...
Die karakters is werklike mense. Mense van vlees en bloed, swakhede en moed.
...
Titel: Onze Rust
Skrywer: Pieter Verster
ISBN: 9781776172955
Uitgewer: Naledi
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Dit is Pieter Verster se eerstelingroman. Die eerste vraag is of die roman aan die vereistes van ’n roman voldoen. Van die belangrikste vereistes is onder andere: die karakters, ruimte, tyd, gebeure, dialoog en taal as kommunikasie. Gemeet aan hierdie vereistes slaag Pieter Verster se roman cum laude. Die voorblad en uitleg van die roman is voortreflik deur Naledi behartig.
’n Voorbeeld van die beeldingskrag van taal om ’n 1905-Kaapstad te beskryf, word in die volgende voorbeeld gegee: “Die rookwolke in die stasie is ’n skoorsteen wat roet en grys vuur soos ’n huis wat brand die lug instuur. Die stoom vul die stasie, ’n oond van die dood met geen herinneringe aan die verlede nie. Die oorlog is verby. Treine het die laaste oorblywendes weggevoer.”
Karel Schoeman het met sy In liefde en trou insig in die lewens van president Steyn en sy vrou Tibbie en die betekenisvolle rol wat hulle in die landsgeskiedenis gespeel het, gegee. Dit kom aan die lig deur ’n keuse uit hulle korrespondensie. En nou word daar in Pieter Verster se eerste roman ook aandag aan president en mevrou Steyn gegee. Maar met heel ander oogmerke as Karel Schoeman.
Die titel van die roman, Onze Rust, skep by die leser die verwagting van ’n historiese roman. ’n Roman waarin die presidentheld, die Anglo Boere-oorlog, mense wat bereid was om hulle lewens prys te gee vir vryheid en ’n nageslag met ’n toekoms, die fokus is. Maar dit is alles behalwe die geval.
Die karakters is werklike mense. Mense van vlees en bloed, swakhede en moed. Miskien is daar tog ’n uitkoms. Die spanning tussen 1905 en die tyd wat ons tyd voorafgaan, is tasbaar. Tot in 2020. Die afwisseling van tydsperspektief word in die roman gehandhaaf. Daar is spanning tussen verlede en hede en tog ook ooreenkomste. Die karakters vertolk die tydvakke voortreflik.
Die roman begin op ’n verrassende noot. Die tyd waarin die toneel afspeel, is nie 1905 nie, maar 2020. Die verhaal begin met groot spanning tussen die karakters Herman van Heerden, die predikant van die NG-gemeente, Klipkerk, en die nuwe predikant, Jacques de la Bat. Met sy intreepreek spat die vonke al. Die eietydse dominee demonstreer sy andersheid en moderniteit deur sy kammaheldtoga onseremonieel uit te trek en op die vloer voor die preekstoel neer te gooi. Dit is vir Van Heerden duidelik dat hy met die ou garde wil afreken. Die spanning word dwarsdeur die verhaal gehandhaaf. En tog is daar die verrassende: Die jong, eietydse dominee ondersteun Van Heerden in sy donker uur ná die skietery. Dit is juis krisisse wat mense nader aan mekaar bring. Krisisse maak mense weer menslik. Met swakhede en al.
President Steyn en sy Tibbie en Van Heerden en sy Sandra vorm twee pole. Afstand en eendersheid. Die tye en omstandighede, die leefwêrelde verskil hemelsbreed. En tog is daar ook raakpunte tussen Steyn se tyd en dié van Van Heerden. Steyn is ’n man van integriteit en ’n man van sy woord. Van Heerden klem nog vas aan ’n tradisionele en bewarende konteks, maar met dié lewenshouding loop hy en sy medestanders die gevaar om alles te verloor. Sy verhaal slinger tussen hoop en verlies.
Die spanning tussen die tradisionele en die eietydse word ook uitstekend deur Van Heerden en die verwaande De la Bat vertolk.
Ek is getref deur die karakterbeelding van Emily Hobhouse. Sy toon soveel deernis vir vreemdelinge wat ly as gevolg van ’n onsinnige oorlog van magsbeheptes.
Die tydswisseling, karakters, humor, satire en spanning is treffend. Dit laat die leser nie vir ’n oomblik los nie.
Al is die karakter van Hobhouse uit die verre verlede en dié van ds Susan Stuurman uit die hede, is daar talle merkwaardige raakpunte.
Hobhouse vertel self:
Reeds aan die begin, toe ons die berigte gekry het dat die onderhandelinge so moeilik vorder, het ek met my mense gepraat. Ek was oortuig dat ons nie ’n regverdige saak in Engeland het nie. As dame is ek volledig gekant teen oorlog, en ek was oortuig dat die oorlog op julle afgedwing word. Ek vind dit ellendig.
Ek wil julle help met die heropbou van die land.
Vroue en kinders word altyd in oorlog opgeoffer. Daar was ander vroue wat vertel het hoedat hulle van hulle plase vervreem is. Hulle het alles verloor. Een van hulle vertel hoedat, ten spyte van al haar protes, hulle haar sewejaaroue seun en haar baba in die plaashuis gelos het. Dalk het die Engelse dit nie verstaan nie, dalk het hulle nie gehoor wat sy sê nie, maar daardie sewejarige seuntjie het met bokmelk en mieliemeelpap vir die baba gesorg.
Stuurman is in ’n sekere sin die Emily Hobhouse van ons tyd. Haar versoek het onverwags gekom. Sy wil met die kerkraad praat. Herman is eers huiwerig. Sy is die nuwe predikant van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Heidedal. Sy wil die kerkraad inlig oor die uitdagings wat sy in die gemeenskap het.
Sy daag die aand by die kerkraadsvergadering op met ’n skewe hoedjie met ’n enkele veer daarin. Sy dra ’n groot ronde bril wat haar ’n verstandige voorkoms gee.
Van Heerden stel Stuurman aan die kerkraad voor. Die spanning is tasbaar. Sy staan op, sit haar hoedjie eenkant neer, vryf haar hande teen mekaar:
Geagte Kerkraad, geagte Voorsitter. Dit is my voorreg om met u te praat. Ek wil met u praat oor die uitdagings wat ons het, maar ek wil ook met u praat oor hoe ons hierdie uitdagings kan oorkom. Daar is inderdaad sake wat dit vir ons baie moeilik maak. Nou, ek hoef nie vir u te sê dat dit met die verlede en geskiedenis saamhang en wat daar gebeur het nie.
Een ouderling brom hoorbaar: “Altyd die verlede.”
“Ja,” sê sy, “dit het te doen met die geskiedenis. Die jeug in ons gemeenskap word gekonfronteer met dwelms, misdaad, moord en ook die feit dat hulle nie werk het nie.”
En dan volg haar onthullende woorde:
Ons kan alleen die uitdagings aanpak as ons dit saam aanpak. My bedoeling is nie om u te vra om vir ons gawes en gunste te gee nie. My bedoeling is om te vra dat ons saam dinge sal doen. Die enigste manier waarop ons dit kan doen, is as ons bereid is om mekaar se hande te vat. Ek is maar pas hier in die Heidedal-gemeente bevestig, maar die uitdagings het alreeds vir my onoorkomelik gelyk. Tot ek besef het ons kan dit saam aanpak. Ons sal oor en weer mekaar se oortuigings moet respekteer. Ons sal al hoe meer na eenheid en toewyding moet beweeg en daarom wil ek vir u, as kerkraad, vra om te erken dat ons saam die ding moet doen. Dat ons bereid moet wees om mekaar te ondersteun.
Ek wil u vertel van die omstandighede in een enkele huisgesin. Die pa se pensioen is baie karig. Hy het jare lank op die ou Spoorweë gewerk. Die moeder het geen pensioen nie. Daar is ’n dogter met drie kinders en almal woon saam in dieselfde huis. Ek wil nie beskuldigings voor u lê nie, maar dit het te doen met die omstandighede wat uit die verlede kom. Hoe sal ons dit kan oplos? Alleen as ons die saak saam aanpak. Ek vra dus van u om my te help, sodat ons in die eenheid van die kerk kan saamwerk. My oortuiging is dat ons hierdie groot uitdagings in die gemeenskap en met jongmense alleen kan aanpak indien ons dit saam sou doen. Daarom staan ek nie vandag voor u om geld te kom vra nie. Ek vra vir uself, ek vra dat u uself sal gee. Dat ons self saam sal werk.
As kerk van Jesus Christus moet ons in die eenheid van die kerk mekaar ondersteun en help. Ek kom na u toe as u mede-suster in die geloof.
Daar is groot nood en daardie nood kan alleen opgehef word, veral by die jeug, as ons hulle kan opbou en kan help om ’n nuwe pad in te slaan. Alleen wanneer ons dit doen, sal daar ook vir ons almal in hierdie gemeenskap nuwe heil wees. Ek bied dus my hulp vir u aan, en ek vra dat u u hulp vir my sal aanbied.
Dit is ’n merkwaardige verhaal. Die verlede word nie net verdoem en die hede verheerlik nie. Uit die verlede kry die leser nuwe perspektiewe op die hede en die toekoms.
Mag die uitstekende roman talle lesers vind en nuwe perspektiewe vir die hede en die toekoms skep. ’n Hede en toekoms van Onze Rust.
Lees ook:
The post <i>Onze Rust</i> deur Pieter Verster: ’n Lesersindruk van ’n boeiende en merkwaardige roman appeared first on LitNet.