
Die kunstenaar Anton Kannemeyer is verantwoordelik vir die boekomslagontwerp van Danie Marais se digbundel, Ek en jy bestaan nie (Tafelberg, 2024). Illustrasies: © Anton Kannemeyer
Titel: Ek en jy bestaan nie
Skrywer: Danie Marais
Uitgewer: Tafelberg (Junie, 2024)
ISBN: 9780624095002
I
Danie Marais se vierde digbundel, ek en jy bestaan nie (2024), spog – myns insiens – met een van die mooiste omslae in ’n láng tyd. As omslagontwerper was Anton Kannemeyer nie net vir die drie afbeeldings op die voor- en agterblad verantwoordelik nie, maar ook vir die skets op die titelblad.1
Nogal ’n stemmige – ja, selfs “gemanikuurde” – Kannemeyer, het ek gedink toe ek die bundel die eerste keer optel. Met die uitsondering van die vallende man, is hier oënskynlik min te bemerk van die “ikonoklastiese satire” (Kannemeyer 2023) waaraan ’n mens as Bitterkomix-leser gewoond geraak het, en wat politiek-korrekte kunssensors steeds tydig en ontydig in hul cappuccino’s laat stik.
Ek bedoel, kyk net die atmosferiese skadukolle wat die voorstedelike “oerwoud” oor die stoepmeubels en die Weber gooi. En daai fraai ou katjie op die titelblad!

Die oorspronklike illustrasie deur Anton Kannemeyer wat op Ek en jy bestaan nie (Danie Marais) se titelblad verskyn. Illustrasie verskaf en dit verskyn met die kunstenaar se toestemming: © Anton Kannemeyer
Maar eerste indrukke is dikwels misleidend. Of bedrieglik gerusstellend. En dit is beslis ook die geval met ek en jy bestaan nie, veral wanneer die “gesprek” tussen Kannemeyer se kunswerke en die inhoud van Marais se digterlike besinnings in ag geneem word.
II
Wat vormgewing betref, kan ek en jy bestaan nie beskou word as ’n voortsetting van Marais se vorige drie digbundels: die veelbekroonde debuut In die buitenste ruimte (2006), Al is die maan ’n misverstand (2009) en Solank verlange die sweep swaai (2014). Marais vertoon weer eens ’n voorkeur vir oorwegend lang, verhalende gedigte met ’n sterk outobiografiese inslag.2 Sy verse kan getipeer word as sogenaamde “praatpoësie” in ’n “aldagtaaltrant” (Odendaal 2016:115) wat vanweë hulle spontane en toeganklike aard dikwels “bedrieglik eenvoudig lyk” (Naudé 2024:9).
Terwyl sommige verse in Solank verlange die sweep swaai vir sowel Crous (2015) as Lourens (2016:232) die indruk van “verkapte prosa” geskep het, stem ek heelhartig met Viljoen (2024:14) saam dat dit geensins in dié bundel die geval is nie:
Marais weet hoe om die lang verhalende verse en ook dié waarin wydlopige gesprekke gevoer word te versterk met interne bindinge, verrassende metafore, asook betekenisvolle reëlbreuke en enjambemente (...).
Teenoor die lang prosagedigte is daar ook ’n hele paar kort(er) “optelverse” wat strategies deur die bundel heen versprei word. Marais noem in die “Notas en erkennings” (119–20) dat die woorde van hierdie verse “byna verbatim uit boodskappe op ’n WhatsApp-buurtwaggroep” kom (Marais 2024:119). Nie net is dié heelwat korter verse voorbeelde van sogenaamde “found poetry”3 nie, maar illustreer veral die “optelkwatryne” en “-haikoes” Marais se aanvoeling vir ’n meer vormvaste vers.
III
Wanneer die digter-spreker in die gedig “Die 90’s” (21–5) terugdink aan die tyd wat hy as jong man in Duitsland deurgebring het, onthou hy veral hoe die langafstandoproepe na sy ma in Suid-Afrika vir hom soos ’n warm, sweterige naelstring “om [s]y nek, teen [s]y oor” (24) gevoel het, en dat hy altyd “tussen die reëls” (25) die volgende woorde kon hoor:
“Daantjie, jy kan maar huis toe kom.
Die suburbs het ’n sagte plek
vir mislukte rebelle.” (25)
In ek en jy bestaan nie is dit nie “Daantjie” se (mislukte) verset nie, maar eerder die gewetensworsteling wat sy middelklasbestaan in ’n Stellenbosse suburb by hom ontketen, wat poëties gestalte kry in buitengewoon ambivalente perspektiewe ten opsigte van dié voorstedelike domein.
Enersyds word die suburbs uitgebeeld as ’n ruimte waarin (bevoorregte) mense hulle veiligheidshalwe afsluit van “die gang van die geskiedenis en politieke gebeure” (Viljoen 2024:14), maar ook van die nood wat in die land rondom hulle afspeel. Hierdie gedagte word treffend onderstreep deur ’n aanhaling uit Denis Hirson se gedig “The Long Distance South African” (1996), waarin hy as uitgewekene in Frankryk terugdink aan die tyd toe sy pa in die sestigerjare as politieke gevangene gevangenisstraf in Suid-Afrika moes uitdien:
It is 1964 and my father is arrested. He neither dies nor is he there. His shadow dents the cushions of every chair. Outside, children dive-bomb swimming pools, dogs barb the air with their din. History stops where the suburbs begin.4 (Hirson 1996)
Andersyds neem Marais ook Robert Wood (2019:51) se pleidooi in Suburbanism: Poetics ter harte dat ’n ware poëtiese bewussyn krities en “betrokke” is “calling forth an enlightened notion of what it is to be from and for a place […] without glossing over the realities of colonialism, capitalism, racism, and a whole host of other ills”. In die gedig “Die paneel” (100-5) herinner die digter-spreker homself en sy lesers byvoorbeeld daaraan dat dit van die allergrootste belang is om die groter historiese en politieke konteks in ag te neem wanneer die gebeure in die hede opgeweeg word:
Gaan stap deur Little Europe –
Soos Kayamandi die middedorp noem –
en verstaan hoe dit moet voel
om dankie te moet sê
vir die beurs wat jy gekry het om met jou eie oë
te sien wat saamgestelde rente
en eergister se parlementgangsters
vir wit kinders gedoen het kyk
hoe ry die witgeldboere sit-sit so
in karre wat huispryse kos.
In hierdie dorp is elke ode
aan die opgeknapte landelike skoonheid
elke Vermeer-blou Bolandse berg
polities gelaai moreel verdag die jare verword
in hartvrot-akkerblare in wingerde
wat in toeriste se sakke verdwyn hier
spook die Geskiedenis nog
helder oordag. (104–5)
Wanneer die geskiedenis en politieke realiteite van die lewe in Stellenbosch egter in aanmerking geneem word, iets wat Marais eksplisiet in meer as een gedig doen (vergelyk byvoorbeeld “Die te groen waatlemoen” [33–5], “Oupa-dominee Dirk Jordaan” [36–8] en “Bestem” [58–61]), dan is dit inderdaad nie meer so eenvoudig of voor die hand liggend om tussen “verdagte”, “slagoffer” en “geweldenaar” te onderskei nie. Dan begin ’n mens ook agter die “oëverblindery” van “voorstedelike skoonheid” in te sien, soos die digter-spreker baie noukeurig verwoord in ’n strofe van “O, die sentimentele roofdiere” (73–6), wat direk by die illustrasie van Anton Kannemeyer op die bundelvoorblad aansluit:

Illustrasie deur Anton Kannemeyer op die bundelvoorblad van ek en jy bestaan nie (Danie Marais, Tafelberg, 2024).
Deesdae voel ek in my derms op nagte soos dié
hoe luuks en sag die tuin om my lê hoe uitspattig
ons middelklastuinmeubels in die maanskyn skynheilig
kringetjie hou langs die blinkswart altaar
van die Weber
waaruit die rook van dooie diere naweke krul
maar die offers
geen gode meer behaag nie. (74)
Die digter-spreker bely ook sy middelklas-hangups in verbeelde gesprekke met mense soos Matt Berninger (die hoofsanger van die Britse musiekgroep The National) in “Goeienag, Matt Berninger” (83–7) en die skrywer Charles Bukowski in “O, die sentimentele roofdiere” (73–6). Dié retoriese tegniek maak dit vir hom moontlik om vanuit ’n buite-perspektief na homself, sy wêreld en die bisarre dinge daarin te kyk. Voorts stel dit hom ook in staat om verskillende (soms selfs kontrasterende) standpunte ten opsigte van ’n bepaalde vraagstuk in ’n enkele vers deel van die argument te maak.
Ten spyte van die weersin waarmee die materialistiese en kritiese afstomping wat ’n lewe in die suburbs meebring, die digter-spreker vervul, is dit die einste ruimte wat hom ’n “stukkie hemel” laat smaak “wat hy eendag aan sy kinders wil bemaak” (87). Wanneer hy laataand, ná al die moeite om poësie uit sy “gepoetste pyn” (73) te maak, in die bed klim en teen sy vrou se “sagte kuslyn” (75) aangespoel word, besef hy dat hy die private domein van sy middelklashuis (waarin sy kinders veilig en sy vrou naby is) met sy lewe sal verdedig.
IV
In haar resensie van ek en jy bestaan nie som Elzanne Coetzee (2024) die belangrikste temas in Marais se bundel soos volg op: “[D]ie kwessie van witheid (met wit bevoorregting en wit skuld op die voorgrond); ’n ‘vervaarde toeskouerskap’ (83); die onbenulligheid/vergeefsheid van (betrokke) kuns; skuldgevoel en skaamte; en die disillusie van ’n vervloë jeug en verlies van naïwiteit.”5 Hiervan is die kwessie van witheid volgens haar die belangrikste – ’n gedagte wat deur bykans al die resensies oor die bundel bevestig word.
’n Mens sou inderdaad kon beweer dat ek en jy bestaan nie, meer as enige van Marais se vorige bundels, ’n indringende ondersoek behels van ál die aspekte van die digter-spreker se lewe wat op sy posisie as wit, bevoorregte, voorstedelike Afrikanerman inspeel (vergelyk ook Viljoen 2024).
So beskou, kan Marais se verse as ’n tipe digterlike “respons” op lesersbriewe soos die onderstaande (geskryf deur ’n diepgekwelde digter wat anoniem wou bly) gelees word:
I am a white, male poet – a white, male poet who is aware of his privilege and sensitive to the inequalities facing women, POC, and LGBTQ individuals in and out of the writing community – but despite this awareness and sensitivity, I am still white and still male. Sometimes I feel like the time to write from my own experience has passed, that the need for poems from a white, male perspective just isn’t there anymore, and that the torch has passed to writers of other communities whose voices have too long been silenced or oppressed. I feel terrible about feeling terrible about this, since I also know that for so long, white men made other people feel terrible about who they were. […] I am genuinely troubled by this. (Electric Literature 2015)
Toe dié brief oorspronklik op 2 Junie 2015 in die advieskolom “The Blunt Instrument” van die aanlyn tydskrif Electric Literature verskyn het, was dit duidelik dat die raadgewer, Elisa Gabbert – ’n wit vrou – redelik kleigetrap het om met ’n bevredigende (laat staan nog ’n bemoedigende) antwoord vorendag te kom. Gelukkig was Conor Friedersdorf se antwoord in ’n opvolgartikel in The Atlantic (6 Junie 2024) meer volledig. Deur bepaalde aannames van die briefskrywer te bevraagteken – naamlik die gedagte dat ’n digter se ras en gender noodwendig die mees opvallende aspek van sy/haar artistieke identiteit is; die aanname dat ’n bedrewe digter se perspektiewe oor aspekte van sy eie identiteit nie vir lesers van ander demografieë interessant of waardevol kan wees nie; die effens aanmatigende veronderstelling dat die werk van wit manlike digters noodwendig “stemme van skrywers wie se stories meer dringend is” uitsluit; die geloof dat selfbewuste introspeksie en selfopoffering noodwendig die suksesvolste kataliste vir ’n gelyke samelewing is; asook die lagwekkende bewering dat wit skrywers slegs sistemiese ongelykhede kan aanspreek deur die pen neer te lê – probeer Friedersdorf die gekwelde digter aanmoedig om steeds te bly skryf, maar sy stem ook doelbewus te gebruik om persoonlike en sistemiese ongelykhede aan die groot klok te hang.
En in ’n sekere sin is dit presies wat Marais in ek en jy bestaan nie doen. As wit digter in sy vyftigs, breek Marais as ’t ware uit die “dekompressiekamer” van sy veertigerjare deur ongemaklike vrae oor sy skuld en aandadigheid aan die Suid-Afrikaanse geskiedenis te vra. Aan die een kant is hy deeglik bewus van mense soos die digter Reginald Dwayne Betts wat in ’n onlangse uitgawe van Poetry Magazine kategories verklaar het dat daar nie meer oor witheid gedig behoort te word nie. Ook die Suid-Afrikaner Samantha Vice (2011) wat glo dat die korrekte reaksie van wit mense ten opsigte van historiese en steeds geldende vorme van wit dominasie en uitbuiting, ’n gevoel van skuld en skaamte behoort te wees wat gevolglik tot ’n algehele onttrekking aan die openbare ruimte (en diskoers) aanleiding gee.
In die gedig “Dreaming of not another white Christmas” (16–7) verwoord die digter-spreker byvoorbeeld die volgende begeerte, wat deur sy dogter (as verteenwoordiger van ’n jonger generasie) en ’n toenemend-wordende woke wêreld gedeel word:
al wat ek saam met my dogter
en ’n progressiewe wêreld
vir Kersfees wil hê
is om nie meer altyd te moet weet
hoe ’n middeljarige wit man voel
oor alles nie (17)
In “O, die sentimentele roofdiere” (73–6) is die digter-spreker byvoorbeeld pynlik daarvan bewus dat hy al hoe meer vir (bevoorregte) mense soos hyself skryf:
Deesdae is ek diep onder die indruk daarvan
dat ek vir mense soos ek skryf
mense wie se dae getel behoort te wees mense
wat aan soortgelyke neurotiese vetgevrete skete ly
sentimentele roofdiere
skandalig goed beloon
net omdat hulle in die regte huis opgedaag het
gebou op onreg so oud
soos hebsug en vrees (73–4)
Hy erken byvoorbeeld ruiterlik dat hy, net soos die meerderheid van die digterstemme wat in sy bundel opklink, niks meer is as ’n wit digter wat
mag met perspektief verwar
medelye met morele gesag
gedink ons skryf vir almal
maar deur die sleutelgat van wit
geloer aan die rokspante van die patriargaat
gekyk het deur die patryspoort van mansmens
die vuil bysiende bril van die buite-Weste getuur het
oortuig dat ons die wêreld sien
deur God se ewige oë (107)
Hierdie selfkritiek en -kastyding bereik as ’t ware ’n hoogtepunt in “Die paneel” (100-3) wanneer die digter-spreker as (onwillige) onderhoudvoerder tydens ’n gesprek met ’n (antagonistiese) “bruin digter” die volgende opmerk:
en die gehoor kan sweerlik sien ek is finaal
met my hand in die koloniale koekieblik betrap
as wit ge-out [...]
Maar – wil ek melodramaties vra –
het ek al dié absurde myle uit die niet afgelê om net
die wit oom te speel wat niks
behalwe sy bevoorregting het
om te verklaar nie niks
van magtelose woede en onreg verstaan nie gegiet
in ’n white body bevries
soos Han Solo aan die einde
van The Empire Strikes Back verraai
deur Lando Calrissian
die enigste swart ou
in die hele witgodganse
George Lucas galaxy
Far far away?
Is dit simpel dat ek wil jammer sê namens
ek weet nie wie nie
kan daar iets meer cringey
vir ’n woedende jong skrywer wees
as ’n afgewaterde wit man
wat in die openbaar
om die aalmoes van begrip bedel?
Wit trane is net sout
in ou wonde (102–3)
Desnieteenstaande hou die digter-spreker, bykans verbete, aan skryf oor vraagstukke waaroor ander hom met stilte wil oplê.
’n Interessante, en baie suksesvolle, tegniek wat Marais aanwend om homself as ’t ware in die beskuldigdebank te plaas, én terselfdertyd te verhoed dat hy soms dalk té woke of polities korrek aandoen, is om sy dogter as tipe “duiwelsadvokaat” te gebruik ten einde konfronterende en ongemaklike vrae te vra, wat dit vir hom moeilik maak om in clichés, stellige redenasies en kits-antwoorde te verval.
Sy vra hom byvoorbeeld waarom hy en haar ma “geskuif” (geskei) het (“Want mense” [13–4]) én of die lewe toe uiteindelik vir hom lekker uitgewerk het (“Ek kan sien sy sien” [45–6]). Wanneer sy in die openingsgedig “vrolik op pad / na die pikkewyne by die Kaapse akwarium” (11) heel onskuldig vra: “Pappa, wie se beeste loop hier?”, impliseer haar vraag ’n hele bloedige en bestrede geskiedenis waarvan sy nie bewus is nie. In “Van skuld en skaamte” (64–7) vra sy reguit of hul swart huiswerker, Sweetness, van die ingewikkelde ironie onderliggend aan die voorstelling van ’n rassistiese stereotipe op ’n Anton Kannemeyer-kunswerk teen hul eetkamermuur bewus is, en of dit haar nie dalk aanstoot gee nie. Uit sy dogter se vraag is dit vir die digter-spreker duidelik dat sy ’n “glimp [het] van ons geskiedenis se / interaktiewe horror show” (65), en hy begin toenemend wonder “of dié werk / in [hul] huis moet hang. / Is dit ’n grappie / waaroor [hulle] almal saam mag huil?” (66):
Ek is Lea ’n antwoord skuldig
en ek moet vir Sweetness vra en toe vra ek:
“Sweetness, does this picture bother you?”
en ek verduidelik,
volspoed-Woody Allen,
hoekom ek vra en hoe ek vir Lea gesê het
hoe ek die storie verstaan
en terwyl Sweetness langs my
na die kunswerk kyk, sien ek
met groeiende kommer
hoe sy saggies hardop,
duidelik die eerste keer,
die woorde van die wit seuntjie lees.
En toe sê sy saaklik
soos iemand wat haastig is
en werk het om te doen
en beleefd wonder hoekom
ek haar met hierdie nonsens gepla het:
“No, it doesn’t bother me.”
Ons bly ’n oomblik onpeilbaar langs mekaar staan –
twee galerybesoekers onseker
wat om voor ons
tussen ons of agter ons te sien. (67)6

Guilt and shame © Anton Kannemeyer (kunswerk verskaf en met toestemming van die kunstenaar geplaas)
Volgens Viljoen (2024) word die ongemaklike kwessie van “kulturele kansellasie”, wat in dié gedig aan die orde gestel word, selfs meer breedvoerig in die gedig oor een van die digter-spreker se gunstelingdigters, Tony Hoagland (“Tussen my en jou, Tony, en eeue van sneeuwit” [106-8]), aan die orde gestel. Die digter-spreker erken dat hy van tyd tot tyd verse van Hoagland vertaal met die oog daarop om homself “grondiger te begryp”. Een Hoagland-gedig wat hom aangryp, maar ook aan hom bly “krap”, is die gedig “White writer” wat hy as deel van sy gedig soos volg in Afrikaans omsit:
Wit skrywer
Dit is uiteraard ’n kategorie waarvan ek bewus gemaak word
elke nou en dan.
Daar is aan my uitgewys dat my karakters graag lekker eet
en gereeld pakkies van Takealot ontvang.
En tog hou ek niks daarvan om gesien te word as ’n wit skrywer nie.
Wanneer ek my boeke in die “Wit letterkunde”-afdeling
van die boekwinkel aantref
of wanneer ek uitgenooi word om te praat oor
“Die stand van Wit letterkunde”
voel ek ontsteld –
ek het gedink ek skryf oor meer as dit.
Belastingopgawes, Zoeloe-lesse, voortydige ejakulasie,
frikkadelle en sitcoms; die vrees vir oudword
Ek weet dis vir lesers belangrik om hul eie lewens
Getrou weerspieël op ’n bladsy te sien –
dit laat hulle besef hulle is nie alleen nie.
Die kuns wat dit verg om daardie soort troos te skep
is nie iets wat ek geringskat nie.
Maar mettertyd begin jy vrees wit
is al wat jy ooit sal wees.
En geleidelik, ná al jou innerlike verset,
nadat jy jou eie vrees soos bloed geproe het –
die vrees dat jy net is wat jy is,
aanvaar jy.
En dan leun jy met nuwe vasberadenheid vorentoe
en jy skryf witter en witter. (106-7)
Hoewel die digter-spreker se afwysende reaksie op Hoagland se gedig dalk nie genoegsaam erkenning gee aan die selfspot en -ironie daarin nie, verwoord hy wel die belangrike insig dat ons almal onherroeplik gekompromitteer is deur ons posisie in die groter politieke en sosiaal-historiese konteks van Suid-Afrika, en dat ons deurentyd daarvan bewus behoort te wees alvorens ons vanuit dié posisie praat of kommentaar lewer. As ’n mens jou kaarte eerlik op die tafel plaas, is dit dus nie nodig (of raadsaam) om aan die openbare debat te onttrek nie. Inteendeel.
Met dié standpunt skaar Marais hom aan die kant van iemand soos Pierre de Vos wat, anders as byvoorbeeld Samantha Vance hierbo, van mening is dat wit mense wel aan die openbare debat mag deelneem, op voorwaarde dat hulle hulself eers die volgende vrae behoort af te vra:
- Hoe gaan ’n mens om met jou witheid en die rassisme wat daarmee geassosieer word; ’n mens se heteroseksualiteit en die homofobie wat daarmee gepaard gaan; ’n mens se manlikheid en die seksisme wat daarmee gepaard gaan?
- Leef ons opregte lewens waarin ons – in woord én daad – aantoon dat ons inderdaad bewus is van ons bevoorregte posisie, en tree ons op maniere op wat gesien kan word as pogings om die gevolge van die verlede, waarby ons direk of indirek geïmpliseer is, aan te spreek?
Op dié wyse gee hy ook gehoor aan Major Jackman (2007:25) wat in sy essay, “A Mistifying Silence: Big and Black”, in American Poetry Review tot die gevolgtrekking kom dat “wit swye” (white silence) uiteindelik net so kwetsend kan wees as “getting it wrong”. Ten spyte van sy voorbehoude ten opsigte van die poësie van Tony Hoagland, die “mees kontroversiële wit digter wat vandag oor ras skryf” (Jackman 2007:25) (eie vertaling – TH), merk hy wel op:
Yet, I would rather have his failures than nothing at all. At least his poems announce him as introspective in a self-critical way on this topic. Self-censorship should never be an option for poets. (ibid.)
Hoe wonderlik sou dit nie wees as Marais se verse ook in van die ander amptelike tale vertaal kon word nie. Sy digterlike woorde is in vele opsigte die aanhef tot ’n belangrike gesprek wat nog heelwat ore en oë moet bereik.
V
Ofskoon Marais ernstige, en in die meeste gevalle ook ongemaklike, vrae in die verse in ek en jy bestaan nie vra, is die oorheersende gevoel van die bundel nie vir my een van uitsigloosheid of fatalisme nie, maar van versigtige hoopvolheid.
In die gedig “Cecil, kom in, kom in” (50–3) – waaruit die woorde van die bundeltitel geneem is – dink die digter-spreker byvoorbeeld terug aan sy ontmoeting in Duitsland met ’n bruin Mercedes-ingenieur uit die Oos-Kaap en veral aan hulle gemaklike samesyn en kameraderie oor die rasseskeidslyn heen. Die slot van die gedig
“Ag, ou Danie,” het Cecil gesug
sy oë ’n oomblik gesluit asof hy iets binne
probeer sien en gesê –
“Jy weet mos –
swart wit en bruin kan mekaar nie vat nie.
Ek en jy, ou Danie,
ek en jy bestaan nie.” (53) (eie kursivering – TH)
kan inderdaad ’n pessimistiese indruk skep, maar terselfdertyd is die gedig (en die bundel) ook ’n bewys dat sulke mense wél (kan) bestaan. Ek kies dus om die bundel te lees as ’n oproep tot ’n tipe Suid-Afrikanerskap waarvolgens hierdie tipe medemenslikheid moontlik is. Alles inaggenome, slaag die wit, voorstedelike, middeljarige, manlike digter in ek en jy bestaan nie uiteindelik daarin om die volgende belangrike verantwoordelikheid behendig as digter na te kom:
One task for the contemporary poet is to continue to find hope in the languages of our present, not as transcendence of history or history or bodies or spirits or country, but as a way of thinking through a collective past that is the material ground upon which to build a house in the suburb of language itself. (Wood 2019:10)
Bibliografie
Bergh, J. 2023. “Wees geduldig, maar wees braaf”: Anton Kannemeyer se raad aan jong kunstenaars. LitNet. https://www.litnet.co.za/wees-geduldig-maar-wees-braaf-anton-kannemeyer-se-raad-aan-jong-kunstenaars/ (24 Julie 2024 geraadpleeg).
Coetzee, E. 2024. Danie Marais se soeke na ’n kuur vir witheid in ek en jy bestaan nie. Klyntji. https://www.klyntji.com/joernaal/2024/7/18/danie-marais-ek-en-jy-bestaan-nie (13 Julie 2024 geraadpleeg).
De Vos, P. 2011. On being white and feeling ashamed. Constitutionally Speaking. https://www.constitutionallyspeaking.comon-being-white-and-feeling-ashamed/ (22 Julie 2024 geraadpleeg).
Friedersdorf, C. 2015. Poetry and White Privilege. Letter to a Young (White, Male) Poet. https://www.theatlantic.com/politics/archive/2015/06/letter-to-a-young-white-male-poet/394868/ (22 Julie 2024 geraadpleeg).
Gabbert, L. 2015. Should White Men Stop Writing? The Blunt Instrument on Publishing and Privilege. Electric Literature. https://www.electricliterature.com/should-white-men-stop-writing-the-blunt-instrument-on-publishing-and-privilege/ (22 Julie 2024 geraadpleeg).
Hambidge, J. 2024. Wallace Stevens en Danie Marais. Versindaba. https://www.versindaba.co.za/2024/07/24/joan-hambidge-wallace-stevens-en-danie-marais/ (28 Julie 2024 geraadpleeg).
Hirson, D. 1996. Long Distance South African. In: De Kock, L. en I. Tromp (reds.). The Heart in Exile: South African Poetry in English, 1990-1995. Londen: Penguin.
Jackson, M. 2007. A Mystifying Silence: Big and Black. The American Poetry Review, 36(5):19–25.
Lourens, A. 2016. Resensie: Solank verlange die sweep swaai deur Danie Marais. Tydskrif vir Letterkunde, 53(2):231–4.
Marais, D. 2024. ek en jy bestaan nie. Kaapstad: Tafelberg.
Naudé, C-P. 2024. Digter se “unbearable whiteness of being”. Beeld, 8 Julie, bl. 9.
Odendaal, B. 2009. Narratiewe elemente in Danie Marais se debuutbundel In die buitenste ruimte (2006). Stilet, 21(2):114–33.
Viljoen, L. 2024. Selfondersoek in die “suburbs”. Rapport Weekliks, 7 Julie, bl. 14.
Wood, R. 2019. Suburbanism. Poetics. Melbourne: Australian Scholarly Publishing.
EINDNOTAS
1 Anton Kannemeyer was ook verantwoordelik vir die illustrasies op die omslag van Solank verlange die sweep swaai (2014), terwyl die kunswerke van Karlien de Villiers op die omslae van In die buitenste ruimte (2006) en Al is die maan ’n misverstand (2009) gebruik is.
2 Tom Gouws (2016) verwys in sy resensie van Solank verlange die sweep swaai hierna as “digterlike egodokumente”.
3 Found poetry verwys na gedigte waarvan die woorde (dikwels direk) oorgeneem is uit boeke, ander gedigte, toesprake, gesprekke, of enige ander geskrewe of mondelinge bron. Hoewel die woorde nie noodwendig die digter se eie is nie, is dit veral die ordening daarvan wat belangrik is. Dié tipe poësie word dikwels beskou as die literêre ekwivalent van visuele kuns wat deur middel van collage geskep word.
4 Hierdie frase word soos volg in die gedig “Goeienag, Matt Berninger” vertaal: “die Geskiedenis se medelye hou op / waar die suburbs begin” (75).
5 Hambidge (2024) voeg in haar Versindaba-resensie die volgende toe: “Danie Marais se bundel ondersoek [...] die moderne jonger generasie se ervaring van hoé ander stemme oorvleuel met ons s’n, maar ook uitsluit en kritiseer”.
6 Hierdie gedig is ’n verwerkte weergawe van Marais se poëtiese reaksie op dieselfde kunswerk in “Sewentien digters reageer op kuns”, wat op 30 Maart 2019 aanlyn op klyntji.com verskyn het.
Lees ook:
Danie Marais oor sy opname in die splinternuwe Groot Verseboek
"Wees geduldig, maar wees braaf": Anton Kannemeyer se raad aan jong kunstenaars
In my vel deur Azille Coetzee: ’n skrywer wat haarself blootlê sodat ons onsself kan sien
The post Ek en jy bestaan nie deur Danie Marais: ’n LitNet Akademies-resensie-essay first appeared on LitNet.
The post <em>Ek en jy bestaan nie</em> deur Danie Marais: ’n LitNet Akademies-resensie-essay appeared first on LitNet.