
Boekomslag: Sirkelgang deur Johann Lodewyk Marais (Naledi, 2023). Foto van Johann Lodewyk Marais verskaf.
Titel: Sirkelgang
Skrywer: Johann Lodewyk Marais
Uitgewer: Naledi (2023)
ISBN: 978-1-991256-09-6
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
In die hedendaagse letterkunde is daar selde ’n werk so deurdrenk van ’n diepgaande begrip van die mens se plek in die groter konteks van ons planeet as wat Johann Lodewyk Marais se nuutste digbundel, Sirkelgang (2023), bied. Hierdie bondige bundel van sewe afdelings is nie net ’n magtige toonbeeld van Marais se meesterskap van die Afrikaanse taal nie, maar ook ’n getuienis van sy vermoë om belangrike en aktuele kwessies aan te spreek.
Die eerste gedig, “Interteks” (bl 7), en die laaste gedig, “Die uur” (73), dien as sleutel en slot vir die bundel, wat terselfdertyd die betekenis van ’n sirkelgang as die herhalende terugkeer van siklusse onderskraag. Die openingsgedig onthul die wyse waarop die mens opnuut ’n vorm te voorskyn bring vanuit die aarde, met die opdrag om die aarde met “eerbied” te hanteer:
Interteks
Na John Updike
’n Mens kan nie verhelp om meer te leer
wanneer jy die Aarde in jou hand neem
en gebuk by die kleisloot ’n vorm,
oeroud én nuut, te voorskyn wil bring nie.
Tel dit met eerbied op: dit is rou klei
met miljoene vingerafdrukke op.
Marais het ’n fyn oog vir die omvattende geologiese verloop waarin die menslike bestaan kortstondig figureer. Alhoewel die mens se impak op die aarde skynbaar klein mag wees, plaas Marais dit sentraal in sy beskouing. Hy beklemtoon die mens as ’n bepalende faktor in die Antroposeen, ’n era waarin ons handelinge die toekoms (en moontlike ondergang) van die aarde kan bepaal.
Reeds vanaf die tweede afdeling word die dichotomie van natuur versus kultuur vooropgestel – vergelyk “Lucky packet” (9) waarin die spreker as kind ’n aantal plastiekvoorwerpe in ’n verrassingspakkie vind, in teenstelling met die “versteende blare” wat sy pa vir hom optel. Hierin word nie net die verhaal uit die spreker se kinderdae vertel nie, maar ook die groter geologiese verhaal waarteen die klein menslike drama sigself afspeel.
.....
Alhoewel die mens se impak op die aarde skynbaar klein mag wees, plaas Marais dit sentraal in sy beskouing. Hy beklemtoon die mens as ’n bepalende faktor in die Antroposeen, ’n era waarin ons handelinge die toekoms (en moontlike ondergang) van die aarde kan bepaal.
.....
Die tweede afdeling word verder gekenmerk deur argeologiese opgrawings – vergelyk “Lucy” (10) en “Neanderdal” (11) – en geologiese verhale van klimaatsverandering – vergelyk “Geel Nyl” (12). “Darwin aan die Kaap” (13) verwys na die historiese besoek van ’n jong Darwin aan die Kaap wat poëties verbeel word. Afdeling drie het ’n outobiografiese invalshoek en vertel verhale wat spesifiek op die binneland betrekking het: Harrismith, Warden, Platrand. ’n Tweede deel van afdeling drie verwys na Marais se opkomende digterskap, veral die ontwikkeling van sy poëtika in die geselskap van tydgenote – vergelyk “Reisplan” (28). Mooi gedigte oor die Kaap word ook hierin opgeneem – soos “Pringlebaai” (29) en “Leroux op Onrus” (31). Hierdie afdeling is vir my veral interessant, want dit gee ’n kykie op die lewe van die digter Johann Lodewyk Marais, met vermelding van reise en medereisigers – vergelyk die eerste vyf versreëls van “Leroux op Onrus” (die gedig is 1989 gedateer):
Januarie het ek, John en Marcel
ná ’n reis deur die Vrystaat en Karoo
op Onrus – “die olifantbegraafplaas
van die Afrikaanse letterkunde” –
besoek gebring aan Etienne Leroux,
of Stephen, soos vriende hom kon noem.
Die vierde afdeling heet “Siel van die slang”, wat sinspeel op Eugène N Marais se Die siel van die mier (1936). Hier lees ons wat Marais se “spesieverse” genoem word. Soos die titel uitspel, gaan dit spesifiek hier oor slange: “Luislang” (40), “Swartmamba” (41), “Boomslang” (42), “Rinkhals” (43), “Molslang” (44) en “Pofadder” (45). Hier is “Swartmamba”:
Swartmamba
Dendroaspis polylepis
In die dorpies Schoemansdal, Middelplaas
en Jeppe’s Reef, ’n uithoek van die land,
beweeg die slange tussen die mense
tussen geil lantana en soetdoring,
in ’n enorme jakkalsbessieboom,
in ’n droë paalheining, tussen gras
en onversteurd in ’n rietdak se nok.
Op pad na die dam se konstruksieterrein
seil ’n slang soos blits voor die motor in
en aanskou ek die lieflike lyding
met die swart bek gapend en verwytend
en die grate wit onder die blink vel.
’n Treffende gedig in afdeling vyf is “Lewende hawe” (51), waarin ’n beskrywing gegee word van beeste op hul weg na die slagpale. Hierdie gedig het my as veganis bygebly, juis omdat daar so min oor die lot van sogenaamde produksiediere geskryf word. (Marius Crous het wel in Tussenganger (2020) hierdie onderwerp aangespreek in sy gedig “vleis” (107) – ’n eerste wat ek in die Afrikaanse poësie raakgelees het.) Hier is “Lewende hawe”:
Lewende hawe
Voor die laai, word die lewende wesens
klaargemaak vir die toestande wat wag
op die lang pad na hulle bestemming –
só word in die voorskrifte neergelê.
Dan kan die skuifdeure vinnig toeklap
en met die koppe vorentoe gebind,
kan die vragmotor vertrek vir die reis
ingeperk in hulle stukkies spasie
om hul staande te hou op hierdie dag
met oë wild soekend na doel en rede.
Verder wys hy in hierdie afdeling op die herkoms van die “bos taurus” in “Ankole” (49); die boeiende wêreld van miskruiers in “Beesmis” (50) word semioties verbeel; “Orkaskar” (53) is ’n ekfrastiese gedig met verwysing na Rembrandt en Bacon; “Karkas” (54) is ’n sterk konseptuele gedig wat die eetbare streke van ’n bees karteer.
Afdeling ses bring historiese gebeure op die lappe, soos dié van Gandhi in “Mahatma Gandhi, Ladismith” (59) en die uitvinding van die AK-47 deur die digter Michael Kalasnikov in “AK-47” (60). Ook oor onlangse gebeure word kommentaar gelewer, en sketse van diktators word voorgehou: “Wladimir Poetin” (61), “keiser Bokassa se goue troon” in “Bangui II” (63), en die brande in die reënwoude van die Amasone, aangebring deur president Xavier Bolsonaro in “Xavier Bolsonaro” (66). Vergelyk die gedig oor die Russiese diktator, waar hy “kaalbolyf op ’n Kamchatka-beer” uitgebeeld word, ’n gedig wat reeds in 2007 geskryf is.
Daar is ook ’n baie spesifieke spanning te bespeur tussen die heersende orde (kapitaliste) en hul leë retoriek ten opsigte van klimaatsverandering in “Greta Thunberg” (67) en “Retoriek” (68). Eersgenoemde is ’n naskrywing van Ingrid Jonker se “Die kind”, waarvan die eerste strofe as volg lui:
Die kind is nie stil nie,
die kind sit met ’n plakkaat
– SKOLSTREJK FÖR KLIMATET –
voor die Sweedse Parlement
vir die Aarde en lewe.
Die laaste gedig van afdeling ses, “Die begrafnis (2020-2021)” (69), bring die ontstellende verloop van die COVID-19-pandemie met behulp van die uitbeelding van ‘n begrafnis en die tragiese naloop daarvan aan bod:
Die begrafnis
2020–2021
Die vrou se deur was November al toe,
toe soos soveel ander deure dié tyd.
Maar vandag is sy ná maande weer terug
in haar kantoor met haar naam en nommer
op die deur wat lank ontoeganklik was.
Sy groet en vertel van die begrafnis:
die uitvaart van haar vriendin in ’n sak,
twintig agter swart lappe gemasker
en die omhelsings en hulle trane;
getroos deur die kosse en kleinkoekies.
Sy is terug stad toe met dié dag se seer,
maar nou het tyding haar kort-kort bereik
oor die sterwe van ander rougangers,
saamgetrek om die vreemde double bag,
vir wie niemand die deur kon toemaak nie.
In afdeling sewe is daar slegs drie gedigte. Dit begin met drie haikoes en beweeg dan na “Die geel wandelaar” (72), ’n gedig wat inspeel op Martin Heidegger, die bekende Duitse filosoof, en sy essay “Der Feldweg”. Hierdie stuk speel af in Meßkirch, Heidegger se geboorteplek. Die poëtiese beskrywing van ’n introspektiewe oomblik met ’n naderende geel wandelaar suggereer ’n geestelike ontwaking of insig.
.....
Hierin lê ’n opregte waardering en eerbied vir nie slegs sy voorouers nie, maar ook alle wesens wat voor hom op die aarde was.
.....
Die slotgedig, “Die uur” (73), bied ’n huldeblyk aan die spreker se voorouers. Deur die gebruik van ’n mitologiserende lens word die spreker as Dasein (wat letterlik vertaal na “daar-syn”, of sy aanwesigheid in die wêreld) voorgestel. Hierin lê ’n opregte waardering en eerbied vir nie slegs sy voorouers nie, maar ook alle wesens wat voor hom op die aarde was. Die subtiele verandering in die natuur – die veranderende lig, langer skadu’s en voëls wat nader kom – skep ’n heilige ruimte en ’n spesifieke tyd vir introspeksie en eerbetoon. Die aktiwiteit van varkore pluk en dit na die graftes te neem beklemtoon die verweefde band tussen die lewende en die oorledenes, terwyl die frase “bestrede en belaste aarde” die geskiedenis en stryd oproep wat deur generasies gedra word. Op hierdie wyse tree die spreker ook weer in gesprek met die openingsgedig, waarin die opdrag om die aarde met eerbied te hanteer, volbring word:
Die uur
Daar is ’n uur as die lig verander,
die skadu van die bome langer word,
die tortelduiwe se gekoer aanhou
en die kraaie naby die huis kom sit.
Dit is die uur om varkore te pluk
in die ruie tuin van vantevore
en oorkant na die graftes toe te neem
waar my voorouers steeds ter ruste lê
in bestrede en belaste aarde.
Sirkelgang is ’n omvattende bundel wat kwessies soos klimaatsverandering, oorlog, pandemies en die voortbestaan van die planeet ondersoek. Marais bou voort op sy spesieverse, en die werk is ’n voortsetting van sy indrukwekkende poëtiese nalatenskap. Een van die hoogtepunte is beslis die 10-sillabetelling van die versreëls, ’n unieke kenmerk van Marais se poësie in Afrikaans. Hierby moet daar ook genoem word dat die bundel keurig uitgegee is deur Naledi. Sirkelgang is nie net ’n poëtiese kragtoer nie, maar ook ’n weerspieëling van die tydsgees en die diepe insigte van die digter.
Lees ook:
The post <i>Sirkelgang</i> deur Johann Lodewyk Marais: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.