Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1792

Gebooie deur Rudie van Rensburg: ’n resensie

$
0
0

Titel: Gebooie
Skrywer: Rudie van Rensburg
Uitgewer: Queillerie, 2024
ISBN: 9780795802713
Epub ISBN: 9780795802720

Die kort beskrywing op die uitgewer se webwerf verklap nie veel nie: “’n Reeksmoordenaar maai bekendes op ’n streep af. En Kassie en Rooi moet hom vastrek. Maar dit is makliker gesê as gedaan. Die moordtonele is smetloos, met slegs bisarre boodskappe by die lyke. Die slagoffers se hoë profiele veroorsaak ook ’n ongekende mediaherrie, wat bykomende druk op die ondersoekspan plaas. Die Spesiale Spookeenheid se elite-speurspan tas behoorlik in die duister rond. Het hulle dié keer hulle meerdere teëgekom?”

Maar jy weet nog voor jy dié opsomming gelees het, wat jy kan verwag. Rudie van Rensburg het homself mos behoorlik as krimiskrywer ingegrawe met 13 vorige misdaadfiksies op sy kerfstok, en die formidabele speurders Kassie en Rooi is mos al volksbesit.

Kassie is intussen getroud en hy kan steeds nie glo hoe gelukkig hy is dat hy nie net iemand gekry het wat hom aanvaar vir wie hy is nie, maar dat hulle selfs ’n liefde vir seëls deel. Hoewel sy klerekas nou die waaksame oog van ’n modebewuste vrou het, is hy steeds verknog aan sy rooi windjekker – in wese het dus nie veel verander nie!

En Rooi het pa geword en is heel behendig met die klein mannetjie, al laat ’n nommer-twee-doek sy maag draai! Hy waag ook sy hand aan gholf en dit lyk asof die twee speurders uiteindelik ook probeer om ’n beter balans tussen werk en vrye tyd te bewerkstellig.

Die reeksmoordenaar doen goeie navorsing voor hy elke moord in die fynste besonderhede beplan. Mens kry eintlik hoendervleis oor sy deeglikheid en hoe fyn hy mense dophou sonder dat hulle dit besef, en jy kyk onwillekeurig oor jou skouer as jy buite jou erf beweeg.

.........
Hy gebruik die Bybel se tien gebooie om sy slagoffers te kies, en toe die ondersoekspan dink hulle is agter die kap van die byl, besef hulle dat hierdie moordenaar eintlik nie binne hul gewone profiel se boksie pas nie.
.........

Hy gebruik die Bybel se tien gebooie om sy slagoffers te kies, en toe die ondersoekspan dink hulle is agter die kap van die byl, besef hulle dat hierdie moordenaar eintlik nie binne hul gewone profiel se boksie pas nie. Die man is uitgeslape, hy lees wyd, en hy oordink elke stap baie goed voor hy tot aksie oorgaan.

Hy hou nie daarvan dat hy in die media as dom of voorspelbaar afgemaak word nie. Boonop is nie alle “oortrede” gebooie aanvanklik so voor die hand liggend as ander nie. En wie maak dan nou nie so af en toe ’n ou foutjie nie?

Hoe hy besluit wie moet boet omdat hulle die gebooie oortree het, is meer ingewikkeld as wat die speurders onmiddellik kan baasraak. Die druk neem toe, en tien moorde is nie iets wat enigiemand op hul gewete wil hê nie – veral nie as die publiek klaar ’n negatiewe indruk het van die polisie se vermoëns om misdadigers vas te trek nie.

Die moordenaar se lewensverhaal word baie goed deur die storie verweef, hoewel jy eers later in die boek besef dis sy storie wat jy saam met die huidige moordverloop volg. Dit gee jou die grillings dat kinders met soveel negatiwiteit moet grootword, en laat jou amper ’n sagte plekkie vir die wreedaard ontwikkel – wat natuurlik een van Rudie se fyn tegnieke is. Wanneer jy amper jammer begin voel vir ’n misdadiger wat mense so gewetenloos vermoor, is die tweestryd in jou kop amper deel van die genot van die storie.

Rudie van Rensburg (Foto: Brenda Veldtman, 2021)

Rudie het homself nou ook al bewys as iemand wat met sy joernalistieke agtergrond die waarde van goeie navorsing besef. Jy weet sy boeke is fiksie, maar só sterk gegrond op ware gebeure dat jy amper voel of jy nuusdekking oor ’n ware reeksmoordenaar volg.

Beurtkrag en die vermoë om danksy die internet slim toegang tot inligting te kry, is ’n integrale deel van die moordenaar se sukses, en dis nog een van die vele aspekte van Rudie se boeke wat my altyd beïndruk: Dis regtig ’n weerspieëling van die tyd waarin dit afspeel en die middele tot die polisie se beskikking; maar ook die beperkinge en uitdagings waarmee speurders in die nuwe bedeling van ons land moet worstel.

Bloedmonsters en bewysstukke word nie – soos in ons gewildste krimireekse op televisie – binne ure ontleed nie. Ons polisie het nie dieselfde CCTV-materiaal tot hul beskikking om elke tree van potensiële verdagtes te volg en sodoende ’n tydlyn te bou om moontlike skuldiges uit – of in – te sluit nie. Daar is ook nie taakspanne met ’n magdom slimkopraadgewers op die koop toe om agter die psige van ’n reeksmoordenaar te kom nie.

Kassie en Rooi roep weer die hulp van Lulu in, maar Kassie se irritasie met haar is dat sy meestal ook maar net raaiskote waag – en dan haarself beskerm deur albei scenario’s voor te hou. Draadsitter meer as enigiets anders, want selfs sy besef die moordenaar is niemand se speelmaat nie.

En ai, die media wat heel dikwels eerder ’n stok in die wiel steek as om vir Kassie en Rooi met hul saak te help, is ook ’n sterk tema hier. Daar is altyd ’n jong of voortvarende joernalis wat wil naam maak wat nie die omvang van sy onbesonne berigte insien tot dit te laat is nie, en dan lê daar ’n hoop lyke agter hom. In hierdie storie is dit Leendert Lampbrecht van die Oggendster, wat so behep is met sy naam op die voorblad dat hy alle grense oorskry.

Maar steeds los Kassie en Rooi die moorde op en nog ’n skuldige ry aan die pen.

Rudie se mooi taalgebruik en vermoë om tonele met woorde te skilder het weer gemaak dat ek verdeeld was: Lees ek die boek vinnig klaar om uit te vind hoe hulle die man gaan vastrek? Of lees ek stadig om die plesier uit te rek? Hoe ook al, dis weer pure boekgenot van die eerste bladsy af.

Lees ook:

Rudie van Rensburg (1951–)

Merk deur Rudie van Rensburg: ’n resensie

Monster deur Rudie van Rensburg: ’n resensie

Ys deur Rudie van Rensburg: ’n resensie

Hans kry troukoors deur Rudie van Rensburg – ’n soort nabetragting

The post Gebooie deur Rudie van Rensburg: ’n resensie first appeared on LitNet.

The post <em>Gebooie</em> deur Rudie van Rensburg: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1792

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!