Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1801

Time shelter deur Georgi Gospodinov, ’n lesersindruk

$
0
0

Titel: Time shelter
Skrywer: Georgi Gospodinov

Uitgewer: Weidenfeld & Nicolson
ISBN: 9781474623063
Koop die boek by Graffiti.

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

...
Die lees van die boek het my herinner aan ’n moderne Milan Kundera (The book of laughter and forgetting). Time shelter speel aanvanklik met die kwessies van onthou, vergeet en die persoonlike belewenis hiervan, veral by mense wat aan Alzheimer se sindroom begin ly.
...

Die Nederlandse filosoof Jos de Mul maak die volgende opmerking gedurende ’n onderhoud in 2015:

In Griekse tragedies word die noodlot meesal uitgelok deur drie menslike swakhede. Die feit dat Ajax die magtige bondgenoot Pallas Athene weggewys het, is ’n voorbeeld van hubris, oormoed. Ajax se woede verblind hom, wat daartoe lei dat hy ’n trop skape dood – misrekening.[1]

Dit is nuttig om hierdie analise te gebruik vir ’n beoordeling van die grootste deel van die algemene moderne debat, wat ook al die spesifieke tema. In Suid-Afrika is hierdie uiteensetting só toepaslik dat dit ’n groot deel van die openbare debat, of wat daarvan oor is, eintlik volledig opsom. Een aspek van hierdie gesprekke handel natuurlik oor die geskiedenis van die land, met die alomteenwoordige kommentaar oor die hede en die toekoms. Dikwels is die vertrekpunt van ’n “slegte” verlede en ’n “goeie” toekoms aan die basis van hierdie gesprekke.

Georgi Gospodinov sluit in sy boek Time Shelter hierby aan en neem die leser deur ’n gedagte-eksperiment waardeur ons “heropgelei” word via ’n unieke ontmaskering van die realiteit om te vergeet en te probeer onthou. In die proses word ook besin oor wat “die toekoms” dan nou presies sou verteenwoordig. Waar daar ’n tekort aan toekoms is, is die verlede dikwels ’n uitkoms (en dalk andersom). Vir opportuniste skep beide die verlede en die toekoms natuurlik besondere geleenthede. Gospodinov haal selfs die siening van Nikolai Berdyaev oor utopieë aan. Laasgenoemde noem dat ons te min aandag gegee het aan hierdie verskynsel. Utopieë se realisering geskied nou makliker as wat ons vermoed het, en ons word gekonfronteer deur ’n dwingende probleem – hoe om die realisering daarvan te keer.

’n Resensie van wat Gospodinov met die boek in die oog het en hoe hy dit aanpak, bewys hom as ’n denker en kommentator van wie kennis geneem behoort te word. Die boek is een van daardie rare verskynsels wat soms onverhoeds en met impak die leespubliek tref, alhoewel dit terselfdertyd in populêre kringe dikwels ongemerk verbygaan – dalk self ’n aanduiding van die mate waartoe De Mul dinge reg het.

Die lees van die boek het my herinner aan ’n moderne Milan Kundera (The book of laughter and forgetting). Time shelter speel aanvanklik met die kwessies van onthou, vergeet en die persoonlike belewenis hiervan, veral by mense wat aan Alzheimer se sindroom begin ly. Gospodinov skep karakters wat ’n unieke ingreep in die hede maak – die oprigting van ’n kunsmatig geskepte fisiese ruimte waarbinne mense weer kan (her)beleef en onthou; ’n kliniek van die verlede. Die analise is soms snydend skerp en getuig van ’n skrywer wat ernstig aan die dink was/is. Om die argument te volg vereis reeds met die aanvang goeie aandag, maar die skrywer se sin vir humor vergemaklik dinge.

Die eerste deel van die boek skets die dekor van onthou, vergeet en die belewing daarvan in individuele terme. Dan breek die volgende fase van die verhaal aan, waar die 20ste eeu aan die hand van die futiele poging tot die skuil teen en in tyd aangepak word. Die versugting na die verlede is nou nie meer net iets wat waar is van individue nie, maar word geskets as ’n behoefte van hele lande (Europa) en hulle inwoners. Soos gebruiklik is daar geen eenstemmigheid oor watter era na teruggekeer moet word nie, en duik die tradisionele “regs vs links”-debat weer op, waarmee soms fyn gespot word. In die proses word die onbeholpenheid van hierdie verdeling en dit wat elke ideologie beloof, implisiet geïllustreer. Belangriker egter: Op ’n speelse manier word die debat ontmasker vir die (amper onvermydelike) spektakel wat dit is, en eindig die boek met wat blyk Gospodinov se standpunt van ’n onafwendbare gevolg te wees. Deur kommentaar te lewer op die Europese situasie lewer Gospodinov ook analise en kritiek wat meer universeel van aard is. Een voorbeeld: Op ’n stadium sê een van die karakters dat sy kritiek teen die bestaande orde nie noodwendig polities van aard is nie, maar eerder esteties. Ook vir die Suid-Afrikaanse leser kan dit seker nie meer duidelik wees nie.

Time shelter bewys ons egter ook ’n ander guns en suggereer ’n onontbeerlike stuk werk wat wag. Dit wys op die belang, maar ook futiliteit van tyd en die mens se situasie en belewing soos wat dit vasgevang is in tyd. Uiteindelik is die gevolgtrekkings niks nuuts nie, maar lê die werklike waarde in die maak van betekenisvolle afleidings. Denkende lesers sou hulle lankal reeds met van die gedagtes bemoei het. Die belangrike werk wat wag? Dit sou een of meer eerlike gesprekke behels oor wat hierin geskets word, toegepas op Suid-Afrika. Net ’n basiese poging hiertoe sal al vele moderne duiwels wat in die openbaar rondloop, besweer.

Die boek is verpligte leeswerk vir enige historikus, kommentator en toekomskundige. Ignoreer die strekking van die argumente daarin vervat en word kandidaat vir die De Mul-prys vir die noodlot.

Eindnota

[1] Onderhoud met Jos de Mul in Trouw, 10 Januarie 2015: https://www.trouw.nl/nieuws/de-tragedie-is-gedemocratiseerd~b9647723.

Lees ook:

The post <i>Time shelter</i> deur Georgi Gospodinov, ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1801


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>