Titel: Onrus op Steynshoop
Skrywer: Ingrid Winterbach
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798184731
“Snaaks, droewig, wrang en oneerbiedig – ’n opwindende nuwe roman in ware Winterbach-trant.” Dié belofte van die uitgewer op die agterkant van Onrus op Steynshoop word in alle opsigte vervul. En wat ’n plesier is dit om te sien dat die omskrywing “snaaks” eerste genoem word. Humor is immers so ’n onderskeidende kenmerk van Ingrid Winterbach se oeuvre – iets wat nie altyd erken word nie, maar wat wel enorm waardeer en as “vintage-Winterbach” geëien word deur so baie van haar gedrewe lesers. Byvoorbeeld op Facebook deur Kerneels Breytenbach wanneer hy die openingsparagraaf beskryf as ’n waarborg dat Onrus ’n boek is waarvan hy sommer weet hy sal hou!
Benna (Benjamin) Potgieter drink groentee en eet ’n dim sum-kluitjie met gekaptegrasui-en-garnaalvulsel in die Green Lantern. Hy sit in die hoek, naby die plant sonder huidmondjies. In die teenoorgestelde hoek sit die klein kak van ’n Gertjie Malherbe en die man met die ingeslaande gesig met wie hy dikwels hier uithang. (bl 7)
Die leser leer Benna van naby ken. Hy is byna 40 jaar oud, staan deurentyd sentraal in die boek en dit is sý gevoelens, sý drome, sý herinnerings wat voorrang kry. So tob hy oor sy beste vriend Sarel wat weg is uit die dorp, verlang hy voortdurend na Fonny. Hy dink aan Jonah Voorsanger en soveel ander wat “weg” is (’n woord wat talle kere in die eerste hoofstuk herhaal word). Al hierdie afwesiges en die sterk gevoel van gemis bepaal die gevoel en toon van die roman, ’n soort eensaamheid wat om Benna hang.
Sedert sy 40 jaar gelede haar debuut onder die skuilnaam Lettie Viljoen gemaak het met die novelles Klaaglied vir Koos (1984) en Erf (1986) is Ingrid Winterbach een van die mees bekroonde en gerespekteerde romanskrywers in die Afrikaanse letterkunde. Telkens is elkeen van haar daaropvolgende romans as eiesinnig, hoogs uitsonderlik en briljant beskryf. Onrus op Steynshoop, haar twaalfde roman, het sopas verskyn en sal ongetwyfeld die skrywer se statuur bevestig en verstewig, haar lesers verras, verruk en vermaak.
Haar vorige roman, Voorouer. Pelgrim. Berg, het in 2021 verskyn. Die titel was “vreemd”, veral weens die intertekstualiteit is dit deur baie as “moeilik” ervaar. Met ’n titel soos Onrus op Steynshoop kan Suid-Afrikaanse lesers egter nou in ware sepie-tradisie verwag dat die poppe sal dans te midde van klein-dorpse dramas van hartstog en intrige. En dis inderdaad wat gebeur.
........
Doelbewus speel Winterbach met lesers se teregte verwagtings. Plekke soos die dorpskafee en haarkappersalon is realistiese ruimtes waar die mees uiteenlopende karakters mekaar ontmoet en beloer, waar “geplot en beplan” word, waar Winterbach se ongelooflike talent vir dialoog en ideolek vrye teuels kry, en waar die emosionele lewens van karakters met groot aandag ontleed word.
........
Doelbewus speel Winterbach met lesers se teregte verwagtings. Plekke soos die dorpskafee en haarkappersalon is realistiese ruimtes waar die mees uiteenlopende karakters mekaar ontmoet en beloer, waar “geplot en beplan” word, waar Winterbach se ongelooflike talent vir dialoog en ideolek vrye teuels kry, en waar die emosionele lewens van karakters met groot aandag ontleed word.
Alhoewel enkele van haar vorige romans in stedelike ruimtes soos Kaapstad en Durban gesitueer is, blyk nou weer dat Winterbach veral ’n meesterlike uitbuiter van die narratiewe potensiaal van Suid-Afrikaanse dorpe is. Dit is mikrokosmos-ruimtes waarin die mees onwaarskynlike mense mekaar nie kan ontwyk nie en waar fassinerende stories gestalte kry.
Een van die onvergeetlikste plekke in die Suid-Afrikaanse letterkunde is immers die dorpshotel in die fiktiewe Vrystaatse dorp Voorspoed waar Karolina aand na aand met die Kolyn-kêrel in sy terylene-broek dans. Karolina Ferreira (1993) het meer as 30 jaar gelede verskyn en staan my steeds knalhelder voor die gees. Omdat dit só goed die lokale met die sublieme kombineer.
En dis wat ook in hierdie jongste boek gebeur. Die pragtige omslagontwerp deur Marius Roux verplaas die leser na ’n Chinese ruimte wat byna esoteriese en sublieme verwagtings wek, maar dan is die boek so aards soos kan kom. Steynshoop is ’n fiktiewe dog uiters waarskynlike dorp in die Vrystaat en word gewis ’n ewe memorabele ruimte as Voorspoed: albei plekke tussen iewers en nêrens.
Die dorp se mense was vroeër gewoond aan moerkoffie en melktert, maar smul nou in die Green Lantern-kafee aan genoemde dim sum-kluitjies nadat ’n Chinese eienaar die dorpskafee oorgeneem het. Keer op keer word die plant in die hoek sonder huidmondjies en die kluitjies beskryf en word jy as leser ingesuig in ’n eens-vertroude plattelandse wêreld wat op sy kop staan. Alles verander en begin wankel, maar dis al wêreld wat die dorpsmense het om hoe dan ook aan vas te klou. Mense gaan weg, maar kom telkens terug. Word gedwing om aan te pas en verder te leef.
Wie is die karakters wat so kuier en klets oor hulle koppies groentee? En hóé word oor hulle vertel? Alhoewel Winterbach in talle romans van ’n selfde soort intens-waarnemende, meestal vroulike hoofkarakter gebruik maak wat dikwels obsessief fokus op haarself, op ouers, broers en kinders sodat ’n sterk (outo-) biografiese familiegeskiedenis te midde van soveel meer in haar oeuvre gevolg kan word, is dit nou nié die geval nie.
Onrus op Steynshoop het, soos ’n mens gewoond is by Winterbach, ’n verstommende verskeidenheid karakters. Winterbach is trouens al gevra waar sy aan hulle kom. “Sommige spit ek op uit die grond, ander oes ek soos pampoene op die land, party kom ek teë in koerantfoto’s, ander versin ek, sommiges onthou ek, en na party verlang ek net,” het sy geantwoord (Die Burger, 12 September 2012).
Nou, in Onrus op Steynshoop, is daar bowendien reeds versonne “fiktiewe” karakters uit ’n vorige roman wat intensief her-gebruik word. Deurwinterde Winterbach-lesers sal besef dat Benna, Fonny, Sarel en Jonah wat hier die hoofkarakters is, 25 jaar gelede reeds in Buller se plan (1999) rondgeloop is. In ’n nota agterin die roman skryf Winterbach: “Van die karakters in Onrus op Steynshoop is voortsettings, maar met wysigings, van karakters in ’n vorige roman.”
So speel Winterbach ’n boeiende intertekstuele spel met haar eie werk wat sekerlik nog met groot vrug nagespeur sal word in artikels en skripsies. Jan de Dood met sy falsettostem, reeds bekend uit Buller se plan, tree gereeld op in Nuwehuis. Ander ou bekendes uit Buller se plan is Salmon Senekal, Jakes Jones en Daan Theron. Hulle kom nou nie na die stad Steynshoop toe om oorlogsgrafte uit die Boereoorlog-tyd te kom soek nie, maar om te kyk of hulle van die Chinese kruid kan score; Jakes gaan byna dood aan ’n oordosis.
Behalwe dat Steynshoop in Buller ook al die hoofruimte was, is die Oos-Vrystaatse dorp Ladybrand, bekend uit onder andere Niggie, weer in Onrus op Steynshoop belangrik.
In ’n vraaggesprek met Johan van Zyl in Rapport (21 Julie 2024) sê Winterbach:
Ek het besluit dit gaan ’n baie los aanpassing wees, ek gaan baie vryheid neem en my nie te veel aan Buller steur nie. As mense goed wil naspeur en kyk wat die verskille is, be my guest, maar daar’s niks wat bepaal dat ek my by Buller moet hou nie. As ek byvoorbeeld by die tyd moes hou, was Benna nou baie ouer. […] Buller is nié ’n sleutel vir die begrip of geniet van Onrus nie.
Die hersirkulering van karakters en ruimtes beteken inderdaad geensins dat die nuwe roman bekend of recycled voorkom nie. ’n Volledig nuwe wêreld word geskep waarin eietydse probleme – Chinese entrepreneurs op die platteland, vreemdelingehaat, politieke onrus – verweef word met die komplekse binnewêrelde van veral Benna en Fonny. Drie magte is aan die werk op die dorp: die suksesvolle Chinese sakesektor, die korrupte ANC-dorpsraad met volgelinge wat teëwig bied deur middel van amok en nog meer korrupsie, en dan die gefrustreerde Boerebonders met hulle gekonkel en gewere.
Daar is ’n hele paar uiteenlopende vertelinstansies en in die grootste deel van die boek word die briljante en simpatieke Benna se gedagtes en aksies bevoordeel deur die oorkoepelende personale verteller. Dit gebeur tot en met die laaste bladsye waar alle sentrale verhaallyne opsommend saamgevat word, ook twee “mindere” verhaallyne waarin Hantie berig oor haar man Sarel se toestand en Benna se broer Petie wie se vrou Odelia by hom wegloop. Dít nadat Petie onverwags in hoofstuk 28 (bl 164) by sy ouerhuis gearriveer en deur Benna as indringer ervaar word.
Vir comic relief is daar karakters soos die opportunistiese Marietjie Malan wat die fabrieksbaas Meneer Yang verlei en haar sekskapades in die dorpskafee met Benna deel. Sy is ’n belangrike bron van kennis oor Chinese belange en weet ook wat broei onder Boerebonders. Thloko Mohapi, die onderburgemeester se vrou, is ’n ander goed-ingeligte tussenfiguur wat oor die renons en korrupsie van haar man en sy kornuite vertel terwyl Benna haar braids vleg.
Kenmerkend van Winterbach is al die grappige beskrywings van karakters en situasies, byvoorbeeld van die reeds-genoemde “klein cocky kak van ’n Gertjie Malherbe” en skreeusnaakse beskrywings van uitstallings en konserte in Nuwehuis, ’n ruimte soortgelyk aan die gesloopte Steynhuis in Buller se plan. Ook uiters grappig is wanneer die Chinese restaurant Peking Duck oorgeneem word deur Afrikaners en voortaan bekend staan as Die Mielieblaar. In plaas van Peking-eend is daar nou wors en mieliepoffertjies op die spyskaart.
Soos in vorige romans werk Winterbach met kort genommerde hoofstukke, 55 in Onrus op Steynshoop. Dit het ’n vinnige vertelpas tot gevolg waartydens vertelperspektief, tyd en ruimte gemaklik kan verspring. Behalwe die personale verteller wat op Benna fokus in die grootste deel van die boek, tree Sarel soms as ek-verteller op (byvoorbeeld in hoofstuk 2) en is Benna se ma (byvoorbeeld in hoofstuk 4) en veral Jonah Voorsanger (in byvoorbeeld hoofstukke 5, 21, 51 en veral 53 – kenmerkend is sy uitroep “Ha”; sien byvoorbeeld ble 21 en 283) kombinasies van “ek”- en “jy”-sprekers. Hoofstuk 25 is byvoorbeeld ’n lang uitweiding vanuit Jonah se perspektief oor Ai Weiwei waarin Chinese en kunselemente saamkom; ook sy passie vir onthoofde koppe (bl 154).
’n Ryk verskeidenheid van kennis en ervarings word dwarsdeur die roman op ’n natuurlike en noodwendige wyse vervleg deur middel van intertekste en gesprekke tussen die talle intelligente, talentvolle en geobsedeerde karakters. Ondeurwerkte histerie (unexamined hysteria) en die drie giwwe waanvoorstellings, gulsigheid en weersin wat deur die Boeddhisme geïdentifiseer word (delusion, greed, aversion), asook gefrustreerde passie (byvoorbeeld Benna se verlange na Fonny) word deur middel van emosionele én rasionele gesprekke, gedagtes en drome betrek en bespreek, ook die dimensies van onderdrukking (dimensions of repression) wat manifesteer in verhoudings tussen ouers en kinders en tussen broers onderling.
Sarel se obsessie met reeksmoordenaars (vergelyk sy kennis van ’n sekere McClahlan se Murder and sexual deviance) word uitgebreid beskryf, terwyl intense besprekings oor kuns en literatuur, veral in verband met Fonny en Jonah, boeiende intermezzo’s is.
Fonny word verskeur deur die teenstrydigheid tussen haar behoefte om ’n versorger te wees en die najaag van haar kunstalent wat sy as selfsugtig ervaar. Nadruklik dink Benna oor Fonny: “Distopie en die eindtye is ten ene male haar ding” (bl 156). Jonah is ’n geheimsinnige ongrypbare karakter wat met sy sterk verhale, geamputeerde toon en swart handskoen sporadies die dorp aandoen en telkens niemand onberoerd laat nie. Hy is ook ’n gebruiker en kenner van dwelms (vgl bl 147).
Sy invloed is so sterk dat Fonny hom glad nie wil sien nie en ophou met kuns maak. Fonny bly wel voortdurend die belangrikste draer van Winterbach se altyd boeiende beskouings oor kuns. Kunstenaars wat Fonny bewonder is onder andere Marlene Dumas en Alice Neel.
Benna is ’n besonder empatiese karakter. Sy verhouding met sy ma is oop en onproblematies en hulle woon in harmonie saam. Hy werk sonder gemor as “haarstilis” alhoewel hy gestudeer het, talle tale beheers, ’n eie taal probeer ontwikkel in ’n artikel “Kritikale Snieker” wat verbatim aangehaal word, en die taalidees en filosofie van Baudrillard, Foucault, Lacan, Nietzsche en Levinas ken. Hy verlang na Sarel saam met wie hy die subversiewe tydskrif Endgame/Eindtyd in sy buitekamer bedryf het. Hy lees ontsettend wyd, byvoorbeeld die Hongaarse skrywer Krasznahorkai se obskure roman Seiobo there below.
Benna verlaat baie selde die dorp. Hy het enkele jare in Pretoria studeer en onderneem later ’n reis na Stellenbosch saam met Gertruida wat sê hy is “shackled” op grond van sy Tarot-profiel. Sy wil sy grense verruim, maar die dorp Steynshoop bly sy sentrum.
Ná Sarel se noodgedwonge vertrek uit die dorp saam met sy dominante Mammie, raak Benna bevriend met die jong erfgenaam Chaoxing Yang, ’n man in sy vroeë twintigs. Hulle praat baie oor comics – ’n belangrike fokus in die roman – en later, tydens weeklikse byeenkomste, werk hulle en Fonny elkeen aan ’n eie comic.
Beskrywings van die verhaallyne en elkeen se tekentegnieke is pragtig: Die comic-figure word klein karakters in ’n vreemde distopiese wêreld en is duidelik biografies van hulle tekenaars. Winterbach skep só op ’n briljante manier parallelle tekste binne-in haar roman. Chaoxing werk in die Akira-styl, Benna gebruik die Hongaarse roman as basis vir sy comic, en dis veral Fonny se vlieënde karakter Katerina de Sanguin wat onvergeetlik is.
........
Die gelaagdheid van die roman is nooit swaarwigtig nie. Lering en vermaak gaan hand aan hand. Dit geld ook vir die politiek-ekonomiese kwessies wat deurlopend aangesny word en akuut op almal in die dorp inwerk.
........
Die gelaagdheid van die roman is nooit swaarwigtig nie. Lering en vermaak gaan hand aan hand. Dit geld ook vir die politiek-ekonomiese kwessies wat deurlopend aangesny word en akuut op almal in die dorp inwerk. Wat op plaaslike vlak gebeur, is pars pro toto vir die hele land. The local is global, the personal is political.
Die Chinese teenwoordigheid op Steynshoop word uitstekend deur die roman heen gevleg en begin, soos reeds beskryf, reeds in die eerste twee reëls van die boek. ’n “Kruid” word in die Chinese fabriek berei vir die uitvoermark en is die fondament waarop die ekonomiese vooruitgang in die dorp rus. Dwelms en sampioene is dan ook ’n baie belangrike subplot in die roman – vergelyk veral Jonah se kennis daarvan en dat Fonny dit later byna noodlottiglik gebruik. Die Steynhuis is platgeslaan om plek te maak vir die suksesvolle Lotus Square-inkoopsentrum (Draakskwêr), terwyl Chinese winkeltjies floreer in Kleintjaaina. Daar’s ’n casino in die City Lights Lodge, ’n gholfbaan en netjiese huise vir alle Chinese werkers.
Weens die onbekwaamheid en korrupsie van die plaaslike regering verbeter swart mense se woon- en werkomstandighede egter glad nie en sowel hulle afguns as dié van Boerebonders lei tot die “onrus” waarna in die titel verwys word. ’n Opstand breek uit en die Chinese begin die wyk neem. Hulle het alternatiewe en dit is duidelik dat hulle oornag kan en sal vertrek, waarskynlik na Lesotho. Die dorp se vooruitgang word gestuit en kort voor lank besef almal dat Steynshoop wankel en wegsink na dieselfde staat van aftakeling, verval en wanhoop wat so baie dorpe op die Suid-Afrikaanse platteland kenmerk.
Alhoewel daar nog ’n Steynstraat is waardeur Benna snags tydens eensame wandelinge stap, is die Steynhuis lank reeds platgeslaan en is daar steeds minder hoop vir Steynshoop. Grappig genoeg is daar nog wel ’n Generaal Piet Joubert-gastehuis – die een Boeregeneraal wat met skaamte onthou word.
Die uiterlike onrus word deurentyd na binne gekeer en Onrus op Steynshoop gee geen eenvoudige oplossings vir die aanvaarding en verwerking van verlies en verlange by veral Benna en Fonny nie. Selfs al is sommige karakters “dwelmdof gedoepa” of verlang hulle na so ’n bedwelmde staat, is die “boodskap” van die boek duidelik: Dwelms bied geen uitkoms nie.
Die roman eindig met ’n pragtige paragraaf-lange slotsin waarin Benna nadink oor ’n moontlike toegang tot die “donkerste skuilhoek van sy eie psige”, waar hy gekonfronteer sal word óf met “die diepste verlatenheid” óf “gebaai” sal word in “oorvloedige lig” wat “hom die samehang tussen alles in die heelal sal laat sien” (bl 295–6). Dit is duidelik dat nie Benna of die leser met eenvoudige oplossings gelaat word nie.
Ingrid Winterbach se twaalfde vollengte roman is ’n meesterlike teks met sterk en onderhoudende narratiewe verhaallyne waarin uitsonderlike karakters en die lot van die Suid-Afrikaanse platteland tot op die been geanaliseer word – met deernis en empatie, met heerlike humor en besondere insig.
- Fokusprent: Cathy Zhang op Pixabay en Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach (boekomslag)
Lees ook:
Voorouer. Pelgrim. Berg. deur Ingrid Winterbach: ’n resensie
Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
LitNet Akademies-resensie-essay: Vlakwater deur Ingrid Winterbach
The post Die poppe sal dans: ’n resensie van Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach first appeared on LitNet.
The post Die poppe sal dans: ’n resensie van <em>Onrus op Steynshoop</em> deur Ingrid Winterbach appeared first on LitNet.