Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

Muse deur Jacques le Roux: ’n lesersindruk deur Louise Viljoen van Jeffreysbaai

$
0
0

Muse
Jacques le Roux

Roman

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Ek het dit geniet om sielkundige Jacques le Roux se roman getiteld Muse te lees. Die hardebandliefdesverhaal van 159 bladsye ontgin swaargewigtemas soos, onder meer, die bagasie van skeefgeloopte verhoudings wat ’n mens soms vir jare nog saam met jou dra, die huiwering om wéér te probeer, die keuses, opofferinge en selfs obsessies binne verhoudings, die onvermydelike aftakeling wat ouderdom bring, asook siekte en die dood. Maar moenie dink hierdie boek is swaarmoedige leesstof nie. Trouens, dis ’n lieflike, teer en eg menslike verhaal met oorgenoeg diepte om geensins voorspelbaar te wees nie. Die lokteks beskryf die boek as ’n deernisvolle roman van pyn en verlies, maar ook oor romantiese versugting, opoffering en die vreugde van triomf.

Le Roux praktiseer in die noordelike voorstede van Kaapstad en spesialiseer in traumaberading, sowel as rou- en verliesterapie. Muse is sy derde verhaal en hy dra dit op aan sy oorlede moeder, Marie le Roux. Naledi het sy vorige twee boeke getiteld Donker bloeisel (2019) en Eendagsblom (2021) uitgegee. Muse se teks is netjies uitgelê en die boek is stewig gedruk. Dit is taalkundig redelik goed versorg, al het daar hier en daar ’n kleinigheidjie deurgeglip, soos ’n woord wat herhaal. Die besonderse voorblad deur Hannetjie de Clercq het ook dadelik my aandag getrek. Dit vorm deel van Le Roux se eie versameling en is getiteld “Lovers”. Hy het op die kunswerk besluit om by die kunstema in die boek aan te sluit.

Muse vertel die verhaal van Emille du Toit, ’n sestigjarige geskeide kunstenaar. Hy sukkel om heelhartig in nuwe verhoudings betrokke te raak nadat sy vrou hom destyds verlaat het vir ’n ander man. Tog is hy intens bewus daarvan dat hy ouer word en die behoefte ervaar om nie net sy merk in die lewe te maak nie, maar ook om ’n betekenisvolle konneksie met ’n geliefde te hê. Heidi is skaars 30. Sy werk by Pieter, ’n mediese dokter en haar kêrel, se spreekkamer as ontvangsdame en het pas ’n graad in die regte behaal. Haar ma woon by haar en dié se swak gesondheid plaas noodwendig ’n demper op enige toekomsplanne wat Heidi mag hê. Hoewel sy dankbaar is vir Pieter se finansiële bystand, wonder sy tog of haar kêrel haar om haarself liefhet en of sy nie maar net inpas by sy ambisieuse planne om ’n loopbaan in die politiek te betree nie. Emille vra vir Heidi om te poseer vir ’n figuurstudie en sy stem in. Daar ontstaan ’n sekere geneentheid tussen hulle. Maar kan dit tot iets diepers lei wanneer daar so ’n groot ouderdomsverskil tussen hulle is en hulle boonop elkeen voor baie moeilike uitdagings en keuses in hulle lewens te staan kom?

Ek het tot op die laaste bladsy nie geweet of Heidi se hart uiteindelik aan Pieter of Emille sou behoort nie. Dinge kon enige kant toe beweeg het. Die boek eindig egter bevredigend en geloofbaar. Ek hou van hoe die skrywer van baie kort hoofstukke (54 om presies te wees) gebruik maak om momentum te behou en die spanning snaarstyf te trek. Hy verwys ook na boeke, kunswerke, musiek en films – altyd ’n welkome toevoeging tot enige teks wanneer lesers ’n affiniteit het vir kuns en letterkunde. Verder span hy ware nuusgebeure en werklike plekke in om ’n eietydse en realistiese leeservaring te skep. Die karakters is mense met vrese, spyt en voorbehoude, maar ook hoop, ideale en drome. Hulle maak foute en neem verkeerde besluite, maar hulle groei ook deur die proses. Deur alles heen is daar die behoefte na aanvaarding en liefde – om dit te ontvang en te gee.

Le Roux het Muse kort na sy ma se afsterwe in 2021 begin skryf, terwyl hy deur sy eie rouproses gewerk het. As sielkundige glo hy aan skryfterapie en pas dit graag in sy werk toe. Ek dink dit is ook waarom Muse my geval het, want ek het self onlangs my ma aan die dood afgestaan en is nog besig om deur die rou, smart en verlies te werk. Muse is ’n deernisvolle verhaal wat menslike gebreke uitlig, maar tog hoop voorhou.

Ek het nie negatiewe kommentaar oor die boek nie. Hier en daar is dalk ’n sinskonstruksie of twee wat meer afgerond kon wees, maar dit het nie my leeservaring bederf nie. Ek wil Le Roux aanmoedig om ’n volgende manuskrip vir moontlike keuring vir publikasie aan ’n groot, tradisionele uitgewer te stuur. Hy is talentvol en sy werk behoort wyer gelees te word.

Jy kan jou ’n kopie van Muse bekom deur die skrywer te kontak by jsleroux1@outlook.com.

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

The post Muse deur Jacques le Roux: ’n lesersindruk deur Louise Viljoen van Jeffreysbaai first appeared on LitNet.

The post <i>Muse</i> deur Jacques le Roux: ’n lesersindruk deur Louise Viljoen van Jeffreysbaai appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>