The historical Overberg
Chris Schoeman
Uitgewer: Zebra Press
ISBN: 9781776090723
Die nuus dat verkope van gedrukte boeke in Amerika en Brittanje in die onlangse verlede beduidend toegeneem het, mag sommige mense verbaas, maar dis ’n feit. “Digital continues to be an incredibly important part of the industry, but it would appear there remains a special place in the consumer’s heart for the aesthetic pleasure that printed books can bring,” aldus Stephen Lotinga, uitvoerende hoof van die Britse Publishers Association.
Hierdie boek van Schoeman is ’n plesier om in die hand te neem. Die illustrasies is met sorg gekies; besonderse foto’s (nuwes en oues uit argiewe) en etlike afdrukke van kunswerke wat met die Overberg verband hou, dra by tot die visuele trefkrag. Die kunstige bladuitleg is uitnodigend en die insetsels van kort biografieë van merkwaardige inwoners steur nie die vloei van die algemene teks nie. Daar is heelparty landkaarte wat help om die leser te oriënteer ten opsigte van die grense van die Overberg en die dorpe wat tot hierdie streek hoort. Die boek is werklik ’n artefak wat die verskil tussen sigkopie en e-dokument illustreer. Geluk aan die uitgewers, Zebra Press, met die estetiese waarde van hierdie produk.
’n Kenmerk van die boek waarvoor die skrywer lof verdien, is die deeglike navorsing. Schoeman is sowel historikus as joernalis, wat duidelik blyk uit die toeligtende aantekeninge en stewige bronnelys, wat nie alleen boeke, artikels en aanlyn items insluit nie, maar ook persoonlike onderhoude. Wat dan vertel word omtrent die verskillende streke en dorpe, is nie bloot veralgemenings wat in elk geval redelik bekend is nie. Schoeman doen moeite om die geskiedenis van elke dorp wat hy bespreek, kortliks te vertel soos dit histories inpas binne ’n bepaalde politieke en ekonomiese raamwerk vanaf ontstaan tot op hede. Telkens is daar staaltjies en feite wat nuut en interessant is.
Dit val ’n mens op dat die geskiedenis van die Overberg onvermydelik die geskiedenis van verskeie bewindhebbers is, van koloniale moondhede, deur die apartheidsjare tot vandag. Hiermee gaan die skrywer eerlik om. Hy vertel van verskeie gedwonge verskuiwings onder die apartheidsbedeling waar bruin mense dorpsentra moes verlaat waar hulle oor lang tydperke gelukkig gewoon het, soos gebeur het op Kleinmond, Hermanus en Onrus. Wat Greyton betref, oordeel Schoeman, “[T]he social fabric of the town was irreparably damaged when the apartheid government implemented the Group Areas Act in the region.”
Tog is daar ook ander, meer opbeurende verhale, soos waar slawe vrygestel is deur hul baas se testament; op Tesselaarsdal is ’n plaas aan nege slawe nagelaat. Die Molteno-broers, wat vir dekades die vrugte-uitvoerbedryf oorheers het, het hul “enormous network of farms” in die Elgin-vallei omstreeks 1950 aan Elgin se plaaswerkers en inwoners geskenk vir eie gebruik. Die geskiedenis van Elim, wat begin is as ’n Morawiese sendingstasie, en oor die jare ’n veilige heenkome gebied het vir vrygestelde slawe asook oorlewendes van skeepswrakke, is baie positief.
Swellendam geniet heelwat aandag, aangesien dit ’n dorp van groot historiese belang is. Schoeman beklemtoon die belangrikheid van die dorp se geografiese ligging, wat daartoe gelei het dat dit gedurende die 18de en 19de eeue die poort tot die binneland was, maar ook die laaste vesting van die beskawing vir diegene wat ooswaarts gereis het. ’n Verskeidenheid van historiese geboue word genoem.
Toevallig weet ek iets van Swellendam wat nié genoem word nie, wat egter nie die skrywer se skuld is nie, want daar is sover ek weet niks op die rekord daaroor nie. Vergun my die kans om hierdie hiaat te vul. Direk oorkant die Drostdy, en dus deel van die museumkompleks, wat ’n besonderse erfenisgebied vorm, is daar ’n ou plaashuis waarin ’n restaurant tans sake doen. Dié huis is egter nie oorspronklik in Swellendam gebou nie. Dis ’n ou plaashuis wat op die plaas Zanddrift tussen Swellendam en Bonnievale gestaan het, volgens oorlewering eiehandig opgerig deur ’n weduwee Botha, haar twee dogters en ’n slaaf, waarskynlik omstreeks 1770. Eens was dit die eiendom van oom “Boy” Kennedy en sy vrou Vera, my ma se oom en tante.
Toe oom Boy die huis in 1963 verlaat, het dit agteruitgegaan. Sy skoonseun, Pieter Grobbelaar, het toe met Colin Cochrane, destydse kurator van die Drostdy Museum, onderhandel om die huis aan die museum te skenk vir heroprigting in Swellendam. Die huis is toe van ’n kant af presies opgemeet en gefotografeer. Die opstal is op Zanddrift uitmekaar gehaal, balk vir balk, klip vir klip, en alles is noukeurig genommer. Die klei van die roukleimure is Swellendam toe vervoer en daar deur perde tot stof getrap, waarna die klei weer met water en kalk aangemaak is om die mure op te bou – heelwat gladder as die oorspronklikes. Van hierdie proses besit my familie foto’s. In elk geval, soos ek sê, is hierdie stukkie inligting nie bekend nie.
Schoeman doen moeite om volledig en prikkelend oor elke dorp se uitsonderlike kenmerke en aantreklikhede te berig. So aanloklik laat hy die omgewing lyk dat ek summier besluit het om ’n toer te beplan wat verskeie oorstaanplekke aandoen: sommiges welbekend en sommiges minder bekend. Sekerlik sal daar meer lesers wees wat so voel. Maar ook vir die leunstoelreisiger is hier ryke stof.
Werklik ’n waardevolle bydrae, nie alleen tot die toerismebedryf nie, maar ook tot erfenisoptekening.
’n Laaste versugting: kan dit nie maar ook in Afrikaans verskyn nie?
The post The historical Overberg deur Chris Schoeman: ’n resensie appeared first on LitNet.