Titel: Ghost limb
Skrywer: Almini van der Merwe
ISBN: 978-1-4152-1085-7
Uitgewer: Umuzi Trailblazer
...
Die beskrywing van dié uitstappie wat Johanna se kans om darem amptelik te bestáán, so gevoelloos vernietig, is ’n goeie voorbeeld van die skrywer se fyn aanvoeling om die lokaal-gemoedelike, alledaagse voorstedelikheid waaragter die wreedheid van die bestel toegepleister word, onder doodgewone woorde te kristalliseer tot iets sinister en dieper.
...
Sy’t gedink hulle is anders as ander Afrikaners, skryf die verteller in die proloog van Almini van der Merwe* se debuutroman, Ghost limb. “How horrific to see your childhood reduced to a stereotype.”
Sy besin as volwassene oor die impak wat hul huiswerker, Johanna, kleintyd op hulle as gesin gehad het en hoe sy steeds aan die periferie van haar bewussyn bly, ten spyte van volgehoue pogings deur die res van die familie om haar te vergeet. “Of course our smaller forgetting occupies its negligible space in the larger national forgetting.”
Hulle het haar nooit weer gesien nie, maar grond vergeet nooit nie. Die verteller is bewus daarvan dat jou geheue jou parte kan speel, “remembering as precarious as forgetting”. Tog waag sy dit: “We Afrikaners know how to make a plan, how to preserve things.” Sy erken haar weergawe van gebeure sal deur die res van die familie bevraagteken word. Maar Johanna wag nog al die jare …
Hoofstuk 1 begin met ’n beskrywing van ’n piepklein “bediendekamer” bekend as “Die Hok”, soos die nuwe inwoner daarvan later self daarna verwys, en die skrywer los terloops dié beskrywing en ander eie aan die apartheidstyd in haar moedertaal, Afrikaans. Dis die laat tagtigerjare, en die aaklige sementwoestyn en afgeskeepte “decrepit” agterplaas is dié van ’n pastorie in die Strand aan die Valsbaaise kus in die Wes-Kaap. Die jong verteller, in haar vroeë laerskooljare met twee jonger boeties, skaam haar daarvoor, veral omdat die huis se vooraansig die ene glaspanele en marmerpilare is.
Ná jare van onderdanige huisbediendes van die plaas af en die buitekamertjie wat vir ’n wyle leeg gestaan het, daag daar ’n balhorige, bonkige bruin vrou op, die enigmatiese Johannie (Johanna) Katerina de Meyer:
The day Johanna arrived marked a change. She walked in, and immediately we knew she would be different. She didn’t wear a kopdoek and spoke flawless Afrikaans in a white-person tone. She seemed more like a guest than a maid, a strange guest invited into our house to stay forever. She had the most unusual face: strikingly ugly, all protruding jaw and cheekbones (reminding me of the pterodactyl dinosaurs in my illustrated books), which gave her head the appearance of slanting backwards. As she stood in the foyer, her eyes surveyed us from the shadow of a prominent brow, next to which peaks of uncovered hair stuck out, clown-like, on either side. There was no ingratiating show of affection, no pretence for my mother. She appeared nothing but sullen, almost snobbishly so, prepared to do the job at hand and this in spite of herself.
These facts about her scared me. It seemed she would disrupt our playing. She was not someone to go ignored. We hid behind the tea trolley when my mother called for us to come out and say hello. We would pay for that reluctance later.
Johanna se weiering om ’n kopdoek of huiswerkeroorjassie te dra, haar Standaardafrikaans en hoogdrawende toon as sy oor die foon voorgee sy’s die dominee se vrou, haar temperamentele aard, drankgebruik en afkeer van die kinders (hoewel sy daarop aandring om saam met hulle boom te klim, fiets te ry en te speel) en weiering om skaam te wees oor enigiets, versteur die balans in die gesin en is ’n voorafskaduwing van ’n waterskeidende insident wat lank dreig en dan in ’n oogwink alles verander.
Ná oënskynlik tragiese, haglike kinderjare en ’n draai in ’n plakkerskamp wat haar ontheem gelaat het, probeer Johanna in die vroeë dae by die pastorie om ’n identiteitsboekie te bekom. Dis die doodsnikke van apartheid en dit blyk sy’t haar geboortesertifikaat nodig, wat glo deur haar ma se voormalige werkgewer, ook in die Strand, teruggehou is. Sy vat die dominee se dogtertjie, die verteller met wie sy ’n ambivalente vriendskap het, saam na dié mense, dalk om met haar te gaan spog en die onderhandelinge te vergemaklik. Hulle ry met hul fietse soontoe, Johanna s’n ’n “nameless wonder” uit die 1950’s.
Hoewel die tannie vir haar en “Plum”, soos die familie Johanna destyds genoem het, tee en Romany Creams in die sitkamer bedien, krap sy net halfhartig in ’n paar kaste en beweer dan skouerophalend die geboortesertifikaat het seker deur die jare in die gesin se chaos verlore geraak. Die beskrywing van dié uitstappie wat Johanna se kans om darem amptelik te bestáán, so gevoelloos vernietig, is ’n goeie voorbeeld van die skrywer se fyn aanvoeling om die lokaal-gemoedelike, alledaagse voorstedelikheid waaragter die wreedheid van die bestel toegepleister word, onder doodgewone woorde te kristalliseer tot iets sinister en dieper.
Die verhaal speel af oor sewe dele, wat in die agterplaas begin, uitkring in die buurt en weer eindig by die setel van die storie: The Backyard, The Neighbourhood, The Street, The School, The Church Grounds, The House en Die Hok. Die middelste hoofstukke, wat op die pastorie en kerkterrein langsaan fokus, die klimboom, woonbuurt, bure, speelmaats en verkenningstogte – hoewel nie see toe nie, vreemd genoeg vir ’n stranddorp – is ’n herkenbare, goedgeskryfde (by tye effe vervelige, te-behep-met-nietige-besonderhede) raakvat van ’n oënskynlik vreedsame dog onheilspellende tydvak in ons onlangse geskiedenis gesien deur die oë van ’n voorstedelike wit Afrikaanse kind uit ’n kerkgemeenskap.
Die boek is ’n bietjie soos ’n sameflansing van die avonture van die pastoriespruite in Soekie of dalk eerder Saartjie en kie (hier neem die huiswerker, onwaarskynlik maar waar in dié verhaal, soms deel aan die buurtavonture en sportspeletjies op die kerkterrein), versny met die politieke bewussyn en pyn van Die swerfjare van Poppie Nongena, hoewel ’n dekade of wat later, maar voor die stembusbevryding. Die bedonderde Johanna praat miskien teë, knou die kinders (en Tootsie die hond) heimlik af en het dalk marginaal meer agentskap, maar haar lot in die lewe is ook reeds by geboorte verseël.
Wanneer dit in die politieke oorgangsjare blyk dat die gesin se nuutgeboude huis op ’n gholflandgoed en selfgesentreerde aspirerende toekomsplanne haar gaan uitsluit, bekonkel Johanna uit Die Hok met al haar opgekropte woede ’n diaboliese skrikmaakplan vir die sagmoedige kleinboetie met die gewillige vertellersussie as handlanger, en die verrassende reperkussies verander alles vir almal. Al maak die familie later of niks gebeur het nie, bly die spookledemaat van die nou afwesige Johanna vir altyd kramp en jeuk, al probeer hulle die voorval en skuld aan die oorsake begrawe, doodswyg of vergeet.
Die gesin verlaat die pastorie en trek weg agter veilige hekke en groen skoonvelde; die kinders gaan na Engelse skole, verleer grootliks hul moedertaal en beweeg die wye wêreld in – met meer of minder sukses. Maar soos die roep van ’n spookpadda eggo die onuitwisbare, enigmatiese en ontwortelde Johanna se stem en dade deur die jare, en krap die verteller as volwassene rond vir bewyse van haar bestaan in die sandgrond van haar komvandaan. Sy’t ’n obsessiewe herinnering aan ’n seeskilpad wat seekastaiings in ’n fopnes krap om ’n roofdier te flous, en dis asof sy die grond wil dwing om vir haar antwoorde te gee.
Die titel Ghost limb is slim, want benewens die letterlike verstaan as die spookteenwoordigheid van ’n geamputeerde liggaamsdeel is daar die betekenis van limb as tak van ’n boom. Hier kan dit staan vir sowel die skeefgroeiende knewel “the Tree” wat die pastoriekinders jaloers as hul eie beskou, as die familiestamboom, waarin diegene wat kinders grootmaak en hulle aan die hart van die gesin afsloof en saam groei, ’n onopgetekende tak, historiese skim en skynloot bly.
Hierdie boek sluit natuurlik ook aan by die onderwerp van Ena Jansen se omvangryke werk Soos familie: stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste wat in 2015 by Protea Boekhuis verskyn het (hier op LitNet bespreek). Met die lees van Ghost limb het ek deurentyd gewonder hoe Ena dit sou takseer en hoe dit met al die ander tekste in gesprek tree. Om nie te praat van Jan Rabie se Johanna se storie uit 1981 nie, waar die hoofkarakter ook ’n bruin vrou is, die produk van ’n gemengde huwelik, wat die apartheidslandskap moet navigeer.
’n Ander kwessie wat ter sake is, is die skrywer se keuse om die roman in Engels te skryf, ten spyte daarvan dat die hoofkarakters almal Afrikaans-moedertaalsprekers is en dat die taal mildelik in die teks aangewend word. Natuurlik wens mens enige skrywer internasionale blootstelling toe, en Van der Merwe het haar studie en nagraadse kwalifikasies immers in Engelse letterkunde en skryfkuns gedoen en woon permanent in Europa. Maar dalk bied die veilige afstand van die tweede taal ’n soort skadeloosstelling wat nie sou geld in die tongval van die vaders en hul sondes nie …?
Die skrywer Helena Gunter verwys na sodanige keuse in ’n e-pos-gesprek met M Bijman op haar literêre blog Seven Circumstances oor die reaksie op Gunter se kortverhaalbundel Tweespoor: “Wat ek interessant vind, is dat JM Coetzee se Disgrace met soortgelyke onderwerpmateriaal nie ongemak veroorsaak het nie, maar met die Nobelprys vereer is. Wat my laat wonder – is die Afrikaanse stem, die ‘meer skuldige’ aan die verlede, onaanvaarbaar, maar nie die Engelse een nie, ten spyte van die afgryslikste koloniale imperialisme uit die Engelse verlede?” Dis dalk ’n opvolggesprek hier werd.
Net ’n laaste gedagte: Anders as die ander boeke in Umuzi se Trailblazer-reeks van grensverskuiwende korter fiksie uit Afrika en die diaspora, is Ghost limb se uitgewaste voorblad effe teleurstellend. Die slordig ge-deep-etchte foto van ’n jong bruin meisie (die karakter Johanna in die boek is tog middeljarig) met lang lokke in wat lyk soos ’n harekleed wat afkyk na ’n glaskoepeltuintjie met in miniatuur twee glimlaggende wit boeties en ’n sussie (is dit dalk regtig die skrywer en haar sibbes?) daarin vasgevang, lyk ’n bietjie soos ’n tuis-Photoshop-situasie, wat die boek glad nie verdien nie.
Maar moenie dat die amateuragtige omslag jou daarvan weerhou om dié sensitiewe meditasie oor die onbetroubaarheid van geheue en ontwykende aard van skuld ’n kans te gee nie – dit bly onteenseglik vir lank by mens spook. Hoewel die uwe ná die mistroostig-stemmende lees daarvan saam met Eddy Grant wou pleit: “Gimme hope Jo’anna”…
* Almini van der Merwe het Engels Letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer (BA in Taal en Kultuur), gevolg deur ’n honneurs in Engels. In 2009 het sy by die Kreatiewe Skryfprogram aan die Universiteit van Kaapstad onder mentorskap van Stephen Watson aangesluit, en Ghost Limb is ook aan hom opgedra (Watson is in 2011 oorlede). Sy is ’n teksredakteur, kopieskrywer en vertaler, en woon tans in Liechtenstein, waar sy aan haar tweede roman werk en ’n tweeling grootmaak.
Lees ook:
LitNet Akademies-resensie-essay: Soos familie deur Ena Jansen
Soos familie. Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste na Amsterdam
Ena Jansen gesels oor Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste
Afscheidscollege, Ena Jansen: "Van Thandi de nanny tot Thandi de madam"
Meer "killer" as die eerste, ’n resensie van Onke Mazibuko se The second verse
The post <i>Ghost limb</i> deur Almini van der Merwe, ’n resensie appeared first on LitNet.