Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1792

Keira – ’n storie van oorbegin deur Corné Welman: ’n resensie

$
0
0

Keira – ’n storie van oorbegin deur Corné Welman

Nog besonderhede: https://www.facebook.com/blogsiel/

Keira – ’n storie van oorbegin is Corné Welman se debuutfiksie en ek is seker met dié skryfstyl sal sy vinnig opgang maak en baie lesers lok.

Keira vertel die storie van Keira, ’n klein donkerkopvroutjie wat intrek in die dorpie van Walkers Village. Sy verander die plaaslike mense se lewens met haar insig, kennis en potions. Aanvanklik neem die inwoners aanstoot en sien hul haar as ’n bedreiging, tog is sy ’n enorme aanwins en help sy die mense, en so ook haarself, heel. Deur Keira se oë leer ons dat elke persoon ’n kans op ’n nuwe begin het. Dat elkeen dit verdien en dat dit binne élke persoon, en slégs daardie persoon, se wil en bereik is om ’n nuwe begin te maak. Om die dinge van gister daar te laat en daarop geregtig is om ’n nuwe lewenshoofstuk te begin skryf.

Benewens die gebruik van baie kommas lees dit betreklik maklik en is jy binne ’n japtrap ’n vlieg teen die muur in die storie, want dit voel of jy dié tipe perspektief het. Ek sou aanbeveel dat jy die boek in so ’n kort tyd as moontlik deurlees, met die minimum onderbrekings, sodat die storie ’n vlot verloop kan behou en jy nie die draad verloor nie. Elke hoofstuk bou voort op en sluit aan by die voorafgaandes, dus is die ideaal om dit te hou vir ’n naweek wanneer jy lekker ononderbroke tyd kan afstaan vir ’n ryke leessessie. Keira laat jou dink en dit voel asof jy saam kiertsregop in die kombuis sit wanneer sy verduidelik hoe om die doepas te gebruik en wat die doel daarvan is. Die spanning word opgebou en jy sien saam in afwagting uit na die oplossing en uitkoms.

Corné slaag daarin om diep te delf in die mens se hart, emosies en psige en sal beslis elke leser se hartsnare roer. Elkeen van ons kan op die een of ander manier identifiseer met ’n karakter, situasie of gebeurtenis in dié boek. Ek het die afwisseling tussen hoofstukke met gedagtes van Keira in “Blog van my siel geniet” op Facebook voordat ek weer verder lees oor spesifieke karakters volgens die aanduiding. Die lywige storie van 320+ bladsye word met die maklike uiteensetting vinnig gelees. Alhoewel dit ’n verhaal van worsteling, seerkry, hartseer en klaarblyklik onomkeerbare situasies is, is dit tog ook een waarin hoop seëvier. Dié hoop lê byna altyd binne-in jouself; jy moet net genoeg geloof in jouself hê om dit tot uitvoering te bring.

Met haar debuutskrywe open Corné die dansbaan met seer kwessies, maar toon ook haar karakters wanneer hoop oorwin. Alhoewel die karakters se seer aanvoelbaar is en die skaduwees in hul lewens soms self herkenbaar hier binne jouself is, is dit motiverend en opbouend om te weet dat daar altyd uitkoms is. Solank as wat daar ’n wil is, is daar ’n weg; solank iemand hoop vir jou het en in jou glo, is menige situasie volkome oorbrugbaar.

Keira – ’n storie van oorbegin slaag volkome in die genre waarin dit geskryf is en is beslis ’n moet vir ernstiger lesers wat nie net spookasemliefdesverhale wil verslind nie, maar ’n behoefte het aan stimulasie van die dieper denke.

Corné is ’n voltydse finansiële adviseur met haar eie franchise. Sy is ook die skrywer van die reeds genoemde gewilde “Blog van my siel”. Sy woon in Pretoria saam met haar man, hul twee seuns, haar pa, twee katte, vier honde en ’n kokketiel.

The post <em>Keira – ’n storie van oorbegin</em> deur Corné Welman: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1792


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>