Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1806

Sing Mamma sing deur Theresa Papenfus: ’n FMR-resensie

$
0
0

Sing Mamma sing
Theresa Papenfus

Litera Publikasies
ISBN: 9781-920188573

Die boek waaroor ek vandag gesels, het ’n baie treffende voorbladillustrasie, nl ’n klein voëltjie wat teen ’n groen agtergrond op ’n tak met formidabele dorings sit, en ’n nog meer besonderse titel, nl Sing Mamma sing. Dit is memoires deur Theresa Papenfus, waarin sy die lewens-, en uiteindelik die sterwensverhaal, van haar jongste seun, Braam, vertel. Beide die voorbladillustrasie en die titel blyk aangrypend gepas te wees namate mens vorder met die boek.

Ons leer Braam, en die Papenfus-gesin, intiem ken deur sy ma se onderhoudende vertelling van die gesin se verhaal. Dit word in kort grepies vertel, elk met net een of twee woorde as uiters gepaste titels, wat die inhoud soveel meer impak gee. Dit lees dus vinnig en vlot, en eggo die woelige energie van die klein Braam wat ons leer ken as avontuurlustig, koppig, uitbundig, ’n bietjie wild, stout, snaaks, bekkig en vol streke. Daar is vele snaakse insidente en anekdotes oor Braam in die boek ingesluit; byvoorbeeld toe sy ma hom wil straf oor een of ander stoutigheid, sien mens iets van Braam die toekomstige prokureur in sy verweer: “Liewe Jesus wil nie hê mens moet ’n kind pak gee nie.” Hy is nuuskierig en vra baie vrae, waarop sy ma nie altyd ’n antwoord het nie. Hoe beantwoord mens nou eintlik jou kind as hy vra: “Weet Ma hoe plat trap ’n klein olifantjie jou?”

Braam is gek oor die see, en die gesin se familievakansies in Kleinmond word so lewendig en getrou vertel dat jy die klein Braampie in die poeletjies waarvoor hy so lief was, kan sien krappe vang saam met sy boeties en nefies. Hier bly hy ook pal in die moeilikheid, en toe sy moedelose ma op ’n dag vir hom vra: “Sê my Braam, wat moet ek maak met ’n kind wat al heeldag so stout is?”, kom die antwoord: “’n Kind wat so stout is moet reguit poeletjies toe gestuur word, en eers teen die aand weer by die huis toegelaat word.”

Die Papenfus-gesin is ’n besonder hegte een, stewig ingebed in hulle uitgebreide familie, en veral sterk gebonde aan hulle geloof. Hulle gesinslewe word baie onderhoudend gedeel, onder andere aan die hand van die vele baie amusante Huisvergaderings wat met die drie seuns gehou word en waar elkeen kans kry om sy sê te sê. Braam, as die jongste van drie seuns, moet al gou leer om sy man te staan. Braam word vir die leser sterk uitgebeeld as ’n jong man met vele belangstellings en passies, soos hengel, branderplankry, duik, jag, die see, sy honde, sy liefde vir musiekmaak. Hy is baie aantreklik vir die meisies, en hulle vir hom! Hy leef met oorgawe en volspoed. Die ruim aantal foto’s uit die gesin se fotoalbum, wat vele momente en hoogtepunte uit hulle en Braam se lewe vasvang, maak dit vir die leser net soveel makliker om die gesin en hulle storie beter te kan leer ken, en die reeds genoemde hegte familieband straal uit talle van die foto’s.

Ons lees dan hoe Braam, skaars twee jaar oud, baie siek word met ’n urienweginfeksie, en na verskeie traumatiese toetse word dit duidelik dat daar fout is met sy niere: Sy een nier is heeltemal verskrompel en die ander een het heelwat verminderde funksie.

Die titel van die boek word juis uit een van hierdie uiters onthutsende insidente ontleen: waar die kleine Braam, wat nog een van vele mediese prosedures moet ondergaan, kaal vasgesgespe op die ondersoektafel lê terwyl sy blaas volgepomp word, hewig ontsteld en huilend by sy ma aandring: “Sing Mamma, sing!” En sy mamma sing, aanhoudend, desperaat, soms onsamehangend en biddend, tot sy uiteindelik haar flou gehuilde kind weer kan aantrek en in haar arms toevou vir troos.

.........
Die titel van die boek word juis uit een van hierdie uiters onthutsende insidente ontleen: waar die kleine Braam, wat nog een van vele mediese prosedures moet ondergaan, kaal vasgesgespe op die ondersoektafel lê terwyl sy blaas volgepomp word, hewig ontsteld en huilend by sy ma aandring: “Sing Mamma, sing!” En sy mamma sing, aanhoudend, desperaat, soms onsamehangend en biddend, tot sy uiteindelik haar flou gehuilde kind weer kan aantrek en in haar arms toevou vir troos.
.............

Braam herstel van die siekte en sy ouers word gerusgestel dat hy, met sekere aanpassings, ’n normale lewe met net die een nier sal kan lei. Tog, soos sy ma skryf, bly die slang van onrus in haar opgekrul lê, en kort na Braam se mondigwording, wanneer hy ’n student op Stellenbosch is, begin hierdie slang ontwaak en sy kronkels losskud. Braam ontwikkel erge hoofpyne, en talle doktersbesoeke later kry hulle die skokkende diagnose: akute nierversaking. Hy moet ’n nieroorplanting ondergaan en Theresa, sy ma, is die skenker.

Hy moet immuunonderdrukkende medikasie neem om orgaanverwerping te voorkom. Die medikasie verhoog egter die risiko van verskeie siektes, onder andere melanoom, en dit is hierdie kanker wat Braam se lewe uiteindelik op amper 38-jarige ouderdom kortknip.

Braam bly tot aan die einde van sy jong lewe onverskrokke, groot van gees en hart, optimisties en ’n vegter. Ten spyte van sy siekte bly hy besig en aktief en betrokke in sy beroep as prokureur. Theresa Papenfus verwoord hierdie skreiende, pynlike aftakelingsproses so meesleurend en gevoelig dat dit so ’n intense belewenis word dat mens soms die boek vir ’n rukkie eenkant toe wil skuif net om nie soos ’n ongevoelige voyeur te voel nie.

.............
Tog is die boek nie ’n geweeklaag nie – allermins. Hierdie mamma sing nie net nie, sy skep eintlik ’n rapsodie vir haar seun Braam, as mens die woord “rapsodie” hier verstaan soos die antieke Grieke dit gebruik het, naamlik om grepe uit liedere en gedigte wat heldedade besing, saam te weef, aanmekaar te stik tot ’n groter geheel, vir opvoering en voordrag.
..............

Tog is die boek nie ’n geweeklaag nie – allermins. Hierdie mamma sing nie net nie, sy skep eintlik ’n rapsodie vir haar seun Braam, as mens die woord “rapsodie” hier verstaan soos die antieke Grieke dit gebruik het, naamlik om grepe uit liedere en gedigte wat heldedade besing, saam te weef, aanmekaar te stik tot ’n groter geheel, vir opvoering en voordrag. Want Braam se lewe, en veral sy moedige stryd teen sy slopende siekte, was niks minder as heldhaftig nie. Soos een van die verpleegpersoneel op ’n stadium vir hom gesê het: “Jou naam moes nie Braam gewees het nie, jou naam is Braaf.”

Party mense hou op met leef nog lank voordat hulle sterf – nie Braam nie. Hy het intens en verbete geleef tot die heel laaste oomblik. Hy het diep spore getrap en formidabele herinneringe nagelaat vir sy uitgebreide familie, vriende, kollegas, mediese personeel, en ondersteuners op sy laaste reis. Sy lewensverhaal herinner mens weer aan die opvatting dat niemand ooit werklik sterf totdat hulle deur niemand meer onthou word nie.

Die gesin se geloofsoortuiginge speel ’n groot rol in die boek en word boeiend en eerlik uitgebeeld. Alhoewel die Papenfus-gesin se geloof vir hulle ’n vaste rots was en is, het hulle nogtans baie geworstel en baie vrae gehad rondom Braam se voortydige dood en die rol van hulle gebede vir sy genesing – die belofte van Psalm 91 as een voorbeeld. Wat is die verskil tussen glo en hoop? In die epiloog, geskryf in die vorm van ’n laaste brief deur Theresa aan Braam met die titel “Spoor”, lees ons: Wat nou van geloof en gebede? En Theresa skryf: “Jou pa praat min oor sulke goed. Hy het besluit: Ons gebede vir jou genesing is wel beantwoord. Die antwoord was nee.”

Ek salueer hierdie skrywer, wat uit ’n verpletterende verlies so ’n aangrypende en indrukwekkende dokument kon skep. Lees beslis Theresa Papenfus se Sing Mamma sing.

Lees ook:

Sing, Mamma, sing deur Theresa Papenfus: ’n resensie

The post Sing Mamma sing deur Theresa Papenfus: ’n FMR-resensie first appeared on LitNet.

The post <em>Sing Mamma sing</em> deur Theresa Papenfus: ’n FMR-resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1806