
Boekomslag: Naledi
In die rede geval: waarom die mens mites maak
Charl-Pierre Naudé
Naledi
SKU: 978-1-77617-297-9
“Die mitologie moet filosofies word om redelik te wees, en die filosofie moet mitologies word om die filosowe sinlik te maak” – Hölderlin
In die rede geval van Charl-Pierre Naudé kan tereg beskou word as een van die belangrikste werke in die onlangse geskiedenis van Afrikaanstalige filosofie. Die skrywer steek ’n belangrike brug oor wat sedert NP van Wyk Louw met wisselende sukses oorgesteek is, naamlik die brug van digkuns na filosofie. Die werk tematiseer die wisselwerking tussen mitewerking en redewerking wat die hedendaagse voorveronderstelling uitdaag dat die rede stelselmatig deur die geskiedenis (by wyse van veral die wetenskap) die mite vervang. Soos rede werksaam is in mite, so is daar ook mite werksaam by die rede, sonder dat een tot die ander gereduseer hoef te word.
............
Soos rede werksaam is in mite, so is daar ook mite werksaam by die rede, sonder dat een tot die ander gereduseer hoef te word.
..............
Die boek bied ’n oorskouende blik oor mite vanuit ’n teoreties-historiese raamwerk, soos gelees deur die filosoof Hans Blumenberg, sowel as ’n toepassing van sy uiteensetting op talle historiese en kontemporêre werke en figure, kennelik ook uit die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse milieu. Blumenberg se opvatting van mite is veral relevant omdat dit ’n ryker interpretasie bied as die psigoanalitiese begrip van mite soos gepopulariseer sedert Jung (met sy argetipes wat openbare figure soos Jordan Peterson klakkeloos toepas); mite ontstaan nie in ’n vakuum nie, dit hou ten nouste verband met die mens se leefwêreld. Soos die leefwêreld verander, so verander sy mites, hoewel die mites dikwels terugverwys na ouer verhale. Dit verplaas ons as’t ware. Die verplasing dien die doel om ’n perspektief oor gebeure te gooi, ’n perspektief wat die skyn van ewigheid dra bo die kontingente dimensies van ons bestaan. Die mite self is ’n konstante in die beskawingsgeskiedenis, en bygevolg is die rede asook die moderne wetenskap vatbaar vir mitewerking. Hölderlin gaan nog ’n stap verder en beweer dat ’n mate van mitewerking noodwendig aanwesig is in die aanvaarding van idees in die algemeen: “Voordat idees vir die bevolking van belang is, moet ons dit esteties, dit wil sê mitologies maak, en omgekeerd: Voordat die mitologie rasioneel word, moet die filosoof hom eers oor die mites skaam.” Die onwilligheid om te erken dat ’n mate van mitewerking betrokke is in waarheidsuitsprake, kelder die vermoë om te reflekteer oor idees. Soos die rede nodig is om mites te interpreteer en toepaslik te maak, so is die mite daar om dieper betekenis te verleen aan idees wat op ’n bepaalde tydstip redelik sin maak, maar mettertyd uitgedien raak.
Die impak en drakrag van mitewerking op die samelewing is vroeg in die letterkunde reeds beklemtoon. Dit is deur Zeus dat mense konings is, sê Hesiodos, “maar salig is hy vir wie die Muses lief is; soet is die lied wat uit sy mond vloei” (Hesiodos, reël 96–97). Dit gaan vir Hesiodos nie soseer net om die mites nie, maar ook oor die rol van die digter in die samelewing. Eweneens behandel Naudé sowel die mites as diegene wat hulle opnuut vertolk en oordra. Hy beperk hom egter nie tot digters nie, ook politieke figure beroep hulle op mites. Sekere patrone en herhalende motiewe is aanwesig in die personas, oftewel posture, hoewel die nuanse in die posture na gelang van veranderende kontekste en omstandighede verskil. Om die patrone (eerder as vaste argetipes) te kan identifiseer, help ons dus ten dele om te begryp waarvoor ’n samelewing op ’n gegewe tydstip vatbaar is en waarop die navolg van ’n figuur wat van sekere posture gebruik maak, moontlik kan uitloop. Sodanige bewustheid verhef nie die denke tot ’n objektiewe status anderkant mitewerking nie, dit dui bloot op die gevare en moontlikhede wat mitewerking inhou. Die rol van die digter en mitemaker bly onteenseglik, soos die skrywer van hierdie boek met talryke historiese en kontemporêre voorbeelde aandui.
Marthinus Versfeld meen ’n “digter is die man wat in die donker waters van die chaos duik om skoon en blink dinge daar te gaan uithaal”. Dit neem ook dikwels digters om die chaos as chaos raak te sien, omdat woorde vir digters ryker betekenismoontlikhede inhou as vir diegene wat bloot op sleeptou geneem word deur idees wat toenemend vernou. Digters is dus nie alleen mitemakers nie, hulle verskaf ook ’n blik op die mites wat in die samelewing werksaam is. Waar ander moontlikhede insien, daar sien digters dikwels gevare, en omgekeerd (mens dink hier aan Hölderlin se bekende woorde: “Daar waar gevaar is, daar groei die redding ook”). In die rede geval kan beskou word as ’n poging om mitewerking te verstaan met die oog op die refleksiewe toepassing daarvan in voortdurende gesprek met die filosofie.
...........
In die rede geval kan beskou word as ’n poging om mitewerking te verstaan met die oog op die refleksiewe toepassing daarvan in voortdurende gesprek met die filosofie.
...........
Opsomming
Hoofstuk 1 stel die leser bekend aan die belangrikste temas en begrippe wat in die teks ontplooi word, maar ook aan die funksionele aard van mites: “Idees het nie ’n onverweerbare inhoud nie, net funksies.” Twee temas of funksies wat hier reeds verduidelik word, is “die ander god” en “die vergeefse projek”. Eersgenoemde is ’n teenpool vir die “Almag van die wêreld soos dit gevind word”, ’n teenpool wat deurgaans in die teks verteenwoordig word deur die Prometheus-figuur, terwyl die vergeefse projek telkens die (nuwe) ander god alleenheersend probeer maak – sodat dit die “ou god” wat dit gepoog het om te vervang, juis (onwetend) in ’n nuwe gedaante herstel. Dit is ’n projek wat uiteindelik skipbreuk ly, omdat die allesoorheersende god telkens opnuut uitgedaag word deur “die ander god”, wat op sy beurt verhef word tot die aanvaarde godheid – in ’n wisselwerkende refleks wat onslytbaar blyk te wees. Hierdie skipbreuk bevat groot reddende potensiaal, sowel as gevaar vir die mensdom.
Die speelse titel “Skrik baar skatte” wys in hoofstuk 2 op die gevalle aard van die menslike toestand. Uitgeskop uit sy paradys (die woude), blootgestel aan die uiterste omstandighede van die savanne met sy oop lug, moes die vroeë mens die middele vind, nie alleen fisies nie, maar ook geestelik, om beskutting te kry. Die behoefte tot beskerming word veral beklemtoon (bl 46). Hierdie skielike oopte was volgens Blumenberg oorweldigend en bygevolg traumaties. Ervaring speel derhalwe ’n belangrike rol in die totstandkoming van mites, dit bepaal die “funksie” van die mite. Die aanslag is derhalwe fenomenologies, maar ek sou byvoeg duidelik ook psigoanalities. Hieruit is reeds duidelik dat daar ’n tipe dialektiek tussen die mens en mites plaasvind, en dat Blumenberg versigtig sal wees om mites bloot fundamentalisties as ewige onderliggende waarhede te tipeer (soos veral met Jung se argetipes gedoen word). Tegelyk is hierdie interpretasie problematies, aangesien dit ’n patologiese verklaring vir die ontstaan van mites gee en die skeppende aktiwiteit van die verbeelding (soos in Kant se denke) as bemiddeling tussen rede en ervaring ignoreer. Verbeelding is hier eerder die somtotaal en gevolg van meganiese kragte wat op die verstand inwerk.
Hoofstuk 3 karteer Blumenberg se denke binne die kontekstuele debatte met onder meer Karl Löwith. Laasgenoemde het die moderniteit se klem op vooruitgang as ’n mite verklaar, aangesien die tema van die voortbeweeg van die geskiedenis tot ’n eindbestemming reeds by die Christendom aanwesig is. Blumenberg se teks The legitimacy of the modern age, sekerlik sy belangrikste werk, verreken die kritiek van Löwith en ander, maar wys enersyds dat die moderniteit ’n besondere uitdrukking gee aan die Christelike grondgedagtes, en andersyds dat die Christendom self idees wat voor die Christendom bestaan het, omgeskakel het. Die belangrike begrip wat hier aan die bod kom, is reokkupasie. Soos genoem, speel funksie ’n deurslaggewende rol in die weergee en interpretasie van mites. By die moderniteit gaan dit oor weetgierigheid (curiositas), ’n tema wat ter wille van die klem op die hiernamaals ondermyn is in die vroeë Christendom (Augustinus noem byvoorbeeld weetgierigheid die “siekte van die oog”). In kort is daar dus ’n reokkupasie van die grondgedagtes van die Christendom aan die hand van nuwe behoeftes, die behoefte aan ontdekking.
In hoofstuk 4 word mitewerking se vorm van betekenisgewing ondersoek, naamlik sinrykheid, ’n vorm van betekenisgewing wat nie berus op inhoudelikheid nie maar op invoeling – in teenstelling met betekenis – wat berus op inhoud en die beskrywing daarvan. Teen die meeste opvattings van die mite, word mite hier as dinamiese verhale uitgebeeld wat telkens nuwe betekenis verkry. Eers word die moderne paradigma soos vergestalt word in die wetenskap gekritiseer as iets wat mite uitsluit en vervang het. Mite doen sig voor as iets wat betekenis oopsluit deur konstante interpretasie, en juis daarom skep dit ’n dialektiese verhouding tot die wetenskap en die moderne mens. Die voorbeeld wat hier ter sprake gebring word, is die sogenaamde geslotekringmotief, wat by Odysseus in die Westerse kanon spesiale vergestalting kry. Die geslotekringmotief werk met die idee van tuiskoms. Dit kry nuwe wendings by die Stoïsyne sowel as by Dante, wat tuiskoms nie as ’n aardse bestemming verstaan nie, maar as ’n “siele tuiskoms”. Ook Breytenbach se gedig “Ek sal sterf en na my vader gaan” word betrek as ’n nadoodse tuiskoms. Ná ’n verkenning van die doodsdrif as toepassing van die geslotekringmotief in die wetenskap (Freud), sluit die skrywer af met ’n onderskeid tussen mite en dogma. Laasgenoemde skep homogene geldigheid en is nie tydsgebonde nie, terwyl mite tyd “kalibreer en invul met allerlei definisies”. Die hoofstuk mond uit in ’n uiteensetting van Coetzee se Childhood of Jesus, waarin die ontheemde hoofkarakter steeds kies om sy moedertaal in ’n vreemde land te praat, wat dui op ’n “lewenswêreld wat in homself klop”.
Hoofstukke 5 en 6 verken die tema van “die ander god” deur ’n verduideliking en toepassing van die Prometheus-mite, soos veral geïnterpreteer deur Goethe. Goethe se vertolking van Prometheus se selfregverdiging in ’n gelyknamige gedig spreek vanself:
Hier sit ek, ek skep mense
na my eie beeld,
’n geslag wat gelyk aan my sal wees
In kort: Prometheus moedig die mens aan om “die godheid en goddelikheid binne hom- en haarself te ontketen”. Die titaniese kragte is dus iets wat nie deur die skrywer (of Blumenberg) as sodanig geag word nie, maar slegs oorweeg word in terme van die ander god. Meer hieroor later in die evaluering van die teks. Die ander god-verskynsel is uiteraard toegeëien deur verskeie historiese figure, maar twee figure en hulle interaksie, naamlik Goethe en Napoleon (veral eersgenoemde se fasering met laasgenoemde), verteenwoordig ’n belangrike oorgang in die moderne tyd, naamlik die oorgang na die “politiek as lotsbestemming”. Hiermee word bedoel die “selfbemagtiging van die mens” deur die politiek. Napoleon se gryp van die kroon uit die pous se hande om homself te kroon, is ’n simbool van hierdie oorgang. Later in die hoofstuk word ’n vergelyking tussen die mitewerking by Napoleon en Mandela getref. Verdere ontplooiing van die ander god-motief in menslike kultuur word aan die hand van “postuurskepping” gedoen, met die voorbeelde van onder meer Bob Dylan, Etienne Leroux en beide se “donkerbrille” (verborge strewes) wat beskryf word. Ook ander figure uit die Afrikanerdom, by name pres Burgers, Breyten Breytenbach en Verwoerd se personas as ander gode word verken. Hierdeur wys Naudé daarop dat die ander god verskillende gestaltes kan toon wat op verskillende heersersgode, oftewel heersende tydgeeste, kan reageer. Die ander god is noodsaaklik, maar nie noodwendig moreel nie.
Hoofstuk 7 handel oor die vergeefse projek, oftewel die soeke na ’n finale “heersende godheid” wat alle gode kan vervang. Hier word dit egter toegepas op ’n spesifieke geval van die vergeefse projek, naamlik die wyse waarop die wetenskap die gevaar van “betekenisafsluiting” loop deur sy eie blik op die werklikheid te verabsoluteer: “[O]mdat die moderne mens so diep in teorie gedompel is, kan die versugting na finaliteit (waar dit wel in moderne teorie voorkom) moeilik raakgesien word vir die mitewerking wat dit is.” Dit handel hier nie meer oor die geskenk van Prometheus nie (om die heersende en afsluitende godheid uit te daag), maar oor die gedaantes wat Prometheus in die geskiedenis van die mens aanneem. Drie voorbeelde wat aandag geniet en gebaseer is op sienings van Nietzsche, by uitstek ’n Prometheus-figuur volgens Blumenberg, is Kavafis se gedig oor ’n Bisantynse kerk wat as’t ware vanuit die verlede tot die hede spreek in ’n kensketsing van die tema van ewige wederkeer; Coetzee se roman Disgrace, wat ook met die gedagte van ewige wederkeer werk en waarin die karakters, soos kleibeelde deur Prometheus gevorm en vernietig, ewig-opnuut leer om hulle eie dood in die gesig te staar; en Schoeman se Hierdie lewe waarin ’n Sisyphus-motief oor die moeisaamheid van die alledaagse lewe tot uitdrukking kom as ’n seloot van die tema van ewige wederkeer, volgens Naudé. Dit word op sy beurt in verband gebring met die filosofiese idioom van die filosoof JJ Degenaar, by uitstek ’n “ander god”, oftewel ook ’n Prometheus-figuur binne die Afrikaanse filosofie. Degenaar het homself as “gesekulariseerde gelowige” beskryf en verteenwoordig sekularisasie se vergeefse poging om ’n finale weergawe van die Christelike geloof te wees. In die vergeefse projek poog die mens om ’n breë front laaste en uiteindelike betekenisse tot stand te bring ter wille van sy gemoedsrus, maar dit blyk telkens onmoontlik te wees. Sekularisasie blyk net nog ’n punt in die eindelose gang van die metaforologie te wees.
Hoofstuk 8 ondersoek alternatiewe tot die vergeefse projek en sluit aan by een van Blumenberg se eie tekste, Shipwreck with spectator, om ’n “onderstut” te verskaf vir die moderne beskawing, in die besonder ook Suid-Afrika. Hierdie onderstut is die metaforologie – Blumenberg se begrip vir die basis waarop alle denke en kultuurvorme in die historiese gang van die tyd ontwikkel. Denke en kultuur ontwikkel as metaforiese iterasies op voorafbestaande denk- en kultuurvorme. So het die skeepvaart vanuit die gewoontes en strukture van die landbou ontstaan – met besuiniging en langtermyn-beplanning as kenmerke. Uit die skeepvaart het die kultuur van stadsbeplanning ontspruit, met soortgelyke struktuurelemente. Blumenberg kyk na Hesiodos se Werke en dae, wat die landbouer se moeisame omsien na sy grond aanprys, terwyl dit waarsku teen die gevare van ’n reisigersbestaan. Die hervestigingskulture het volgens die skrywer sowel die handel as die landbou ontwikkel, iets waarby die huidige Suid-Afrikaanse landsbeplanning baat sou kon vind as hulle die vorms daarvan eerder sou naboots as ondergrawe. Maar vir laasgenoemde is daar ook pertinente historiese redes wat om begrip vra. Anders gestel: Hoe kan jy, metaforologies beskou, sukses in landsbeplanning verwag van ’n regering wat in sy eie geledere ’n minimale geskiedenis van skeepvaart en gevestigde landbou het? Dit is ’n geldige punt wat gemaak word, hoewel die verdere ontwikkelings in Shipwreck verby die aanvanklike landbou en skeepvaartmotiewe ook aandag verdien, ’n punt wat verder in die evaluasie opgediep sal word.
Hoofstuk 9 bied grootliks ’n opsomming en spreek ’n paar kritieke aan wat teen Blumenberg geopper word. Die belangrikste, naamlik dat Blumenberg te naturalisties te werk gaan, word onoortuigend op een bladsy deur Naudé teengegaan. Die verweer is dat Blumenberg naturalisties begin, maar dan verder beweeg na ’n meer skeppende begrip van die mens. In die teks self is daar egter geen aanduiding waar en hoe presies die oorgang vanaf naturalisme na ’n meer skeppende begrip van mite gemaak word nie. Verdere kritiek, naamlik dat Blumenberg te sterk uit ander se werk put, dat hy nie-Westerse bronne nie genoegsaam verreken nie, asook verdere metodologiese punte word wel oortuigend teengestaan. Ten laaste ontstaan die probleem dat ’n funksionele verstaan – funksie is vir Blumenberg die ondergrond van alle betekenis – van mite en redewerking die mens juis sal verhinder om hom te verplaas buite sy omstandighede om nuwe moontlikhede in die mite op te soek. Naudé verwoord hierdie kritiek selfs in Blumenbergiaanse taal deur te vra of die voorkeur vir funksie nie self ’n moderne mite is nie. Hierdie komplekse probleem word onoortuigend die hoof gebied deur Blumenberg as ’n prefunksionalistiese denker te beskryf. Mens sou egter kon uitwys dat naamgewing nie noodwendig ’n verskynsel voorafgaan nie (die begrip feodalisme is byvoorbeeld in die 18de eeu gemunt!). Die boek sluit af met ’n uitgebreide beskrywing van die krisis van die laatmoderne tyd en die antwoorde wat Blumenberg se idees (hoofsaaklik die ander god-motief as tegelyk mitewerkend en redewerkend) hierop kan bied. Hierdie probleme sluit in onder meer ideologie, die stropingskultuur (veral plaaslik), oorbeklemtoning van die rede, kultuur verstaan as blote verbruik en gebrek aan doelmatigheid.
Evaluasie
Uit die staanspoor kan Blumenberg se bykans fisiologies-meganistiese oorsprong van mite, gepaardgaande met die funksionele benadering tot mite met reg gekritiseer word. Eersgenoemde skep ’n kousale verband tussen trauma en denke, wat die skeppende aard van denke, die “hand wat bly kwas word”, soos dit staan in Wilma Stockenström se “Eland”, striem. Vir Stockenström, anders as by Blumenberg, is die skeppende aard van die mens al daar in “die wonder wat hom voltrek in die grot”. Synde dat denke en werklikheid nie van mekaar los is nie, bly die gevoel aanwesig dat Blumenberg se oorsprong vir die mens te ver neig na ’n verrekening van die denke as patologies-ingebed. Ofskoon hierdie probleme verdere debat aanwakker, is dit myns insiens nie so wesenlik tot Blumenberg se verdere beskrywing van die mites dat die patologiese begrip van die oorsprong van denke bepalend is vir die ontwikkeling daarvan nie. Blumenberg se erkenning van die oop aard van mite dra dus daartoe by dat sy eie skema nie noodwendig afbreuk doen aan sy lees van die mites nie, wat getuig van sy fyn aanvoeling vir mitewerking. Hierdie aanvoeling is ook aanwesig by Naudé, wat nêrens blyke toon van ’n meganistiese blik op mitewerking soos wat by Girard byvoorbeeld sigbaar is nie. Hoewel patrone aangedui kan word, maak mites deel uit van die menslike bestaan.
Naudé se interpretasies en toepassing van Blumenberg se idees op veral die Suid-Afrikaanse letterkunde is vindingryk en relevant. Meer voor die hand liggende mites soos Raka word uiteraard ook binne Blumenberg se oeuvre bespreek, wat met goeie vrug nog verder nagevors kan word. Mens kry tog die gevoel dat Naudé meer kon maak van Blumenberg se Shipwreck met die oog op ’n meer sistematiese uiteensetting van die plaaslike letterkunde, soos inderdaad gedoen word in Titlestad en Kissack se artikel “The persistent castaway in South African writing”. Kortliks, in die beskawingsgeskiedenis sedert die landbourevolusie, word in Shipwreck onderskei tussen drie fases van die verhouding van die mens teenoor die oseaan as singewende motiewe: tuiskoms en die tuismotief, soos in Homerus en Hesiodos voorkom (die een motief wat Naudé wel oproep), ten tweede die skeepvaartmotief en derdens die (huidige) tyd van die skeepswrak. Naudé bespreek wel ’n ontwikkelingsgeskiedenis van die geslotekringmotief in hoofstuk 4, maar Shipwreck se begrippe bied ryker moontlikhede hiervoor. Karel Schoeman se Ander land kan op interessante wyse hierby betrek word. Afgesien van Shipwreck, sou Blumenberg se kort teks Care crosses the river verdere ontplooiing van temas vir die huidige tyd vanuit ’n Blumenbergiaanse perspektief kon bemoontlik, veral omdat dit die weetgierigheid as tegelyk sentraal tot die moderniteit, mities ingebed, en as problematies verreken, veral in ons tyd van reklame en digitalisering.
...........
’n Onderskeid wat by nabetragting tog die moeite werd is om te opper, is die onderskeid tussen die titane en die gode, wat Blumenberg en Naudé nie sterk genoeg beklemtoon nie. Die titaniese kragte kan as iets meer as net alternatiewe beelde vir die gode oorweeg word.
............
’n Onderskeid wat by nabetragting tog die moeite werd is om te opper, is die onderskeid tussen die titane en die gode, wat Blumenberg en Naudé nie sterk genoeg beklemtoon nie. Die titaniese kragte kan as iets meer as net alternatiewe beelde vir die gode oorweeg word. Prometheus kan ook beskou word as hy wat by uitstek die skeidslyne tussen die gode en die mense vertroebel, en hierdie krag is die titaniese. Die titane het voorts volgens oorlewering in hulle bannelingskap gewerk vir die gode; dit verteenwoordig dus nie-refleksiewe tegniek. Losgelaat op eie houtjie verteenwoordig die heerskappy van Prometheus die verabsolutering van tegniek. Hoe vind ons ons weg wanneer die titaan die orde van die gode omver gewerp het en met ’n nog meer versmorende tegniese orde vervang?
Die ontdekkingsdrif van die moderne mens, gestut deur die weetgierigheid soos deur Blumenberg geïdentifiseer, kan tereg bestempel word as ’n vergestalting van die titaniese drif. Naudé laat hierdie tema in die laaste hoofstuk onaangeraak. Teen die agtergrond van hierdie kwessie, kan ons kortliks verwys na Heidegger se essay oor Hölderlin “Wozu Dichter in dürftiger Zeit?”, of “Waarheen digter in ’n tyd van skamelheid?”. In ’n tyd van tegniek en wetenskap, van inligting, doen Heidegger ’n beroep op die digter om die weg aan te dui. Waarom die digter? Omdat die digter juis in staat is om verby die oënskynlike oormaat en versadiging van betekenissluiting te sien, en die inversie van versadiging, naamlik skamelheid, te sien. Hierdie gewaarwording stem ons nie tot meer weetgierigheid nie, maar tot nabetragting oor die weetgierigheid self en oor die vergenoegdheid in ons bestaan. Ons is versadig met die Sokratiese wete dat ons nie ten volle weet nie, wat nie beteken dat ons ons moet wegkeer van verdere ondersoek nie. In dieselfde teks, Die verdediging van Sokrates, waarin Sokrates bely dat hy nie weet nie, tref ons die uitspraak aan dat die onondersoekte lewe nie die moeite werd is nie. Hölderlin pleit juis vir ’n filosofie wat mitologies dink en digkuns wat filosofies kan werk, ’n wisselwerking wat die weetgierigheid en die nie-weet, die vergenoegdheid en verdere ondersoek met mekaar kan versoen.
Gevolgtrekking
Blumenberg se denke oor sowel die mite as die moderniteit bied nie net nuwe moontlikhede vir die verstaan van die komplekse geskiedenis van denke nie, maar soos Naudé uitwys, ook vir die plaaslike letterkunde, sonder om hierdie denke noodwendig te onderwerp aan ’n skema waaruit resultate vooraf bepaalbaar is. Die fenomenologiese benadering weier juis om vooropgestelde begrip op ’n teks af te dwing, hoewel geen lees sonder voorveronderstellings geskied nie. Blumenberg se byna dialektiese geskiedenissketsing bied interessante interaksie tussen die tekste en die breër geskiedenis, ’n wêreldgeskiedenis, as mens heden ten dage nog so ’n term kan gebruik. Inderwaarheid stel Blumenberg se denke ’n mens in staat om plaaslike letterkunde as ’n volwaardige deelnemer in die wêreldgeskiedenis (en toekoms) te interpreteer, ’n taak wat Naudé duidelik voor oë gehad het en met sukses en kreatiwiteit kon uitvoer. Dit is derhalwe ’n werk wat ’n mens ten eerste sterk vir skrywers met ’n filosofiese inslag kan aanbeveel, wat sistematies dog nie sluitend nie te werk gaan. Die omvangrykheid van Blumenberg se denke oor mite en redewerking en Naudé se toepassing daarvan, ontsluit ongetwyfeld verdere interpretasiemoontlikhede vir sowel die digkuns as die filosofie om in wisselwerking met mekaar die lokale en die globale denke en figure histories en aktueel te lees. In die rede geval is omvangryk, noukeurig, interpreterend en prikkelend. Daarbenewens is dit ryk aan begrippe wat meesterlik en digterlik saamgestel is en wat met vrug verder aangewend kan word.
- Hercules Boshoff, dosent in filosofie, Akademia
Lees ook:
’n Perspektief by die lees en interpretasie van die Oudgriekse mites (deel 2)
The post In die rede geval: waarom die mens mites maak deur Charl-Pierre Naudé: 'n resensie first appeared on LitNet.
The post <em>In die rede geval: waarom die mens mites maak</em> deur Charl-Pierre Naudé: 'n resensie appeared first on LitNet.