Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796

Help, help deur Nataniël: ’n resensie

$
0
0

Help, help deur Nataniel (Human & Rousseau, 2023)

Help, help
Nataniël
Uitgewer: Human & Rousseau, 2023
ISBN: 9780798184083
Epub ISBN: 9780798184090

Nuwe boek net die regte medisyne vir ’n maer – en droewige - Januarie

Nataniël se nuutste boek, Help, help, het 29 stories en hy skryf 24 daarvan in Afrikaans en vyf in Engels. Verskeie is verwerkings uit sy produksies die afgelope drie jaar, waaronder Butterfly, Lovesick Tim, Moscow, Six in a boat, Die Smitstraat Suite, Rome ’62 en Passi Passio.

Ek het al verskeie male die voorreg gehad om na Nataniël se vertonings in die Kunstekaap Operahuis te gaan kyk. Die swaar gordyne, die sagte sitplekke, mense wat opgewonde oor die balkonne afkyk na benede. Altyd vol; altyd staande ovasies.

Ook toe hy in 2022 ná 12 jaar teruggekeer het na die KKNK op Oudtshoorn, was net die burgersentrum met sy goeie akoestiek, sagte (en genoeg) sitplekke dié plek om in die donkerte op ’n reis saam hierdie meesterlike kunstenaar te gaan. Want om die wêreld deur sy verbeelding te sien, is ’n ware reis – ’n ontsnapping van die werklikheid.

Met ’n loopbaan van meer as 37 jaar en 90 oorspronklike verhoogproduksies, weet hy immers hoe om ’n gehoor uit sy hand te laat eet.

In my resensie oor sy vorige boek, 107 Kaalkoppe, het ek geskryf: “Die tyd vir ’n boek uit Nataniël se pen is vir my altyd reg. Altyd nou. Daar is geen ander storieverteller in Afrikaans soos hy nie. Of dit op die verhoog of tussen die bladsye van jou boek is: Nataniël mag maar.”

Ek kan dit nou met sy nuutste boek net weer onderstreep en in vet letters skryf.

Jy hoor sy stem in elke reël; selfs die manier waarop die bladsye se paragraafuitleg hanteer is, het daardie amper onritmiese, staccatostyl wat só kenmerkend van hom is.

........
"Die stories bly syne; of jy dit op die verhoog sien en die woorde oor sy lippe kom en of jy dit in sy skryfstyl in jou bed of gemakstoel lees. Jy hoor sy stem in jou kop; sien sy gesig in jou geestesoog. Die vertoning gebeur in jou lyf."
........

Wie kan nie saam op sy towertapyt klim as hy dinge só raakvat nie: “Drie treë later staan ons in die saal. My pa se bobeen het so gelyk ná die garagedeur geval het. Alles is groen en pers, die mure die plafon, die vloer, die tafels, die stoele.”

Of: “Tannie Neeruam is in ’n turkoois sweetpak met groot shoulder pads. Ons stap af met die smal paadjie, oor die riviertjie tot by die hoekhuis waar die apostolie-mense gewoon het, ’n gesin wat al hul tande laat trek het sodat hulle naweke kon rofstoei.”

Ook: “Agter my staan ’n vrou in een van die tipiese blomtoppies wat maer vroue laat groot lyk. Sy is ook duidelik tussen tandartsafsprake. Daar is nie ’n enkele tand in haar mond nie, net twee rye silwer pennetjies.”

En: “Die ma, ’n vrou met ’n kop soos ’n hoofletter D en ’n boesem soos ’n hoofletter O ...”

Sien jy die pers en groen saal; die mense sonder voortande wat rofstoei; die tannie met die blomtoppie en die vrou met die D-kop?

In 2021 is ek in die gehoor met sy vertoning Moscow. Sy vertellinge van sy grootwordjare op Porterville laat die gehoor skaterlag. Maar in sy gewone styl skuil daar baie stof tot nadenke; baie hartseer en baie nostalgie na eenvoudiger tye in sy woorde.

Een van my gunstelingstories is in die boek en vertel van Blindette Visser wie se man in ’n valskermongeluk dood is, en omdat hy ’n welvarende man was, het sy geen geldtekort nie. Sy gaan reis vir drie maande op ’n skip terwyl een vriendin na haar negejarige seun kyk.

Met haar terugkeer kom sy vir ’n baie lang ruk nie uit haar huis nie. “... Totdat sy uiteindelik op die stoep gesien word. In ’n kraamrok. Daar volg toe ’n storm waarvan stadsmense net kan droom. En hier haal ek Oom Hanekom direk aan: ‘Óf ’n skeepskelner moes vir haar ’n gloeilamp kom insit, óf ’n uitlander het sy stadswapen rondgewys. Ons sal moet wag vir die gelaatstrekke.”

Sy beskrywing van haar liefde vir haar seun kom so mooi na vore hier: “Duiwelskind! skree Juffrou Helen. Blindette Visser gryp Juffrou Helen se poniestert en ruk haar agteroor, Juffrou Helen raak nie grond nie, sy hang teen ’n hoek soos ’n outydse ploeg. Blindette sleep haar teen die Louw-broers se plaaspad uit. Nie ’n woord oor my seun nie, sê sy kalm. Toe kyk sy om na die res.”

Die stories bly syne; of jy dit op die verhoog sien en die woorde oor sy lippe kom en of jy dit in sy skryfstyl in jou bed of gemakstoel lees. Jy hoor sy stem in jou kop; sien sy gesig in jou geestesoog. Die vertoning gebeur in jou lyf.

Ek was nog nooit mal oor Nataniël se sang nie, daarom is die boek en die stories wat hy vertel, my gunstelinge. Om dus ’n boek met uittreksels uit sy verhoogproduksies te kan lees, is ’n ware vreugde.

Hy gebruik nie oral aanhalings nie; hy skryf nie sy Engelse woorde kursief nie. Soms is sy sinne stomp en moet jy twee maal lees om regtig te verstaan wat hy bedoel. Maar dis Nataniël vir my. Jy bly by; of jy hou verby.

Ek hou van bybly.

Lees ook:

107 kaalkoppe: Nataniël lê op sy maag op Planeet Kaalkop en kyk na die chaos op aarde

Dik Dun Thick Thin deur Nataniël: ’n resensie

"Kyk na my": die beeldvorming van Nataniël

The post Help, help deur Nataniël: ’n resensie first appeared on LitNet.

The post <em>Help, help</em> deur Nataniël: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>