Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

’n Resensie van Dear Comrade President deur André Odendaal

$
0
0

...
Hierdie resensent was bevoorreg om een van die dertig regsgeleerdes van “binne” Suid-Afrika te kon wees wat die byeenkoms met die ANC se regspan tussen 30 Januarie en 4 Februarie 1989 in Harare bygewoon het.
...

Titel: Dear Comrade President: Oliver Tambo and the Foundations of South Africa’s Constitution
Skrywer: André Odendaal, met redaksionele kommentaar deur Albie Sachs
ISBN: 9781776096688
Uitgewer: Penguin Books

In die middeltagtigerjare lyk die vooruitsigte op ’n relatief vreedsame toekoms vir Suid- Afrika alles behalwe rooskleurig. Onrus en gewelddadige protes loop wyd; die regering kondig noodtoestand na noodtoestand aan ten einde die onluste te probeer beheer; die normale regsproses word vervang met buitengewone maatreëls wat wye magte aan staatsorganisasies soos die polisie en weermag gee; tussendeur spartel die regering om “hervorming” wat binne die raamwerk van Nasionale Party-denkpatrone (-ideologie?) val, vir die (wit) minderheid sowel as die (swart) meerderheid aanvaarbaar te maak.

Die grootskaalse binnelandse onrus word aangedryf deur die kwasi-militêre aanslag wat deur die African National Congress van buite die landsgrense gevoer word. Die “vier pilare” van die ANC-aanslag teen die apartheidstaat word aangedui as die gewapende stryd, massa mobilisasie, ondergrondse aktiwiteite binne die RSA en internasionale druk.

...
Die beeld van Tambo wat na vore kom, is een van ’n wyse leier, een met ’n aanvoeling vir die taktiese elemente verbonde aan die stryd, maar ook iemand wat homself letterlik teen die planke gewerk het ter wille van die saak en die organisasie.
...

Die titel van die boek, Dear Comrade President: Oliver Tambo and the Foundations of South Africa’s Constitution, verwys spesifiek na die “[…] foundations of South Africa’s Constitution”. Daarmee word die fokus op die wordingsproses van die uiteindelike Grondwet geplaas. Soos verwag kan word, handel die werk in ’n groot mate oor die rol wat die ANC (veral ook die “exiles”) in die totstandkoming van die nuwe grondwetlike bedeling gespeel het. Deur die loop van die vertelling word sketsmatig ook nuttige en interessante biografiese inligting oor sommige van die dramatis personae verskaf.

Dit is waarskynlik so dat die rol wat Oliver Tambo in die vryheidstryd gespeel het, dikwels onderskat word, veral ook weens die byna oordonderende skaduwee van die meer as lewensgroot Nelson Mandela. Die beeld van Tambo wat na vore kom, is een van ’n wyse leier, een met ’n aanvoeling vir die taktiese elemente verbonde aan die stryd, maar ook iemand wat homself letterlik teen die planke gewerk het ter wille van die saak en die organisasie. ’n Mens staan verstom as jy lees hoe die man soms teen ’n byna bomenslike tempo, uur na uur en van stad na stad en land na land, gewerk het. Heel tragies tref ’n beroerte hom op 9 Augustus 1989 en word ’n verloop wat vir hom ’n triomfantlike terugkeer na sy land moes wees, uiteindelik weinig meer as ’n antiklimaks.

...
Uit ’n strategiese oogpunt kon Tambo nie die daarstel van die Komitee aan die openbare klok hang nie: intern sowel as ekstern moes die fokus steeds op die militêre aanslag gevestig bly.
...

Die begin

Op 8 Januarie 1986 verklaar die president van die ANC, Oliver Tambo, dat daardie jaar as die “(y)ear of uMkhonto we Sizwe” sal dien en dat die militêre aanslag in alle erns (selfs groter erns as tevore) voortgesit word. Maar agter die skerms stel Tambo in die geheim ’n komitee, die “Constitutional Committee” (hierna na verwys as “die Komitee” of “die ANC-komitee”) aan. Die opdrag aan die Komitee kom daarop neer dat die organisasie gereed moet wees om sy voorstelle ten aansien van hoe die toekomstige demokratiese staat daar moet uitsien, op die tafel te plaas, sou daar in die toekoms ’n tyd vir ’n onderhandelde skikking aanbreek.

Uit ’n strategiese oogpunt kon Tambo nie die daarstel van die Komitee aan die openbare klok hang nie: intern sowel as ekstern moes die fokus steeds op die militêre aanslag gevestig bly. Met die regering wat deurentyd die vrylating van Mandela afhanklik stel van die opskorting van die ANC se gewapende stryd, lyk Tambo se verklaring asof dit die moontlikhede vir ’n onderhandelde skikking uitsluit. Trouens, uit die oogpunt van die ANC was dit belangrik dat die regering sou glo dat ’n einde aan die gewapende konflik nie binne redelike sig is nie.

Die Komitee bestaan uit sewe lede, almal uitgewekenes: prof Jack Simons (as voorsitter), dr Zola Skweyiya, Jobs Jobodwana, prof Kader Asmal, Penuell Maduna, dr Teddy Pekane en dr Albie Sachs. Daarbenewens kon die Komitee ook, soos die behoefte hom voordoen, “democratic lawyers at home [consult]”. Die Komitee moes ’n breë grondwetlike raamwerk daarstel, nie ’n bloudruk vir ’n toekomstige grondwet nie.

Vanaf hierdie beginpunt word die leser deur verskeie fases van die Komitee se werksaamhede geneem. Die eerste uitdaging was om die ANC se “concepts, vocabulary and discourse of revolutionary struggle” te versoen met dié van “constitutionalism” (p 53). Dit beteken, onder andere, dat daar maniere gevind moes word om die “principles and programmes” van die Vryheidsmanifes te inkorporeer in ’n funksionele grondwetlike dokument (p 54).

Die omstandighede waaronder die Komitee sy werksaamhede moes verrig, was alles behalwe gunstig. Nie alleen was die lede versprei oor ’n paar kontinente en/of werksaam in verskillende lande nie, maar die metodes van kommunikasie was nog geensins op die vlak wat dit vandag is nie: kommunikasie was tydrowend, moeisaam en dikwels oneffektief. Ondanks hierdie faktore het die Komitee daarin geslaag om vooruitgang in hulle werksaamhede te bewerkstellig.

’n Ander wesenlike vraag was na die aard van die grondwet waarheen gemik moes word: moes die uiteindelike Grondwet op die konvensionele liberaal-demokratiese model geskoei wees of moes dit eerder ’n “Peoples’ Power”-karakter vertoon? Met laasgenoemde word skynbaar verwys na ’n regeringsvorm “[…] that ensures that the government will always be subject to the people” (p 100). Aan die ander kant sou ’n liberaal-demokratiese grondwet verkieslik ’n menseregtehandves moes bevat. Die Komitee kies vir ’n liberaal-demokratiese grondwet bevattende ’n beregbare menseregtehandves waarin, benewens die geykte universele vryheidsregte, ook sosio-ekonomiese en omgewingsregte verskans moes word.

...
Tydens die bespreking van hierdie voorstel deur die NEC het ene Jacob Zuma, “head of intelligence”, beswaar gemaak teen die afskaffing van tradisionele leierskap.
...

Die proses neem sy loop

Die hoofstukindeling volg in breë trekke die werksaamhede van die Komitee deur die verskillende fases van die ontwikkeling van ’n stel “grondwetlike beginsels”. Uit die verloop is dit duidelik dat daar soms verskille en selfs wrywing tussen die standpunte van die National Working Committee (NWC) en die National Executive Committee (NEC) enersyds, en die Komitee se voorstelle andersyds, was. So, byvoorbeeld, bevat die Komitee se voorstelle van September 1986, soos voorgelê aan die NEC, die interessante (en miskien selfs radikale) voorstel dat “[h]ereditary forms of political power shall be abolished and the chiefs encouraged to participate in normal democratic life”.

Tydens die bespreking van hierdie voorstel deur die NEC het ene Jacob Zuma, “head of intelligence”, beswaar gemaak teen die afskaffing van tradisionele leierskap. In die daaropvolgende formulering van die grondwetlike beginsels is die aanvanklike voorstel vervang met die volgende: “The institution of hereditary rulers and chiefs shall be transformed to serve the interests of the people as a whole in conformity with the democratic principles embodied in the constitution.” Oor die mate waarin daar in hierdie voorneme geslaag is, kan mens maar net wonder. In die Komitee se sesde konsep verskyn die volgende onder “objectives of the new constitution: (j) The advocacy or practice of racism, fascism, Nazism, tribalism or regionalism shall be outlawed” (my beklemtoning; p 202).

Ook insiggewend is die omskrywing wat die skrywer gee vir die begrip “National Democratic Revolution”, ’n slagspreuk wat steeds uit die geledere van ANC-leiers gehoor word: “This was far more than civil rights, or things such as the right to eat at lunch or attend cinemas. The prime goal was to destroy the monopoly that whites had on the franchise and the instruments of power, together with legally reserved ownership to 90 percent of the land. It was to restore land to the dispossessed. It was to restore dignity, language rights and cultural rights. It was to reconstruct the whole nature of the country, to decolonise it in a profound sense” (p 140).

’n Jaar ná die Komitee met sy werksaamhede begin het en die verskillende konsepte deur die NWC en NEC oorweeg is, voel die ANC hom in Januarie 1987 gereed om die voorbereidingswerk geleidelik in die openbaar te begin gebruik: “The ANC was taking occupation of specific strategic sites in the terrain: the battle for positions had begun on a battlefield named ‘negotiations’.” Terselfdertyd brei Tambo die organisasie se diplomatieke operasies uit deur na “more conservative forces” soos “powerful captains of industry” en die Ford Foundation in die VSA uit te reik, terwyl Thabo Mbeki ’n vertroulike vergadering met prof Pieter de Lange, voorsitter van die Broederbond, bywoon.

...
Tussen laat-1985 en 1989 vind daar ongeveer tweehonderd informele gesprekke tussen die ANC en verskillende groepe uit Suid-Afrika plaas.
...

Informele gesprekvoering

Tussen laat-1985 en 1989 vind daar ongeveer tweehonderd informele gesprekke tussen die ANC en verskillende groepe uit Suid-Afrika plaas. Dit begin met ’n gesprek op die inisiatief van Gavin Relly, hoof van Anglo-American. Die geleentheid wat daarna die meeste prominensie geniet het, was die “Dakar Safari” van 9 tot 12 Julie 1987.

Daarna was die spreekwoordelike hekke oop: allerlei gemeenskapsorganisasies, kerkleiers, die Instituut vir ’n Demokratiese Suid-Afrika, werkersunies, akademici en wat nog. Odendaal skenk baie aandag aan gesprekke wat ’n “conduit” na die regering kon verskaf. Die gesprekke met mense wat moontlik invloed by die regering kon hê, is geïnisieer deur Michael Young van Consolidated Gold Fields (Consgold). So word kontak bewerkstellig met prof Willie Esterhuyse en Sampie Terreblanche. Later kom prof Marinus Wiechers en FW de Klerk se broer, dr Willem de Klerk, by. Die grondwetlike beginsels maak telkens tydens sulke vergaderings deel van die agenda uit (p 271). Die tyd word ryp vir gesprekvoering met die apartheidstaat se leiers.

Intussen brei die ANC-komitee sy gesprekke oor (veral) regstegniese aspekte uit: die advies van deskundiges soos Pius Langa, Dullah Omar, Essa Moosa en Nicholas Haysom van “binne” Suid-Afrika word bekom. Die Komitee se konsepte nommers vyf en ses sien die lig. Binne Suid-Afrika en onder leiding van prominente juriste soos die latere hoofregter, Arthur Chaskalson, en prof John Dugard, gaan organisasies soos die Centre for Applied Legal Studies, Lawyers for Human Rights en die Legal Resources Centre aktief te werk om die grundnorm van die Suid-Afrikaanse Publiekreg soos oorgeërf uit die Engelse reg, naamlik die sogenaamde “beginsel” van Parlementêre Soewereiniteit, teen te werk. Ingevolge dié leerstuk is die howe grotendeels magteloos om diskriminerende en immorele wetgewing ter syde te stel en is talle uitsprake van die Hoër Howe (waaronder die Appèlafdeling) gekritiseer vir wat bestempel is as sogenaamde “executive mindedness”, ’n oordrewe en ongeregverdigde geneigdheid om die Uitvoerende Gesag ter wille te wees.

In die proses van die ontwikkeling van die grondwetlike beginsels is daar sekere begrippe/konsepte waarvoor die Komitee allergies is. Dit sluit in die begrip “groepsregte” en enige verwysing na ’n “federale staat” of selfs ’n “konfederale staat”, beide idees wat sterk in die geledere van die Nasionale Party gefigureer het. In Tambo se woorde: “In the statement of the principles on which a new constitution will be based we should launch a frontal attack on and not evade the group concept so central to ‘Afrikaner Thinking’.”

Die outeur doen ’n skerp aanval op die rol wat veral Willie Esterhuyse na bewering in die informele gesprekke gespeel het. Daarmee saam is hy skerp afwysend en selfs bitsig waar dit gaan oor die rol van verteenwoordigers van die destydse staat, soos Niël Barnard, in die aanloop tot formele onderhandelings. Dit is waarskynlik die rol wat aan diesulkes soos Esterhuyse en Barnard toegeskryf word (of waarop hulle self aanspraak maak?) waarna die outeur verwys as hy die volgende stelling maak: “In the telling of the history of the negotiated transition, the ‘submerged’ discourse is still woefully under-represented. It is time for its green shoots to break to the surface and grow so that those who made this history can wrench back a story that has been stolen from them” (p 283/4).

Die outeur stem dus duidelik saam met die stelling van Riaan de Villiers, soos deur hom aangehaal, naamlik dat daar ’n kloof van onbegrip bestaan tussen “[…] the colonial and indigenous worlds that continues to bifurcate South African society”.

Die leser moet self besluit of die aanloop tot die destydse grondwetlike onderhandelings en die latere verloop van laasgenoemde hoofsaaklik aan die een of die ander “kant” se inisiatiewe toegeskryf kan word. Per slot van rekening is dit die eindresultaat wat saak maak en bly dit waar dat “it takes two to tango”. Vir hierdie resensent is erkenning aan beide “kante” se bydrae die realistiese weg om te volg. Om die een of die ander kant se rol as meer of minder belangrik te beskou, klink alte veel na die manier waarop blinde magspolitiek bedryf word – en waarom koalisies vandag nog sukkel om suksesvol in die Suid-Afrikaanse politiek wortel te skiet.

...
“The promotion of the growth of a single national identity – the creation of a sense of territorial nationality transcending parochial loyalties of race, ethnicity, religion, language and region – would not only be a crucial political task but would also be a commanding target for socio-economic and cultural reconstruction.”
...
Die byeenkoms van regsgeleerdes

Hierdie resensent was bevoorreg om een van die dertig regsgeleerdes van “binne” Suid-Afrika te kon wees wat die byeenkoms met die ANC se regspan tussen 30 Januarie en 4 Februarie 1989 in Harare bygewoon het. Die Komitee se grondwetlike riglyne wat kort voor die byeenkoms, op 8 Januarie, formeel wêreldbekend gemaak is, was deel van ’n oorvol agenda maar is indringend bespreek. In die algemeen gesproke is dit gunstig ontvang. Die inleiding tot die bespreking daarvan is gedoen deur ’n leiersfiguur van die ANC-komitee, Zola Skweyiya. Hy het dit onomwonde gestel dat die “[…] guidelines are meant to carry the Freedom Charter forward, to distil its essence in a set of constitutional formulations specially declaring what the ANC believes the foundations of government in a liberated South Africa should be”.

’n Ander sinsnede uit Skweyiya se referaat wat opval, is die sentimente uitgespreek ten aansien van ’n sentrale Suid-Afrikaanse identiteit (lojaliteit, patriotisme?): “The promotion of the growth of a single national identity – the creation of a sense of territorial nationality transcending parochial loyalties of race, ethnicity, religion, language and region – would not only be a crucial political task but would also be a commanding target for socio-economic and cultural reconstruction.” (Uittreksel uit die referaat in die resensent se besit.) Die retoriese vraag is in hoeverre daar enigsins met hierdie doelwit geslaag is?

...
As noodwendige gevolg van die toespraak wat FW de Klerk op 2 Februarie 1990 in die parlement lewer, breek die era van onderhandelings aan.
...

Die era van onderhandelings breek aan

Die werksaamhede van die ANC se grondwetlike komitee vind sy voleinding en val saam met die uitreiking van die Harare Declaration, wat op 21 Augustus 1989 deur die Organisasie van Afrika Eenheid as daardie organisasie se standpunt aanvaar word. Op 14 Desember 1989 is dit ook deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies aanvaar as ’n “Declaration on Apartheid and its destructive consequences in Southern Africa”.

As noodwendige gevolg van die toespraak wat FW de Klerk op 2 Februarie 1990 in die parlement lewer, breek die era van onderhandelings aan. Vir doeleindes hiervan is dit voldoende om te stateer dat die politieke onderhandelings, ooreenkomstig die vereistes gestel deur die ANC, in twee fases sou plaasvind: eers die daarstel van ’n tussentydse grondwet ingevolge waarvan daar ’n algemene verkiesing sou volg en daarna die skryf van die (“finale”) Grondwet deur die demokraties-verkose verteenwoordigers van die bevolking van die RSA.

Die eerste fase van die grondwetlike onderhandelings vind gedurende 1993 te Kempton Park plaas. Bylae 4 tot die tussentydse Grondwet wat aldus deur die parlement as wet gepromulgeer is, bevat ’n stel grondwetlike beginsels waaraan die nuwe grondwet, wat deur die demokraties-verkose Grondwetlike Vergadering opgestel sou word, moes voldoen. Artikel 74 van die tussentydse Grondwet bepaal onder andere dat die grondwetlike beginsels nie wysigbaar of herroepbaar sou wees nie. Die Konstitusionele Hof moes sertifiseer dat die nuwe grondwet inhoudelik voldoen aan die grondwetlike beginsels.

Die grondwetlike beginsels soos vervat in Bylae 4 bevat, in die een of ander vorm, al die grondwetlike beginsels neergelê deur die ANC-komitee – maar ook heelwat méér aspekte en detail as dit wat in die Komitee se dokument vervat is. Die werksaamhede van die Komitee deur die verloop van baie jare het dus wel deeglik sy beslag in die grondwetlike beginsels gevind.

Een van die ANC se vertrekpunte, soos dit uit die Komitee se formulering van die grondwetlike beginsels blyk, is dat Suid-Afrika ’n “eenheidstaat” sal wees. Dit dui onteenseglik op ’n teenreaksie teen die “Balkanisering” van die land voortspruitend uit die “tuislandbeleid”, maar ook op die ANC se voorliefde vir die sentralisering van die staatsmag in die nasionale regering. Daarom was die magte wat aan die (nuwe) provinsies toegeken sou word tydens die onderhandelings by Kempton Park, een van die grootste geskilpunte en een wat waarskynlik die meeste tyd in beslag geneem het. Hoewel die finale grondwet, ooreenkomstig die ANC se grondwetlike beginsels, na Suid-Afrika as ’n “unitary state” verwys, is die provinsies uiteindelik tog met heelwat oorspronklike magte (en nie gedelegeerde magte nie) beklee – ’n goeie voorbeeld van hoe onderhandelings uiteindelik tot sinvolle resultate kan lei.

Die belangrike punt is dat die Grondwet die hoogste reg (“supreme law” oftewel “supremacy of the constitution”) daarstel, dat dit ’n liberaal-demokratiese aard dra en ’n volledige beregbare menseregtehandves bevat – al drie aspekte wat soos ’n goue draad deur al die ontwikkelingsfases van die Komitee se dokumentasie loop.

...
Hierdie leser het telkens, waar dit om die presiese formulering van standpunte van die Komitee gaan, die samevattings soos verwoord deur Sachs (of aangehaal uit Sachs se werk) uiters nuttig gevind.
...

Slotsom

Die meeste van Odendaal se bronverwysings, veral waar dit gaan om gebeure rakende die ANC se interne doen en late, bestaan uit oorspronklike dokumentasie waartoe hy duidelik toegang het. Daarbenewens is daar ook volop verwysings na sekondêre bronne en onderhoude van die outeur met ingeligte persone. In die geheel verskaf dit ’n stewige grondslag aan die historiese aard van die werk.

Die rede waarom die titelblad verwys na “with editorial contributions by Albie Sachs” word veral duidelik uit die mate waarin die outeur steun op bronne en/of inligting verskaf deur Sachs. Hierdie leser het telkens, waar dit om die presiese formulering van standpunte van die Komitee gaan, die samevattings soos verwoord deur Sachs (of aangehaal uit Sachs se werk) uiters nuttig gevind: wat andersins verlore kon raak in ’n oorvloed van sogenaamde “legalese”, dit wil sê, ’n stortvloed van regsterme en -begrippe waarvan geen kop of stert uit te maak is nie (baie soos die fynskrif wat dikwels in kontrakte of veral in versekeringskontrakte voorkom), word deur Sachs op ’n glashelder manier (maar steeds met behoud van die nodige “tegniese” inhoud) geformuleer. Op daardie wyse word die ontwikkelingslyne wat die dokumentasie van die Komitee deur die verskillende stadia gevolg het, makliker toeganklik gemaak.

Dit is ironies en tragies dat die werk en toewyding van mense soos Tambo en sy “geheime” Komitee binne twee dekades ná die daarstel van die vrug van hulle arbeid, naamlik die Grondwet van 1996, versink het tot ’n sukkelende staat gekenmerk deur die verval van infrastruktuur en die stand van onderwys, werkloosheid, armoede en kaders wat gewetenloos en ten koste van die belang van die burgery, gedy op korrupsie.

Maar dit is nie waar die gesprek eindig nie. In die “Afterword” verwys die skrywer na die hedendaagse debat rondom die Grondwet – ’n debat wat besig is om in omvang en felheid toe te neem. Die skrywer som die essensie van die debat met ’n paar indringende vrae op. Byvoorbeeld: “Has [the Constitution] been a doorway to the full achievement of human freedom and happiness in South Africa or has it been an obstacle to change? Does the Constitution have an African philosophical grounding, or is it stuck in fossilised Western modernist and authoritarian Eastern European frameworks and complacency?” Met verwysing na die inhoudsbegrip wat met die konsep “the human” in die Grondwet gekonseptualiseer word, is die vraag: “Does its human rights emphasis help maintain rather than disrupt old colonial and apartheid power relations? Does it allow for the voices and aspirations of the poor and colonised ‘other’ to find expression?”

Die grondslae van die huidige grondwetlike demokrasie, onder andere gebou op die jarelange arbeid van die Komitee en finaliter vervat in die Grondwet soos daargestel deur ’n demokraties-verkose Grondwetlike Vergadering waar die ANC by verre oor die meerderheidstem beskik het, word daarmee die fokus van ’n debat wat grotendeels aangevuur word uit die geledere van ’n geslag wat die erfgename van die Grondwet is.

Odendaal se werk stel ’n stewige en goed-nagevorste stuk geskiedenis daar – ’n stuk geskiedenis wat hom aanvanklik en in ’n groot mate buite die landsgrense afspeel, maar wat stewig ingeweef staan in die omvorming van die vroeëre Suid-Afrikaanse apartheidstaat na ’n demokratiese staat en samelewing. Die relatief onbekende verhaal van hoe uitgeweke landgenote (“exiles”) met toewyding en met ’n vaste geloof in die uiteindelike sukses van die saak van geregtigheid en bevryding, eers agter die skerms en later in die openbaar gearbei het om aan die droom van ’n diskriminasievrye en demokratiese staat ’n vaste grondslag te verskaf, verdien wye kennisname.

Lees ook:

Albie Sachs, van beeldestormer tot ikoon, en sy sagte plek vir Afrikaners

Reguit met Robinson: Die ANC se miljardêrs

The post ’n Resensie van <i>Dear Comrade President</i> deur André Odendaal appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>