Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1800

Waar jakkalse huil deur Elrien Scheepers: ’n resensie

$
0
0

Waar jakkalse huil
Elrien Scheepers

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624094128

“Wie kan redeneer oor die gewoontes van roofdiere wanneer ’n jakkals aan jou keel lek? Alles is deesdae anders. Die diere is net so honger soos die mense.” (Waar jakkalse huil, bl 6)

Dit is winter in die jaar 2055 en Genmods is in beheer van Suid-Afrika. Die tiener Laela Nix is wees gelaat nadat haar ouers op hul plaas in die Cradock-omgewing deur “militêre hommels” (20) doodgeskiet is. Haar pa was ’n entomoloog en haar ma ’n databeheertegnikus en ’n bestudeerder van roofvoëls. Die gesin was gedwonge bewoners van een van die plaaskommunes nadat die kosproduksieprojek van gemeenskapsplase van 2040 misluk het. Laela is ook ’n oorlewende van die groot Hongersnood wat Suider-Afrika getref het weens faktore soos verwoestende klimaatsomstandighede en nievolhoubare landboupraktyke.

........
Na die aanval op haar ouers vlug sy met haar swerfvalk, Intsimbi, in ’n stokou rooi Jeep Wrangler, maar iewers in die Karoo verloor sy beheer oor die voertuig en dit bots teen ’n sandwal.
........

Na die aanval op haar ouers vlug sy met haar swerfvalk, Intsimbi, in ’n stokou rooi Jeep Wrangler, maar iewers in die Karoo verloor sy beheer oor die voertuig en dit bots teen ’n sandwal. Sy kom tot haar bewussyn met die reuk van haar eie bloed en “die vreemde stank van ’n dier” (5) in haar neus. Die aantreklike Finian Rune en sy mak rooijakkalswyfie, Nera, kom tot haar redding en Finian neem Laela met sy outopod na die insekteelstasie wat hy op ’n vervalle plaas buite Oudtshoorn bedryf. Hopelik sal sy daar kan aansterk en veilig wees teen die soekende Genmod-hommels en die Skedelbendes. Al is dit net vir ’n rukkie.

By die teelstasie tref Laela ook vir Argento, die jakkalsmannetjie, en ’n rooikopmeisie, Avabelle Griffin, aan. Daar is ook Sivan, die atletiese jagter en kruiedokter, wat later ’n goeie vriendin van Laela sal word. Hierdie jagter-vegter-figuur speel mettertyd ’n belangrike rol in Laela se oorlewingstryd teen Jett Mara, die vreesaanjaende Genmod wat ’n skrikbewind saam met haar makker, die nuwe president, Ash Rathmore, voer. Maar Laela dra ook ’n geheim saam met haar. Sy is op ’n missie om ’n waardevolle kriokapsule veilig by haar pa se vriend in Stellenbosch te besorg. Hierdie kapsule is van kardinale belang in die geheime navorsingsprojek om die uitgestorwe heuningby te laat herleef. ’n Item wat ten alle koste uit die hande van die Genmods gehou moet word. Die probleem is egter dat sy na haar ongeluk nie ’n idee het waar die kapsule is nie en sy kan dit nie waag om navraag daaroor te doen nie. Waar is die kapsule? Wie kan sy vertrou? Op wie kan sy reken vir hulp?

........
Scheepers slaag daarin om weer eens die jong leser te boei met ’n avontuurlustige, aksiebelaaide, distopiese verhaal.
........

Waar jakkalse huil is Elrien Scheepers se tweede distopiese jeugroman (Donkerbloed het in 2021 verskyn) en ewe aangrypend. Scheepers slaag daarin om weer eens die jong leser te boei met ’n avontuurlustige, aksiebelaaide, distopiese verhaal. Al die elemente vir sukses is daar: spanning, gevegte om oorlewing in ’n vervalle natuurlike en sosiale omgewing, ’n stryd teen rigiede beheer, teen onderdrukkende politieke magte, maar ook ’n verhaal van jong liefde, die pad na volwassewording en die opdrag om tot die redding van die mensdom te kom.

Soos genoem in ’n artikel oor distopiese tekste in LitNet Akademies, verwys ek volgens na Setyorini se bewering dat die woord distopie afgelei is van dys- en topos en beteken dit letterlik “slegte plek”. Een van die vernaamste bemoeienisse van distopiese fiksie is die bedreiging van omgewingsverval en natuurrampe veroorsaak deur dinge soos aardverwarming, verhoogde seevlakke, storms, droogtes, aardbewings en dies meer (Contemporary dystopian fiction for young adults: brave new teenagers, geredigeer Basu, Broad en Hintz, Routledge, 2013). ’n Distopiese teks bied ’n beskrywing van ’n gemeenskap waarin die ideale vir verbetering tragies skeefgeloop het. Voorts is die omgewing van die distopie ’n entiteit op sigself en speel dit ’n rol in die jong protagonis(te) se ontwikkeling (Basu ea 2013).

Elemente van wetenskapfiksie word in die verhaal verteenwoordig deur tegnologiese ontwikkelings en skeppings. Daar is “outopods”, klein voertuie wat soos metaalinsekte lyk, “hoog op drie dik wiele” staan en met “blink vensterpanele soos veelvuldige klein oë” (7) rondry. Ambulanse is vervang met blitssnelle “reddingsdroids” (9). Navorsingsinligting, -data en -monsters word op “kriokapsules” gestoor (9) en “androïede en meelwurms” het plase oorgeneem. Selfone is met klein implantate (“koppelstukke”, 12) agter die oor vervang en verpligte, ingeplante mikroskyfies merk mense as “besittings van die Genmods” (17). Karakters soos kuborge (half mens en half masjien) en Genmods bevolk die verhaal. ’n Genmod word in ’n laboratorium verwek en word gebore as “’n geneties gemodifiseerde” en “perfekte” baba. Hierdie wesens is wreed, “beeldskoon en slim en selfsugtig” (40). Na ’n suksesvolle staatsgreep regeer hulle nou en is hulle “so vreesloos as wat hulle gewetenloos is” (40). Die oogmerk van hierdie maghebbers is om die oorlewendes van die Hongersnood uit te wis: “Hulle sal ons een vir een uitmoor met hulle patrollies en vuurhommels en kuborgsoldate” (41). 

Aanvanklik is kos in laboratoriums gekweek, uit seewier gemaak en as 3D-gedrukte produkte vervaardig. Dit het misluk en vernietigende hongersnood het gevolg. Dit was die tyd “nadat ons die virtuele dokters en prokureurs en hiperlus-sneltreine en ingeplante polspanele en ondergrondse slimstede verloor het” (28). Die oorblywendes voer nou ’n eenvoudige oorlewingsbestaan met voedsel soos patryse, tarentale, duiwe en meelwurmkoekies, terwyl hulle in vervalle ou geboue teen genadelose temperature en gevare skuil.

Soos dikwels in ’n distopiese verhaal, is die milieu waarin Waar jakkalse huil afspeel, tekenend van omgewingsverval. Telkens in die teks is daar verwysings na die gevolge van onverantwoordelike menslike optrede teenoor die natuurlike omgewing wat ekstreme weersomstandighede tot gevolg het. Reeds van bladsy 6 af is daar die verwysing na die allesoorheersende hitte en die felheid van die son in teksgedeeltes soos “sy hyg in die warm son” en “sand wat my handpalms brand”. Verderaan word verwys na “die gloeiende aardbol”, “droogtes, vloede en landboupeste”, “bye wat verdwyn het” en “swerms vinke en mossies is uitgewis” (25), asook “vrugte wat nou nie meer bestaan nie” (26). Hierdie verhaalgebeure is tipies van die ekodistopie, ’n verhaal waarin postapokaliptiese gemeenskappe uitgebeeld word en waarin een of ander ekologiese katastrofe plaasgevind het, insluitend die uitwissing van natuurlike hulpbronne en die ineenstorting van landboustelselsels. In Waar jakkalse huil is die hoop vir die oorblywende bevolking se voedselsekerheid op die herteelt van die uitgestorwe heuningby – die bestuiwer en die versekeraar van die voortbestaan van gewasse.

........
Voorop in hierdie teks staan die terugkerende tema van die jeug as redders en bemiddelaars in die nadraai van onverantwoordelike optrede en onverskillige sosiale praktyke deur vorige generasies en heersende regeringsmagte.
........

Voorop in hierdie teks staan die terugkerende tema van die jeug as redders en bemiddelaars in die nadraai van onverantwoordelike optrede en onverskillige sosiale praktyke deur vorige generasies en heersende regeringsmagte. Veral die misbruik en wanbestuur van ekologiese stelsels op aarde kom ter sprake. Hierdie ondeurdagte onverskilligheid van vorige en huidige bedelings het tot dodelike omgewingskwessies en gevolglike hongersnood gelei. Krisisse het ontstaan wat gelei het tot die agteruitgang en vernietiging van mens en natuur. Al oplossing wat moontlik is, is die ingryping en optrede van verantwoordelike, dapper jongelinge. Soos in ’n kruistog op soek na die heilige graal, is Laela en haar vriende op soek na ’n manier om die belangrike kriokapsule veilig by sy eindbestemming te kry – die versekering, dus, van die sukses van Projek Intsimbi. Die doel van hierdie reis is om die kapsule met heuningbysemen veilig by Edward Roux, lid van die Hymenoptera-groep in Stellenbosch, te kry. Daar sal hulle probeer om die waardevolle klein insek te hervestig.

Met Waar jakkalse huil slaag Scheepers daarin om die leser te boei en mee te sleur op ’n wilde reis van avontuur, gevaar, die drang na oorlewing en vernuwing, asook ’n begeerte na ’n beter toekoms vir die mensdom. En sentraal in hierdie veeleisende reis staan die jongeling – die hoop van die toekoms, fier en sterk in haar stryd teen die nagevolge van ’n onbevoegde, mislukte sosiale bestel. Die verhaal bied egter ook ’n blik op die lewe van die jong karakters en op hulle drome, verlangens, verliese en hul reis na volwassewording.

Hierdie boek is geskik vir lesers vanaf ongeveer twaalf jaar oud. Dit behoort ook byval by ouer lesers te vind.

Lees ook:

"Ons gaan weer nuut begin": Kraak en Snak (2018) deur Rouxnette Meiring as ekodistopiese jeugverhale

The post <i>Waar jakkalse huil</i> deur Elrien Scheepers: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1800


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>