Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Quinn se jaar van kwik
Skrywer: Zelda Bezuidenhout
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637006248
Quinn se jaar van kwik is ’n heerlike storie.
Tienerseuns moet dit beslis lees, maar alle tienermeisies moet ook!
Die hoofkarakter is vernoem na “Mighty Quinn” – soos besing deur Manfred Mann se Earth Band op die album Watch.
Om te kyk, to watch, is ’n belangrike deel van die boek, maar so ook is die feit dat Quinn nie baie goed is as kwik nie.
Die verwysing na kwik, wat reeds saam met die titel die leser se aandag trek, kom van ’n vorige onnie van Quinn wat haar aanbeveel om soos kwik te wees – om gewoon in te pas. Kwik is een van twee metale wat vloeibaar is by kamertemperatuur. Dit kan dus oral inglip, sonder enige weerstand.
Quinn het dit nodig om onsigbaar weg te vloei, want sy het ’n bietjie droog gemaak by ’n vorige skool in New York. En nou wil haar ma dat sy haar matriek in Suid-Afrika voltooi.
Die skool wat haar ma kies, is peperduur en erg eksklusief, maar skynbaar ook baie streng. Haar ma wil dat Quinn die beste moontlike punte kry en nie weer deurmekaar raak met vriende wat haar aandag van haar skoolwerk sal aflei nie.
Die probleem is dat daar by hierdie peperduur skool allerlei goed plaasvind wat nie juis positief is nie. Quinn besef gou dat graad agts nog steeds verneder word en as “alge” aangespreek word. Verder is daar ’n groep seuns wat hulself die reg toeëien om meisies te bepunt en te bevoel, naakfoto’s van die meisies te deel en, wel, lees maar self wat nog.
Quinn, wat ’n uitstekende kop vir chemie het, besef dat haar bloed begin kook. En wanneer ’n vloeistof kook, raak dit volgens chemiebeginsels minder stabiel.
Kwik wat kook, kan gevaarlik wees.
Quinn wat kook, kan bitter gevaarlik wees.
Mighty Quinn gaan nie toekyk hoe ’n spul bevoorregte seuns met haar en haar vriende mors nie.
Julle moet maar self die boek lees om te sien wat gebeur.
Puik boeke binne streng beperkings
Afrikaans is bevoorreg om jeugboeke te hê wat regtig goed is. Aangesien ons nie geredelik boeke vir “young adults” maak nie, is ons skrywers beperk met wat mag en nie mag nie. Engelse skrywers in die mark vir jong volwassenes mag maar die klere laat waai. Nie in Afrikaanse boeke nie! Ten spyte van hierdie beperkings, of dalk juis danksy die beperkings, kom ons jeugskrywers vorendag met uitstekende, aktuele werk.
Quinn se jaar van kwik is geen uitsondering nie.
Danksy die klaaglike Wilgenhof-sage is die media weer aan die gons oor ontgroening, maar niemand steur hulle regtig aan die voortdurende ontgroeningsveldtogte wat steeds in ons land se skole en universiteite geduld word nie.
Meer nog: Daar word maar min gesê oor eksklusiewe klubs waar seuns en jong mans aangemoedig word om hulle manlikheid te bewys deur sekere aksies met vroue te voltrek.
Zelda Bezuidenhout pak hierdie goed kaalvuis én kaalbors aan. Ja, die hemde waai, lees maar self. Bezuidenhout doen dit sonder om te preek en sonder om iets te skryf wat my ma sou laat bloos. Dit wil gedoen wees.
#MeToo
Die boek se ontwerp, deur Linki Brand, vra ’n oomblik se aandag.
Die voorblad is treffend in swart en wit met blougroen drukwerk en ’n bietjie rooi. Lieflik.
Reg om die buitekant van die roomkleurige papiergedeelte is daar, in dieselfde blougroen ink as op die voorblad, graffiti aangebring wat sê #MeToo.
Hierdie tema word in swart en wit herhaal op ten minste ses bladsye aan die binnekant van die boek.
Op die agterblad is ’n blikkie outydse Zam-Buk-salf geteken, wat herhaal word op die laaste bladsy in die boek.
Hierdie mooi stukkies detail maak dat ’n mens sommer wil aanhou blaai ná jy klaar gelees het.
Hoekom Zam-Buk? Ha, nee, ek gaan nie sê nie. Dis ’n uiters belangrike deel van die boek.
Wat ek wel gaan sê, is dat die oorspronklike tradisie rondom die blikkies Zam-Buk redelik onskuldig, dalk selfs mooi was. Dit het egter ontaard. Soos talle tradisies is dit dikwels moeilik om presies te sê wanneer iets te ver gaan.
Dit is natuurlik presies so met seksualiteit. Natuurlik moet jong mense vry. Natuurlik moet seuns en meisies mekaar verken. Ja.
Maar.
Wanneer respek by die deur uitwaai, dan kom daar probleme – aldus die superslim Quinn.
Sy’s reg.
Ons is almal lomp en almal van ons maak soms foute in ons optrede teen ander, maar wanneer seuns uitgedaag word om meisies se toenadering te misbruik om punte te kry by hul vriende, dan raak dinge problematies.
Maar hoe bewys jy dit?
En hoe weet jy die owerhede sal reg optree as jy sou kla?
Help dit om te skryf #MeToo? Gaan dit mooi prentjies bly?
Quinn en haar maats vlek ’n sleg ding oop, maar sal die onnies hulle steun? Dalk sal die bloedjong, vroulike Engelsonderwyser nog help, maar sal die skoolhoof hom steur aan hulle? Gaan hy die stinkryk pa’s van die stinkryk seuns ter wille wees?
Lees maar self.
Lekker, lekker, lekker
Uiteindelik is Quinn se jaar van kwik ’n lekker boek om te lees. Ek was selfs by geleentheid geïrriteerd toe ek onderbreek is.
Die boek is nie prekerig of swaarmoedig nie. Dis ook nie anti-seun nie.
Daar is ’n baie sterk aanduiding dat Quinn (buite die blaaie van die boek) dalk nie so erg baie soet gaan wees wanneer ons haar groet nie. Maar hierdie keer gaan haar aksies op respek gebaseer wees: Quinn en (oeps, lees maar self) sal self kan besluit hoe ver hulle wil gaan.
Party mense bou skepe en bote. Quinn se jaar van kwik is ’n waardige monument vir meisies soos Quinn. As jy nié hierdie verwysing verstaan nie, koop die boek en lees dit. Alles sal duidelik word.
Lees ook:
The post Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout, ’n lesersindruk first appeared on LitNet.
The post <i>Quinn se jaar van kwik</i> deur Zelda Bezuidenhout, ’n lesersindruk appeared first on LitNet.