Klein kook & geniet
SJA de Villiers & Eunice van den Berg
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798176880
Die vaardigheid om te kan kook en te kan bak was nog nooit so belangrik soos nou nie. Kook- en bakkuns word oraloor gesien: op televisieprogramme, in tydskrifte en op vele webwerwe word pragfoto’s van kos en gebak ten toon gestel. Die splinternuwe uitgawe van Klein Kook & Geniet is ’n fantastiese gids om kinders opgewonde te maak oor kos.
Basiese vaardighede word uit die staanspoor goed verduidelik en die belangrikheid van veiligheid word deurlopend in die kookboek aangesny. Die basiese hoofstukke brei ook uit oor kossoorte, kombuisgereedskap en tegnieke, wat pragtig uitgebeeld word.
Resepte word slim verdeel in die verskillende hoofstukke. Kleurkodes vir elke hoofstuk help om die boek met gemak te gebruik en om resepte vinnig te vind. Die boek dek ‘n groot verskeidenheid resepte wat belangrik is vir elke beginner in die kombuis. Die grondslag word vasgelê deur die lesers bekend te stel aan witsous, basiese vleisgeregte en bykosse. Dit is van groot waarde dat tradisionele resepte behoue bly, maar op ’n moderne manier aangebied word. Daar is ook ’n hele klompie nuwe resepte wat ’n vars blik op die boek gee. Die groot aantal resepte vir poedings en soetgoed is voordelig, want dit is dit wat kinders geesdriftig maak oor kookkuns.
Dit is wys dat die resepte stapsgewys ingedeel word, want dit maak dit selfs vir jonger kinders moontlik om ’n resep te probeer. Die uitleg van die resepte is lesersvriendelik, en dit dui die kombuistoerusting, bestanddele en metode duidelik aan. Porsiegroottes word ook aangedui.
Kleurryke foto’s van kinders wat kosmaak, skep ’n mooi prentjie van wat lesers ook self sal ervaar. Die foto’s van die geregte en gebak is prakties en bied ’n ware uitbeelding van hoe dit lyk en selfs hoe dit bedien kan word.
Dit is verblydend om ‘n resepteboek onder oë te hê wat gesonde kos hoog op prys stel sonder om die lekkerte van soetgoed en gebak in die skaduwee te laat staan. ‘n Stewige fondasie is al wat nodig is om kinders aan die kook te kry, en dit is presies wat hierdie boek bied. ’n Kinderkookboek wat die liefde vir die kombuis, kosmaak en bak aanwakker. Laat die kinders kook met Klein Kook & Geniet!
The post <em>Klein kook & geniet</em> deur SJA de Villiers en Eunice van den Berg: Al wat ’n kind nodig het om te begin kook! appeared first on LitNet.