Titel: Joernaal
Skrywer: Clinton V du Plessis
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781991256355
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Joernaal (Naledi, 2023) is Du Plessis se dertiende digbundel. Hy is bekend vir sy randfiguurstatus en veelkantige blik op die samelewing waarbinne hy werk en leef. Sedert die publikasie van Aantekeninge teen die skemeruur (Cordis Trust Publikasies, 2017) verloor hy mettertyd sy randfiguurstatus. Hierdie tendens word voortgesit met publikasies by De Kaneelfabriek in Nederland (Het vijfde evangelie volgens Mickey, 2019) en Naledi (Joernaal, 2023). Oor hierdie wending sê hy die volgende aan Vrouekeur (2018):
Die wegskuif van randfiguurstatus moes seker die een of ander tyd gebeur, veral weens die blootstelling op sosiale media. Tog is ek steeds iemand wat nie graag saam in die koor wil sing nie – ek hou van my ruimte...
Joernaal neem die leser op ’n digterlike reis verweef met temas soos verganklikheid, familie, liefde, politiek en die menslike bestaan. Dit bestaan uit vier afdelings naamlik “Eiendoms Beperk”, “Lyfrente”, “Verwante partye” en “Amortisasie”. Ek bespreek minstens twee gedigte uit elke afdeling.
Afdeling 1: Eiendoms Beperk
In “I am, I said” (bl. 15) som hy sy belewenis as randfiguur só op: “Ek was buite die kring / wat luidkeels lof wou besing” en verder: “Ek bly staan aan die onderkant van die stoep / bly doelbewus doof as die hekwagters my nader roep”. Hy sluit af (bl. 16):
Slegs van buite kan jy die ruite
van hierdie taalkatedraal
moertoe en flenters gooi.
Ek is ’n regstellende joernaalinskrywing.
Ek was / ek is.
’n Treffende gedig is “Selfie” (bl. 39) waarin die spreker “[d]ie generasie sonder uitsig of insig / in townships se strate vol slaggate” beskryf. Dit is ’n kragtige beskrywing van ’n generasie wat geanker is in die uitdagings en veranderinge van hul tyd. Let op die unieke taalstyl in die onderstaande verse:
Gee hulle daagliks
Hulle dosis free WiFi
En foc friedim se mtee promises.
Ek het op ’n skerm aanskou hoe
dié muur val, twee torings tuimel,
diktators se beelde verkrummel,
narre en kulkunstenaars verkies word tot presidente,
gletsers begin smelt
Die verwysing na “free WiFi” en “foc friedim se mtee promises” dui op ’n tegnologiese wêreld waarin Generasie Z toenemend bewus is van sosiale kwessies en waarin hulle die tradisionele sienings heftig bevraagteken. Die slotreëls: “Nou sien ek close-up, ’n generasie sterf: / hashtagged, high & hooked” dui op die verlies van identiteit deur die invloed van sosiale media (“hashtagged”), die uitdaging van dwelms (“high”) en die afhanklikheid van die moderne lewenstyl (“hooked”).
Die gedig “Many moons ago” (bl. 45) is deurspek met melancholie en die tema van verlies. Dit gaan gepaard met die terugdink aan ’n plek wat onherroeplik verlaat is. Die ironie is egter dat die spreker self verantwoordbaarheid vir hierdie verlies aanvaar. Dit vind uiting in die noem van handelinge soos “knip jy die bande”, “verbrand jy die brûe” en “keer jy die rug”. Hoe die spreker self deur die pakproses geraak word is duidelik deur die “bewe” van sy hande:
Gaandeweg knip jy die bande
verbrand jy die brûe
Keer jy die rug op die ryp oes van weleer
[...]
die se eiewyse bewe
maak dit nou breekbaar en min sal pas in die tas
Die gebruik van beeldspraak, soos die beweging van die spreker se hande en die breekbaarheid van porselein, versterk die emotiewe lading van die gedig. Daar is ’n besef van verlies wanneer die spreker besef dat “min sal pas in die tas”.
Die impak van afstand as gevolg van emigrasie laat die spreker met ’n gevoel van verlies en gewondheid. Die Engelse titel suggereer hierdie bewustheid met die gebruik van alledaagse woorde soos “gevat, bekkig, astrant” wat mettertyd verlore gaan. Die skade van die verloop van tyd, asook veroudering kom tot uiting wanneer hy poog om as ’n ouer persoon ’n kaart te lees. Helaas is dit ’n moeisame taak om sy heenkome aan sy kleinkinders in ’n verreland oor te dra. Só is ’n deel van homself hartverskeurend verlore:
Langsamerhand verloor jy die greep op jou geskiedenis,
sneeu die nuwe seisoene
jou onthou op jou Kanadese voorstoep toe
Ironies genoeg was emigrasie na Kanada ’n voorkeurdestinasie vir bruin mense tydens apartheid. In ’n breër sin gaan die gedig oor die mens se onvermoë om aan die aardse ryk vas te klou. Die taalgebruik is akkuraat en bied treffende insig tot die gemoedstoestand van die emigrant.
Afdeling 2: Lyfrente
In “Herbesoek” (bl. 60) dink die spreker terug aan gelukkiger tye toe die liefdesverhouding nog floreer het. Die gedig begin op ’n noot van vertwyfeling:
Hoe hou die hand nog die pen vas
noudat ons verleer het om te skryf?
Die gebruik van “inkvas” en “deeglik deurdink” word gekontrasteer met ’n tyd toe die kommunikasie tussen die geliefdes nog stabiel was en hul “passie op papier in sierskrif / verewig is”. In die lig van sy huidige teleurstelling laat dit hom met ’n gevoel van ironie:
Hoe inkvas was ons oortuigings,
aanvanklik, die woorde deeglik deurdink,
voordat ons passie op papier swierig in sierskrif
verewig is
Die feit dat hulle “soms” nog saam deur die stapels briewe sif en blaai skep ’n gevoel van stille desperaatheid, so asof hulle hoop om tussen die ou geskrifte ’n verlore passie terug te vind. Die verhouding se kwesbaarheid word benadruk deur die briewe as “kosbare breekware” te beskryf. Die futiliteit van “stof die vergeet daarvan af” en “reëls wat effe verdof” dra by tot ’n gevoel van totale verslaenheid.
Soms blaai ons nog saam
deur die stapels,
pak hopies, soos kosbare breekware,
sorteer dit,
stof die vergeet daarvan af
In die laaste strofe gebruik die spreker woorde soos “abba”, “brug” en “roetekaarte” om te beskryf hoedat die ou briewe die geliefdes wegvoer na ’n tyd toe hulle nog gemaklik met mekaar kon kommunikeer. In die laaste paar versreëls bereik die gedig ’n crescendo met verwysings na “psalms / lofliedere en klaagliedere”. Hy vra: “Hoe braaf was ons nie toe nie?”
In “Skepper” (bl. 64) vra die spreker sy geliefde om sy poging om iets vir haar te skep met simpatie te benader, aangesien hy “onhandig” is: “Jy weet ek is onhandig / maar kyk, ek ryg vir jou ’n gedig”. Hy vergelyk hierdie proses met die maak van ’n halssnoer. Die handeling is “tydsaam gekies, kleurig en keurig gepas”. Die gang van die dae, soos aangedui deur die “almanak”, die aarde se “draai om sy as” en die horlosie wat “hinkepink”, sal hom nie van stryk bring nie. Die spreker erken dat haar intieme kommunikasie met hom sy siel voed. Hierdie “sendbriewe” en “bedevaarte na my hart se binneste” verleen aan hom krag en aansporing om die skepping te volbring.
In die laaste strofe buig die spreker “oud oor die werkstafel” en verklaar dat die eindproduk tóg iets heiligs soos ’n “nagmaal” is:
Ek buig oud oor die werkstafel, ek word
’n ambagter, ’n woordverwerker, ’n edelsmid,
ek ryg en maak, onbeholpe, ’n kraal
en bied aan jou die nagmaal
Afdeling 3: Verwante Partye
In hierdie afdeling tree die digter in gesprek met sy ouers. Sy 2019-LitNet Vrouedag-wengedig “Ma, imagine net” (bl. 94) is ’n hoogtepunt. Die onderstaande strofe verskyn op die agterblad van Joernaal:
Sê nou net jy kon skryf, ma
dink net,
dan kon jy aantekeninge maak van jou eie lewe:
vrugtefabrieke se handearbeid
joernale van vloerskrop
en bekhou en aanhou en uithou
’n bestaan met bittermin keuses:
ter wille van oorleef,
ter wille van ons
In “Leemte” (bl. 93), ’n 2022-AVBOB-wengedig, skryf hy oor die vermissing van sy pa. Hy verlang om weer “[k]niehoogte neffens jou te stap / Die stil sekerte van jou aanraking op my hoof”.
Hy sluit af:
Ek is ’n stoker, sonder lokomotief
’n roepman
sonder skofkaarte
’n kondukteur op ’n spooktrein
’n vergete passasier op ’n koue donker plein
Afdeling 4: Amortisasie
Die laaste deel van Joernaal, getiteld “Amortisasie”, bestaan uit lykdigte. In “Brief aan Gisela (1977-2020)” (bl. 108) bring hy hulde aan Gisela Ullyatt. Die digter is in 2020 kort ná die publikasie van Die waarheid oor duiwe oorlede. In die eerste strofe dink die spreker terug toe hulle as mede-digters tyd saam deurgebring het:
Gedigte by kerslig: Prins Albert
iewers is daar ’n foto, maar dié bly klein en heilige oomblikke,
nie vir die kollig bestem, nagmaal
waar ons die woord gebreek en gedeel het
Die gebruik van woorde soos “kerslig”, “heilig” en “nagmaal” suggereer hoe persoonlik die ervaring vir hom was. Dit verdiep verder deur die kontrastering met ’n foto. Hoewel ’n foto ook iets persoonliks kan wees, is dit iets wat meermale uitgestal of met ’n breër kring van mense gedeel word. Dit kan gevolglik nie vergelyk word met iets “wat nie vir die kollig” bedoel is nie.
Ter aansluiting by die titel van haar debuutbundel speel die simbool van duiwe ’n sentrale rol in die gedig. Spesifiek is dit die nostalgiese en ietwat romantiese idee van ’n brief per duif stuur wat die strofe inlei. Die intimiteit word versterk deurdat hy woorde uit ’n gedig aan die een duif se poot heg:
Vanoggend het ek die hokke se hekkies oopgelaat,
die duiwe na buite laat borrel
die een se poot het ek vir jou gering
met enkele woorde uit Antjie se gedig
(ja, dáárdie gedig)
Die gebruik van die beklemtoonde “dáárdie” dui daarop dat “Antjie se gedig” ’n spesiale betekenis vir albei het. Die ander duif dra “groenigheid” ten einde die dorheid van verdriet te help verlig. Die dood van die gewaardeerde vriendin laat die spreker vrede maak met die besef dat “om te lewe is om te begin sterwe”, alhoewel dit ironies saamgaan met die reël “vrede is ons hiér nie beskore nie”. Hy besing haar digterlike toewyding aan die stilte en broosheid, iets waarmee hy ook identifiseer:
Die stiltes van Mindfulness:
jy bundel die broosheid van die bors,
die gestadigde verval van die vlees
Uiteindelik erken hy dat God die groter mag is wat bepaal wanneer wie “uitgevee” word. Die spreker berus hom daarin dat God haar naam na verdienste in ink sal verewig deur haar bundel Die waarheid oor duiwe op sy boekrak te plaas. Soos dit in ’n brief hoort, eindig die gedig met “groete”.
Die titel van die gedig “The days run away like wild horses over the hills” (bl. 112) is ontleen aan Charles Bukowski se gelyknamige digbundel. Dit dui op ’n lewensuitkyk as gevolg van ’n diep, innerlike belewenis:
Jy dink nie sommer sulke titels uit nie
jy lééf tot daar, beleef
Die gebruik van die woord “horses” in die titel roep die beeld op van ’n perdewedren, ’n metafoor vir die wisselvallighede van lewe waarin daar oorwinnings en verliese is. Hierdie dualiteit word beklemtoon in die versreëls:
soms bruisend soos ’n bier aan die wenkant,
soms stuurs, met die opgefrommelde kaartjie in die verloorhand
Daar is ’n sin van onvermydelikheid waar die spreker nie net die aktiewe deelnemer is nie, maar ’n passiewe waarnemer van die lot wat hom tref. In strofe drie is die kunstenaar ’n glanspersoon met “aanhangers” wat “onwelvoeglik kreun en steun”:
jy oorleef net-net
tussen outeurstjek en die volgende live poetry reading
met vlugkaartjie, gratis drank
en ’n kamer met ’n bed
gewillige akrobatiese aanhangers van jou woorde
wat onwelvoeglik kreun en steun
Die lewe se “wenkant” is egter kunsmatig en vals, aangesien hy erken dat “jy oorleef net-net / tussen outeurstjek en die volgende live poetry reading”.
Die slotstrofe fokus op die bedreiging van siekte en die verganklikheid van die menslike bestaan. Die spreker worstel met die sin van sy bestaan, veral in die lig van siekte. Dit bring ’n pynlike besef na vore dat ’n groot deel van sy lewe op dronkenskap en doelloosheid vermors is:
in ’n hospitaalbed verloor jy tred
tel jy jou verpaste kanse
al die vermorste dae
die verkwiste ure afgepis
[...]
en met die kanker, soos woorde, oral in jou bloed
snel jou laaste dae soos wilde perde die einders in
Du Plessis kry gereeld die wind van voor met resensies van sy bundels, hetsy selfpublikasies of soos onlangs met Joernaal. Een resensent suggereer dat sy sienings verouderd en irrelevant is. ’n Ander meen hy skryf glo verby die slot. Sulke stellings is ’n oorsimplifikasie van die aard van sy digkuns. Sy gedigte vertel van geleefde ervarings as gevolg van belewenisse gedurende die apartheidsera, asook in post-apartheid-Suid-Afrika. Joernaal bied ’n merkwaardige bydrae tot die Afrikaanse letterkunde en beklemtoon die voortdurende relevansie van sy kreatiewe stem. Dit is ’n welkome toevoeging tot sy oeuvre en voeg ’n verdere laag van diepte en kompleksiteit by tot sy literêre nalatenskap.
Lees ook:
The post Clinton V du Plessis se Joernaal oorweldig met geleefde ervarings: ’n lesersindruk first appeared on LitNet.
The post Clinton V du Plessis se <i>Joernaal</i> oorweldig met geleefde ervarings: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.