Titel: Komplot
Skrywer: André Krüger
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798169714
Komplot is Krüger se tweede historiese roman, hierdie keer met die Spaanse Burgeroorlog as agtergrond. Soos in sy bekroonde debuut, Die Twee Lewens van Dieter Ondracek, (met die Tweede Wêreldoorlog as agtergrond) is daar ook vir hierdie hoofkarakter, Thomas Jacobs, 'n tweede lewe.
Jacobs word groot in die tyd van die mynwerkers se gereelde opstande teen uitbuiting en dit maak van hom 'n anargis wat hom dan in 1938 midde-in die Spaanse Burgeroorlog bevind.
Hy word lid van die Anargiste, een van die baie verdeelde faksies wat hulle aan Republikeinse kant teen Franco se terreur verset, en maak kennis met die verraad, wantroue, verdeeldheid en wreedhede van 'n revolusionêre stryd. Masjiengeweervuur ("die duiwel se tikmasjien") word deel van sy lewe en hy word self 'n moordenaar.
Maar die ontnugtering kom staan gaandeweg 'n kort tree agter sy ideale en oortuigings as anargis. Hy het genoeg bloedvergieting gesien en self vergiet en hy is nie meer dieselfde mens as die idealis wat hy was nie. Dit word al duideliker dat geen oorwinning sonder eensgesindheid en leierskap (deur die kommuniste) moontlik is nie en sentrale leierskap druis in teen sy filosofie as anargis. Jacobs ontdek dat die werklikheid selfs die edelste ideaal kan versmoor en dat sy vertroue in die revolusie "aan die wingerdstok gevrot" het.
Na 'n ontberende vlug bevind hy hom terug in Suid-Afrika vir sy "tweede lewe" as 'n vreedsame en vooruitstrewende plaasboer wat verlief raak, trou en die pa van 'n dogter word. Dit gaan twintig jaar lank goed, maar die leser weet dat sy gewese kamerade hom uiteindelik gaan betrek by die moordpoging op Verwoerd.
My probleem met die boek se hooftema is dat die leser van die begin af weet dat die aanslag op Verwoerd se lewe (op 'n plaas in 1959) tot mislukking gedoem is. Dit ontneem die roman van 416 bladsye van die meeste spanning wat opgebou kan word – jy weet wat gaan gebeur en jy lees sonder gedrongenheid of spanning voort om uit te vind hóé en hóékom dit gebeur.
Spanning hoef natuurlik nie 'n groot bestanddeel van 'n historiese roman te wees nie, maar Komplot lees tog – ondanks sy interessante inhoud – soos 'n boek van Agatha Christie wat die titel The Butler Killed Him sou hê.
Een van die vertakkinge van die historiese roman is die fiktiewe "Sê nou maar"-kategorie, of wat ook as die distopiese roman geklassifiseer word, waarvan George Orwell se 1984 (in 1949 gepubliseer) een van die beste voorbeelde is. Distopiese romans – op sigself 'n wye begrip – lê die klem op die negatiewe omstandighede, ontgogeling, versplinterde ruimte en ellende wat op 'n fiktiewe of ware politieke gebeurtenis volg – die antitese van utopie.
Met sy bewese en bekroonde skryfvermoë, sy vaardigheid met deeglike navorsing en sy vlugtige verbeelding is dit dalk die soort boek wat Krüger vorentoe kan oorweeg.
'n Historiese roman – en hier moet 'n mens die skrywer bewonder vir sy navorsing oor en bydrae tot die kennis van 'n era waarvan die deursnee van ons so min weet – is natuurlik deels om fiksie gebou. Maar selfs fiksie moet darem min of meer oortuigend, getrou en geloofwaardig wees. Soos Mark Twain gesê het, fiksie moet nog altyd sin maak.
Selfs wetenskapfiksie moet oortuigend wees, soos in Jan Rabie se toekomsfantasie Die Groen Planeet (1961, oor die eerste aardse Marsbewoners). Die boek is nie louter fantasie nie, maar is op 'n geloofwaardige wyse gebaseer op daardie dae se wetenskaplike kennis oor Mars en oor die ruimtevaart. Rabie se boek oortuig, al moes hy soms voortbou waar die wetenskap nog slegs kon raai.
Geloofwaardige fiksie is ongelukkig juis een van Komplot se gebreke. 'n Mens byt maar moeilik aan die Sowjetunie se premier, Nikita Chroestsjof (die boek gebruik deurgaans die Engelse fonetisering Kruschev teenoor die gevestigde Afrikaanse vorm), se direkte, persoonlike en alleenbetrokkenheid by die komplot.
Die opdragte geskied in die grootste geheimhouding net van die Russiese staatshoof, wat seker baie betroubare huurlinge vir die beplanning van sulke klandestiene operasies gehad het?
Die blote vermoor van 'n staatshoof gee meestal ook maar weinig mag aan die moordenaars: om 'n land oor te neem, moet jy sy weermag verlam.
Net so ongeloofwaardig is die nagtoneel waarin 'n agent op 'n donker plek op Johannesburg se stasie gefusilleer word. Die moordenaar kan skaars die toevallige swart toeskouer se gelaatstrekke uitmaak. Hy laat ook die enigste, ongewapende getuie wegkom en die getuie slaag later daarin om die pistool in die fynste tegniese besonderhede te teken, al het hy net die wapen se loop op hom gerig gesien!
'n Klein foutjie wat gerus maar oorgesien kan word, is dat die reël oor die vervanging van beseerde rugbyspelers eers 'n dekade ná 1958 in werking getree het.
Die outeursaantekeninge bied die leser goeie bykomende inligting oor die Spaanse Burgeroorlog. Die lys van karakters – waarvan daar baie in die boek is – stel jou ook in staat om nuttige terugverwysings te doen.
The post Boekresensie: Komplot deur André Krüger appeared first on LitNet.