese kerk van die Nuwe Testament nie.
.......

Ouderlinge het altyd organies na vore getree lank nadat ’n kerk gebore is. ’n Kerk stel nie ouderlinge aan nie. Dit produseer ouderlinge. Die ouderling se opleiding was nie akademies, formeel of teologies met kwalifikasies afkomstig van professionele skole of lisensies nie. Dit is gekweek binne die konteks van die organiese, kerklike lewe. Ouderlinge was nie beroepspredikante nie, maar selfonderhoudende gesinsmanne met sekulêre werke (Handelinge 20:33–5). Paulus het aan die ouderlinge in Efese gesê om sy voorbeeld te volg en nie geld van die gemeente te vat nie, maar om te werk sodat hulle aan ander kan gee. Omdat Paulus ’n rondreisende apostoliese werker was, het hy die reg gehad om volle finansiële ondersteuning te ontvang, en tog het hy telkens daarvan afstand gedoen.

Paulus het altyd die (hele) kerk self aangespreek, nie ’n leier of ouderlinge van die kerk nie. Toe Paulus probleme in die gemeente van Korinthe aangespreek het, het hy nooit ’n beroep op die ouderlinge gedoen nie. Hy spreek die “broeders” aan asof daar geen ouderlinge bestaan ​​nie. Jakobus, Johannes en Judas het in dieselfde strekking geskryf. Die rol van leiers is grootliks afgeskaal.

Broeders – snelskrif vir die verwysing na alle gelowiges in die kerk, beide vroue en mans – word 346 keer in die Nuwe Testament gebruik, 134 in Paulus se sendbriewe. Ouderlinge kom slegs vyf keer in Paulus se briewe voor, opsieners slegs vier keer en pastoor net een keer (as ’n metafoor). Dit gaan in die Nuwe Testament oor korporatiewe verantwoordelikheid. Dit is die gelowige gemeenskap wat geroep is om pastorale funksies te verrig, geskouer deur die hele liggaam, nie gelei deur ouderlinge nie en beslis nie deur predikante nie. Die topswaar, hiërargiese kerkstrukture soos ons dit vandag ken, is eenvoudig nie versoenbaar met die primitiewe eenvoud van die organiese kerk van die Nuwe Testament nie.

Die kerk van die Nuwe Testament

“Simplicity is the most difficult thing to secure in this world; it is the last limit of experience and the last effort of genius.” – George Sand

’n Institusionele kerk is hoogs gestruktureerd, tipies gebou-gesentreerd en bestuur deur professionele persone (predikante byvoorbeeld) wat deur vrywilligers (leke) bygestaan ​​word. Dit het dikwels professionele musikante en/of ’n koor. Dit benodig personeel, geboue, salarisse en administrasie. Die lidmate kyk een of twee keer per week passief na ’n godsdienstige optrede wat hoofsaaklik deur een persoon gelei word – dieselfde persoon week na week – waarna elk terugkeer huis toe om hul individuele Christelike lewens te gaan lei. In hierdie model is daar ’n aktiewe paar en die res.

Die kerk van die Nuwe Testament, daarenteen, was ’n geestelike organisme en nie ’n organisasie nie. Iets wat organies is, leef. Die kerk het haar lewe – die Heilige Gees – op Pinksterdag ontvang toe sy gebore is. Dit is met dieselfde lewe wat die Seun uit die Vader leef en die Vader uit die Seun, met die Seun wat die Vader verheerlik en die Vader wat die Seun verheerlik. Daar bestaan geen hiërargie nie.

As sulks is die kerk deelgenote aan die goddelike natuur en toon dit dieselfde eienskappe as die drie-enige God: Daar is wedersydse liefde, wedersydse gemeenskap, wedersydse afhanklikheid, wedersydse eer, wedersydse onderwerping, wedersydse inwoning en outentieke gemeenskap. Nes die drie-eenheid leef almal in harmonie saam. Elkeen is wat hy is net in verhouding tot die ander. Daar is geen skeiding, geen bo en onder, geen eerste, tweede of derde in belangrikheid nie. Geen regerende beheer nie. Geen posisie van bevoorregting nie. Daar is net gemeenskap en gemeenskap van gelykes wat alles deel wat hulle is en het, wat elkeen saam met en vir die ander leef in wedersydse openheid, met selfopofferende liefde en ondersteuning, elkeen vry, nie van mekaar nie, maar vir mekaar.

Kerkbyeenkomste

........
Vroeë Christene het kerk nie as ’n plek beskou om heen te gaan nie. Hulle was die kerk.
........

Nòg kerk toe gaan nòg kerkdiens kom in die Nuwe Testament voor. Vroeë Christene het kerk nie as ’n plek beskou om heen te gaan nie. Hulle was die kerk. Hulle het ook nie hul byeenkomste as dienste gesien nie. Hierdie byeenkomste was radikaal anders as vandag se Sondagdienste. Daar was geen charismatiese pastoor of dominee wat preek met almal wat passief luister nie. Geen preekgerigte, kansel-tot-kerkbank, gehoor-gestileerde kerkdiens nie. Daar was geen vaste liturgie nie. Vir die eerste paar honderd jaar was daar nie eens ’n Nuwe Testament om uit te lees nie. Nòg preek nòg prediker was die middelpunt van die aandag.

Daar was ook geen lekebedienings soos om gras te sny, sitplekke aan te wys, hande by die kerkdeur te skud, Sondagskool te gee, of in die koor te sing (as jy goed genoeg is) nie. Die spontane byeenkomste was ligjare verwyder van die professionele eredienste van vandag.

Die doel van byeenkomste was gewoon wedersydse opbouing. Elkeen het beurtelings iets bygedra: ’n psalm, ’n onderwysing, ’n taal, ’n uitleg (1 Korinthiërs 14:26). Die byeenkomste was ook die plek waar Christene inspraak in mekaar se lewens gehad het (Kolossense 3:16). Die Nuwe Testament gebruik die woord mekaar byna 60 keer. Elkeen het na die vergadering gekom met die wete dat hy of sy die voorreg en verantwoordelikheid gehad het om iets by te dra. Dit was nie vir enigiemand om ander “toe te laat” om aan verrigtinge deel te neem nie.

As die Gees ooit ’n tipiese institusionele kerk sou verlaat, sou sy afwesigheid ongemerk verbygaan. Die steierstruktuur sou ongeskonde bly. Die preek sou gepreek word en die doksologie sou gesing word. Die gemeente sou met die godsdiensprogram aangaan, sonder om te weet dat die Here vertrek het. Aanbidders sou voortgaan om hulle offers na die leë altaar te bring, sonder om te sien dat God nie daar is nie. Die strukture van ons kerke verteenwoordig die fossilisering van tradisie deur praktyk. Tradisie, belydenisskrifte en kanons kan die sement wees wat lede bymekaar hou.

Gestroop van altaargildes, predikers, liturgie, kerkraadsvergaderings, huisbesoeke, kollektes, rituele, vaste eiendom, belydenisskrifte, programme, kerkbasaars, fondsinsamelings en dies meer sal ons net mekaar en God hê. Ons sal blootgestel wees, ons geestelike erns sal getoets word en ons sal vinnig uitvind hoe diep die sondeval gaan. ’n Lewende organisme is wel ’n eenwording van glorie en bloed, maar as die Lewe, die Gees, die kerk verlaat, sal dit heeltemal in duie stort en sterf.

(Die selgroep is nie vergelykbaar met ’n huiskerk nie en is deel van die hiërargiese model, net met ’n langer leiband. Dink aan selleiers wat aan die pastoor of kerkraad moet terugrapporteer. Die selgroep is bloot nog ’n program van die kerk.)

Die nagmaal

Die nagmaal in die Nuwe Testament was ’n normale maaltyd. Mense het by ’n tafel aangesit, en op ’n gereelde basis. Tafel, vertaal, is ’n tafel waarop ’n volle maaltyd bedien word. Dit was ’n gekuier, ’n gesellige, informele ete wat brood en wyn ingesluit het. Dit was, in kort, agape – ’n liefdesfees – wat deur Christus self ingestel is.

Deur saam te eet, word daar nie net saam onthou nie, maar word die liggaam ook gevoed. Handelinge 2:46 lees: “En terwyl hulle brood van huis tot huis gebreek het, het hulle met blydskap en opregtheid van hart hul voedsel geëet.” Die blokkie brood en slukkie wyn wat ons vandag vir die nagmaal aansien, is byna ’n heidense rite ontneem van enige intieme huislikheid.

Die vergaderplek

Die kerk van Jesus het vir die eerste 300 jaar van sy bestaan ​​in die huise van sy lidmate vergader (Romeine 16:3, 5; Kolossense 4:15; Filippense 2). En as ’n kerk te groot geword het, is daar in verskeie huise vergader. Die vroeë kerk was in wese ’n netwerk van tuisgebaseerde byeenkomste en die Christelike geloof het dramaties gegroei vir die eerste 300 jaar – alles sonder die gebruik van “kerkgeboue”.

Die gelowiges is die kerk, nie die gebou nie. In Judaïsme is die tempel die geheiligde ontmoetingsplek. In die Christendom is die gelowige gemeenskap die tempel. Die Here se volk bestaan ​​uit die lewende stene van God se woning.

Wat ’n huis fasiliteer, is koinonia (gedeelde lewe): wedersydse deelname, die beoefening van geestelike gawes, aangesig tot aangesig interaksie, ’n gedeelde identiteit en die saamsement van gedeelde lewens. Jy kan nie maklik onsigbaar wees in ’n huis nie. Die huis verteenwoordig nederigheid, natuurlikheid en suiwer eenvoud. Die huiskerk trotseer die onbybelse ontkoppeling van wat heilig en sekulêr is en meng hulle saam.

Winston Churchill het gesê: “Eers vorm ons ons geboue. Daarna vorm hulle ons.”

.......
Die gunstelingmetafoor wat die Skrif vir die kerk gebruik, is dié van ’n familie. Paulus gebruik, soos reeds vermeld, die familieterm broeders meer as 130 keer in sy sendbriewe. Vandag is die kerk ’n disfunksionele gesin.
.......

Die standaardkerk is gebou met ’n verhoogde preekstoel vir die doel van eenrigting kommunikasie, prediker na gemeente, nes ’n lesingsaal of bioskoop. Gelowiges word gedwing om vir ’n uur of twee met die agterkop van iemand gemeenskap te hê. Hoeveel beter sou ons mekaar nie verstaan het as ons in mekaar se huise gekom het nie?

Die gunstelingmetafoor wat die Skrif vir die kerk gebruik, is dié van ’n familie. Paulus gebruik, soos reeds vermeld, die familieterm broeders meer as 130 keer in sy sendbriewe. Vandag is die kerk ’n disfunksionele gesin. Die familielede ken mekaar nie. Hulle gee nie vir mekaar om nie. Hulle is meermale geïsoleerd, selfgesentreerd, individualisties en onafhanklik. Daar is min toegeneentheid of ’n sin van wedersydse verantwoordelikheid vir mekaar. Hebreërs 3:13 sê ons moet mekaar bemoedig, maar vandag groet mense mekaar skaars by die kerk, en dit net een of twee keer per week. “Draai om en groet die mense agter jou” is ’n jammerlike afwatering van die ware gemeenskap van mense wat mekaar werklik ken en met lewensadvies bedien, saam speel, saam werk en persoonlike probleme saam uitstryk.

Denominasies

In die Nuwe Testament het al die gelowiges binne ’n sekere gebied aan dieselfde kerk behoort. Vroeë kerke het altyd die naam van die stad aangeneem. Dat die kerk van baie vroeg in die tweede eeu Katoliek genoem is, wat universeel beteken, is ’n stilswyende erkenning van die baie verskillende kulture wat dit omvat het. En tog was dit een kerk. Vandag het die een kerk in nagenoeg 45 000 verskillende denominasies wêreldwyd versplinter. Hoe het dit gebeur?

Reeds in die eerste eeu was daar verdeeldheid. In 1 Korinthiërs 1:11–3 vra Paulus: “Is Christus verdeeld?” Hy het in kritiek ontplof teen die Korintiese Christene toe hulle hulself in ’n aparte kamp geplaas het en ’n sirkel om hulself getrek het wat kleiner was as die liggaam van Christus. Gewortel in die derde-eeuse in twee skeur van die priesterskap van alle gelowiges in ’n lekeklas en geestelike klas het verskeie geestelikes onder mekaar verdeeld geraak oor teologiese sake. Die res is geskiedenis.

Die noemenswaardige kenmerk van ’n sekte is dat mense bymekaarkom rondom ’n leier of leerstelling of die een of ander gemene deler wat nie Jesus Christus alleen is nie. Dis soos om ’n eie franchise te begin, een met sy eie kenmerkende geestelike smakie. En so kompeteer elke McChurch met die res om lede/kliënte te werf.

Denominasionalisme maak verdeeldheid in die liggaam van Christus aanvaarbaar. Indien ’n groep Christene enigiets van ’n persoon vereis vir lidmaatskap buiten ’n geloof in Christus, is daardie groep nie ’n kerk in die bybelse sin van die woord nie. Dit is ’n sekte. Gelowiges moet aanvaar word omdat hulle reeds lede is. Mense word deur God aanvaar omdat hulle tot geloof gekom het en dis genoeg en finaal.

Oor wie se leerstellings is jy bereid om die liggaam van Christus te verdeel? As jy sê die leerstellings van die Bybel, word die vraag dan of daardie einste Bybel nie liefde en eenheid bo alles stel nie? ’n Persoon kan dus ’n ketter met die waarheid wees as hy dit gebruik om die liggaam van Christus op te breek. ’n Obsessie met sekondêre geloofskwessies tot ’n punt van verdeeldheid is onskriftuurlik.

In 1 Korinthiërs 13 staan ​​daar onder meer: ​​“Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks [...] Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.” Efesiërs 4:2–4 spoor gelowiges aan om “lankmoedig te wees, mekaar in liefde te verdra en daarna te streef om die eenheid van die Gees in die band van vrede te bewaar, want daar is een liggaam”. En die Bybel waarsku dan ook teen diegene wat deur ’n trotse, foutvindende gees regeer word (Judas 16; Openbaring 12:10). Die meeste verdeeldheid spruit uit hoogmoed en nie uit heiligheid nie.

Dink daaroor: Die denominasionele stelsel bevorder dwaalleer – die einste ding wat dit veronderstel is om te bekamp. In ’n selfregerende gemeente sal die verspreiding van dwaling sterk gelokaliseer wees. Maar wanneer ’n denominasionele hoofkwartier met ’n valse lering besmet is, sal elke kerk onder daardie vlerk met dieselfde valsheid besmet wees.

Deur die eeue was die sentrale boodskap net dit: dat Jesus God en mens is, dat Hy uit ’n maagd gebore is, dat Hy vir ons sondes gekruisig is, dat Hy opgestaan het ​​uit die dood en dat Hy weer sal kom. Hierdie kernoortuigings behoort aan geen enkele kerklike tradisie of denominasie nie. Dit was ten alle tye die oortuiging van byna alle Christene. En gelowiges stry nie regtig hieroor nie. Dis oor “die res” wat daar tot skeuring toe getwis word.

Ons kan verskil oor allerlei goed soos vertalings en interpretasies, maar na 2 000 jaar sit ons met die brondokumente wat ons het en tensy daar iets splinternuut in ’n grot ontdek word, sal ons ooreen moet kom om te verskil. Solank ’n gelowige die vyf solae bely, is die res detail wat in liefde verdra moet word.

Natuurlik moet alle lewe vorm hê. ’n Organisme sonder vorm is siek en sterf; dit kan homself nie onderhou nie. Die vyf solae verskaf hierdie vorm.

In Johannes 17:20–3 bid Jesus vir alle gelowiges, toe en nou, “dat hulle een mag wees net soos Ons een is, Ek in hulle en U in My”. Daar is ’n verenigde diversiteit in die drie-enige God – ’n pluraliteit in een-wees. Hierdie gemeenskap het nie ten doel om alle diversiteit te oorkom nie, maar eerder om dit te omhels in ’n dinamiese, relasionele en groeiende band van liefde en begrip.

Die heining, die doringdraad tussen ons, moet heeltemal afkom. Die enigste basis vir Christelike gemeenskap is die liggaam van Christus plus niks. Minus niks.

Besluitneming, rekenskap en gesag

Die Nuwe Testamentiese kerkmodel was nie gesaghebbend, leierloos of egalitêr nie. Dit was nie diktatories of demokraties nie. Dit was konsensueel binne ’n klimaat van eensgesindheid. Besluite was in die hande van alle broers en susters met leiding deur elkeen vir almal en deur almal vir elkeen. Daar was eenheid voor aksie. Selfs Paulus het nooit bevele uitgedeel nie. Hy het altyd probeer om ander te oorreed om God te gehoorsaam en het ’n beroep gedoen op ander se geestelike volwassenheid.

Winston Churchill het geskryf dat konsensus die ergste vorm van besluitneming in die kerk is, behalwe vir al die ander. Konsensus kom teen ’n prys. Dit lê verantwoordelikheid op alle lidmate om die Here self te soek. Dit vereis dat gelowiges geduldig met mekaar sal worstel om die Here se wil saam te vind. Dit beteken dikwels dat vinnige besluite uitgestel moet word sodat wedersydse vertroue eers gebou kan word. En watter geleentheid vir saambou bied dit nie! Hoeveel geduld kweek dit nie. Watter uitdrukking van wedersydse liefde en respek ontsluit dit nie. Watse beoefening van Christelike gemeenskap verg dit nie. Van kruisdra. Van selfbeheer. Van sterf aan eie agendas. Is die karakter wat dit kweek, nie die moeite werd nie? Die proses is so belangrik as die uitkoms. Hoe ons mekaar behandel terwyl ons saam besluite neem, is net so belangrik, dalk selfs belangriker, as wat ons uiteindelik besluit.

Volgens Efesiërs 5:21 moet die broeders “uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig wees”. Wedersydse onderwerping is gewortel in die nederige dog realistiese besef dat ons die insette van ons medebroeders nodig het; ons kan nie alleen goeie Christene wees nie. Deur ander te verwelkom om inspraak in ons lewens te hê, maak ons die deur oop vir die Here se bemoediging, motivering en beskerming.

Die uitoefening van goddelike gesag is altyd in liefde gebed. Liefde is geduldig, respekvol en sagmoedig. Dit is nooit strak, vernederend of diktatoriaal nie. Dit dra die stempel van sagmoedigheid. Liefde is nie sentimenteel nie, maar neem skerp waar en oordeel kundig. Dit manipuleer of dwing nooit sy eie wil af nie. Dit dreig of eis nooit nie. Liefde beweeg ons om verantwoordelikheid te aanvaar om ons broer se wagter te wees. Maar dit verbied ons om opdringerige inmengers te word. Liefde beoordeel nie die motiewe van ander se harte nie. Dit dink ook nie die ergste van almal nie. Tensy daar goeie rede is om te vermoed dat ’n broer/suster in erge sonde lewe, is dit uiters onchristelik om jou neus in hul persoonlike en huishoudelike sake te steek.

Sover dit interkerklike rekenskap aangaan, was die Nuwe Testamentiese kerke altyd outonoom (onafhanklik) en selfregerend, maar broederlik verwant. Kerke het verantwoordelikheid vir hul eie interne probleme aanvaar, maar het saamgewerk, by mekaar geleer en mekaar gehelp.

Daar is geen bewyse in die Skrif dat ’n kerk die reg het om die sake, die leerstellings of praktyke van ’n ander gemeente te reguleer, te beheer of in te dring nie. Finale gesag word nooit aan ’n denominasionele hoofkwartier oorgedra nie, maar uitsluitlik aan God.

Die kerkraad van Handelinge 15 word dikwels gebruik om die idee van ’n moederkerk te verdedig, maar wat die samekoms in Jerusalem genoodsaak het, was ’n valse lering wat deur sommige van die Jerusalemse kerke ingevoer is. Paulus en Barnabas het Jerusalem besoek om dit plaaslik te gaan hanteer. Dit het nie van die Jerusalemse kerk ’n moederkerk gemaak nie. As die valse lering elders kop uitgesteek ​​het, sou Paulus en Barnabas daarheen gegaan het om dit die hoof te bied.

Wat is die waarheid dan?

“The two most important days in life are the day you are born and the day you discover why.” – Mark Twain

Ons neem byna vanselfsprekend aan dat ons die hoofrede is waarom Christus aan die kruis gesterf het. Hy moes ons kom red. Maar wat as ons nie met onsself begin nie, maar met wat God voor die grondlegging van die aarde in die oog gehad het? Wat as verlossing nie die einddoel is nie, maar net ’n “herset” is van die Skepper se oorspronklike program?

In Genesis 1:26–7 lees ons: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers [...].”

Laat ons. Laat hulle. God se ewige doel is intens korporatief. Die taak om God se beeld te dra is nie aan enige individu gegee nie. Dit is aan hulle gegee. God wou ’n korporatiewe uitdrukking van Homself op die aarde hê wat Sy heerskappy sou uitoefen. En hy sal dit uiteindelik hê.

........
Dink aan die eerste twee hoofstukke van Genesis en aan die laaste twee hoofstukke van Openbaring. Die begin en die einde. In Genesis is daar ’n tuin, ’n boom en ’n rivier wat weer in manjifieke prag in Openbaring verskyn. Die eerste hemel en aarde maak plek vir ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde.
........

Dink aan die eerste twee hoofstukke van Genesis en aan die laaste twee hoofstukke van Openbaring. Die begin en die einde. In Genesis is daar ’n tuin, ’n boom en ’n rivier wat weer in manjifieke prag in Openbaring verskyn. Die eerste hemel en aarde maak plek vir ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde. Die eerste Adam was ’n lewende wese; die laaste Adam kom as die lewendmakende Gees (1 Korinthiërs 15:45–58). Eva is aan Adam gegee as bruid; die bruid van die laaste Adam is die kerk – haar naam is Ekklesia (Romeine 5:14).

Die kerk leef van iets en na iets wat groter is as die kerk self. Daardie iets is God en sy ewige doel. Dit is die waarheid agter alles. Die rede vir alles.

Wat as?

Godsdienstige instellings is gewoonlik vrygestel van belasting omdat die aanname bestaan dat hulle nie-winsgewend bedryf word ten bate van die publiek. Die meeste liefdadigheidsorganisasies bestee net sowat 15%–25% van hul begroting op hul administratiewe uitgawes. Die ander 75%–85% word dan aan die werklike liefdadigheidsprogramme spandeer. Charity Navigator (een van die top-liefdadigheidsevaluerende organisasies) sê: “Ons glo dat die organisasies wat minder as 33% van hul begroting op hul liefdadigheidsprogramme spandeer, eenvoudig nie hul missies nakom nie. Liefdadigheidsorganisasies wat sulke growwe ondoeltreffendheid toon, ontvang ’n 0-ster-gradering.”

So, hoe vergelyk die gemiddelde kerk? ’n Studie wat deur die Evangelical Christian Credit Union gedoen is, toon dat kerke 83% van hul begroting aan administratiewe uitgawes bestee en slegs sowat 5% aan liefdadigheidsprogramme. Enige ander liefdadigheidsorganisasie wat so min liefdadigheid het om te toon, sal as uiters nalatig beskou word.

........
Die wêreldwye kerk met sy miljoene lidmate behoort een van die beste voertuie vir menslike en maatskaplike ontwikkeling in die wêreld te wees. 
........

Die wêreldwye kerk met sy miljoene lidmate behoort een van die beste voertuie vir menslike en maatskaplike ontwikkeling in die wêreld te wees. Selfs China Petro-Chemical, die grootste korporasie ter wêreld met ’n arbeidsmag van ongeveer 1 190 000 werknemers, is steeds klein relatief tot die kollektiewe lidmaatskap van die kerk. Hierdie globale liggaam het ’n netwerk van plaaslike kerke in feitlik elke nasie wat soos are deur stede en dorpe loop. Daar bestaan dus die potensiaal om miljoene vrywilligers te mobiliseer wat met uiteenlopende kundigheid en ’n intieme kennis van hul gemeenskappe kom.

Die meeste kerke beskik potensieel oor die hulpbronne wat nodig is om klein en grootskaalse inisiatiewe koste-effektief te ondersteun of te implementeer. As hulle nie 83% van hul finansies op hulself spandeer het nie, sou daar finansiële hulpbronne daarvoor wees. As lidmate hulself as die kerk gesien het met die verantwoordelikheid wat dit behels, sou daar menslike hulpbronne daarvoor wees. As kerkgeboue heraangewend kon word vir gemeenskapsprojekte, sou daar fisiese hulpbronne daarvoor wees. Dan sou die kerk die wêreld weer op sy voete kon draai. Dan sou die kerk weer die radikale, geestelike voetsoldate wees wat dit veronderstel is om te wees.

Wat dan?

Die kreet Sola Scriptura (Skrif alleen) spreek ’n radikale navolging van die woorde van die Skrif uit as die enigste en finale norm of standaard waarvolgens Christene die waarheid kan oordeel – selfs om die kerk se leerstellings reg te stel of teen te staan, indien nodig.

Die kerk het van haar oorspronklike roeping afgewyk, nie ontwikkel nie. Die institusionele kerk kan nie van binne na buite vernuwe word nie. Vernuwing sonder strukturele verandering is slegs veldiep. Ware vernuwing moet radikaal wees. Dit moet tot by die wortel gaan. Dit sal ongetwyfeld teen ’n prys kom, maar dit behoort nie as ’n verrassing te kom dat die Christelike lewe opoffering verg nie. Ons het dit die heeltyd geweet.

Is daar dan ’n lewensvatbare alternatief op die institusionele kerkervaring? Kan ons ’n kerk herverbeel wat organies is in sy konstruksie, verhouding-gesentreerd in sy funksionering, skriftuurlik in sy vorm, Christus-gesentreerd in sy werking, trinitaries in sy vorm, kommunitêr in sy lewenstyl, nie-elitistiese in sy houding en nie-sektaries in sy uitdrukking? Dit blyk dat die huiskerk die beste model daarvoor is.

Natuurlik het die institusionele kerk deur die eeue ’n positiewe invloed op tallose mense en gemeenskappe gehad en het die meeste kerkleiers waarskynlik net die beste bedoelings gehad en hulself in diensbaarheid uitgestort. Maar dit is eers wanneer die kerk weer kerk word dat haar volle potensiaal ontsluit sal word.

.........
Kan ons ’n kerk herverbeel wat organies is in sy konstruksie, verhouding-gesentreerd in sy funksionering, skriftuurlik in sy vorm, Christus-gesentreerd in sy werking, trinitaries in sy vorm, kommunitêr in sy lewenstyl, nie-elitistiese in sy houding en nie-sektaries in sy uitdrukking? Dit blyk dat die huiskerk die beste model daarvoor is.
.........

Spangenberg skryf: “Min Christene dink na oor die godsdiens wat hulle beoefen. Hulle aanvaar eenvoudig die vanselfsprekendheid van hulle oortuigings.” En dáármee stem ek volkome saam, behalwe dat ek dink Spangenberg die fout maak om te veronderstel dat die meeste Christene oortuigings het. Hulle glo in kerk toe gaan, in Kersfees, in Paasfees, in die Bybel, ensovoorts, maar moenie moeilik wees en vra presies wat hulle glo en waarom hulle dit glo nie. Min kerkgangers praat oor Jesus buite die kerk. Of selfs binne die kerk. Dis die dominee se werk.

En dis die probleem. Professionele kanselwerk is die rede waarom lidmate selde hul geestelike kinderskoene ontgroei. Die blote teenwoordigheid van ’n professionele leraar het ’n dodelike effek van kondisionering op die res van die gemeente om passief en afhanklik te bly. Hulle word nooit groot nie. Dit is makliker om ’n godsdiensspesialis (wat gelyktydig administrateur, sielkundige en orator moet wees) aan te stel om in die behoeftes van die gemeente te voorsien as om jouself diensbaar te maak.

Wanneer die lidmate van ’n kerk nie verstaan wat hulle glo nie, nie bely wat hulle glo nie en nie doen wat hulle glo nie, kan dit nog kerk genoem word? Is die getal ware Christene nie baie, baie kleiner as wat sensusopnames toon nie? Is dit nie die Sondagkerk waarvoor die kerk aangesien word wat beide kerklose gelowiges en ongelowiges so afsit nie? Sou die kerk nie beter af wees sonder hierdie indringer nie?

In Nehemia se tyd het Israel die Wet van God pas herontdek nadat hulle vir baie jare daarsonder was. En toe dit eers ontdek is, moes dit herverduidelik en herinterpreteer word. Dink aan die woorde van Nehemia (8:8): “Hulle het uit God se wetboek voorgelees en mooi verduidelik wat dit beteken. Hulle het seker gemaak die mense verstaan wat gelees is.”

Net so moet een-en-twintigste-eeuse Christene die taal van die Skrif herleer – die vele bybelse terme soos kerk, predikant, pastoor, huis van God, nagmaal, bediening, bruid van Christus, gemeenskap en ander terme wat gebuk gaan onder institusionele bagasie – en terugkeer na die interpretasie wat spreek van die eenvoudige, outentieke, Gees-afhanklike, Christus-gesentreerde, geestelik-dinamiese, wedersyds deelnemende gemeenskappe van die vroeë kerk – die einste kerk wat die wêreld omgekeer het.

Dink ook aan God se oproep aan Israel om Babilon te verlaat en na Jerusalem terug te keer. Slegs ’n oënskynlik onbeduidende oorblyfsel het na Jerusalem teruggekeer om die tempel te herbou, maar die profeet Sagaria het die moedeloses tereggewys met: “Wie het die dag van klein dingetjies gering geag?” Ten spyte van die feit dat die oudstes van Israel in wanhoop gehuil het toe hulle sien hoe die klein oorblyfsel die onindrukwekkende fondament neerlê, was God daarin (Esra 3:12).

Die oproep van God om die eenvoud van die organiese kerklike lewe te herstel vereis dat ons op ’n heeltemal nuwe grond bou. En daardie grond is Christus met gelowiges as die lewende stene.

Die organiese paradigma verteenwoordig die terugwen na God van gewone dinge en die ontheiligmaking van dinge wat deur mense heilig gemaak is. Ons hoef niks te herontwerp nie, ons het net die moed nodig om terug te keer na die oorspronklike bouplan.

Lees ook:

As alles niks word: ’n lesersindruk van Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid deur Sakkie Spangenberg

In reaksie op Koos Kombuis se lesersindruk van Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid deur Sakkie Spangenberg

Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid: ’n lesersindruk van Sakkie Spangenberg se epistomologie, hermeneutiek en Christologie

Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid deur Sakkie Spangenberg: ’n resensie

The post In reaksie op Sakkie Spangenberg se boek: Wat die Waarheid is first appeared on LitNet.

The post In reaksie op Sakkie Spangenberg se boek: Wat die Waarheid is appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>