Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1810

Kleure van die liefde, saamgestel deur Corlia Fourie: ’n resensie

$
0
0

Kleure van die liefde
Saamgestel deur Corlia Fourie
Uitgewer: Human & Rousseau 
ISBN: 9780798175159

Liefdesverhale is tydloos gewild. In ’n mate is dit ons eie hoop en verwagting in die lewe, daarom lees ons graag oor liefde. Dit gee ons hoop deur met die karakter te identifiseer en vir ’n wyle vind ons ontvlugting in die vertelling van iemand anders se lewe. Elkeen droom van liefde, glo in liefde en deur verlore te raak in die fiktiewe lewe van ander, skep dit onbewustelik hoop dat ons eie lewens ook so kan wees. Daar is wel deesdae minder tyd om jouself te verloor in ’n liefdesroman, daarom is Kleure van die liefde, 25 van die beste stories uit rooi rose saamgestel deur Corlia Fourie die ideale samevatting van liefdesverhale.

Alhoewel dié samestelling Kleure van die liefde heet, moes dit myns insiens eintlik "Geure van die liefde" gewees het, want hierdie samestelling is omtrent ’n lekker mengelmoes van al die lekkerste geure van die liefde.  Soos die beskrywing in alle reg raakvat, "Verkies jy om bietjies-bietjies te proe, is dié tydskrifstories net die regte lengte vir ’n vinnige blaaskans voor slaaptyd." En dis net wat ek gedoen het, elke aand die boksie oopgemaak en een of twee (drie!) sjokoladetjies verslind. Want al is ek nie noodwendig ’n aanhanger van liefdeskortverhale nie, kon ek nie Kleure van die liefde neersit nie. Ek wou nóg lees, nóg proe. Selfs al was ’n dag hoe lank, ek moes eenvoudig nog lees.

Dis inderdaad die waarheid dat dit ’n mens laat vergeet van enige saai alledaagsheid. Dis ’n wenner-samestelling van humor, liefde, hoop, drome en geluk en laat ’n warm gevoel van lekkerte agterbly lank nadat die boek al toe is. Dit is moeilik om enige skrywers of kortverhale uit te sonder, maar om bloot te sê daar is regtig iets vir elkeen se smaak, doen ook nie dié 25 van die beste stories uit rooi rose gestand nie. Skrywers soos Sophia Kapp, Annelie Botes, Erika Murray-Theron, Rachelle Greeff, Jaco Jacobs, Paul C Venter en Francois Bloemhof stel hier ten toon waarom hul van Suid-Afrika se mees geliefde en gewilde skrywers is. Alhoewel ek soms dink dis moeiliker om ’n boodskap volledig en deeglik te kan oordra in slegs ’n kortverhaal, slaag die skrywers daarin dat jy in ’n enkele paar bladsye ’n karakter leer ken en inderdaad ’n opinie kan hê. Dis werklikwaar identifiseerbare gevoelens, vlymskerp humor, jy sien die tonele, ervaar dit en wat is nou lekkerder as om te lag én oor liefde te lees. Mos twee van die lekkerste gevoelens dan nie?

Kleure van die liefde is allesbehalwe jou tipiese, stroperige liefdesverhale en verdien ’n plekkie op jou boekrak – vir daardie geleenthede waar die dag te lank was, die lewe dalk te veel, en jy net ’n paar minute het om te ontsnap. Maak vir jou ’n koppie koffie, trek die deur toe en lees ’n paar goeie hoofstukke waar jy soms lekker gaan lag, ander kere glimlag en net soms dalk skelm voel om ’n traan weg te pink oor daardie verlore liefde van lank-lank gelede.

The post Kleure van die liefde, saamgestel deur Corlia Fourie: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1810


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>