Titel: Liefde is 'n sprokie
Samesteller: Santie Nel
Uitgewer: Human & Rousseau
Kategorie: Fiksie vir jong volwassenes
ISBN: 9780798170284
Liefde is ‘n sprokie is ‘n lekker versameling liefdesverhale geskep deur die Fynbos-skrywers, ‘n groep skrywers wat sedert 2010 al saamskryf onder die wakende oog van die sameroeper en administrateur, Santie Nel. Hierdie groepie is saamgestel uit mense wat saam ‘n kinderboekskryfkursus bygewoon het en toe begin saam skryf het met die doel om ‘n liefde vir lees by kinders te kweek. Die stories in Liefde is ‘n sprokie is geskryf deur 12 van die 30 Fynbos-skrywers en is 22 kort liefdesverhale wat op bekende sprokies geskoei is. Bydraer Elsabè van der Colff het ook pas die ATKV-prys vir die selfleeskategorie (gr 4–5) vir Nina en die funky eksperiment ontvang, so beslis nie ‘n klompie wat lig in die broek is nie.
Hierdie tienerfiksieboek se teikenmark is 13–15-jariges. Wat hierdie stories interessant maak, is dat hulle losweg gegrond is op bekende sprokies, gegeur met die realiteit van vandag se lewe. Dit bevat die basiese gegewe van die ou sprokie met ‘n moderne kinkel. Daar is ‘n paar verwerkings van “Skoonlief en die Ondier”, soos “Bleeksiel en die skoolhunk” en “Wipstert en Krok se wals”, en die Slapende Skone wat slegs ‘n kameeverskyning in een van die stories maak. Die Paddaprins word weer op sy beurt die Brilpaddaprins en Vingerhoedjie kry haar eie prins!
Van ouds af handel sprokies oor gesinsverhoudings, en hierdie sprokies met ‘n kinkel is geensins anders nie. Dit handel dikwels oor die tienerprobleme binne die gesin en hoe die hoofkarakter in die verhaal dan hierdie probleme moet oorkom. Op biblioterapeutiese vlak kan hierdie sprokies gesien word as ‘n tipe katarsis, omdat die tiener sy eie vrese, frustrasie, onsekerheid en jaloesie aan die hand van die sprokie of storie kan deurwerk. Die sprokie word gewoonlik gesien as iets wat uitloop op ‘n gelukkige of goeie einde – die oorwinning van goed oor kwaad. Dit wentel om die uitsorteer van probleme. Hierdie oplossing van probleme word dikwels in hierdie stories deur die karakters se eie vernuwende aksie teweeg gebring, maar dikwels ook met die hulp van ‘n onverwagte buitestander. Dit is dikwels in hierdie verhale die randfiguur met die letsels, lelike bril of krukke wat op die ou end die heldin te hulp snel of “red” van die jock wat op die ou end die eintlike wolf of vark in die verhaal is.
Hierdie verhale plaas tieners in die sentrum van hul eie lewensverhaal en gee hulle ‘n stem om hulself en hul gevoelens mee uit te druk. Wat interessant is, is die kernwaarheid of die basiese gegewe van die sprokie wat deurgaans in Liefde is ‘n sprokie behoue bly. Na samestellers soos die Grimm-broers sprokies begin opskryf het, is sprokies telkemale en oor eeue heen herskryf, met dikwels klein veranderings en toevoegings uit ‘n eie sosiokulturele milieu.
Elsabe Steenberg skryf in haar inskrywing oor die sprokie op Literêre Terme en Teorieë dat “die feit dat die basiese gegewe behoue gebly het en tot vandag toe oorleef en geliefd is by kinders, bewys dat die essensie en nie ‘n bepaalde klimaat nie, die kern van die sprokie is.” In hierdie boek word die leser gekonfronteer met hedendaagse, sosiokulturele probleme van geweld, misdaad en dwelms, groepsdruk, egskeidings en dood waarmee alle tieners op een of ander manier in hul alledaagse lewe gekonfronteer word. Die sprokie help dan die kind of tiener om hul probleme te aanvaar of te verwerk deur ‘n tipe van “ek is nie alleen nie”-identifikasie.
Die byna mitiese struktuur van die sprokie spreek tot die kollektiewe onbewuste en verskil slegs op sosiokulturele vlak van kultuur tot kultuur. Dit verteenwoordig ‘n kernwaarheid wat op fiktiewe wyse oorgedra word. Net soos elke kultuur byvoorbeeld sy eie skeppings- en vloedmites het, maar wat verskil in terme van kulturele gegewens, so ook vind mens variasies van dieselfde sprokies wat dwarsoor die wêreld bekend was nog voordat daar geredelike kontak tussen verskillende volkere was (Literêre Terme en Teorieë):
Die siening word gesteun deur die feit dat variasies van dieselfde sprokies dwarsdeur Europa bekend was in ‘n stadium toe die verskillende lande geen kontak met mekaar gehad het nie, as sou ‘n kollektiewe onbewuste wat oral met identiese probleme te doen gehad het, dit op dieselfde verhaalmatige wyse verwoord het. Van Aspoestertjie is bv honderde variasies opgeteken.
Dit is juis hierdie bekendheid van die verhale wat die sprokies in hierdie bundel so geslaagd maak, omdat die leser maklik die bronsprokie, en dus ook die kernwaarhede daarin, kan herken.
Een van my gunstelingverhale was “Vlam von Huten”, wat die Rooikappie-sprokie op sy kop draai. Vlam, ons hedendaagse Rooikappie, is letterlik ‘n rooikop en sy woon op die sprokiesagtige dorpie Woudenburg, waar sy op haar fiets deur die strate ry en vir haar ouma in die ouetehuis, die Toevlug Aftreeoord, gaan kuier. Die wolf is hier Wolfie, of Wolfgang, wat eintlik die goeie ou is wat haar op die ou end red. Dis die rugbyspelende hunk Shaun Woods, die “houtkapper”, wat die skurk in die verhaal is en haar letterlik in en om die bos probeer lei.
‘n Ander interessante storie is die een oor ‘n moderne Rapunsel, Munah, in “‘n Vlegsel in die son”. Interessant genoeg is dit nie ‘n nare stiefma wat haar in ‘n toring toesluit nie, maar haar eie, liefdevolle, maar oorbeskermende ma wat haar dogter laat voel asof sy toegesluit is vanweë haar begeerte om haar dogter veilig te hou in ‘n gevaarlike samelewing. Sy maak seker dat sy te alle tye weet waar haar dogter is en dat sy haar altyd by die skool gaan oplaai vir ingeval sy iets oorkom as sy alleen huis toe sou stap. Natuurlik, soos dit enige goeie sprokie betaam, is dit juis die dag wat Munah uiteindelik op haar eie huis toe stap in ‘n poging tot selfstandigheid dat sy werklik ontvoer en toegesluit word. Weer eens, soos met die oorspronklike sprokie, is dit haar lang, blonde vlegsel wat haar red wanneer sy in die bak van die ontvoerder se kar die lig uitskop en haar vlegsel by die gat laat uithang totdat haar vriend en redder, Henri, haar vlegsel sien en tot haar redding kom.
Sprokies het ‘n eenvoudige struktuur en die opbou van spanning vind vinnig plaas, sodat dit na verlossing kan lei. Die kortverhaal is dan ook die perfekte genre om hierdie sprokies in te “herskep”. Die leser van hierdie ouderdomsgroep kan deurgaans identifiseer met die karakters, alhoewel hulle telkens met volwasse probleme en situasies gekonfronteer word, wat dit ‘n geslaagde tienerboek maak. Hierdie idee dat hulle nie meer besig is met “die dinge van ‘n kind nie” is waarom daar ook verwys kan word na jeugliteratuur as oorgangsliteratuur. Selfs volwasse lesers met ‘n bietjie tienerherinnering in hulle sal hierdie boek vol liefdesprokies terdeë geniet.
The post Boekresensie: Liefde is 'n sprokie, saamgestel deur Santie Nel appeared first on LitNet.