
Geweld teen vroue: Dit is tyd dat mans begin praat (Naledi, 2023)
Geweld teen vroue: Dis tyd dat mans begin praat
Samestellers: Bernard Lategan, Jody Hendricks, Willemien Brummer, Kopana Ratele en Chris Jones
Uitgewer: Naledi (2023)
ISBN: 9781991256300
Geweld teen vroue: Dit is tyd dat mans begin praat is een van baie min bundels waarmee ek absoluut saamstem en terselfdertyd mee wil stry.
Die bundel bestaan uit 18 bydraes, waarvan sommiges uitstekend is. Een of twee bydraes het gevoel asof die bydraer die aand voor die bydrae moes in wees, onthou het en toe sommer vinnig iets saamgeflans het. Gelukkig is die res van die bundel van sulke gehalte dat daardie paar nie regtig afbreuk doen aan die res nie.
Maar dalk moet ek begin by waaroor die bundel gaan. Ons almal weet dat gendergebaseerde geweld ’n euwel in die samelewing is. Selfs die staatspresident beskryf dit as ’n pandemie. Aktiviste en mense wat met geslagsgebaseerde geweld werk, is dit eens dat die oplossing nie net by vroue lê nie. Hoe die oplossing ontknoop, is daar egter nie eensgesindheid oor nie. Mans as die oorgrote meerderheid van oortreders moet deel van die oplossing word en nie net deel van die probleem bly nie. Daaroor is daar eenstemmigheid. Dis wat die bundel probeer oordra, en die subtitel van die bundel sê dit ook.
Wat die samestellers egter uit die oog verloor, is dat mans nie nou begin praat nie. Dis die deel waaroor ek met hulle wil stry. Die beweging om mans betrokke te kry as deel van die oplossing, is al dekades oud. Daar is verskeie organisasies wat mans mobiliseer. Sommige van die mans wat betrokke is by sulke organisasies, is dan ook bydraers tot hierdie bundel, maar daar was ’n paar ander wat ek dink besondere bydraes kon lewer en wat nie ingesluit is nie. Maar dis so met elke bundel, ongeag wat die onderwerp is. Iemand se gunsteling gaan uitgesluit wees. Dit maak natuurlik glad nie die bundel minder nie.
Trouens, laat ek dit sê: Geweld teen vroue is ’n stewige bundel wat lesers aan die dink sal sit.
Dalk is ek bevooroordeeld, maar ek lees enigiets wat Kopano Ratele en Willemien Brümmer skryf, al is dit ook ’n inkopielys. Ratele se skryfstyl is liries, glad nie die kurkdroë inslag wat so baie akademiese skryfwerk onleesbaar maak nie. Of eerder, dis leesbaar, maar die leser moenie verwag om genot te put daaruit nie. Ratele se werk, in teenstelling, sing. Hy gaan op empatiese wyse met sy onderwerp om, filosofies en met ’n veerligte aanslag wat die leser dwing om ook die ander kant van die saak te beskou sonder om oordeel te fel.
Met Brümmer weer val die logiese, helder, feitelike en tog deernisvolle oordrag van inligting op. Jy weet sy het nagevors, sy’t goed gedink oor wat sy wil sê, vir wie sy dit sê en hoekom sy dit sê. Elke woord is geweeg voordat dit op papier gesit is, en dit maak haar artikels oneindig insiggewend.
Sover ek weet, is hierdie bundel die eerste bundel wat bydraes deur meesal mans in hoofsaaklik Afrikaans byeenbring. Meesal mans, maar vroue pen ’n paar sterk bydraes in die bundel. Hoofsaaklik Afrikaans, maar daar is ook ’n paar Engelse bydraes.
........
Predikante en imams skryf. Filosowe, joernaliste en digters lewer bydraes. Dit maak vir ’n waardevolle verskeidenheid perspektiewe.
........
Wat veral opval, is die baie inklusiewe en diverse aard van die bydraers. Daar is bydraes deur mans en vroue, in Engels en Afrikaans, Christen en Moslem van dwarsoor die rassespektrum en seksuele identiteite heen. Predikante en imams skryf. Filosowe, joernaliste en digters lewer bydraes. Dit maak vir ’n waardevolle verskeidenheid perspektiewe. Veral verfrissend is dat daar bydraes vanuit Moslem-kulturele en -religieuse perspektiewe geskryf word. Willa Boezak se bydrae oor die Khoi-perspektief was vir my besonders. Dis die een bydrae wat ek ten minste ’n paar keer weer wil lees, want daar is soveel inligting saamgevat dat dit nie net een of twee keer gelees kan word nie.
Sommige bydraes is in ’n akademiese register geskryf, sommige is anekdoties, ander is geskryf as eerstepersoon-getuienisse. Die laaste kategorie was juis die essays wat my keer op keer aan die keel gegryp het.
Laurie Gaum, een van die bydraers, skryf juis dat daar wegbeweeg behoort te word van die konsep van slagoffers van geweld na ’n konsep van getuies van geweld. Anders gestel, jy is nie wat met jou gebeur het nie, wat so ’n positiewe boodskap is om uit te dra.
Jan Lotz, pa van Inge, skryf aangrypend oor sy verlies en hoe hy daarmee probeer saamleef. Julian Jansen lewer ewe aangrypend getuienis oor geweld in sy ouerhuis. Jody Hendricks in sy bydrae spreek pertinent die kwessie aan van die skade wat stilbly wanneer jy weet iemand word mishandel, veroorsaak.
Opvallend en raar is die wyse waarop geestelike leiers in beide die Christelike en Moslem-tradisie worstel met die gebrek aan ondersteuning in die kerk en moskee wanneer vroulike lidmate geweld ervaar, veral wanneer die geweldenaar in ’n leiersposisie in die geestelike instelling is.
........
Opvallend en raar is die wyse waarop geestelike leiers in beide die Christelike en Moslem-tradisie worstel met die gebrek aan ondersteuning in die kerk en moskee wanneer vroulike lidmate geweld ervaar, veral wanneer die geweldenaar in ’n leiersposisie in die geestelike instelling is.
........
Die bundel het ’n goeie hart, maar dit voel tog asof daar ’n poging is om weer die wiel te ontwerp. Daar word byvoorbeeld ’n verklaring geskep waarin mans hulself moet verbind om geweld teen vroue teen te staan. Hoekom nie net byvoorbeeld die White Ribbon Pledge, wat internasionaal al jare aan die gang is, gebruik nie? Hoekom nie Thursdays in Black ondersteun nie? Dis beide veldtogte wat mans betrek en wat al jare reeds gevestig is. Dit word nooit aangespreek nie, wat my met die vraag laat of die samestellers onbewus is van hierdie veldtogte en of hulle bloot nie gedink het dit voldoen aan die behoeftes wat nodig is vir hierdie tydvak en hierdie generasie nie. Ek vermoed dis laasgenoemde, maar ek wens tog dat hulle die leser in hulle vertroue kon neem.
Wat gepla het, is dat die bundel mank gaan weens ’n gebrek aan behoorlike redigering. Dit is ongelukkig iets wat by meer as een Naledi-produk opval. Taal kon aansienlik beter versorg wees. Die oneweredige taalversorging laat die indruk dat elke bydraer maar tot ’n groot mate aan hul eie lot oorgelaat is. Persone se name is boonop verkeerd gespel. Aktrise Cate Blanchett word sommer Kate Blanchette. Aktivis-priester June Major word June Mayor. In beide gevalle is dit die tipe inligting wat met ’n blitsvinnige Google-soektog opgespoor en reggestel kon word. Dis ’n jammerte, want dit krap aan wat andersins ’n uitstekende bundel is. As hierdie bundel herdruk word, moet daar tog ernstig aandag geskenk word daaraan om die teks beter te versorg.
Dit beteken natuurlik glad nie dat die bundel sonder meriete is nie. Inteendeel, ek beveel dit aan as ’n goeie toevoeging tot enige leeslys wat oor genderkwessies besin. Dit sou dalk selfs kon dien op teologiese instellings se lys van voorgeskrewe werke oor gender.
Maar ook die leser wat nie noodwendig lus is om akademiese verhandelinge te lees nie, sal met vrug hierdie bundel kan nadertrek en deurdraf.
Gaan lees dit. Jy sal verryk word.
Lees ook:
Carin Bester: "As jy nie opstaan vir geweldsmisdade teen vroue nie, wakker jy dit aan"
The post Geweld teen vroue: Dit is tyd dat mans begin praat: ’n resensie first appeared on LitNet.
The post <em>Geweld teen vroue: Dit is tyd dat mans begin praat</em>: ’n resensie appeared first on LitNet.