Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1814

Donkertyd: My naam is Tina deur Mariël le Roux: ’n resensie

$
0
0

Titel: Donkertyd: My naam is Tina
Skrywer: Mariël le Roux
Uitgewer: LAPA
ISBN:
9780637002974

Werklik? Nog ’n boek oor ’n man wat sy gesin emosioneel en/of fisiek verniel? Is dit regtig nodig? Dit was hierdie leser se reaksie binne die eerste twee hoofstukke van Donkertyd: My naam is Tina deur Mariël le Roux. Want ja, Servaas Joubert is alles wat die cliché van ’n abusive man veronderstel: outokraties, bombasties, skynheilig en wreed. En belustig, in sy seun se woorde.

In Donkertyd neem Servaas Joubert sy plek in tussen talle soortgelyke karakters in Afrikaans. ’n Hart is so groot soos ’n vuis deur PP Fourie, Grootgeluk deur Jan van Tonder en die ouer Die reuk van appels deur Mark Behr is maar net ’n paar van ’n lang lys boeke met hierdie tema.

Die boek is in drie afdelings verdeel. In die eerste (1966) is Tina sewe jaar oud en kyk sy met die onskuld van ’n kind na die onverstaanbaarhede van die gesin waarin sy grootword. In deel twee (1976) gaan sy verpleeg – teen haar sin, op haar pa se bevel – en vind tog geleidelik haar voete in die beroep. In deel drie (2001) kom sy as volwasse vrou terug na haar grootworddorp en vind sy ook uiteindelik uit wat in haar pa se kinderjare gebeur het. Die harde pa van haar kindertyd is nou oud en broos en maak aanspraak op haar simpatie en versorging. Kom hy tot inkeer? Kom Tina tot groter begrip van sy persoonlikheid? Vind sy dat sy hom kan vergewe? Hierdie antwoorde moet die leser vir hom-/haarself gaan soek.

Hoewel die eerste afdeling, wat uit Tina as dogtertjie se oogpunt geskryf is, so hartverskeurend is dat mens met moeite kan aanhou lees, is dit ook die deel wat deur ’n skeut humor getemper word. Tina verstaan nie die onderdrukte spanning, die donkerte, in haar gesin nie en die seksuele innuendo’s neem sy in haar onskuld letterlik op. Haar vrae toon haar weetgierigheid, maar maak haar telkens die voorwerp van ’n gelag en sy kry nooit die antwoorde wat sy soek nie. Die dinge van die lyf word nie by die naam genoem nie, soos baie ander dinge ook verswyg word. Tina se naïewe vrae word telkens ontwykend, maar kostelik beantwoord in die kleurryke Afrikaans van die huiswerkers. Die tragedie is egter dat sy op daardie ouderdom alreeds weet sy durf haar vrae nie aan die grootmense binne haar gesin stel nie.

.........
Die boek is in essensie die verhaal van Tina se soeke na begrip van haar pa se optrede.
.........

Die boek is in essensie die verhaal van Tina se soeke na begrip van haar pa se optrede. Terwyl hy ’n bullebak bly wat almal met die tong en vir Sarel dikwels met die belt of sambok bykom, bly sy vrou vir hom verskoning maak. Sy hou voortdurend sy moeilike kindertyd – sy donker tyd – as die rede vir sy gedrag voor en verwag van die kinders om hom steeds te respekteer en onderdanig aan hom te bly. Haar onderdanigheid en lojaliteit strek ver verby die grense van gesonde verhoudings en word vir hierdie leser nooit oortuigend gemotiveer nie. Ter wille van haar kinders kom sy egter wel in so ’n mate in opstand dat sy hulle finansiële sekuriteit ná haar dood kan verseker. Hiervoor betaal sy egter jare lank die prys van vernedering en onderdrukking deur haar man.

Die huishulpe op die plaas is Tina se enigste werklike bron van inligting, want uit haar ma kry sy nie meer as vae verskonings vir haar pa se gedrag nie. By veral Bettie ontvang sy meer warmte as in haar ouerhuis, maar die jong Katrien borduur ook soms so op haar stories voort dat Tina dikwels nie seker is wat is waarheid en wat is verdigsel nie. Die leser sien hoe skuldgevoelens van jongs af in Tina ingebou word en hoe sy haarself telkens van sonde verdink, terwyl sy eintlik net kinderlik onskuldig is.

Hoewel Tina die hoofkarakter is, is die boek ook haar pa se lewensverhaal, wat sy oor baie jare stukkie vir stukkie leer ken. Die leser moet maar self besluit of haar ma reg was deur sy kindertyd as verskoning vir sy boeliegedrag aan te bied. Die subtitel, My naam is Tina, dui op haar vasberadenheid om nie Geertina, soos hy aandring om haar te noem, te word nie. Sy wil nie die persoon wees wat hy haar wil maak nie; sy wil haar eie mens wees.

Hoewel sy deurgaans soos drek deur haar pa behandel word – sy en haar ma word onder andere gereeld oor hulle eetgewoontes en grootte verneder – en sy hom mettertyd diep verag, bly sy verbonde aan hom. Sy bly hoop op sy goedkeuring en ook as volwasse vrou spring sy nog steeds wanneer hy sy vingers klap en eise aan sy kinders stel. Hierdie teenstrydige gevoelens van die kind van ’n abusive ouer kom telkens voor in boeke met dié tema.

Die kwessie van nurture vs nature is relevant in die verhaal. Was Servaas hulpeloos uitgelewer aan die mishandeling en verwerping wat hy as seun ervaar het of was dit sy keuse om die siklus voort te sit? Was die boosheid deel van sy pa en is dit deel van hom? Waarom was die sorgsaamheid van die werkers op die plaas nie genoeg om hom op ’n ander pad te plaas nie? Kan Tina, en veral haar broer Sarel, die siklus verbreek?

........
Uiteindelik gaan dit oor die doodswyg van dinge ter wille van die samelewing – die samelewing wat in elk geval lustig skinder oor elkeen wat uit die spoor van tradisie en konserwatisme trap.
........

Uiteindelik gaan dit oor die doodswyg van dinge ter wille van die samelewing – die samelewing wat in elk geval lustig skinder oor elkeen wat uit die spoor van tradisie en konserwatisme trap.

Die tragedie – soos in talle ander boeke met min of meer dieselfde tema – is dat Tina se pa, sowel as sý pa, vandag deur behandeling gehelp sou kon word. Veral in haar kindertyd is daar egter geensins oor geestesgesondheid gepraat nie en was die voorhou van ’n perfekte front vir die gemeenskap baie belangrik – belangriker selfs as die welsyn van die gesin.

Stilisties is die eerste afdeling die hoogtepunt van die boek. Tina se opregte nuuskierigheid en onskuld bring humor na die andersins neerdrukkende verhaal. Die twee huiswerkers se kleurvolle taalgebruik en besondere sin vir humor bring ook ’n groter ligtheid na die storie. In die latere afdelings word algemeen beskaafde Afrikaans (’n neerbuigende term uit daardie tyd) gepraat en word dit soms eenselwig en oormatig formeel.

Tina, en tot ’n mindere mate Sarel, is die enigste karakters wat meerdimensioneel geskilder word. Die ander karakters – insluitende haar ouers – word merendeels eensydig as slegs goed of net sleg geteken. Die uitbouing van haar pa en ma se persoonlikhede kon bygedra het tot die geloofwaardigheid van die keuses wat hulle gemaak het.

........
Donkertyd is ’n waardige afsluiting van Mariël le Roux (1947–2023) se besondere nalatenskap.
........

Wanneer sy as verpleegkundige in die gemeenskap van haar kindertyd werk, kom Tina in aanraking met die werklikheid van meisietjies wat heeltemal te vroeg babas kry en al die ellende wat daarmee gepaard gaan. Die boek eindig met ’n gesprek van Tina as verpleegkundige met ’n tienermeisie wat besluit het om haar baba liewer vir aanneming af te gee as om die pa in haar dogtertjie se lewe toe te laat en die siklus van vroeë swangerskappe en uitsiglose lewens vir jong meisies te laat voortgaan. Die meisie wonder of haar kind se pa dalk kan verander, maar sy sien nie haar weg oop om die kans te vat nie. Tina sien haarself in die meisie en ervaar kragtige terugflitse na haar eie lewe. Sy weet mense verander nie so maklik nie. “’n Vark bly ’n vark, ’n boelie bly ’n boelie [...].” Sy weet egter ook dat die slagoffer wel mettertyd meer begrip en wysheid kan bekom: “Dat sy die wêreld anders sal sien wanneer sy eendag haar deur ’n bietjie wyer oop kan maak.” Die letsels bly egter: “[...] dat die spoke nooit wegraak nie.”

Donkertyd is ’n waardige afsluiting van Mariël le Roux (1947–2023) se besondere nalatenskap van romans vanaf Wilhelmina: kampkind op Java (2007), deur Die naamlose (2010 en 2017), Klara (2013), Isabella (2017) en Mieke (2021) tot by Donkertyd: My naam is Tina, wat kort ná haar dood verskyn het. “Sy is nie meer hier nie. Haar stories wel,” in die woorde van haar dogter Marí Lategan.

Donkertyd word sterk aanbeveel vir lesers wat hou van toeganklike stories wat steeds daarin slaag om diep in die menslike kondisie te delf en met universele waarhede na vore te kom.

Lees ook:

FMR-resensie: Donkertyd. My naam is Tina deur Mariël le Roux

Mariël le Roux (1947–2023)

In memoriam: Mariël le Roux

The post Donkertyd: My naam is Tina deur Mariël le Roux: ’n resensie first appeared on LitNet.

The post <em>Donkertyd: My naam is Tina</em> deur Mariël le Roux: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1814

Latest Images

Trending Articles

<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>