Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

Wat maak ’n goeie fiktiewe sluipmoordenaar?

$
0
0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Wat maak ’n goeie fiktiewe sluipmoordenaar? As jy dié vraag vir Bard op Google vra, gee hy drie punte wat ek as volg opsom: ’n Goeie sluipmoordenaar moet op sy voete kan dink en sy opdrag kan uitvoer sonder om gevang te word. Hy is uiteraard ’n meester op verskeie terreine onder andere gevegkuns, wapens, vermomming, ensovoorts.

In twee woorde, The Jackal.

Dit is al meer as 40 jaar sedert Frederick Forsyth se ikoniese The day of the Jackal. In my persoonlike versameling staan my eie top-10 langs mekaar, The Jackal steeds op nommer 1 met The Bourne Identity (Robert Ludlum) direk langs hom. Soms is ek nie eens seker wie is eerste en wie’s tweede nie. Albei skrywers het vir my die perfekte sluipmoordenaar geskep en my vir ewig vir die genre verower.

In die laaste paar jaar het my top-10 gegroei, eers na top-15, nou top-20. En dit raak al hoe moeiliker om die top-10-fiktiewe sluipmoordenaars te rangskik weens die hoeveelheid talent wat kompeteer om die Forsyth/Ludlum-kroon.

As ek terugkyk na my top-5-sluipmoordenaarkarakters van 2023, staan die volgende vyf boeke uit. Buiten nommer 1, verskyn die ander vier boeke in geen spesifieke rangorde nie.

5: The last orphan (Gregg Hurwitz)

Penguin Random House

9780241402900

Die eerste boek in die reeks, Orphan X, is uit alle oorde geloof: Lee Child, Harlan Coben en Jonathan Kellerman. Op die voorblad waarborg David Baldacci lesers: “Read this book. You will thank me later.” Dit is geen leë bemarkingstegniek nie. Robert Crais het sover gegaan om Orphan X met Ludlum se internasionale blitsverkoper The Bourne Identity te vergelyk. Selde is sulke lofpsalms koster, in dié geval het Evan Smoak aka Orphan X aka The Nowhere Man my grootste verwagtings oortref. Ek het al agt boeke in die reeks, asook drie van die vier kitsverhale gelees. En ek gaan sonder twyfel voor Bargain Books se deure slaap om Lone Wolf (2024) eerste te koop.

Dit is veral Evan se komplekse verhouding met Mia Hall en haar seun Peter, asook die humor van die sestienjarige rekenaarboffin Joey Morales wat my aan die lees hou. Hurwitz het die vermoë om klank te gebruik om spanning op te bou. Dink Thomas Perry (The Butcher’s boy). En die tegniese detail waarmee sy sluipmoordenaar kyk, herinner aan Tom Wood (The hunter).

As jy gaande is oor David Baldacci se Will Robie (The innocent), gaan jy Hurwitz se Evan Smoak-reeks verslind. Orphan X is sonder twyfel stewig geanker onder my top-10-gunsteling-sluipmoordenaars ooit, en met hierdie boek bewys Hurwitz opnuut hoekom.

Waaroor gaan The last orphan? Maak dit werklik saak? Alles wat jy in die genre van ’n meesterstuk verwag – en meer – lê tussen die 340 bladsye. En solank hy die wenformule van Orphan X in ’n instant blitsverkoper verander het, copy en paste, sal ek sy boeke koop.

Met apologie aan David Baldacci: Koop die boek. En bedank my later.

4: Ghosts (Mark Dawson)

Welbeck

9871787397644

4 miljoen kopieë verkoop en ek het nog nooit van die eks-M16-sluipmoordenaar John Milton gehoor nie! Ek kon weens verskeie redes nie aan die boek ’n vyfster-toekenning gee nie, maar ek kan nog minder aan my gunstelingboeke in die genre vir 2023 dink sonder om Dawson se naam neer te pen. Want ’n boek hoef nie in alle opsigte perfek te wees om dit te geniet nie.

Ghosts, die vierde boek in die reeks, is oorspronklik in 2014 as ’n selfpublikasie uitgegee.

Die Ludlum-formule van ’n geheimsinnige skaduwee-organisasie (Group Fifteen) en dodelike sluipmoordenaar het dadelik my aandag getrek. Hurwitz het ook in Ludlum se voetspore gevolg met Evan Smoak en dit vervolmaak, hoekom nie Dawson nie?

Die terugflits (Deel 1, agt jaar gelede) is van die beste eerste 40 plus bladsye wat ek nog gelees het. Dit lê die perfekte fondament vir ’n blitsblaaier. Dink hier aan Andy McNab (Crisis Four) en Chris Ryan (The kill zone). Deel 2 begin goed, maar word te lank uitgestrek. Alles voel ook nie vir my geloofwaardig nie. Maar die pylvak maak op vir alles wat in my oë verkeerd is.

Goodreads sal aan jou sê waaroor die boek gaan, ek sal aan jou uitwys wat my gehinder het om aan Dawson ’n vyfster te gee.

Die kroeggeveg in Texas, vir een. Ek is al te bewus daarvan dat skrywers die soort gevegte gebruik om hulle karakter se staal te wys. Maar daar is beslis meer kreatiewe maniere om dit te doen. Hurwitz se The last orphan het ook ’n kroeggedeelte, maar die manier hoe hý die gebeurtenis in Langjökull skets, is meer effektief. Hurwitz gebruik ’n polisieman om sy mees vreesbevange oomblik te beskryf, terwyl Evan ook in die kroeg sit. In A quiet man breek Tom Wood die ys ná sy kroeggeveg met skerp humor.

Tweedens, en dalk die hoofrede, die Jackal-faktor ontbreek. Waar Evan Smoak vir my aan al drie Bard se vereistes voldoen, is John Milton net nog ’n sluipmoordenaar op die blok.

Hoekom dan enigsins hierdie boek aanbeveel? Dit is soos John Wick, ons kyk die films vir sy aksie en daarvan het Ghosts oorgenoeg.

Aanhangers van Ted Bell (Hawke) kan gerus Ghosts nader trek.

3: Burner (Mark Greaney)

Niemand skryf aan die Tom Clancy-franchise as jy nie kán skryf nie!

Mark Greaney het The gray man geskep vóór hy saam met Tom Clancy aan Locked on (2011) gewerk het, maar ek was totaal onbewus daarvan. Ek het dit dalk êrens raakgelees, maar moontlik gedink hy gebruik Clancy as ’n stepping stone. Totdat ek The gray man ontdek het.

Die tegniese detail waaraan ek in Clancy-boeke verslaaf geraak het, is die hoof-aantrekkingskrag wat my in ’n Gray Man-dissipel verander het. Ben Coes, Jack Carr, Dalton Fury – net om ’n paar te noem – ewenaar Greaney se tegniese detail, maar niemand, en ek bedoel niemand, verbeter hierop nie.

Nee, The gray man staan nog nie tussen my top-10-boeke op aandag nie, bloot omdat Courtland Gentry, ’n voormalige CIA-operateur met die kodenaam Violator, net nog ’n eks-spesialemagte-operateur is. Sedert die oorlog teen terreur is daar baie: Scot Harvath, James Reece, Kolt Raynor, Dewey Andreas, ensovoorts. Maar ek sal sy (en hulle) boeke aankoop soos hulle verskyn. Hoekom? Soos met die meeste politieke spanningsriller-skrywers voel dit of ek môre se voorblad lees.

2: The collector (Daniel Silva)

Harper Collins

9780008280666

Die Israeliese wraakengel, Gabriel Allon, is lankal nie meer die gevreesde sluipmoordenaar wat ek in The kill artist bewonder het nie. Ja, hy kan nog steeds sy vyande met Krav Maga moertoe slaan, maar kuns is deesdae die sentrale lokaas. Tog is daar bitter min van die 23 Gabriel Allon-boeke wat ek nog nie gelees het nie.

Met Gabriel se gesinslewe van man en pa van twee, lees The collector meer soos ’n Harry Bosch- (Michael Connelly) of Bennie Griesel-verhaal (Deon Meyer) as jou tipiese skiet-skop-en-donder-spioenasie leesstof. Maar net soos Ludlum van ouds, spring The collector oor die wêreld.

Toe ek destyds vir Silva ontdek het, het ek ook kennis gemaak met Barry Eisler (Rain fall) en kort daarna Vince Flynn (Transfer of power). Die flair waarmee al drie skrywers hul reekse aangepak het, het nuwe stemme na die genre gelok. Voor hulle was daar bitter min lang reekse. As ek vinnig dink, kan ek net aan Andrew Vachss (Flood) dink. Selfs die Bourne-reeks was toe nog net die drie boeke uit Ludlum se pen. Eric van Lustbader (The Bourne legacy) het eers in 2004 nuwe asem in die reeks geblaas. En daarvoor sal ek die trio en ander ewig dankbaar wees.

Beteken dit dat ek Silva uit lojaliteit op vanjaar se top-5 plaas? Geensins. Niemand skryf aan ’n 23-reeks en verkoop as hy nie weet hoe om sy lesers te boei nie. En op daardie gebied is hy ’n meester. Alhoewel ’n gesteelde kunswerk ’n groot rol in die verhaal speel, is daar ’n groter komplot aan die broei, en baie skiettonele.

Buitendien, Daniel Silva is die enigste skrywer in dié genre wie se boeke met ’n glas wyn gelees kan word.

1: Assassin Eighteen (John Brownlow)

Hodder & Stoughton

9781529382587

Ek het nog nooit voor Assassin Eighteen van John Brownlow gehoor nie, maar hierna sal ek sy naam nooit vergeet nie. Die laaste keer dat ek ’n sluipmoordenaar so geniet het, was Orphan X.

Alles wat Bard gestipuleer het om die perfekte fiktiewe sluipmoordenaar te skep, is Assassin Seventeen. En meer.

Net soos Derek Haas (The Silver Bear) se Columbus praat Assassin Seventeen plek-plek met die leser. En waar Hurwitz terugflitse gebruik om Evan Smoak se agtergrond te skets, kombineer Brownlow dit met Andrew Vachss (Flood) se tegniek om dit aan die teks te koppel. James Patterson het lankal vir ons die effektiwiteit van kort hoofstukke gedemonstreer, Brownlow neem dit ’n stap verder deur sy cliffhanger soms in ’n enkele sin uit te skree.

Kortliks: Assassin Seventeen het afgetree en wie ook al nommer agtien wil word, moet hom doodmaak. Ek verwag ’n Sylvester Stallone en Antonio Banderas kat-en-muis-spel, maar kry soveel meer as in hulle 1995-film Assassins. Dit is hoe ’n sluipmoordenaarboek moet lees.

Assassin Seventeen is sonder twyfel op my top-10-gunstelingsluipmoordenaars ooit. Ek moet nog net besluit wie ek degradeer.

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

The post Wat maak ’n goeie fiktiewe sluipmoordenaar? first appeared on LitNet.

The post Wat maak ’n goeie fiktiewe sluipmoordenaar? appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>