Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1806

Ek en jy bestaan nie deur Danie Marais, ’n lesersindruk

$
0
0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Ek en jy bestaan nie
Danie Marais
Uitgewer: Tafelberg
9780624095002

Let us therefore agree that the idea of eternal return implies a perspective from which things appear other than as we know them: they appear without mitigating circumstance of their transitory nature. This mitigating circumstance prevents us from coming to a verdict. For how can we condemn something that is ephemeral, in transit? (The unbearable lightness of being, Milan Kundera)

Ek dink dis in Orgie wat André P Brink die aanname maak: “As alles dan illusie is, is ek nie ook ’n illusie nie?” ’n Uitspraak wat dadelik in verband gebring kan word met die titel van Danie Marais se nuutste digbundel: Ek en jy bestaan nie.

Jy weet mos –
swart wit en bruin kan mekaar nie vat nie.
Ek en jy, ou Danie,
ek en jy bestaan nie. (53)

Dit is slegs wanneer “ek en jy nie bestaan nie” dat dit ons sal noop om die wêreld om ons te verbeel. Slegs deur verbeelding kan ons ’n wêreld van ware gelykheid vergestalt – ’n wêreld waarin ons ’n einde aan segmentering kan maak. ’n Wêreld waarin “die illusie”, “die nagemaaktheid” van iets soos byvoorbeeld wit bevoorregte woonbuurte verander kan word – anders gemaak kan word – deur die digter se idealistiese jeugdiger oë, die tyd toe die digter (en moontlik ook lesers) nog studente was, die tyd voor die koms van die egskeiding, die tyd voor die koms van kinders, die hipsterverlede (die elemente wat in dié bundel raakgelees kan word). Die enigste manier om dit – kom ons noem dit ’n utopie – te realiseer, is deur dit in die eerste plek te verdoem tot iets wat nie ís nie, óf kan wees nie – iets wat nie bestaan nie; en dan kan daar gevolglik uit daardie plek van geen-bestaan iets voortgebring word wat straks nét deur die verbeelding daargestel kan word:

Bob Dylan het hom seker destyds verbeel
soos almal hulle destyds verbeel
of miskien het hy tog geweet
hy’s die dik stem van sy tyd dalk weet jy
op 21 waarvoor jy bestem is (60)

Dit is ’n bundel waarin die digter sy bevoorregte posisie as middeljarige wit man gebruik om ’n soektog na “die waarheid” van stapel te stuur. Met ander woorde, die sogenaamde “unbearable whiteness of being” word bloot ’n element – ’n moontlike perspektief – waardeur daar bestek opgeneem (kan) word oor die sin van die lewe. Waar daar terselfdertyd oor die aard van die werklikheid gespekuleer (kan) word, nie net met verwysing na die wit woonbuurte van Stellenbosch nie, maar ook met betrekking tot álles rondom ons. In die gedig “In die akwarium” word die akwarium ’n allegorie van wat dit behels om die aard van ons realiteit en bewussyn te probeer verstaan:

Jy moet vis lees en water grondiger begryp
om vrede te hê hier tussen die wier en spoke
van beweging – (12)

’n Groot deel van die bundel bestaan uit gedigte waarin daar soms op melancholiese wyse gedig word uit die geheue van ’n oudwordende, middeljarige man wat deur hierdie terugblikke sin wil maak van die hier en die nou van die Suid-Afrikaanse samelewingslandskap. Die vrae waarmee die bundel my gekonfronteer het, was onder andere of die aard van ons werklikheid daagliks deur geskiedenis en herinnering gedikteer word. Of het ons nie bloot ’n bestaansreg juis as gevolg van ons verlede, nie? Én, is dit sodat ons verlede die aard van ons werklikheid in watter konteks of watter milieu ook al bepaal inbegrepe die skuld en skaamte wat ons met ons saamdra.

Die teks word nie pertinent in afdelings verdeel nie en verskeie intertekstuele aanhalings word lukraak tussen die gedigte geplaas om – as ek Roland Barthes kan gebruik – ’n verweefde koord van teks(te) daar te stel wat lesers dan mag gebruik om die raaisel van hulle eie realiteite te probeer naspoor: om anamnesties met die digter se woord(e) (maar ook die aanhalings) om te gaan. Álles, insluitende sekere buurtwag-haikoes, -kwatryne en ander gedigte wat handel oor die woonbuurte van Stellenbosch, en veral rondloperfigure wat die norm teengaan en op strategiese plekke in die bundel voorkom, word deel van hierdie gevlegte koord wat lesers kan gebruik om hulle eie realiteit(e) te bevraagteken.

Die vraag wat deurentyd aan bod kom, is: Wat is die aard van ontheemding? Word die wit middeljarige Afrikanerman – in die konteks van die bundel die wit Afrikaanse digter – nog ’n stem gegun deur sy anderskleurige tydgenote, of is dit juis sy verlede, sý Afrikanerskuld, wat ’n las word, ’n hindernis vir ’n stem wat steeds ’n plek in die Suid-Afrikaanse samelewing behoort te hê? Mag hy en sy wit, middelklas “bondgenote” nog êrens bestaan? Sien in hierdie verband die onderstaande aanhaling uit “My afvaardiging word stoom teen my eensterspieël”:

hoe sy en haar mense eintlik
nêrens mag bestaan nie – sag
dog met nadruk tot sy lyk soos ’n kind
wat haar woorde in die skoolkonsert vergeet het
haar pleidooi begroet met sprakeloosheid
die belese stilte van ’n saal (40)

Die verse is ryk aan verwysings na en/of aanhalings van die lirieke van musiek, wat dan verder gestalte gee aan verweefde koord van die teks(te). ’n Voorbeeld is “En êrens dreun die branders aan die strande van Natal” (47), wat geskoei is op Koos du Plessis se “Najaarsdroom”. Dit word ’n intense, polities belaaide “najaarsdroom” waarin geskiedkundige gebeure die skuld kry vir die verknorsing waarin die wêreld hom tans bevind:

die tagtigs toe Thatcher en Reagan die kwylende banke
losgelaat het om been te lig teen die hoeksteen
van elke grondwet die hotelle nou
pispaaltjies van die Geskiedenis glasige oë
gerig op die stygende seevlak (47)

’n Verdere tema is die feit dat ’n mens jouself nie kan losmaak van jou verlede nie:

lanternlig van ou wonde
[word] die bloedspoor
na komvandaan (57)

Alles wat was, sal weer wees. Alles wat is, was al reeds gewees. Alles wat nog moet kom, het alreeds gekom én daarom dan die vraag: Bestaan ons werklik? Op hierdie wyse word die ou André P Brink-aanhaling geaktiveer.

Die vraag waarby die digter wil uitkom, is: Kan ’n beter wêreld nie geskep word as ons vir eens eerlik met mekaar kan wees nie? Dit moenie ’n aangeplakte, soms skynheilige, soms nagemaakte buurt wees nie waar

ons middelklastuinmeubels in die maanskyn skynheilig
kringetjie hou langs die blinkswart altaar
van die Weber (74)

Dit kan ook nie soos ons huise wees waarvoor ek en jy “kan moor / soos [ons] voorgeslagte gemoor het(75) nie, maar waar ons ’n plek het van “medelye” – wat straks óók nie bestaan nie (maar moet bestaan). Kan ons dit skep volgens hierdie frase uit die gedig “Goeienag, Matt Berninger” (83): “die Geskiedenis se medelye hou op / waar die suburbs begin” (87)?

Die bundel word ’n oproep om finaal af te reken met “die melkbaardrebellies van [ons] jeug” om toe te gee:

die suburbs sal [ons] altyd verraai en die familiemotor is ’n satelliet
om die arbitrêre mishoop van [ons] voorvaders se ambisie (86)

Om teen die seildoek van ons verlede, dit wat ons Afrikaans en Afrikaner maak, begrip te kan hê vir die posisie / die orde wat ons tans beklee, “om dankie te moet sê” (104) en aan te hou poog om te sien wat daar dalk nie is nie, maar wat daar wél moet wees:

Ons kon nog nooit sien
wat ons alles nie kan sien nie
maar deesdae versteen ons trane
nie meer so maklik
tot marmer en monumente nie (108)

L’envoi:

The heaviest burden is therefore simultaneously an image of life’s most intense fulfilment. The heavier the burden, the closer our lives come to earth, the more real and truthful they become. (The unbearable lightness of being, Milan Kundera)

Lees ook:

Ek en jy bestaan nie deur Danie Marais: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Ek en jy bestaan nie: ’n onderhoud met Danie Marais

Danie Marais (1971–)

"Wees geduldig, maar wees braaf": Anton Kannemeyer se raad aan jong kunstenaars

Danie Marais oor sy opname in die splinternuwe Groot Verseboek

The post Ek en jy bestaan nie deur Danie Marais, ’n lesersindruk first appeared on LitNet.

The post <i>Ek en jy bestaan</i> nie deur Danie Marais, ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1806


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>