Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796

Bot deur Carien Smith: ’n lesersindruk

$
0
0

Bot deur Carien Smith (Tafelberg)

Titel: Bot
Skrywer: Carien Smith
Uitgewer: Tafelberg (2023)
ISBN: 9780624092872

Ek het die plesier gehad om die boek Bot te lees, wat met die UJ-prys vereer is. Distopiese fiksie is ’n onderwerp waarvan ek maar min weet, en ek stel dit as my vooraf vrywaring. “Distopie” word dikwels as ’n tipe teenpool van “utopie” geskets, dit is skynbaar verhale wat ’n toekoms visualiseer waarin dinge lelik skeefloop, en wat ook as kritiek dien op die menslike roekeloosheid. Distopiese fiksie word gereken as ’n vorm van wetenskapsfiksie en die eerste Afrikaanse wetenskapsfiksie word tipies aan die skrywer CJ Langenhoven toegedig, wat 100 jaar gelede die boek Loeloeraai gepubliseer het na aanleiding van ’n gewilde vervolgverhaal wat in Die Burger-koerant verskyn het. Loeloeraai is ikonies Afrikaans, maar waar Loeloeraai as “utopies” beskryf word, is Bot “distopies”. Sedert Loeloeraai het ’n hele rits wetenskapsfiksie in Afrikaans gevolg oor die jare. ’n Chronologiese lys van wetenskapsfiksie in Afrikaans kan gevind word op die aanlyn ensiklopedie Wikipedia. Ná die lees van die eerste van die 16 verhale in Bot het ek so ’n bietjie ontmoedig gevoel en het opgesien na die res, maar het toe deurgedruk en is dankbaar daaroor. Ná versigtige oorweging was my benadering om die vermaaklikheidswaarde van die verhale in te sien. Daarsonder sou ek nie kon vasbyt en deurlees nie. Hierdie verhale is beslis iets “anders”. Iets buite die gewone. En dit is vir my die grootste pluspunt van distopiese letterkunde.

........
Daar is gedurige verwysinge na godsdiens en gode en dit is selfs asof die teks van soorte opbou na ’n klimaks tot by verhaal nommer 16, getiteld “god die robot”.
........

n Mens kan egter nie help om meer in tekste in te lees as dit wat daarin geskryf staan nie. Dit is in ons aard. Die ewige rustelose gedagtestroom. Die wisselwerking tussen teks en metateks. In dié verband het die besondere bemoeienis met gode en godsdiens in Bot my nogal opgeval. Daar is gedurige verwysinge na godsdiens en gode en dit is selfs asof die teks van soorte opbou na ’n klimaks tot by verhaal nommer 16, getiteld “god die robot”. En hier volg nou ’n klein spoiler vir die wat nie verder wil lees nie, maar die “god” in hierdie finale verhaal word uiteindelik ontmasker as ’n vrou, meer bepaald, ’n “vroutjie”. Versigtig nou, al julle mense wat so dikwels uitvaar teen Afrikaanse verkleinwoordjies op Facebook en niks mos wil weet van lekker daggies en dergelike dingetjies nie. Maar gegewe die kwessie van vroue in die kerk kan ek nie help om oor die saak te wonder nie. Die verhaal skets beslis nie hierdie god in goeie terme nie. Dis ’n god wat mense van hulle individualiteit, hulle kreatiwiteit, hulle identiteite stroop. En ook opvallend, dis ’n kleinletter-god. Dit is “god die robot” en nie “God die robot” nie. Dat juis so ’n god finaal ontmasker word as ’n “klein, benerige vroutjie” het my maar laat wonder. Ek kan nie anders as om te wonder oor of die teks dan met die veronderstelling werk dat ’n “goeie”, “deeglike” god eintlik veronderstel is om ’n man te wees nie… Dit is immers wat die Bybel skynbaar leer. En ook waaroor die kerke gedurig stry.

In die proses dink ek amper onwillekeurig ook aan die boekie The shack (2007) deur die Kanadees William P Young. The shack het jare gelede nogal taamlike rimpelinge deur die internasionale ekumeniese gemeenskap gestuur, omdat God as ’n swart vrou in die boek verskyn, terwyl die Heilige Gees ’n Asiatiese vrou is. The shack is toe ook later in ’n film verander, met die aktrise Octavia Spencer (1970) wat die rol van God vertolk het (God word tradisioneel amper as ’n reël deur mans vertolk, en veral deur Morgan Freeman, wat nie minder nie as drie keer die rol van God in films vertolk het). Hier in sonnige Suid-Afrika, baie jare later, laat die akademici by die kweekskole vandag nog soms die meer behoudendes onder ons aan hulle tee stik elke keer wanneer een van hulle af en toe van “God, ons Moeder” praat. Dit is asof die verhaal “god die robot” vir ’n mens probeer sê – kyk dié god, daar is ernstig fout met dié god… Dis nie hoe God eintlik lyk nie, hierdie god is ’n vrou. Miskien is dit nie wat die verhaal werklik oordra nie en net maar my eie subjektiewe gewaarwording. Die verhaal skep egter wel by my so ’n indruk, veral in die manier waarop dit opbou en uiteindelik ontknoop in die groot finale blootlê van hierdie distopiese god as ’n “klein, benerige vroutjie”.

.......
Dit is ook asof distopiese fiksie amper iets van godsdienstige apokaliptiese letterkunde eggo, met die agteruitgang van die gevalle wêreldse orde.
.......

Daar is iets anders. ’n Ander boek het so wyle gelede verskyn met die titel Skatryk: Waarom ons beter leef as ons voorsate (2023). Daardie boek, wat geskryf is deur Johan Fourie en wat ek nie gelees het nie, is na bewering een lang argument oor hoekom die lewe veel beter is vandag as wat ons ooit eintlik kan besef. Fourie is ’n professor in ekonomie en kenner van ekonomiese geskiedenis. Ja, ons het beurtkrag en klomp probleme soos geweldsmisdaad en ongelykhede en ’n daaglikse dosis koerantlees is genoeg om jou na medikasie vir jou geestelike welstand te wil laat gryp, maar die gemiddelde mens se lewe is vandag soveel beter as wat ons voorgangers ooit sou kon droom dinge ooit sou wees. As ’n lewenslange student van die geskiedenis is ek lank reeds al onder ’n diepe indruk van hierdie feit. Of miskien is ek nou nie heeltemal in die kol nie. Daar was immers ’n tyd bekend as die Europese verligting of die eeu van rede – ’n tyd toe die voorste denkers wel skynbaar verwag het dat alle probleme op aarde mettertyd deur die wetenskap opgelos sal kan word. Wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang het weliswaar toe nou nie elke kwaal en skeet genees en elke onreg uitgewis nie, maar die lewe is veel makliker vandag vir mense as wat dit ooit was vir mense voor ons. En in toenemende mates so. Miskien draai dié feit te veel in my kop rond om myself heeltemal behoorlik in distopiese fiksie te kan verloor, want distopiese fiksie veronderstel skynbaar ’n wêreld waarin dinge net gedurig bly skeefloop en versleg. Dit is ook asof distopiese fiksie amper iets van godsdienstige apokaliptiese letterkunde eggo, met die agteruitgang van die gevalle wêreldse orde.

Benewens die ooglopende ongesonde en diktatoriale gode wemel Bot ook van ’n gedurige ontnugtering met tegnologie. Kunsmatige intelligensie is aan die orde van die dag. In sommige verhale is die mense obsessief oor hulle robotte. In ander verhale slaan die robotte die kitaar en reël die mense se lewens. ’n Ander deurlopende eienskap van hierdie soort letterkunde skyn te wees die uiteindelike verwoesting van die natuur, wat skynbaar tipies in distopiese fiksie dien as kritiek op die mens se verwoestingstogte en misbruik van die natuur in die hede. Ook hierdie dinge bring my weer op ’n vreemde manier terug by godsdiens. Die vervreemding tussen mens en masjien skyn nie eenvoudig die resultaat te wees van die masjien as die veronderstelde bose teenpool tot die natuur nie, met laasgenoemde wat as die mens se oorspronklike en geïdealiseerde Eden gestel word. Anders gestel, dis nie die tegnologie as sulks wat hier boos is nie, dis skynbaar eerder die mens self. Deur die mens se ongesonde omgang met die masjien word die natuurlike ritme van die mens omvergegooi. Herinner dit ’n mens nie ook dalk so ’n bietjie aan die erfsonde-konsep nie? Aan die idee van die mensdom as die grawers van hulle eie grafte nie? Ook aan die konserwatiewe politiek wat pleit vir behoud, vir hokaai stop die lorrie.

........
Dis nie die tegnologie as sulks wat hier boos is nie, dis skynbaar eerder die mens self. Deur die mens se ongesonde omgang met die masjien word die natuurlike ritme van die mens omvergegooi.
........

Op die gewilde webwerf Goodreads het een leser ’n taamlike suur reaksie in Nederlands geskryf oor Bot en die verhale as “oppervlakkig” en “nie goed uitgewerk nie” beskryf. Dit is nie sentimente wat ek deel nie, maar dit verg wel taamlike verbeeldingskrag om jouself in wetenskapsfiksie in te leef en in my geval gaan dit maar sukkel by tye. Dit is egter verblydend om te sien dat boeke soos hierdie een meer prominensie begin kry. Ek is doodseker daar is tonne lesers wat honger is vir dié soort boeke, trouens het ek self die boek nogal geniet. Dit is ’n welkome variasie op my tipiese keuse van leesstof en indien boeke soos die een meer mense aan die lees kan kry, dan hoop ’n mens dit vlieg van die rakke af.

Lees ook:

The post <em>Bot</em> deur Carien Smith: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796

Trending Articles



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>