Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

Vuurvoël deur Elmarie Viljoen-Massyn: ’n resensie

$
0
0

https://www.nb.co.za/en/view-book?id=9780798183406

Vuurvoël
Elmarie Viljoen-Massyn
Human en Rousseau (fiksie)
ISBN: 9780798183406 

............
Met die woorde “elke geheim het ’n vervaldatum” trek hierdie boek jou dadelik in. Wie van ons het nie al geheime bewaar of uitgeblaker nie? En wanneer presies is ’n geheim nie meer ’n geheim nie? Hoeveel mense moet daarvan weet?
..............

Met die woorde “elke geheim het ’n vervaldatum” trek hierdie boek jou dadelik in. Wie van ons het nie al geheime bewaar of uitgeblaker nie? En wanneer presies is ’n geheim nie meer ’n geheim nie? Hoeveel mense moet daarvan weet?

Hierdie spannende debuutroman gaan oor die oënskynlik uiteenlopende wêrelde van die fiktiewe big pharma en ’n Serwiese dwelmkartel wat paaie kruis waar reusekontrakte in die pyplyn is. Dit gaan ook oor etiek, skuldige gewetens, gewetenloosheid en geld. Selfs bloedgeld.

Daar word gevra of dít wat die farmaseutiese bedryf aan onskuldige mense doen enigsins regverdigbaar is.

Daar is wanpraktyke in die maatskappy Experior vir wie die heldin, Stella, werk.

Belangrike navorsing word gedoen ten opsigte van ’n deurbraaksalf wat vir ernstige letsels getoets word, asook ’n kliniese studie vir skisofrenie, waaraan die hoofkarakter se ma gely het en tot verwoestende gevolge gelei het.

Die skrywer skryf oor die wêreld van dubbelblinde studies, plasebo’s en sekere ongewensde gevolge wat verswyg word. Daar is rillerverhale oor mense se geliefdes wat hierdeur benadeel word.

Die karakters worstel met etiek, waardes en integriteit (wel, party van hulle) terwyl ander heel tuis in die onderwêreld voel. Selfs familielede vertrou mekaar nie en ’n pa laat sy seun agtervolg.

Daar is mense wat mense ken wat mense ken, word geskryf. Sinistere woorde.

Daar is ’n grootskaalse gekonkel en deelnemers wat oorreed word om die newe-effekte van middele in sekere studies te onderspeel. Van die deelnemers voldoen nie aan die kriteria vir die kliniese studies nie. Selfdood en wisselvallige gedrag is deel van die uiteinde. Vrae word gevra oor hoe die protokol goedgekeur is.

En dan is daar die fluitjieblaser se brief ...

Hoewel die onderwerp swaar is, is daar beslis ook “comic relief”, soos:

Toe hy haar die eerste keer gesien het, het sy feisty gelyk, boonop ’n halwe kop langer as hy, iets wat hy niks like nie. Maar haar boobs het met ’n vinnige skatting na ’n stewige C gelyk. Iets wat hy baie like. Toe hy opkyk, kyk hy vas in haar oë, sulke kwaai oë wat sê: kyk jy lekker? Hy het daar en dan opgesign vir die challenge.

Viljoen-Massyn skryf oor privaat partytjies met bodybuilders en gangsters. “Girls wat gephotoshop word, totdat jy die volgende dag langs hulle wakker word.”

Daar is ’n towerpoeier, ’n soort Viagra waarmee gesmous word en soos volg besing word: “An incredible man loader bazooka super erecter that can drive you up to six rounds.”

Nogal.

Die arme karakter wat daarvoor val, beleef soveel pyn en lyding dat hy duskant die poorte van die hel omdraai en sy amoreuse avontuur, vermoedelik ’n one-night stand, uitstel omdat hy glo “’n krisis by die werk het”.

Mens glimlag ook oor die feit dat die regte voorkoms in selfs die rofste beroepe steeds ’n belangrike rol speel. Die “Vleisbyl van Serwië” hou nie daarvan dat uitsmyters opgeswelde oë of skewe kakebene het nie. Ja-nee, jou werk moet immers jou trots wees.

Die skrywer het beslis ’n slag met woorde, byvoorbeeld: “By my leer jy die gevegskuns van die straat en nie die toneelspel van die duiwel nie.”

Haar skryfstyl is toeganklik met oortuigende dialoog. Presies die soort taal wat die karakters sal gebruik – van die terughoudende Stella tot die grootbekboewe. Rof en onbeskof.

Daar is uiteenlopende karakters wat op die ou einde sin maak wanneer die storielyn tot ’n spanningsvolle hoogtepunt lei.

Een omstrede karakter word soos volg beskryf: “Ek weet en jý weet daar’s nie veel filantropiese selle in jou liggaam nie.”

’n Aktivis wat haar teen die bedryf uitspreek “haat wit, welgestelde en heteroseksuele mans, die oorsaak en instandhouers van wêreldarmoede. Musk-iete.” Van die soort wat ingeskryf is op ’n publikasie wat oor privaat eilande gaan.

Die gedeeltes oor skisofrenie wil jou meer oor hierdie geestesversteuring laat oplees, aangesien dit seker die geestesversteuring met die meeste mites is – mites wat alles van “gesplete persoonlikheide” tot psigopatie insluit.

In hierdie karakter se geval kom daar klanke uit die mure en kan die boeke praat. Hoewel die vrou ter sprake later ’n verskriklike daad teenoor haar dogter pleeg en boonop deur ’n sekte ingesluk word, is ek bly dat daar genoem word dat mense met skisofrenie dikwels eerder die slagoffers van geweld is as dat hulle self geweldenaars is.

Sentraal tot die tema is die vuurvoël. Eers later in die boek word verduidelik wat dit presies is nadat ’n hele paar keer verwys word na Jeanne d’Arc, wat in 1431 op die brandstapel gesterf het.

Hieroor wil ek nie te veel verklap nie, maar dit word treffend op die voorblad geïllustreer. Later word daar ook verduidelik hoekom daar ’n verskil tussen ’n vuurvoël en ’n feniks is.

Op die ou einde kan geheime verskriklike nagevolge hê. So skryf Viljoen-Massyn dat daar net ’n sekere tydperk is waarvoor ’n sekere aantal mense ’n geheim kan hou. Dit word ’n las wat op die skouers gedra word en wat die geheimhouer wil afgooi.

............
Dis die ding met geheime. Die aantal kere wanneer jy moet lieg of swyg om dit te bewaar, is min in vergelyking met die aantal kere wat die geheim jou te binne skiet wanneer jy alleen is, tussen mense, in die nag wakker lê.
..............

Dis die ding met geheime. Die aantal kere wanneer jy moet lieg of swyg om dit te bewaar, is min in vergelyking met die aantal kere wat die geheim jou te binne skiet wanneer jy alleen is, tussen mense, in die nag wakker lê.

Die boek verwys ook na mense wat straatarm en wanhopig is, soos die Kongolese wat na ’n beter toekoms in Suid-Afrika soek en dan “hul siele moet verkoop”.

Dis interessant hoe die werklikheid by hierdie roman ingewerk word. Groot dele van die verhaal speel in Bloemfontein af. Daar word verwys na die gesellige en bekende boeremark en selfs bespiegel oor Barry Roux as moontlike advokaat vir die verdediging.

Die talle karakters en intriges maak wel jou kop deurmekaar, maar jy kan dalk vir jou eie leesgenot ’n lysie maak van die karakters se name en wat hulle doen sodat jy daarna kan terugverwys. Daar is ook heelwat tydspronge en afgesien van Bloemfontein is daar ander plekke soos Kaapstad, Brussel en Chicago waar die verhaal hom afspeel en wat jou uitdaag om kop te hou.

Die skrywer se navorsing is indrukwekkend en die bronne oor skisofrenie, brandwonde en letsels, catch fétiche, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Serwië, kliniese studies en die farmaseutiese bedryf, skisofrenie, sielkunde en selfs uitsmyters en tatoes is noukeurig in haar bronnelys agter in die boek aangeteken. Sy dui ook duidelik aan watter karakters, instellings en gebeure feit of fiksie is.

Daar is al ’n paar keer deur lesers opgemerk dat hulle skaars kan glo dat dié ’n debuutroman is.

Vir my as niefiksieskrywer moet ek net weereens erken dat dit baie moeiliker moet wees om fiksie as niefiksie te skryf. Goed, jou denkbeeldige karakters kan jou nie teister, dreig, vermoor of sommer dagvaar nie, maar jy moet deeglik navorsing doen én nog steeds die verhaal uitdink.

Vuurvoël behoort byval te vind by mense wat van krimi’s, aksie en spanningsverhale hou. Maar dis nie vir aandagafleibares nie. Jy sal moet fokus ...

  • Carla van der Spuy is die skrywer van boeke soos onder andere Liefde agter tralies en Gangster.

 

The post <em>Vuurvoël</em> deur Elmarie Viljoen-Massyn: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>