Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1824

Nicol Stassen 60, ’n lesersindruk

$
0
0

Titel: Nicol Stassen 60
Skrywers: Verskeie

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485314370

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Hierdie lieflike, onderspeelde bloemlesing met essays, foto’s, staaltjies en gedigte het by my opgedaag twee dae nadat ek verneem het dat Johan Jack Smith aan ’n hartaanval oorlede is. Dit is hartseer om slegs mooi goed oor iemand te sê ná hulle dood is. Daarom was die feit dat verskeie mense die moeite gedoen het om vir Nicol Stassen te huldig terwyl hy nog leef, onverwags aandoenlik. My ma, nou ook al oorle, het geglo dat jy vir iemand blomme moes gee terwyl hulle leef. Die dooies het nie ruikers nodig nie.

Nou ja.

Die vraag is egter: Waarom huldig ons mense?

Lees gerus Nicol Stassen 60, dan sal julle agterkom waarom soveel uiteenlopende mense bydraes ingestuur het. Daar ís redes om hom te huldig. Die boek is saamgestel deur die personeel van Protea Boekhuis, maar hulle het die net wyd gespan en daar is, as ek reg getel het, 40 stemme wat na vore tree om verskillende aspekte van Stassen se lewe toe te lig.

Is dit ’n hagiografie? Nee. Tog, dit is waarskynlik net in ’n skeihof, op “realiteitstelevisie” of op waansinnige YouTube-video’s met baie advertensies waar mense bewustelik die vuil wasgoed sal gaan uitskud in die openbaar. Dit is dus nie verbasend nie dat hier kolligte geskyn word op verskillende aspekte van Stassen se suksesse. Daar is egter ook onderhoude ingesluit waarin hy self praat oor die uitdagings wat hy al ervaar het.

Wie is Nicol Stassen?

Die teks onder bespreking wy 136 bladsy daaraan om hierdie vraag te probeer beantwoord, en steeds is daar talle aspekte van die man wat nie beskryf is nie, so ek gaan nie probeer om sy lewe hier op te som nie ... behalwe om, weliswaar heel ontoereikend, voorlopig te sê Stassen is ’n boekmens, historikus én sakeman. Boonop is hy poutrots op sy kinders.

Daar is wel ’n aantal spesifieke punte wat dalk die rede vir die samestelling van hierdie boek sou kon uitlig:

  • Hy was ’n uitstaande student aan Tuks en het met ’n meestersgraad in chemiese ingenieurswese daar uitgestap.
  • Sy punte het gesorg vir ’n Abe Bailey-reisbeurs en daarmee het hy Europa deurkruis.
  • Hy het as ’n chemiese ingenieur begin werk, maar was gou beter bekend as die tweedehandseboekverkoper in Hatfield, Pretoria. Maar dit was nie sommer enige boek wat hy verkoop het nie. Stassen was ’n kenner van historiese werke.
  • Sy aankope en verkope was so suksesvol dat hy later ’n klein winkeltjie oopgemaak het.
  • Die klein winkeltjie het gegroei tot ’n groot winkel en uiteindelik was daar takke regoor die land.
  • Intussen het Stassen ook ’n uitgewery, Protea Boekhuis, begin, en hy het sommer so langs die pad ook aanhou studeer, tot hy uiteindelik ’n PhD in geskiedenis verwerf het.

Dít is reeds indrukwekkend, maar voeg daarby dat hy naas Engels en Afrikaans ook Zoeloe, Nederlands, Duits, Frans, Spaans, Portugees en Russies kan praat en lees, dán begin ’n mens sien hoekom sommige hoog opgee oor hom.

In die bloemlesing is dit kenners wat vanuit hul eie veld praat oor sy bydraes tot soveel verskillende aspekte van ons land en sy mense. Van die pryse en toekennings wat hom al toegeval het, kom ook ter sprake.

Dan is daar ook die groot aantal tekste wat Stassen geskryf, geredigeer en vertaal het.

Een van sy publikasies is die dagboek van William Chapman. Dit begin met: “This being the anniversary of my birth, completing today my sixtieth year …” Danksy Stassen kon ek hierdie vreemde verhaal van ’n fassinerende man in Afrika lees.

Teen 60 was daar al heelwat meer boeke op Stassen se kerfstok.

Toe ek destyds my enorme kopie van Die dorslandtrekkers gekoop het, wou ek by hom weet of dit dalk die grootste boek in Afrikaans is, en hy het net stout geglimlag. Dit lyk nie of hy gou wil ophou rekords oortref nie.

Die bydraers in sy huldigingsbundel is uiteenlopend, en so leer die leser baie van die verskillende aspekte van Stassen ken.

Ek het lekker gelees aan die stukke. Die taalversorging is natuurlik knap, danksy Kristèl de Weerd, Joan-Mari Barendse en Danél Hanekom se skerp oë. Hanli Deysel was verantwoordelik vir die mooi uitleg.

Nicol Stassen 60 is die lees werd as jy iets oor die mens, of die boekbedryf, wil weet.

Is daar iets wat ek sou kon byvoeg?

Hoe ek Stassen sien

Nicol Stassen het die vermoë om interessante mense om hom te vergader en dan kuier hy ’n hond uit ’n bos met hulle. In die jare toe die Suid-Afrikaanse Boekebeurs nog ’n jaarlikse instelling was, het die ligte in Protea se stalletjie aanhou brand lank na die veiligheidswagte gesluit het en die hoofsaal se ligte uitgedoof is. Daar in die klein ligkol sou jy ’n klomp slimkoppe met heelwat bottels rooiwyn om hulle vind.

Ek wil twee klein aspekte as ’n persoonlike bydrae noem.

  • Die eerste het te doen met kuier. Ek was by toe ’n bekende, en toe reeds effens beskonke, akademikus teenoor my opgemerk het dat Nicol net die mooiste meisies aanstel in sy bedryf. Stassen het hom dadelik vererg. Ek weet, want Nicol se nek raak so skeef as hy kwaad is. Tog het hy ’n paar oomblikke stilgebly en toe maar net droogweg gesê: “Ek dink jy moet darem na hulle verstandelike vermoëns ook kyk.”
  • ’n Ander punt is dat ek self ’n uitgebreide en waardevolle boekery besit het. Toe dit tyd word om af te skaal, het ek dadelik vir Nicol gebel en genooi vir ’n bottel wyn. Ek weet dat daardie belangrike boeke gewaardeer sal word onder sy sorg, selfs na sy dood, want hy versamel mense om hom wat ook omgee vir boeke én wat die nodige kundigheid het.

Oor homself sê Stassen in ’n onderhoud dat hy nie van plan is om sy eie lewe te neem soos Karel Schoeman nie, want hy het nog te veel om te doen.

Ek is bly.

Dikwels spreek mense in ’n huldeblyk die dooies aan. Ek het nou die voorreg om oor ’n lewende persoon te skinder. Ek gaan dus afsluit deur te sê: “Nicol – sorg nou asseblief dat jy langer leef as ek, want as hulle my gaan vra vir ’n ‘in memoriam’-stuk, gaan ek sê my blomme is mos al afgelewer.”

See also:

The post <i>Nicol Stassen 60</i>, ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1824

Latest Images

<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>