Vrugbeginsel
De Waal Venter
Naledi, 2021
SKU: 9781928530855
De Waal Venter (1942) is reeds byna 60 jaar lank aktief as skrywer. Hy debuteer in 1965 as P de W Venter met die digbundel Kiem. Daarna volg nog digbundels, kortverhale, jeugverhale, toneelstukke en radiodramas. Hy is ook ’n vertaler van poësie, onder andere van van Pablo Neruda en Tomas Tranströmer.
...........
Ondanks die feit dat hy al in verskeie genres bekroon is, het hy grotendeels onder die radar van die literatore en kanoniseerders bly beweeg. As digter is hy al met sy debuut onderskat, en dit duur ongelukkig nog voort.
...........
Ondanks die feit dat hy al in verskeie genres bekroon is, het hy grotendeels onder die radar van die literatore en kanoniseerders bly beweeg. As digter is hy al met sy debuut onderskat, en dit duur ongelukkig nog voort. As ’n voorbeeld van Venter se versvernuf haal ek die eerste gedig uit Kiem aan, “Ekstatiese mikturasie”:
My geel urien
lê warm
in my liggaamsholte
afgetap uit my bloed
wat sag spoel.
Ek is ’n lemoen
met sappe
in my styfgeswelde selle.
Soos die ronde geel son
hou ek met moeite
my hitte binne.
Venter was destyds – net soos sy digtende tydgenote Phil du Plessis, Casper Schmidt en Menno Stenvert – ’n mediese student aan die Universiteit van Pretoria. Vandaar die wetenskaplike term in die titel: mikturasie, “urinering”. Maar dié kliniese woord word gekwalifiseer deur die poëtiese en mistieke adjektief “ekstatiese”. Siedaar die kiemsel van die aspirantdigter-dokter.
Vanaf die liggaamlik-biologiese beskrywing in die eerste strofe maak die gedig – op grond van die gedeelde kleur geel – metaforiese spronge na ’n lemoen en die son. Die digter neem dus beheer oor, soos wat dit vanselfsprekend in ’n gedig hoort. In die werklike lewe het die digter ook die dokter oordonder: Venter het nie sy mediese studie voltooi nie.
Maar wat wil die gedig dan sê? Meer as een ding, en hulle gebeur tegelyk. Dit kan op ’n seksuele vlak gelees word as die belydenis van ’n viriele jong man wat van sy “sappe” ontslae wil raak, of dit kan ’n onskuldige liefdesverklaring wees waarin die spreker sy toegeneentheid vir ’n ander soos hitte uitstraal. Maar dit kan ook die uitbeelding wees van die digterlike aandrang wat liggaamlik ontstaan en abstrak vorm kry as “hitte”, die warm lug van woorde.
Op die omslag van Kiem is die tekening van ’n sel deur Venter self (so het hy my persoonlik meegedeel, want die bundel het by Nasionale Boekhandel Bpk sonder jaartal en sonder vermelding van die voorplatkunstenaar verskyn). Die bundeltitel en seltekening het my onvermydelik laat dink aan Simon Vestdijk se beroemde boek oor die aard en tegnieke van die digkuns: De glanzende kiemcel van 1950. Daarin vergelyk Vestdijk die poësie met ’n glansende kiemsel, die gedig met sy gekonsentreerde potensiaal van betekenismoontlikhede. Daarteenoor is die prosa ’n volgroeide organisme sonder die moontlikheid van semantiese verrassings, en daarom per definisie dof.
...........
Ek betrek met opset Venter se debuut by hierdie resensie van sy jongste bundel. Nie net die titel, Vrugbeginsel, is ’n eggo van dié van sy eersteling nie, maar die kunswerk op die omslag is eweneens deur die digter self gemaak. Dit stel die deursnit van ’n vrugbeginsel voor. Kiemsel en vrugbeginsel is inderwaarheid sinonieme.
...........
Ek betrek met opset Venter se debuut by hierdie resensie van sy jongste bundel. Nie net die titel, Vrugbeginsel, is ’n eggo van dié van sy eersteling nie, maar die kunswerk op die omslag is eweneens deur die digter self gemaak. Dit stel die deursnit van ’n vrugbeginsel voor. Kiemsel en vrugbeginsel is inderwaarheid sinonieme.
Ook die openingsvers van Vrugbeginsel kan as ’n verre eggo van die aangehaalde gedig hier bo uit sy debuut gelees word. So lui die eerste twee strofes:
Verwagting
Vroeër vanoggend
het die lewe oopgeplooi,
kroonblare wat wegvou
van die vrugbeginsel,
oop vir die son.
Ongesien in die donker
het selle meioties van mekaar geskei;
een van hulle gaan ’n mens help maak.
Hier is die seksuele en die biologiese taalgebruik (selle wat “meioties” verdeel) weer aanwesig. En selfs die son is teenwoordig as metafoor van die manlike beginsel. Venter is klaarblyklik ’n digter wat vanuit ’n vaste psigiese kern skryf.
Een van die aantreklikste aspekte van Vrugbeginsel is die speelsheid en humor van heelwat gedigte. Dit is ook iets wat reeds in Venter se eerste bundel voorkom, soos in “Medusa glimlag”. Hier word die digter ’n slagoffer van sy eie verbeeldingskrag:
Die meisie se mond gaan oop
soos ek ’n perske
oopbreek in twee helftes
haar geriffelde
verhemelte
is sagterig
ligrooi en
natterig haar
keel
met sy
twee trillende stembande.
Donker don
ker dun
lugpyp
af af
die spon
sige longe
sagte warm
sakke.
My hart word ’n klip
harde bruin pit van skrik.
En in sy nuwe bundel is Venter se verbeelding ewe vrugbaar en speels aan die werk:
Rigiede denkpatrone in flarde
vir Erla
Soos die bul
in die gangetjie af loop
mis die punte van sy horings
rakelings die delikate koppies op die rakke.
Hy draai links,
kantel sy kop
om sy horings verby
die fragiele herderinnetjies te stuur
en hulle oor
sagte blou teestelle te swiep.
Hy stop voor ’n oop glaskas
met vase wat skaars
die gewig kan dra
van drie rose elk.
Die stomende asem uit sy neusgate
roer die verkoopsdame se rok:
ek’s hier om ’n punt te maak,
rommel sy stem uit sy diep bors,
en ek wil ’n porselein-ring hê,
versier met ’n ontwerp van Delft.
Met sy neusring aan,
stap die bul uit die winkel;
agter hom
lê daar ’n cliché in skerwe.
Aan hierdie vers kan ek my eindeloos verkneukel. Daar is ook ernstiger, “filosofiese” gedigte, maar die aanslag bly deurgaans lig en toeganklik, soos in “Die druiwekorrel wat regtig bestaan”. Daarin voer hy twee antieke Griekse filosowe aan, Zeno en Mericritos van Thales, wat redeneer oor die verband tussen die syn en ons sintuie. Hierdie gedig kry twee teenhangers in “Sien en syn” en “Tweemaal tafel”, wat eweneens handel oor die verband tussen syn en skyn.
Ook die wetenskap word as poëtiese materiaal aangewend. In “Waar hang die klepel” word gekonkludeer:
Die hemel van die Fisika
hang oor die klepel
van die aarde.
..........
Maar dit is net die mens wat hom bekommer oor sy plek in die kosmos. Die ander aardbewoners is doodtevrede met die aarde as hul habitat.
...........
Maar dit is net die mens wat hom bekommer oor sy plek in die kosmos. Die ander aardbewoners is doodtevrede met die aarde as hul habitat. Dit staan in die lieflike vers “Eppur si muove – Galileo Galilei”:
’n Ryp appel
se greep verslap
en val.
Appel en aarde
trek mekaar aan,
maar die aarde trek sterker.
Die heelal is nie meer
’n musiekdoos
met draaiende skywe
vol ligpuntjies nie.
Die aarde is nou ’n planeet
wat warrel
saam met die ander wêrelde
al om die son,
eppur si muove.
Die akkedis
skuif haar pensie
stadig oor die warm klip;
wie weet wat sy dink?
Dalk praat sy gesellig
met die swanger aarde
en eet die planeet se wiskunde
soos muggies.
Die “swanger aarde” is nog ’n verskyningsvorm van die vrugbeginsel.
In “Tussen nou en dan is daar ruimte” word die onskeibare tydruimte van die fisika opgehef. Dit is slegs ’n digter wat daartoe in staat is, net soos wat Van Wyk Louw die tyd tot stilstand kon bring in “Suiwer wiskunde”. Die laasgenoemde vers word dan ook geëggo in Venter se verwerking van Baudelaire in “Fleurs du temps”:
Niks beweeg nie.
Alles wag tot die pendulum
terug gaan swaai.
Dit gaan gebeur.
Miskien.
Dalk nooit.
Gedigte oor die beeldende en digkuns herinner die leser daaraan dat Venter bedrewe is in albei dié dissiplines. Die volgende strofe kom uit “Die ou digter werk nog steeds”:
Tussen sy twee hande
het die wind gestroom
en hy het dit geboetseer
in die vorm
van ’n meisie se lyf.
In “Lugskep” word hierdie idee met meesleurende fantasie verder uitgewerk.
Maar Venter is ook ’n gesoute dramaturg. Dit blyk uit die reeksie gesprekke tussen die digter en sy Griekse muse, Yanni Euterpe, waarmee die bundel afsluit. Benewens dialoog bevat dit ook toneelaanwysings. Dit is ’n interessante eksperiment, maar is meestal te los van gang om te oortuig.
“Sleuring van die minnaar” is die beste vers in die reeks, juis omdat dit deur die wisselende waterbeelde tot ’n eenheid saamgesnoer word: rivier, waterval, poel, see, druppende kraan en wasbak. Dit demonstreer hoedat die poëtiese beeldspraak spontaan kan voortvloei uit ’n alledaagse, banale ding soos ’n druppende kraan.
..........
Vrugbeginsel is tematies ’n ryk bundel wat ook stilisties boei weens die balans wat geskep word tussen spreektaligheid en beeldende verdigting.
...........
Vrugbeginsel is tematies ’n ryk bundel wat ook stilisties boei weens die balans wat geskep word tussen spreektaligheid en beeldende verdigting. ’n Tipiese voorbeeld van dié jukstaponering van style vind mens in die slotstrofes van “Planeet van die ape”:
Meer en meer
lyk die groot ape
en voormense
na mekaar.
Die jare in hulle miljoenetalle
krul stadig om
en blaai terug in die tyd
soos ’n verwaarloosde boek in die son.
De Waal Venter se digbundels was te dikwels verwaarloosde boeke in die verskroeiende son van die literatuurkritiek. Lees hom; hy het veel te bied.
The post <i>Vrugbeginsel</i> deur De Waal Venter: ’n resensie appeared first on LitNet.