...
Benewens die buigsame en by tye selfs simpatieke maniere waarop daar na moeilike bestuurders gekyk word, neem die skrywers ook in ag dat verskillende lesers verskillende motiewe sal hê vir die lees van die boek.
...
Titel: Impossible bosses: Secret strategies to deal with 8 archetypal managers
Skrywers: Vivienne Lawack, Hanlie Lizette Wessels & Robert Craig
ISBN: 9781776191918
Uitgewer: Jonathan Ball
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Met die lees van die boek Impossible bosses het die vraag waar die verskynsel van die sogenaamde “selfhelpboeke” vandaan kom, die eerste keer by my opgekom. Of ten minste, wie het die heel eerste selfhelpboek geskryf?
Dit is die jaar 2023 en ek beroep my op ’n kletsbot. En die kletsbot voer my gedagtes terug na die jaar 1859. Wanneer ek dink aan 1859, dan is die eerste gedagte wat altyd in my gedagtes opkom dié van Charles Darwin (1809–1882) en sy On the origin of the species, ’n boek wat die ganse wetenskaplike orde op ’n totaal ander koers gestuur het, maar in dieselfde jaar verskyn daar ’n ander boek getiteld (raai-raai) Self-help deur ene Samuel Smiles (1812–1904). Gedurende sy leeftyd het Smiles hom gewend tot die beroepe van mediese dokter en joernalis, en as ’n mens Wikipedia wil glo, dan was Smiles nie besonder suksesvol in enige twee van die beroepe nie (dis ’n ope vraag of finansiële voorspoed gelykgestel kan word aan sukses, want Smiles is skynbaar gereeld gepubliseer en gelees as joernalis). Sy finansiële kopsere ten spyt het hy hom later begeef as skrywer van die boek Self-help, wat ’n blitsverkoper was.
Die mees ikoniese selfhelpboek wat ek (en ’n groot deel van die mensdom) al gelees het, is Dale Carnegie (1888–1955) se How to win friends and influence people (1936), ’n boek wat gereeld ook deel van die arsenaal van menige poging tot spot is.
Op eie bodem het ons darem ook ons eie gesonde tradisie van die selfhelpboek. Skrywers soos Shani Grové en Elize Parker is van die skrywers van Afrikaanse selfhelpboeke waarvan ek bewus is. Grové se boeke handel veral oor die brein en studiemetodes, terwyl Parker skryf oor hoe om te oorleef as enkelouer, spesifiek enkelma (Een cappuccino en ’n Crème Soda, asseblief, 2015, CUM boeke). Ek is seker daar is nog baie ander sulke boeke in Afrikaans. Miskien kan ’n student eendag ’n studie maak van die geskiedenis van die Afrikaanse selfhelpboek, of miskien is daar ’n professor in Afrikaans wat reeds die saak deeglik deurgetrap het, en waarvan ek salig onbewus is.
Sedert 1859 het die psigoanalise en psigoterapie tot ’n volskaalse wetenskap ontwikkel, en die beginsels wat deur prominente psigoloë soos onder meer Carl Jung (1875–1961) ontwikkel is, is op die een na die ander selfhelpboek se blaaie gesmeer. Dit is ook die geval in Impossible bosses, waar die psigoanalise ingespan word om spesifieke persoonlikheidstipes te analiseer.
Dit is nie ’n eksakte wetenskap nie. Die voorbeelde wat in die boek ingespan word, is maar modelle waarmee gewerk (lees gespeel) kan word deur die lesers. Dit skets sommige van die tipiese, moeilike bestuurders waarmee ’n mens moontlik in die werkplek te doen kan kry. Wat nogal verfrissend is, is dat daar in die boek op ’n heel genuanseerde manier na hierdie “moeilike bestuurders” gekyk word. Die klem word gelê op die feit dat eienskappe nie noodwendig altyd inherent goed of sleg is nie. Alles word bepaal deur die situasie en konteks. ’n Bestuurder wat eiewys is, kan juis dalk ook iemand wees wat dikwels inisiatief neem, as voorbeeld. Of iemand wie se gedagtes baie in die verlede vassit, mag dalk ook iemand wees met buitengewone ervaring en institusionele kennis, wat van besondere belang kan wees in bepaalde situasies.
Nie alle “probleemgedrag” is noodwendig toksies nie. Die meeste bestuurders het nie bose bedoelinge nie. Hulle gedrag is oor jare gevorm, vasgelê en beïnvloed deur onder meer vrees en onkunde. Bestuurders is ook dikwels onder groot druk om moeilike besluite te neem, wat hulle baie ongewild kan laat in die werksplek. Die skrywers van hierdie boek is dus daarop uit, nie om moeilike bestuurders eenvoudig te demoniseer nie, maar om die konflikte tussen mense te probeer bemiddel.
Benewens die buigsame en by tye selfs simpatieke maniere waarop daar na moeilike bestuurders gekyk word, neem die skrywers ook in ag dat verskillende lesers verskillende motiewe sal hê vir die lees van die boek. Daar is lesers wat graag vooruit wil kom in hulle loopbane en wat bedreig voel deur ’n moeilike bestuurder wat hulle verhoed om die leer van leierskap te klim. Sommige bestuurders kan die mense wat aan hulle rapporteer in die werksplek bewustelik verhoed om die korporatiewe leer te klim en andere doen dit waarskynlik onbewustelik. Maar daar is waarskynlik ook lesers wat nie noodwendig so ambisieus is nie, nie noodwendig op die uitkyk is vir groter bestuursposisies nie, maar wel die behoefte het om konflik in die werksplek beter te verstaan en bestuur. Daar is selfs ’n afdeling aan die einde van die boek wat geskryf is vir die bestuurder wat hom- of haarself herken in die agt modelle van “onmoontlike bestuurders (base)”, en stappe wat geneem kan word deur sulke bestuurders om hulle verhoudinge en produktiwiteit in die werksplek te verbeter.
Suid-Afrika het kommerwekkende hoë vlakke van konflik en spanning in die land se onderskeie werksplekke. Hierdie konflikte affekteer die produktiwiteit en funksionering, nie net van instellings nie, maar ook dié van menige individu, en laat die land met ’n gefrustreerde werksmag. Die strategieë wat in Impossible bosses aangebied word, is sonder twyfel geen kitsoplossings vir die tallose kopsere wat baie mense in die gesig staar in hulle werksplekke nie, maar die boek behoort wel ’n goeie vertrekpunt te wees vir lesers wat oor die onderwerp wil reflekteer. Daar is praktiese voorbeelde vir elkeen van die agt argetipe, “moeilike bestuurders” wat aangebied word. Keer op keer kom dit maar weer terug na die kwessie van kommunikasie. Die manier waarop mense met mekaar kommunikeer, is die sleutel tot die hantering van die meeste van die konflikte wat bestaan.
Verbale kommunikasie, soos die meeste mense besef, is eintlik maar net ’n klein deel van hoe mense kommunikeer. Met insig in bepaalde karaktertipes is dit moontlik om meer strategies te werk te gaan in die benadering wat gevolg moet word tot beter bemiddeling van arbeidsverhoudinge. ’n Mens kan nie andere se gedrag beheer nie, maar wel jou eie gedrag en reaksies, en daardie besluite wat mense soms blitsvinnig moet neem, kan verreikende gevolge inhou vir verhoudinge in die werksplek.
Die selfhelpboek is nie die soort boek wat ek graag lees nie. Net soos arbeiders in die werksplek, het verskillende lesers ook verskillende dinge wat hulle motiveer, en op daardie lys lê selfhelpboeke maar baie laag. Gee my ’n geskiedenisboek en ek is in die lesershemel. Nogtans was die lees van Impossible bosses ’n nuttige oefening.
Die boek herinner ’n mens opnuut aan die noodsaak van bewustelike kommunikasie. Daar is te veel gesprekke wat plaasvind sonder dat mense deeglik oor die implikasies van hulle woorde dink. Vergaderings in werksplekke is byvoorbeeld vir menige mens iets wat net afgejaag moet word, iets wat as onproduktief en ’n mors van tyd beskou word, terwyl belangrike geleenthede in die proses verbygaan om sinvol te kommunikeer.
Lees ook:
The post Iets vir baas én Klaas: ’n lesersindruk van <i>Impossible bosses</i> appeared first on LitNet.