Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

Oor ’n skrywer, ’n paar films, ’n televisiereeks en ’n resensent, ook ’n lesersindruk

$
0
0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Dis alles Jonathan Amid se skuld.

Lees Dennis Lehane, skryf hy vir my. Jy sal daarvan hou, skryf hy. Regtig, skryf hy. En toe, soos die duiwel dit wil hê, loop ek dadelik ’n kopie van World gone by van einste Lehane raak. 

Dis synchronizität, sê ek vir myself, en toe sê ek ook vir myself: Moenie maak of jy iets van óf Jung óf Duits weet of verstaan nie. 

Nietemin. Ek koop die boek. Ek het hom begin lees, maar kort voor lank verslind ek hom.

Die verhaal

Joe Coughlin is ’n afgetrede skurk wat sy tande geslyp het in die onderwêreld van Amerika tydens Prohibition met die stook en smokkel van rum en ander onwettige aktiwiteite.

In hierdie wêreld dra die mans fedoras, potloodstrepiepakke met breë lapelle en tweekleurige skoene. Dis die tyd van speakeasys en ongekurkte Lucky Strikes en Chicago piano submasjiengewere met 50-rondte-drommagasyne, Valentynsdagslagtings, Lucky Luciano en Meyer Lansky en die vroeë bloeitydperk (koelbloedige woordspel!) van georganiseerde misdaad in die VSA.

Die storielyn is slim en die wendinge deurgaans onverwags. Die spanningslyn is uitstekend en verseker dat jy gereeld vir jouself sê: Nog net een bladsy, dan sal ek gaan slaap/kos maak/stort/werk. Voordat jy jou oë uitvee, is jou koffie koud en die diere mor en beplan ’n rewolusie omdat dit ver verby hulle etenstyd is. Bowenal is dit die dialoog wat jou aangryp. Dit is uit die boonste rakke, werklik besonders, en sleep jou midde-in ’n ander wêreld in sonder dat jy dit eens besef.

Dadelik sit ek toe my fedora op, steek ’n Lucky aan (nee, nie regtig nie), gooi ’n knerts in die glas (wel, die Boeing was al oor) en stel ondersoek in na meneer Dennis Lehane.

Sommer gou lees ek hy was een van die draaiboekskrywers van David Simon se skitterende misdaadtelevisiereeks The wire. Daar was miskien nog nie weer sulke talentvolle skrywers vir een reeks nie, want onder andere George Pelecanos (The big blowdown) en Richard Price (Clockers) het ook daartoe bygedra. Het jy dit nog nie gekyk nie, wag daar ’n grootse ondervinding vir jou; hierdie storie oor die kat-en-muis-spel van polisie en dwelmhandelaars te midde van die sosio-ekonomiese verknorsings van die vroeë jare 2000 se Baltimore. Die storie, dialoog en spel in daardie reeks, veral die eerste, was so goed en so oortuigend dat na oorlewering selfs die polisieradio’s stilgeword het wanneer ’n nuwe episode uitgesaai word, omdat almal, almal daarna gekyk het.

Om nie eens te noem dat die breë publiek die eerste keer van Idris Elba te wete gekom het as gevolg daarvan nie.

Meer oor Lehane

Terug by Lehane. Hy is puik. Sy dialoog is meer as lewensgetrou, dit skep ’n oortuigende ander bestaan wat heeltemal natuurlik voel. Boonop is die spanning wat hy skep, by tye bykans ondraaglik.

Heeltemal oortuig is ek en gaan soek nog Lehane, kry The drop en Live by night te koop. Eersgenoemde is meer hedendaags en handel oor ’n kroegman werksaam in ’n drinkplek in Boston wat deur georganiseerde misdaad gebruik word as versamelpunt vir misdaadprofyte.

Dit tref my skielik (ek wil sê soos ’n .45-koeël, maar darem nie) dat beide die boeke verfilm is, en dat ek beide gesien het.

Tom Hardy en Noomi Rapace vertolk die hoofrolle in The drop. Hoewel die film my teleurgestel het, het daardie akteurs beslis nie. Nie net in hierdie rolprent nie, maar in ander is Tom Hardy uitstekend. Noomi Rapace egter laat ’n mens vergeet daar is ander akteurs op die skerm. Die twee het ook saamgespeel in Child 44, gebaseer op ’n uitstekende roman van Tom Rob Smith, waar Rapace Hardy so ore aansit dat ’n mens skoon van hom vergeet. Sy is ’n merkwaardige aktrise wat aanvanklik aandag getrek het met die onvergeetlike vertolking wat sy gelewer het in die Sweedse drieluik wat afskop met Män som hatar kvinnor, in Engels bekend as The girl with the dragon tattoo.

Live by night se protagonis is ook Joe Coughlin, maar handel oor die vroeë jare van sy lewe, oor sy beeldskone Kubaanse vrou en oor hoe hy gevorder het van straatboef tot die topbestuur van georganiseerde misdaad. Dit is verfilm met Ben Affleck en Elle Fanning in die hoofrolle. Hierdie film het my nie beïndruk nie, en ek verstaan nou dit is een van die gevalle waar die boek net strate beter is as die rolprent.    

Nou, nadat ek die drie boeke vinnig na mekaar afgeransel en die films onthou het, moet ek vanselfsprekend weer The drop kyk. En Child 44. En miskien ook weer die eerste seisoen van The wire. En miskien die ander vier seisoene ook.

Vervlaks, Jonathan, hoe ver dink jy is ek nou agter met my eie werk? 

Jou asjas.  

See also:

The post Oor ’n skrywer, ’n paar films, ’n televisiereeks en ’n resensent, ook ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>