
Agtergrondfoto deur Kawshar Ahmed op Unsplash
...
Sonder enige afstootlike tonele stel sy my voor aan ’n verhouding tussen twee vroue. En dit is pragtig, ’n love story met al die kinkels en kabels wat waarskynlik in enige verhouding voorkom.
...
Titel: Kleur en karamel
Skrywer: Analize Viljoen
ISBN: 9780639607252
Uitgewer: Romanza
My dierbare skoonpa sal in sy graf omdraai sou hy my hierdie boek sien lees, en hy sal beslis ’n woedende rieldans doen as hy hierdie lesersindruk onder oë kry.
Ons almal is vas oortuig dat dit waarin ons glo, die alfa en omega van die lewe is. Met ander woorde, lede van die Latter Day Saints in Utah, VSA, glo dat dit heeltemal reg is om met bloedjong meisies te trou, al het die man reeds ’n paar vroue aan sy sy. Ons weet almal dat Isis glo dat hulle terreurdade heilig is. Die lede van die Ortodokse Joodse geloof besny vandag nog seuntjies.
Die waarheid is dat almal in hulle eie verwysingsraamwerk handel.
Waar val ek nou uit die boom uit? Kleur en karamel is die eerste Romanza van LAPA Uitgewers wat gaan oor ’n liefdesverhouding tussen twee lesbiese vroue.
...
Ons het ’n nuwe generasie wat ons oornag aan die Vuka-wêreld bekendgestel het. Vir sommiges is dit soos ’n emmer yswater wat op jou kop omgekeer word; dit is ek daai.
...
As jy nog nie gehoor het van die term “woke” nie, stel ek voor dat jy jouself inlig deur te gaan ondersoek instel. Met LGBTQI+-bewusmakingsveldtogte word ons dikwels uitgedaag om ons siening rondom geslag en seksualiteit aan te pas.
’n Vriendin vra my ’n ruk gelede watse ding is ’n “she-her”. Gelukkig was my sussie hier om te help, want ek erken ek weet minder as niks hiervan nie. Ek moes gaan ondersoek instel en leer om te vra op watter voornaamwoord ek iemand moet aanspreek. Ons het ’n nuwe generasie wat ons oornag aan die Vuka-wêreld bekendgestel het. Vir sommiges is dit soos ’n emmer yswater wat op jou kop omgekeer word; dit is ek daai. Gaan snuffel ’n bietjie op die internet rond vir hierdie terme.
In die era waarin ek grootgeword het, het ek baie drastiese politieke en sosiale veranderings beleef, en eintlik het daar nie veel in my lewe verander nie. As jy met oogklappe na die lewe gaan kyk, stel jy jouself in gevaar om met jou alie in die tronk te beland of jou ’n helse boete op die hals te haal. Jy kompliseer net jou eie lewe. Of jy nou daarmee saamstem of nie, dit is die realiteit.
Om straight te wees is nie die enigste aanvaarbare seksualiteit nie.
Ek voel dat liefde altyd ons benadering ten opsigte van alles moet wees. Ons vrees die onbekende, en uit pure simpelgeid veroordeel ons alles en almal wat anders is as ons, of ons dink ons moet onsself verdedig. Teen wat, en wie?
Intussen moedig ons mense aan om buite die boks te dink en om uniek en outentiek te wees.
Ek is ’n doodgewone middeljarige vrou wat baie gelukkig getroud is met ’n man. Ek het ’n sagte plek vir mense wat sogenaamd anders is.
Analize Viljoen het vir seker ’n nuwe perspektief gebring met die skryf van Kleur en karamel. Sonder enige afstootlike tonele stel sy my voor aan ’n verhouding tussen twee vroue. En dit is pragtig, ’n love story met al die kinkels en kabels wat waarskynlik in enige verhouding voorkom.
Hierdie storie speel op my voorstoep, in Swellendam, af. Dit is ’n klein boeregemeenskap in ’n asemrowend mooi landskap.
Hanri verf huise vir ’n inkomste. Sy is openlik gay en het ’n klein kringetjie vriendinne wat elke nou en dan gaan kajak en uitkamp. Lily is ’n bobaasbakprinses wat haar ná ’n egskeiding in Swellendam wil vestig. Tussen hierdie twee vroue is daar ’n vonk, maar hulle vra nie van die begin af vir mekaar die vrae wat ons almal vermy nie.
...
"Die waarheid is, ons voorgeslagte het vir ons gelieg! Om gay te wees, is so oud soos die mensdom self. Dit is maar net een aspek van menswees. As ek nie gay is nie, gee dit my geen paspoort om gay mense te veroordeel nie."
...
Hoeveel keer het jy jouself al benadeel omdat jy bang was om te vra? Hierdie Romanza mag jou dalk die vrymoedigheid gee om in die toekoms te vra as jy nie weet nie. Gaywees is nie aansteeklik nie. Jy gaan verbaas wees hoe spontaan en vrymoedig die LGBTQI+-gemeenskap is.
My heel beste radio-onderhoud wat ek tot dusver gedoen het, was met Réney Warrington. Sy is gay en is met Hanlie getroud. Sy het dit pragtig uitgedruk toe sy vir my sê dat ’n mens se seksualiteit net een gedeelte is, van wie jy as persoon is. Dit is ’n opdraande pad. Ek is vas oortuig dat geen mens kies om homoseksueel, biseksueel of transseksueel te wees nie. Vir die meeste mense is dit self ’n ontnugtering as hulle dit ontdek. Dan moet hulle dit teenoor hulle familie en vriende erken, wat traumaties vir al die partye kan wees.
Die waarheid is, ons voorgeslagte het vir ons gelieg! Om gay te wees, is so oud soos die mensdom self. Dit is maar net een aspek van menswees. As ek nie gay is nie, gee dit my geen paspoort om gay mense te veroordeel nie. Gay mense is doodgewoon. Omdat hulle soveel verwerping verduur, gebeur dit dat hulle meestal vriendskappe met ander gay mense smee. En dis nou net mooi hier waar ons straight outjies onsself liederlik te na kom, deur gay mense uit te sluit of deur hulle uit te sonder. Jy gaan dalk jou beste vriende vind die oomblik as jy jou oordeel laat staan. Om gay te wees is nie anders nie. Almal moet eet, slaap, praat en oorleef in hierdie komplekse besigheid wat die lewe genoem word.
Ek het as kind glad nie van spanspek gehou nie. My ouers het my nooit gedwing om dit te eet nie, maar dit was altyd in die vrugteslaai. Al wat ek moes doen, was om die spanspek uit te haal voordat ek begin eet. Niemand was lelik met my daaroor nie. Dit het hulle egter nie gekeer om hulle eie vrugteslaai met spanspek te eet nie. Hierdie hele seksualiteitdebakel is vir my ’n vrugteslaai. Ek het nie nodig om vrugteslaai geheel en al te vermy nie. Spanspek is vir my ’n pragtige vrug wat heerlik ruik – ek hou net nie van die tekstuur nie. Ek koop steeds elke Desember waatlemoen en spanspek, want dit maak die mense om my gelukkig en dit is tog al wat saak maak.
Moenie dat die dinge wat jy afkeur, jou daarvan weerhou om beeldskone menseverhoudings te smee nie. Lees Kleur en karamel, al is jy nie gay nie. Dit sal jou laat besef ons is almal dieselfde. Ons smag almal na opregte liefde, en geluk. Die beste resep vir geluk is om dit onvoorwaardelik uit te deel. Hierdie vreugde is priceless en dit hou vir altyd!
Naskrif: Jy mag maar vegetariese gaste na jou braai toe nooi. Onthou om te vra dat hulle ’n bykos saambring – dit word gewoonlik eerste opgeëet, veral deur die karnivore. Onthou net om die resep te kry. (Analize, dankie dat jy my na jou vuurtjie toe genooi het. Jy is ’n baanbreker.)
The post ’n Skeppie <em>Kleur en karamel</em> vir jou vrugteslaai appeared first on LitNet.