Doodsroeper
Rika Cloete
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799383126
Rika Cloete se Doodsroeper het ’n interessante sinopsis:
"Februarie, 1861. ’n Groepie trekboere maak naby die Gamagara-rivier in die Kalahari staning. Nie ver daarvandaan nie, lê Stilbos – ’n onheilsbos sonder voëls, maar ook die skuilplek van die Doodsroeper, ’n onaardse wese wie se krete deur murg en been sny en elke keer kom kort voor iemand sterf."
Nie lank nie, of die geskende lyk van een van die boere word daar in die bos gevind. Dit is ongetwyfeld moord en Soois Bruwer, ’n verloopte wetsman, word versoek om ondersoek in te stel.
Hoe dieper hy delf, hoe ingewikkelder word die saak en hoe meer besef hy dat hy eintlik maar bitter min van die mense óm hom weet. Hulle is onwillig om te help en daar is geheime wat soos asems tussen die waens drentel, en dan is daar natuurlik oom Albert Siener se vreemde visioene. En natuurlik ook Nella Uys, ’n onkonvensionele, geheimsinnige vrou wat baie weet, maar min sê. En klein Krisjan Harmse, wat klaarblyklik die oplossing vir die raaisels ken, maar deur die doodsengel besete is en niks verraai nie.
Net toe Soois dink hy is op die regte spoor, roep die Doodsroeper weer en sit hy met ’n tweede lyk. Nou moet hy alles inspan om die moordenaar vas te trek, maar ’n hele klompie verrassings wag nog op hom.
Ek het nog nie tevore misdaadfiksie teen die trekboeragtergrond raakgelees nie en was aanvanklik skepties oor hoe effektief jy spanning sal kan skep tussen ossewaens en trekdiere, maar ek was aangenaam verras oor Cloete se vernuftigheid om uit die vlaktes en die alledaagse genoeg misterie te bring. Een vir een word die mense in die laer uitgevra; Soois vergader leidrade, maar voel meestal of hy twee treë vorentoe, maar drie treë agtertoe stap.
Met die uiteindelike onthulling oor wie die eerste lyk met ’n mes bygedam het, gee die spanning in jou nek effe skiet, maar jy besef nog is ‘t einde niet, want dié vermoorde het baie vyande gehad en elkeen sou hom op ’n ander manier wou karnuffel het as hulle net die moed gehad het.
En Soois, die man wat nie gevra het om die moorde op te los nie, het self ’n donker geheim in sy hart; hy wat self die wrede kant van die lewe ervaar het, kom weer voor ’n kruispad te staan: verraai hy sy nuwe liefde deur dinge van haar te weerhou of verraai hy die vertroue van ’n jong vrou wie se lewe aan skerwe lê?
Die boek het my geheel en al beïndruk, nie net oor die deeglike navorsing wat Cloete aangepak het om die storie geloofwaardig te maak en konteks te bied nie, maar ook haar slim manier om die identiteit van die moordenaar tot byna die laaste 10 bladsye goed geheim te hou. Ook haar taalgebruik is pragtig. Daar is woorde wat vandag al in onbruik geraak het, soos herneuter, erbarmlik, pollevinkery, bereids, verloopte … wat herinner aan ’n tyd toe dinge én praat anders was.
Ek lees op Lapa se webwerf dat misdaadfiksie Cloete se obsessie is: reeksmoordenaars, passiemoorde, gifmoorde, geestesversteurings – alles al van toentertyd af deel van die mens se bestaan. Maar ook die vraag om geregtigheid, die drang na uitlewering van die skuldige, en die onwrikbare geloof dat die goeie uiteindelik die bose sal oorwin, is gewortel in ons menswees. En dit is juis dít wat hoop vir die toekoms gee en dit noodsaaklik maak om daaroor te skryf.
Sy het haar debuutbundel in 2002 publiseer en twee jaar later ’n avontuurromanse, maar Doodsroeper is haar eerste spanningsroman.
Haar boek is ’n verfrissende afwisseling in ’n genre wat nou doodgeskryf word – soms met beter storielyne en ’n beter begrip van hoe ’n goeie storie ontvou – ongelukkig ook heelwat dikwels nie.
Ek hoop hierdie boek is die begin van vele misdaadfiksiewerke van haar, want ek glo sy het haar genre gevind. Die trekboere was ’n interessante idee en ek kan net wonder of sy hierdie milieu verder sal gebruik. Die andersheid daarvan is deel van die verfrissende briesie wat deur haar boek waai.
Foto van Rika Cloete: verskaf deur LAPA
The post Doodsroeper deur Rika Cloete: ’n resensie appeared first on LitNet.