Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

Hartsmense, ’n kortverhaalbundel deur Cliffordene Norton: ’n resensie

$
0
0

Hartsmense, 'n kortverhaalbundel deur Cliffordene Norton (VivA-Uitgewers)

Die kortverhaalbundel Hartsmense is een van die splinternuwe VivA-Uitgewery se vroeë publikasies en vorm deel van hulle inisiatief om e-boeke op ’n nuwe manier aan lesers beskikbaar te stel. Daar is ook al Aanlyn, saamgestel deur Trisa Hugo en Analise Viljoen, Die geheime klippieklub deur Erla-Mari Diedericks, en Kners deur Constant van Graan. Dis in die soen – sewe liefdesverhale deur Elsa Winckler – is gratis op die VivA-webwerf beskikbaar.

VivA-Uitgewers se boeke word op die besonder aantreklike en gebruikersvriendelike VivA-webwerf gekoop en daar gelees, met die bykomende genot van ’n oudio-opsie met stemwerk deur meestal professionele kunstenaars. Die klankbaan is ingesluit by die prys van die bundel en voeg dus ’n ekstra dimensie by die gewone konsep van e-boeke. In die lig van die toenemende gewildheid van oudioboeke is die toevoeging van hierdie funksie besonder sinvol. Ek is nie bewus van nog plekke waar die teks en die klankweergawe van ’n boek gelyktydig teen ’n bekostigebare prys beskikbaar is nie. Die voorlesings vir Hartsmense word deur Karen Loots, asook die skrywer self en verskeie ander jongmense gedoen. Die jong stemme gee aan die bundel ’n eietydse gevoel en sal ekstra byval by jong lesers vind.

Die voorblad is buitengewoon mooi, met ’n gestileerde hart wat herinner aan die kuns van Tertia du Toit toe sy nog boekomslae ontwerp het. Die kunstenaar van hierdie besondere voorblad is ongelukkig nie aan my bekend nie.

........
Die formaat maak dit besonder geskik om op ’n selfoon gelees en/of geluister te word en sal hopelik ook jonger lesers trek.
........

Dis ’n ongelukkige feit dat die minderheid van lesers van kortverhale hou en dat bundels nie altyd goeie verkopers is nie. Tradisionele uitgewers is dus nie oorgretig om kortverhaalbundels te publiseer nie. Juis in die lig hiervan is VivA-Uitgewers se inisiatief so verblydend en kan dit help om die weg te baan vir talle kortverhaalskrywers wat dit tevore moeilik gevind het om gepubliseer te word. Die formaat maak dit besonder geskik om op ’n selfoon gelees en/of geluister te word en sal hopelik ook jonger lesers trek. Vir die ernstige student kan dit insiggewend wees om die teks en die klankbaan gelyktydig te kan inneem.

Cliffordene Norton werk al lank in verskeie hoedanighede met woorde en het haar alreeds deur talle gepubliseerde tydskrifverhale, asook ’n jeugboek, as bekwame skrywer bewys. Om jou te ken is ’n welkome toevoeging tot die beperkte aanbod van tienerverhale wat oor bruin meisies handel, geskryf deur iemand wat self deel van die karakters se leefwêreld is. Norton se werk is ook opgeneem in 2021 se Die meisie met uitroeptekens in haar oë, ’n versameling tienerverhale oor eerste ontmoetings, met bydraes deur bekende jeugboekskrywers soos Jaco Jacobs en Zelda Bezuidenhout.

Die karakters word bloot deur hulle taalgebruik en die milieu waarin hulle beweeg, bekendgestel. In die eerste instansie is dit mense wat uitgebeeld word, nie sekere groeperings nie. Die karakters is menslik met die universele swak en sterk punte, vreugdes en vrese wat eie aan ons spesie is. Hierdie universele eienskappe word in verskillende milieus geplaas, wat dan ’n meer spesifieke toonaard aan die storie gee sonder om die karakters in spesifieke boksies te probeer druk.

........
Universele eienskappe word in verskillende milieus geplaas, wat dan ’n meer spesifieke toonaard aan die storie gee sonder om die karakters in spesifieke boksies te probeer druk.
........

In die lokteks word “hartsmense” omskryf as die mense – hetsy bloedfamilie of nie – wat ’n mens se lewe kan verryk, maar wat ook soms skade kan aanrig. In elke verhaal is daar sprake van ’n hegte persoonlike verhouding wat vreugde bring, maar ook uitdagings. Die bundel is dus by uitstek ’n versameling bondige verhoudingsverhale. Soms gaan dit oor ’n romantiese verhouding (byvoorbeeld “Om saam te slaap”), maar daar is ook die verhouding tussen vriendinne (soos in “Pienk vir hoop”), tussen ouer en kind (“Dingaan se kis”), en tussen God en ’n individu (“Waarvoor bid Myra?”).

Die stories is redelik kort en by die eerste aanblik nie besonder verwikkeld nie. Heelparty het egter ’n onverwagte byt in die stert – ’n kinkel wat die verhaal ’n dieper dimensie gee. Elke storie spreek van egtheid, van ’n skrywer wat haar karakters deeglik ken. Die styl is sonder tierlantyntjies en lees gemaklik.

In “Pienk vir hoop” is daar sprake van die sosiale veranderinge wat in Suid-Afrika plaasgevind het, waar ’n werkgewer en werknemer nou vry is om ware vriendinne te word. Die kwessie van borskanker, wat soveel vroue raak, word ook aangesny, asook die gedagte van empatie met en ondersteuning vir ander in dieselfde bootjie. In “Om saam te slaap” word die kwessie van vrouemishandeling op ’n ligte manier aangeraak, sonder om dit ligtelik af te maak. “Dingaan se kis” is ’n besondere gunsteling van my. Verhale oor die verhouding tussen toegewyde ma’s en hul kinders is redelik algemeen, terwyl die pa’s in stories ongelukkig dikwels in ’n ongunstige lig uitgebeeld word – natuurlik as gevolg van die harde werklikheid waarin soveel kinders sonder ’n pa as positiewe rolmodel grootword. In hierdie storie is daar egter ’n besonderse verhouding tussen Dingaan en sy pa en word die woordelose manier waarop hy uiteindelik sy liefde aan sy pa kan bewys, op roerende wyse uitgebeeld. In “Ek het vir jou blomme gebring” word ook ’n pa se liefde vir ’n kind geteken, maar buite die gewone pa-dogter-verhouding. Hierdie storie beklemtoon dat familie nie slegs tot bloedfamilie beperk hoef te wees nie. ’n Ander groot gunsteling is “Waarvoor bid Myra?”. Hier gaan dit oor ’n vrou se onvernietigbare liefde vir beide God en haar seun, al word haar gebede nie noodwendig beantwoord nie en al het haar seun die pad byster geraak. In onder andere “Waarvoor bid Myra?” en “Elke rand werd” skuil ’n kinkel in die stert van die storie en word die leser onkant betrap en verras.

Hartsmense is nog ’n trappie in Cliffordene Norton se ontwikkeling as ’n bekwame en veelsydige skrywer. Sy beskik oor ’n helder skryfstem wat hopelik nog dikwels in die toekoms in Afrikaans gehoor sal word. Die bundel word sterk aanbeveel vir lesers met ’n liefde vir kortverhale, maar ook vir enige leser wat beperkte tyd vir lees beskikbaar het.

The post Hartsmense, ’n kortverhaalbundel deur Cliffordene Norton: ’n resensie first appeared on LitNet.

The post <em>Hartsmense</em>, ’n kortverhaalbundel deur Cliffordene Norton: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

Trending Articles