Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796

Kultusse in Suid-Afrika deur Jana Marx: ’n resensie

$
0
0

Boekomslag: Lux Verbi

Kultusse in Suid-Afrika
Jana Marx
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796322951

As jy wil ryk word, stig ’n kerk of sekte in Suid-Afrika, het ’n oortuigde ateïs onlangs teenoor my opgemerk.

Wat ’n siniese opmerking, het ek gedink.

Maar met die lees van hierdie boek besef jy dat sy stelling nie heeltemal onwaar is nie.

Dis duidelik dat daar sterk meningsverskille is oor wat as sektes beskou word. Die woord “sekte” kan ook heelwat verontwaardiging by sekere lidmate van veral charismatiese kerke uitlok.

Die Bybel praat immers van duiwels wat uitgedryf word en van die gawe om in tale te kan spreek – iets wat vreemd is vir diegene wat tot een van die drie Susterkerke behoort, of wat, soos in my geval, in die heel stigtelike Metodistekerk grootgeword het.

Marx verwys na ’n woordeboekinskrywing wat lui dat ’n sekte ’n kleiner kerklike groep is wat van ’n groter, gevestigde ortodokse kerkgenootskap afgesplits het. Daar word soms onder meer na die Jehovasgetuies as ’n sekte verwys, terwyl talle ortodokse Christene die Mormone ook as ’n sekte beskou – iets waarvan hulle seker nie baie sal hou nie.

........
Daar is inderdaad ’n hele hoofstuk oor die Mormone, wat al as ’n piramideskema beskou is en ook vir verwoeste huwelike geblameer is. Dink maar net aan Tom Cruise en Nicole Kidman (in wie se geval godsdiens glo as bydraende faktor vir huweliksverbrokkeling beskou kon word).
........

Daar is inderdaad ’n hele hoofstuk oor die Mormone, wat al as ’n piramideskema beskou is en ook vir verwoeste huwelike geblameer is. Dink maar net aan Tom Cruise en Nicole Kidman (in wie se geval godsdiens glo as bydraende faktor vir huweliksverbrokkeling beskou kon word).

Maar hierdie boek gaan oor kultusse waaroor daar beslis meer duidelikheid as oor sektes is, soos wat Jana Marx so nougeset en aan die hand van deeglike navorsing en gesprekke met kenners in hierdie boek verduidelik.

Sy vra en beantwoord die vraag hoe kultusleiers ’n houvas op rasionele mense kry en hoe hulle dit behou, dikwels met hartverskeurende en selfs gewelddadige en tragiese gevolge.

Marx, van Devilsdorp-faam, beantwoord hierdie vrae bevredigend in die boek.

Talle gewetenlose leiers met verborge agendas en selfverryking as motief wat oor gevaarlik hoë vlakke van charisma beskik, lei oënskynlik nugterdenkende mense aan die neus. Dan wonder jy hoe op aarde hulle so onnosel kan wees.

Die leiers smous lustig met Bybelverse, verdraai dele uit die Woord om hul sakke en grootheidswaan te pas en smokkel met hul volgelinge – of eerder hul slagoffers – se koppe.

Soos die geval van die bose Cecilia Steyn se kultus, Electus per Deus, wat in ’n wrede moordbende ontaard het, skryf Marx ook oor ander kultusse, soos die Suidlanders, die Christ in Me Collective en die Jesus Dominion International-kerk in Suid-Afrika, asook oor die mees opspraakwekkende internasionale kultusse.

Omtrent almal met heel bedrieglik vroom klinkende name.

Marx dek moordgedagtebeheerkultusse, korporatiewe kultusse, sekskultusse en politieke kultusse. Daar is ook baie nuttige hoofstukke oor die tekens en gevare.

........
Daar is al in 2019 opgemerk dat daar ’n oplewing van kultusse in Suid-Afrika is. Met die pandemie ook nog daarby, skryf sy, het jy toe ’n “perfekte storm”.
........

Sy skryf dat hoe mense dink en glo, ’n regstreekse impak het op hoe vatbaar ons vir nuwe invloede is. Daar is al in 2019 opgemerk dat daar ’n oplewing van kultusse in Suid-Afrika is. Met die pandemie ook nog daarby, skryf sy, het jy toe ’n “perfekte storm”.

Sy haal ook die kliniese sielkundige en direkteur van die SA Centre for Mental Health, Louis Awerbuck, gereeld aan. Volgens hom toon navorsing dat kultusse gedy in onseker tye. Daar word ook besonder klem gelê op “Oordeelsdagkultusse”.

Maar hoe weet jy of jy onwetend by ’n kultus betrokke geraak het? Doodgoeie mense beland in kultusse se kloue. Intelligente mense. En – kom ons wees nou maar eerlik – die rykes word ook geteiken.

Die skrywer waarsku egter dat nie alles wat vreemd en anders is, noodwendig ’n kultus is nie. Kultusse word selfs soms met okkultisme verwar.

Kultusse gaan altyd oor die leier se mag en persoonlike gewin. Baie van die leiers het uit die aard van die saak narsistiese eienskappe of is selfs psigopate. Dis ook oorbekend presies hoe sjarmant hulle kan wees. (Moenie iemand met te veel sjarme vertrou nie – my beskeie mening oor veral geweldsmisdadigers wat briljante verhoogakteurs kan wees.)

Die gevaarlikste kultusse is natuurlik waar bloedvergieting as gevolg van gedagtebeheer voorkom. Soos die geval met die bloeddorstige Krugersdorp-moorde was, toe 11 onskuldige mense tussen 2012 en 2016 vermoor is. Dit nadat Cecilia haar as “’n profeet van God” voorgedoen het. Om ’n selfaangestelde profeet te wees, lyk my, is ’n slenter waarvoor die leiers besonder lief is.

Met so ’n “godsdienstige sousie” oor alles laat dit die lede blykbaar makliker kop verloor en alles vir soetkoek opeet.

Daar word ook in die boek na die Jonestown-slagting in Amerika met sy massaselfdood-oefenroetines verwys.

........
Maar hoe weet jy of jy onwetend by ’n kultus betrokke geraak het? Doodgoeie mense beland in kultusse se kloue. Intelligente mense.
........

In party kultusse word lede soos slawe behandel – ook as seksslawe. Verkragting word ook soms veroorloof. En soos wat die geval met sommige bendes is, is dit blykbaar ook baie moeilik om ’n kultus te verlaat.

Hulle kan mense so beheer dat hulle verbied word om verhoudings met iemand van ’n ander kerk aan te knoop; hulle sonder mense af, en enige vorm van twyfel kan as “duiwels” of “van Satan” verdoem word.

Ook word lede om die beurt opgehemel en afgekraak.

Kortom, jy mag nie meer vir jouself dink nie. Jy word gewetenloos gemanipuleer. Dit wil vir my voorkom of van die lede soos zombies optree.

Hipnose word volgens die boek gereeld ingespan, terwyl massa-opsweping en beswymings ook dikwels voorkom.

Van hierdie kultusse is werklik geldmaakmasjiene. Een kerk se lidmate het volgens ’n berig in Rapport waarna Marx verwys, oor vier jaar ’n duiselingwekkende R43,3 miljoen aan die kerk geskenk. Soms word hul bankstate geëis.

Ja-nee, mens kan die leiers nie juis van minimalisme beskuldig nie.

Dis interessant hoe Siener van Rensburg, by wie selfs Koos de la Rey aangeklop het, se voorspellings uitgelê word. Party maar so vaag soos dié van Nostradamus. Hy was ’n Christen-profeet. Maar dan vra jy jou af waar mens die streep tussen ’n Christen-profeet en ’n valse profeet trek.

Dit lyk asof die van Van Rensburg heldersiendheid in die gene aanwakker, want die skrywer verwys ook na “profeet” Kobus van Rensburg van die Spirit Word House in Stilfontein wat soos ’n Lasarus van ouds uit die dode sou herrys. Sy aanhangers wag nou nog. Hy het in 2013 gesterf, maar hy is, helaas, steeds dood.

Ek het ook al oor die jare oor vele bulldusters gelees wat godsdiens gruwelik misbruik en dan eintlik toegewyde en opregte gelowiges se naam deur die modder sleep. Sou daar iets opspraakwekkend bisar gebeur, sal baie mense dan sommer alle Christene oor een kam skeer. Dan is almal sommer voor die voet skynheilige boereverneukers.

Ironies genoeg, net toe ek die laaste bladsy van die boek gelees en toegeklap het, lees ek op Facebook ’n inskrywing wat ’n vriend, Stanley Jacobs, skrywer en gemeenskapsleier van Strandfontein op die Kaapse Vlakte, gedeel het. Op die video sien mens ’n baie welsprekende “Dr Profit” wat glo ’n doktorsgraad het en die verhoog met ’n klompie mense deel wat togas dra wat hulle laat lyk asof hulle ook doktorsgrade het. Dit lyk na ’n waardige gradeplegtigheidsgeleentheid, ’n Verdwaasde lidmaat op die verhoog word dan ingelig dat die profeet die vorige aand onder gebed en in die teenwoordigheid van die Heilige Gees gehoor het dat die einste lidmaat die eerste een gaan wees wat die dooies gaan laat opstaan. Die arme man lyk vir ’n rukkie lank asof hy ’n spook gesien het. Dan volg oorverdowende applous.

Stanley se Facebook-vriende het behoorlik mond uitgespoel oor die toneeltjie.

Stanley, ’n gelowige en ’n pastoriekind, ook bekend as #YourUncle op sy Facebook-blad, skryf op sy kenmerkende humoristiese manier: “As ek dood is dan vat julle my stryt na Dr Profit toe!”

Hy vertel my later die mense kan tog so gullible wees.

In Kultusse in Suid-Afrika word ook met ’n foto verwys na ’n spektakel by die kerk van pastoor Alf Lukau in 2019 naby Johannesburg waar hy ’n man by sy begrafnis “opgewek” het. Ek weet nie of die “akteur” wat eers sedig en “morsdood” in sy kis gelê het, as kandidaat vir ’n Oscar benoem sal word nie, maar mens moet hom dit toegee, hy het sy bes gedoen. Hy het rukkerig orent gekom tot hy regop in sy satynuitgevoerde kis gesit het. Sy oë wild aan die rol tot hy ... wel … springlewendig was.

’n Paar dae daarna is hy toe glo regtig dood.

........
Marx het mense wat wonder en peins oor geloof, ’n groot guns bewys deur met die vaardigheid van ’n goeie joernalis die boek te skryf.
........

Marx het mense wat wonder en peins oor geloof, ’n groot guns bewys deur met die vaardigheid van ’n goeie joernalis die boek te skryf. Toeganklik en met behoorlike bronne. Dit moes tydrowend gewees het en toewyding gekos het.

Ek het net vir TB Joshua gemis, maar hoor toe by Stanley dat die “Dr Profit” glo by die einste TB klasse bygewoon het.

Stanley het ook vertel dat party bedenklike “pastore” op die Vlakte mense tot R10 000 vra vir vier geselssessies. Dis amper so vindingryk soos die pastoor wat ’n klompie jare gelede ’n flink verdienste gemaak het met foto’s wat hy met sy selfoon “in die hemel geneem” en toe verkoop het.

Die boek sluit af met die gepaste woorde van die bekende teoloog Stephan Joubert: “As verweer teen menslike wolwe moet ons ons eie harte goed oppas, asook dié van almal om ons. Lees hierdie boek.”

Net so. Lees dit!

  • Die agtergrondfoto op hierdie artikel se fokusprent is geneem deur Stephan Louis en verkry op Unsplash.

Lees ook:

Hoe verklaar jy dit? Met Jana Marx en Stefaans Coetzee by Momentum Beleggings Aardklop 2023

In gesprek met Jana Marx oor rekordslaner Devilsdorp

The post Kultusse in Suid-Afrika deur Jana Marx: ’n resensie first appeared on LitNet.

The post <em>Kultusse in Suid-Afrika</em> deur Jana Marx: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796

Trending Articles



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>