Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

Inkommers deur Hans du Plessis, ’n resensie

$
0
0

Titel: Inkommers
Skrywer: Hans du Plessis

ISBN: 9781776359561
Uitgewer: LAPA

Die naam Hans du Plessis is ’n welbekende een in literêre kringe. Nie net as akademikus en stigter van die ATKV-skryfskool nie, maar ook as geliefde skrywer. Met talle verhoogstukke, ses digbundels, drie jeugromans, ’n bundel rubrieke en nege romans, waaronder vier historiese romans met die Groot Trek as agtergrond, spog Du Plessis met ’n indrukwekkende oeuvre. Hy is egter veral bekend vir sy Griekwa-gedigte wat in die bundels Innie skylte vannie Jirre, Hie neffens my, Boegoe vannie liefde en Karos orie dyne verskyn. Du Plessis is ’n kenner in die weef van stories wat die leser bybly lank nadat hulle die boek neergesit het, en Inkommers dien as bewys daarvan.

Die karakter Bennie Afrikaner bring sy nuwe liefde, die karakter Plakker Prinsloo, na Kom toe om vir haar sy plek en sy mense te wys en haar te laat verstaan hoekom die bewaring daarvan vir hom nog altyd so belangrik is. Uit die staanspoor weet sy nie of sy gereed is daarvoor nie al vermoed sy, sy ken reeds Bennie se buurvrou, die karakter Mara de Wit, die vriendin wat geweet het sy moenie vrae vra nie. Die Kom se mense vertrou nie buitestanders sommer nie, en dit is wat Plakker Prinsloo nog haar hele lewe was – ’n buitestander wat nooit lank genoeg op ’n plek kon bly om daar te hoort nie.

...
Is ons almal nie maar inkommers nie en is dit nie almal se verantwoordelikheid om die omgewing en die liefde vir ons nageslagte te bewaar nie?
...

Dit is hierdie buitestander wat uiteindelik in hierdie verhaal verantwoordelik is vir die narratiewe eksposisie. As aspirant-skrywer is Plakker die ideale persoon om die Kom en sy mense aan die leser voor te stel. Hierdie vertelstyl is deurgaans baie effektief gebruik en sorg vir ’n gemaklike vertelling. Dit sorg ook dat die leser self die verhaal uit die perspektief van die “inkommer” beleef, terwyl ander verhaallyne oorgedra word deur ’n verteller met ’n fyn oor.

“Om te skryf, het ek toe gedink, is maar om te lees, die verhaal is net baie nader aan ’n mens se hart as jy skryf oor iemand wat jy ken” (bl. 78).

Soos met die naam Plakker, is dit duidelik dat Du Plessis die name en vanne vir sy karakters gekies het om sekere argetipes in die samelewing te verteenwoordig. Name soos Dermpie, Dinges en Dingetjie skets die karakters vir die leser sonder veel verduideliking. Die gebruik van die vreemde en geleende name neem egter niks weg van die leser se belewing van die karakters nie. Met ’n baie fyn humorsin, word die lief en die leed van die volkleur karakters aan die leser oorgedra.

...
Du Plessis se keuse van vanne en plekname is ook funksioneel en ooglopend simbolies. 
...

Du Plessis se keuse van vanne en plekname is ook funksioneel en ooglopend simbolies. Met vanne soos Afrikaners, Sommers, De Wits en De Bruins wat die demografie van die Kom uitmaak en wat elkeen afsonderlik op Langsaankom, Flenterkom, Buskom en Oorkantkom bly, word die leser op ’n baie sinvolle manier georiënteer.

Volgens Du Plessis het hy die name van die drie Afrikaner-kinders uit C Louis Leipoldt se gedig “Oom Gert vertel” “geleen” asook die noemnaam, Hartlam, wat Bennie vir Plakker het. Nie net omdat die gedig volksbesit is nie, maar ook omdat dit bygedra het tot sy keuse van vertelstyl in die boek. Die intertekstuele verwysing is subtiel en die leser het nie nodig om die gedig te ken om die verhaal te verstaan nie.

...
In teenstelling met die vreemde name en vae karakteromskrywing word die omgewing waarin die verhaal afspeel, baie eg weergegee.
...

In teenstelling met die vreemde name en vae karakteromskrywing word die omgewing waarin die verhaal afspeel, baie eg weergegee en sal iemand wat bekend is met die Vredefortkoepel, die bakens herken. Dit lê die klem op die baie belangrike rol wat die Kom, ’n stuk grond wat wydsbeen oor die Vaalrivier lê, in die verhaal speel.

“Toe ons tussen doringbome insak wat geel sonnetjies blom, weet ek dat die hemel soms aarde toe kom om engele in die skadu’s soos sonbesies te laat sing” (bl. 8).

Die belangrikste tema in Inkommers is bewaring, en met woorde soos reeds op die tweede bladsy gesien, kan die leser uit die staanspoor aflei dat die Kom “heilige grond” is.

Deur die loop van die verhaal lê Du Plessis baie klem op die belangrikheid daarvan om die Koepel as wêrelderfenis te bewaar en die regering se sloer met die proses. Dit is egter nie net ’n stryd om die omgewing te bewaar nie, maar ook die liefde – nog ’n tema wat soos ’n goue draad deur die verhaal loop. Die Kom word as’t ware ’n simbool van die liefde. Dit is nie net ’n plek wat bewaar moet word nie, maar ook ’n plek wat bewaring bied vir sy mense.

Met Inkommers slaag Du Plessis daarin om nie net romantiese liefde nie, waarvan daar ’n goeie skeut is, maar ook vriendskaplike liefde, die liefde tussen ouers en kinders en die liefde vir die natuur in so mate oor te dra dat die leser nie anders kan as om emosioneel betrokke te raak nie.  

Du Plessis vertel dat nuwe invloede en inspirasie uit die werklike lewe die verhaal tydens die redigeringsproses geslyp het. Van daardie invloede is die uitbreek van die Corona-virus en beurtkrag, wat struikelblokke word wat die karakters moet oorkom. Soos die mense van die Kom nie die inkommers kan keer nie, kan hulle ook nie hierdie elemente uithou nie, en vorm dit wie hulle is.

Inkommers vra ten einde die vraag: Is ons almal nie maar inkommers nie en is dit nie almal se verantwoordelikheid om die omgewing en die liefde vir ons nageslagte te bewaar nie? Na my mening, slaag Du Plessis met Inkommers daarin om sy bedrewenheid met beelde, sy vermoë om ’n ingewikkelde storie eenvoudig weer te gee, sowel as sy kennis van die omgewing in te span om die leser te lei om hierdie vrae te beantwoord en self ’n inkommer in die verhaal te word.

Lees ook:

Drie vroue en 'n meisie deur Hans du Plessis: ’n resensie

Van Afrikaans gepraat: ’n onderhoud met Hans du Plessis

Boekresensie: Tussen die klippe deur Hans du Plessis

Drie vroue en ’n meisie deur Hans du Plessis

The post <i>Inkommers</i> deur Hans du Plessis, ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>