Ons het [...] ver versit
Patrick J. Petersen
Uitgewer: Abrile Doman
ISBN: 9781991219374
..........
Dit is, om Ngũgĩ wa Thiong'o se woorde te gebruik, ’n literêre monument. Dis ’n stem wat steeds hard praat, oor jare heen, selfs oor die dood heen. ’n Dringende stem. ’n Dwingende stem. ’n Stem van en vir vryheid en bevryding.
..........
Dit is, om Ngũgĩ wa Thiong'o se woorde te gebruik, ’n literêre monument. Dis ’n stem wat steeds hard praat, oor jare heen, selfs oor die dood heen. ’n Dringende stem. ’n Dwingende stem. ’n Stem van en vir vryheid en bevryding.
Dis die stem van die ontslape dominee-digter Patrick James Petersen wat uit die versamelbundel Ons het ver [...] versit in sy poësie, toesprake en onderhoude opklink.
Die bundel is saamgestel deur Hein Willemse. Willemse se voorwoord oor die lewe en skryfwerk van Petersen is ’n eerste sleutel tot die (her)waardering van Petersen se literêre bydrae tot swart Afrikaanse skryfwerk, en belangriker nog, die Afrikaanse literatuur in die breë (8):
In sy digterskap het gaandeweg ’n eie stem ontwikkel wat lig gewerp het op die versugtinge van diegene wat uitgesluit was van die kern van maatskaplike, politieke en ekonomiese mag. Ons het ver [...] versit bevat vier digbundels deur Petersen, naamlik: Amandla Ngawethu (1985), Advent (1988), Vergenoeg (1993) en Ons kom van ver af (1995) waarin sy kritiese ingesteldheid teenoor die apartheidsregime deurgaans onmiskenbaar is. Tog, by die (her-)lees van sy werk, blyk dit hoe relevant dit nog vandag is, hoe dit steeds die leser bewus maak van durende sosiale en politieke onreg, nuwe en steeds bestaande vorme van onderdrukking, uitsluiting en stigmatisering. Voorts word die stryd om erkenning en viering van ons gedeelde menswees ook deurgaans gesentreer.
Alreeds die titel van die openingsbundel, Amandla Ngawethu, lei die strydvaardigheid en sosiale aktivisme onderliggend aan Petersen se werk in. In die loop van die bundel weerklink ’n selfaktualiserende stem luid oor die optekening van (eie) geskiedenis, subjektiewe identiteitskonstruksie en die verheerliking van ’n dinamiese kulturele herkoms. In die openingsgedig, “komvandaan”, besing die spreker byvoorbeeld sy verbintenis met Afrika se kulturele en geografiese landskap (17):
daar gunter tussen die woude
is my komvandaan ’n trotse stam
van berge en valleie van Afriqua
in lendene van ’n lang afgestorwe kaptein.
Die stem eggo ’n trotse “afrikaansheid” en ondermyn tradisionele beskouings van die Afrikaanse taal as dié van die onderdrukker. In die opsig sluit hierdie dominee-digter aan by sy swart digterlike voorvaders, onder wie PJ Philander en SV Petersen, asook by sy tydgenoot Adam Small. Sodoende lewer Petersen ’n onskatbare bydrae tot ’n teenhegemoniese diskoers wat Afrikaans ontruk het van eksklusiewe assosiasies met die Afrikanervolk.
..........
Sodoende lewer Petersen ’n onskatbare bydrae tot ’n teenhegemoniese diskoers wat Afrikaans ontruk het van eksklusiewe assosiasies met die Afrikanervolk.
..........
Met spesifieke verwysing na die moeder- en vaderfigure bied die bundel ’n blik op huishoudings in swart gemeenskappe op ’n bepaalde tydstip in die struggle. In “mamma” rig die spreker hom op die swart moederfiguur en bedank haar vir haar opofferinge, terwyl “Dienaar van die nagereg” die ambivalente verhouding blootlê tussen ’n seun en sy polisieman-pa, wat ’n dienskneg van die “wit mag” is (19). Die brutaliteit, wreedheid en onmenslikheid waarmee die polisiemag swart mense behandel het, word hier aan die lig gebring en skerp kommentaar word gelewer op lede van die swart bevolking wat deur hulle ampstitels aandadig was aan die instandhouding van die apartheidsregime.
Die ideologie van apartheid het negatief, selfs vernietigend, ingewerk op onderdrukte burgers se selfbeskouings. Die bundel Amandla Ngwethu sentreer een van hierdie ideologiese uitwerkings: kleurbevooroordeling. Die woord verwys na diskriminasie op grond van velkleur (nie ras nie) wat uitspeel onder mense wat deel is van dieselfde etniese groep. Dit is, om dit eenvoudig te stel, ’n kwessie van hoe witter, hoe mooier, met swart of swarter aan die verste punt van hierdie verbeelde skoonheidsrangorde. So handel die gedig “Vlinder” oor ’n liefdesverhouding tussen ’n donker man, “die swart vanger”, en ’n ligte vrou, “die wit vlinder” (24). Beide partye is in stryd vir koelte wat ’n boom bied, en binne die konteks van die gedig bied hierdie “boom” momentele ontsnapping aan ’n werklikheid waar diskriminasie op grond van velkleur ’n algemene tendens is.
.........
Maar Petersen tree ook op as identiteitskepper, en wys die leser daarop hoe onmoontlik, bykans aanmatigend, dit is om bruin mense volgens vasgestelde, of eerder vooropgestelde, kategorieë aan ’n groepsidentiteit te koppel.
..........
Maar Petersen tree ook op as identiteitskepper, en wys die leser daarop hoe onmoontlik, bykans aanmatigend, dit is om bruin mense volgens vasgestelde, of eerder vooropgestelde, kategorieë aan ’n groepsidentiteit te koppel. In die bundel Ons kom van ver af word die leser gekonfronteer deur ’n selfgeldende stem wat sê “ek sal jou sê wie ek (ons) is” (187):
ons is nie halfnaatjies nie
ons is Kaaps.
Die titel van die bundel Advent verwys na ’n spesifieke tydperk op die kerk se kalender waar voorbereidings getref word vir die herdenking van Kersfees, die geboorte van Christus. Dis hier waar Petersen se pastorale en politieke betrokkenheid in sy digkuns oorvleuel. Binne die konteks van die gedig sinspeel die titel “Advent” op die naderende politieke en sosiale vryheid wat verband hou met die afskaffing van apartheid. Net soos Kersfees, is dit ’n blye tyding – ’n tyding van verandering, vernuwing en nuutgevonde hoop. Baie van die gedigte in die bundel spreek hiervan, onder meer: “D-dag”, “Vryheid is my versiersel” en “Daar kom ’n bloedkreet uit die aarde op”.
Die bundel bestaan uit sewe afdelings wat elk die lewenservaring en stemme van verskeie sosiale uitgeworpenes op die voorgrond stel. Dis die tweede afdeling wat opval en mens bybly: “Soldate van die tweede rewolusie”, waarin gefokus word op die stem, lewenservaring en bydrae van vroue tot die struggle. Gedigte soos “vir Helen Joseph”, “O stroomop geliefde ma” en “vir Albertina Sisulu” staan in die teken hiervan. Deur sy bemoeienis met vroulike anti-apartheidsaktiviste ondermyn Petersen patriargale verwysingsraamwerke wat dikwels die vroulike ervaring van apartheid en die struggle tot die marge verdring het.
Treffend is die wyse waarop Petersen se stem oor verskeie genres heen resoneer. In sy toespraak “Publication and power: Views of the marginalised” skenk hy in besonder aandag aan die afwesigheid van die swart vrouestem in die Afrikaanse letterkunde (221): “It is therefore of great importance that black Afrikaans-speaking women and other marginalised people become involved in every sphere of South-African [sic] life (...) They must especially get involved in Afrikaans literature.”
..........
Soms trap Petersen egter in ’n slaggat deur die wyse waarop hy die vroulike lewenservaring toe-eien en namens vroue praat, soos blyk in “Toe jy op kontrak was bos toe” en “Vroue van Azanië”. In beide gedigte is daar ’n eerstepersoonspreker aan die woord wat uiting gee aan die stryd en frustrasie van vrou-wees in die struggle. Tog wend Petersen deurgaans ook vernuftige poëtiese strategieë aan om letterlik en figuurlik in gesprek met die vroulike lewenservaring te tree.
..........
Soms trap Petersen egter in ’n slaggat deur die wyse waarop hy die vroulike lewenservaring toe-eien en namens vroue praat, soos blyk in “Toe jy op kontrak was bos toe” en “Vroue van Azanië”. In beide gedigte is daar ’n eerstepersoonspreker aan die woord wat uiting gee aan die stryd en frustrasie van vrou-wees in die struggle. Tog wend Petersen deurgaans ook vernuftige poëtiese strategieë aan om letterlik en figuurlik in gesprek met die vroulike lewenservaring te tree. In “Senzeni na” soek die spreker antwoorde by die regering en die sosiale regstelsel wat Florence Matomela in die steek gelaat het. “O stroomop geliefde ma” verwoord ’n eensydige gesprek waar die spreker Lilian Ngoyi lof toesing vir haar opofferings en bydrae tot die apartheidstryd. Alhoewel Petersen se bemoeienis met vroulike subjekte prysenswaardig is, is daar een kwelpunt: Vroue word deurgaans beperk tot konserwatiewe sosiale geslagsrolle wat dié van die huisvrou en moeder insluit. Vir my kom die (oënskynlike) feministiese inslag van Petersen se werk daarom in die gedrang.
Petersen se toesprake is nog ’n sleutel tot ’n verdere verkenning van sy digkuns. In die toespraak “Swart Afrikaanse digters en hulle ambag” voer hy aan dat die sosiale omgewing as stramien van digterlike inspirasie gebruik moet word. Hierdie siening resoneer met sy derde bundel, Vergenoeg, waar die gedigte oor uiteenlopende personansies op die Kaapse Vlakte handel: die spoggerige mooi vrou (“Mavis”), die bendelid (“Salute Monty”), die bruin man (“Ou Aap”), en die winkeleienaar se Griekse seun (“Jonny wasse griek”). Dis opmerklik dat al hierdie gedigte in ’n vorm van Kaaps geskryf is. Dit hou moontlik verband met Petersen se beskouing van die digter as “boodskapdraer van die mense” (15) – waar die digter as ’n spreekbuis vir randfigure optree. In dié verband word Kaaps aangewend om die “boodskap” van onderdruktes so outentiek as moontlik oor te dra.
Sy laaste bundel, Ons kom van ver af, spreek van die reis na vryheid en bevryding, ’n motief wat al met die titel ingelei en verder in gedigte soos “My Xhosa susters en broers”, “Dis ’n lang storie die” en “ons het ’n ver pad geloop” voortgesit word. Dis nie toevallig dat Petersen in sy toespraak “Die ongelyke magsverhoudinge in die Afrikaanse letterkunde” swart Afrikaanse digters uitwys as “agente van bevryding” (232) nie.
Aan die hand van Petersen se poësie-oeuvre is dit duidelik dat hy ’n voorstander was van ’n meertalige samelewing. Hy skryf in verskeie Afrikaanse variante en hy verweef deurgaans Xhosa, Zoeloe en Engelse strydkrete in sy gedigte. Die bovermelde reis na vryheid en bevryding verwys uiteraard nie net na sosiale en politieke bevryding nie, maar ook na linguistiese of talige bevryding.
Ten slotte neem Willemse Petersen se werk vanuit verskillende teoretiese hoeke literêr-krities in (her)oënskou in ’n akademiese essay wat as nog ’n sleutel dien. Willemse skroom nie om op tekortkominge in Petersen se oeuvre te wys nie, en ken lof na verdienste toe. Die essay is ’n nuttige toegangsroete tot die bestudering van Petersen se werk, en van onskatbare waarde vir diegene wat belangstel in swart Afrikaanse literatuur, en die Afrikaanse literatuur in die besonder.
.........
Die essay is ’n nuttige toegangsroete tot die bestudering van Petersen se werk, en van onskatbare waarde vir diegene wat belangstel in swart Afrikaanse literatuur, en die Afrikaanse literatuur in die besonder.
...........
Dis opvallend hoe Petersen se verhoogde sosiale bewussyn, onverskrokke kritiese ingesteldheid teenoor ras- en geslag-onderdrukking, en vernuftige omgaan met die Afrikaanse taal en al sy kulturele invloede voortgesit word in die werk van ’n jonger geslag digters soos Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer, Veronique Jephtas en Ryan Pedro. Dis as’t ware asof hulle voortskryf aan versweë of onderdrukte geskiedenisse, asof hulle voortbou op ’n grondslag wat deur Patrick James Petersen gelê is – hy wat kon inskryf, terugskryf, in sy eie stem voorskryf. Die versameling Ons het ver [...] versit bring hulde aan hierdie digter-dominee se literêre nalatenskap en sy aktivistiese stryd teen sisteme van onderdrukking, maar belangriker nog is dat Willemse, met sy bundeling van Petersen se werk, die digter en denker grondves as dit wat hy inderdaad is: ’n literêre monument.
Lees ook:
Pasverskyn: Ons het [...] ver versit deur Patrick J Petersen
The post <em>Ons het ver [...] versit</em> deur Patrick J Petersen: ’n boekresensie appeared first on LitNet.