Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

Borrelgom deur Jana du Plessis Müller: ’n resensie

$
0
0

Titel: Borrelgom
Skrywer: Jana du Plessis Müller
Uitgewer: Human & Rousseau (Mei 2024)
ISBN: 9780798184502

Anders as kougom, kan jy borrels met borrelgom blaas en dié borrels kan bars. Dit kan in jou gesig bars en teen jou mond, wange en neus vasplak. Vir almal om te sien en te weet. Veral as dit ’n groot borrel was. Bea Malan wil nie knaend oor dieselfde ou stories praat nie. “Soos ou borrelgom. Niemand wil ou goed kou nie. Dis gross.”

In Borrelgom is daar van die begin af leidrade dat daar meer agter Bea se gemoedstoestand en optredes sit as haar onmiddellike situasie – die skok van haar ouers se egskeiding en die verhuising. Bea hou nie so baie van haar ma se old-school rock nie. “Sy wil musiek luister waarop sy kan beweeg. Wat deur haar are bruis. Wat haar meevoer en wegvat. Wat haar laat dans. Sy stop haar gedagtes met ’n groot, vet stopteken. Wat haar laat dans hét.”

Tog voel dit aan die begin van die boek of sy maar ’n tipiese, buierige tiener is. Sy word hoofsaaklik en kenmerkend as selfgesentreerd en eiegeregtig gekarakteriseer. (Die Afrikaanse woord voel maar net nie so sterk en beskrywend soos die Engelse “entitled” nie.) Sekerlik ’n karaktertrek waardeur almal moet navigeer om hopelik beter en met ’n meer gebalanseerde selfbeeld aan die ander kant uit te kom.

Dit voel vir Bea of haar lewe verby is wanneer haar ouers aankondig dat hulle gaan skei en dat sy en haar ma, nou aan die begin van Bea se graad 10-jaar, van Stellenbosch na Johannesburg verhuis. Haar ma het daar werk gekry en hulle gaan in ’n tuinwoonstel, volgens Bea die “grootte van ’n roeiboot”, in ’n voorstad van Suid-Afrika se “crime capital” (ook aldus Bea) bly. Sy laat Stellenhof en haar Stellenhof Beauties agter vir die vreemde Mason’s, waar hulle nie eers skoolklere dra nie. Sy mag aantrek net wat sy wil, maar “al wat sy wil dra, is haar kwaadgeit.”

By Mason’s neem Lea en Daniël vir Bea onder die vlerk en dit raak elke dag vir Bea moeiliker om nie van haar nuwe “vriende” te hou nie. Dis nie lank nie of sy is deel van ’n nuwe WhatsApp-groep: Three Spirit Animals. Dis vir Bea baie lekker om uit te vind dat Daniël en Lea ook emoji’s beskryf eerder as om die emoji self te gebruik, soos wat sy graag doen.

Grootlag-emoji. Sy vertel hulle van die bont kat wat in die boom by haar venster kom kuier het.

Lea en Daniël doen alles in hulle vermoë om haar by die begin-van-die-jaar-konsert betrokke te kry, en hoewel Bea heimlik belangstel, skop sy daarteen. Hierdie skrywer laat haar hoofkarakter die ompaaie en moeiliker paadjies (wat baie natuurlik en geloofwaardig uitgebeeld en ervaar word) kies. Dis asof sy haar toerus deur al die regte rolspelers op stel te plaas, almal regkry vir aksie en dan vir haar hoofkarakter wag om die volgende skuif te maak. Bea bly kou aan die “ou goed” terwyl lesers die beste skuif vir haar probeer bepaal. Wat gaan sy volgende doen? Die veilige hawes en vangnette is daar, maar die spanning bly, want Jana du Plessis Müller voer nie met ’n lepel nie.

.........
Sonder enige veroordeling of moralisering slaag die skrywer baie goed daarin om haar boodskap sensitief en met genoeg lig en hoop oor te dra.
.........

Bea Malan is regtig aan die begin van die verhaal ’n koninginby. Maar soos sy kort ná hulle aankoms in Johannesburg self noem, beweeg sy baie vinnig van die “hot list na die not list”, en van die “varslys na die barslys”. “Bars, soos in niks vars nie. Bars van nerd- en loser-dinge.” Maar ook bars soos borrelgom. Du Plessis Müller het egter al haar karakters goed gekies – daar is bitter min ekstras – almal het ’n rol.

Bea se borrel moes bars. Stefanie moes daardie eerste middag albei haar seuns saambring toe sy haar vriendin en dogter kom groet; Bea moes haar gesprekke met miss B en Lauren gehad het; Kol moes onder Bea se kamervenster kom sit het; albei video’s moes gemaak word. Die frases wat ons almal ken, wat praat van “die pad wat jy moet stap” en “die regte mense wat op die regte tyd op jou pad kom”, was duidelik deel van die skrywer se boublokke vir Borrelgom. Uiteindelik is daar geen towerstaffies of wonderkure nie, maar eerder familie-emoji’s en kat-emoji’s en drukkie-emoji’s én die bid-emoji.

Borrelgom is ’n grootwordverhaal wat hoofsaaklik fokus op gesinsverhoudinge en vriendskap teen die agtergrond van ’n baie lelike olifant in die vertrek, naamlik seksuele gereedmaking en teistering. Sonder enige veroordeling of moralisering slaag die skrywer baie goed daarin om haar boodskap sensitief en met genoeg lig en hoop oor te dra. Borrelgom bied ’n spieël vir lesers wat binnetoe moet kyk. Hulle behoort hulleself daarin raak te lees. Dit bied egter ook ’n venster waardeur lesers buitentoe kan kyk om die ander kant van die saak te sien. Dit is nie altyd so duidelik waaraan ander moet kou nie.

Ons koninginby, Koningin Bea, is uiteindelik Ongewone Bea, en “sy dink sy hou meer van wie sy nou is”. Handeklap-emoji.

Lees ook:

Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout: ’n resensie

Die doodgewone bure deur De Wet Hugo: ’n resensie

Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout, ’n lesersindruk

Benru se boomskok deur Felicia Snyman-Du Toit en Die maniese muskietmoles deur De Wet Hugo: ’n gesamentlike resensie

The post Borrelgom deur Jana du Plessis Müller: ’n resensie first appeared on LitNet.

The post <em>Borrelgom</em> deur Jana du Plessis Müller: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>