Die lucky strike
Steve Hofmeyr
Uitgewer: Zebra Press
ISBN: 9781776093670
Die boek se stofomslag verklaar: “Jy mag dink jy is klaar met die verlede, maar eintlik is die verlede nooit klaar met jou nie. Net toe Die Sluiper sy rug wou keer op sy lewe as huurmoordenaar en vrede met die wêreld wil maak, vind hy dat sy verlede hom ingehaal en verbygegaan het. Dit wag vir hom op ’n wildsplaas in die Kgalagadi, en ook in Kabinda in die DRK tussen strydende militêre magte. Daar sal rekenskap wees. En vergelding. Hy is gereed daarvoor, want hy was in sy element – die element van vrees.
“Maar eers wag sy neef, majoor Darius Keiser, en sy geliefde Tes op hom. Ook sy twee eertydse kamerade in Spesmagte, Gertjan en Carlos. En die lang vrou met ’n donkerbril wat haar Lucky Strikes met soveel toewyding rook ...
“Dit is ’n diggeweefde web van verraad en misleiding wat hy eiehandig sal moet ontrafel. Sonder genade. Want hy is Die Sluiper en genade is God se domein.”
Dis Steve Hofmeyr se vyfde spanningsroman, maar ek moet bieg: dis die eerste boek van hom wat ek lees. Ek was bang dat hierdie opvolgroman, na Die onaantasbares, waarin hy Die Sluiper bekendgestel het, moeilik sou lees omdat ek nie die karakters ken nie. Maar geen rede tot kommer nie: hy gee genoeg terugblikke om jou gou die draad van die storie te laat optel, maar nie te veel dat jy voel hy het die helfte van sy vorige manuskrip ge-copy & paste nie.
En hoewel hy spog met titel as een van die land se gewildste vermaaklikheidskunstenaars, met ’n uiteenlopende loopbaan wat sanger, liedjieskrywer en akteur insluit, is dit net sy skryfstyl as romanskrywer (en dan ook net een) waaroor ek my kan uitlaat – en bloot as leesgierige, nie as iemand met enige literêre kwalifikasies nie.
Ek is nie vertroud met sy – huidige – musiek nie. Die laaste maal wat ek my kop gerol het op sy lirieke, was as student in Pretoria. Die toevallige sekondes wat sy sang my ore bereik, is wanneer dit oor ’n winkel se luidspreker speel of in iemand se motor wat met afgedraaide ruite langs my by die verkeerslig wag.
Ek weet sy uitgesproke opinies oor die sake van die dag kry mense gereeld warm onder die kraag óf kry groot lofprysinge omdat hy sê wat vele voel, maar nie wil uiter nie.
Hy is veelbekroond: Geselsprogram-aanbieder van die Jaar; platinumstatus vir CD-verkope wat die tweemiljoen-merk oorskry het (EMI); en ’n SAMA-toekenning vir grootste verkoper van musiek in Suid-Afrika oor alle genres heen. Boonop kan ’n outobiografie, Mense van my asem, wat ’n dekade of wat terug ’n topverkoper was, nie ongehoord by jou verbygaan nie.
Maar terug by die boek. Nadat ek die eerste twee hoofstukke gelees het, het my hart vinniger geklop. Ek het geweet die storie is boeiend en hou groot belofte in, maar kon nie my vinger lê op wat presies my aangehits om net aan te hou lees nie.
Toe besef ek dis sy slim en ongewone gebruik van woorde om beelde by jou neer te lê; kort, staccato sinne wat soms baie meer doeltreffend is as lang beskrywings. Sy vergelykings is nuut en vars en bring soms ’n glimlag na jou mondhoeke, maar soms is dit só wreed en koud dat jou nekhare regop staan. Sy beskrywing van die Kalahari “wat op haar beste ’n sloerstaking is”, of “wonde soos robyne”, of lyke wat teen ’n boom “soos borduursel vasgestik is” kan nie anders as om jou belangstelling gevange te hou en jou verbeelding op sy mees grafiese te laat ontwaak nie.
En natuurlik moet enige goeie spanningsroman ’n liefdeshoek hê. Teen die tyd dat Die Sluiper ’n vrou ontmoet wat sy versteende hart versag, het jy al soveel simpatie met hom dat jy in jou eie oordeel in mense begin twyfel. Die man is immers ’n huursoldaat met ’n lang lys dooies wat in die voetpad agter hom bly lê het.
Sy vorige boeke spog met vleitaal van die land se voorste skrywers, maar dis by een van Jean Meiring se gedagtes oor Die onaantasbares waarby ek vir Die lucky strike wil volstaan: “’n blinkgeoliede blikstemstraal ... wat mens verrassend nuut na Afrikaans en al die moontlikhede daarvan laat kyk”.
Ek kan sy boek én skryfstyl nie beter opsom as dit nie.
The post <i>Die lucky strike</i> deur Steve Hofmeyr: ’n resensie appeared first on LitNet.