
https://www.litnet.co.za/nuut-by-tafelberg-dolos-deur-jaco-wolmarans/
Titel: Dolos – wraak het ’n lang geheue
Skrywer: Jaco Wolmarans
Uitgewer: Tafelberg, Mei 2023
ISBN-13: 9780624094203
Epub ISBN: 9780624094210
...........
Hoe dit ook al sy, die boek is die ideale vermaak vir ’n lang aand voor die kaggel met ’n glas rooiwyn. Die storielyn is goed ontwikkel, verklap net genoeg om jou te laat wonder oor die volgende kinkel, en die spanning is deurgaans teenwoordig.
............
Die voormalige spesmagte-operateur Tex Texeira en sy bruid, Helena, se wittebrood in die Caprivi word onderbreek toe hulle benodig word om ’n agent in Mosambiek te gaan haal.
Lesers het vir Tex en Helena in Wolmarans se vorige boeke, Bos, Skag en Ivoor, leer ken. In Dolos ontdek ons dat ’n agent van ’n geheime Mosambiekse ondersoekeenheid die bloeddorstige Mecau-dwelmkartel geïnfiltreer het en sulke sensitiewe inligting ontdek het dat hy weier om enigiemand anders as Tex daarmee te vertrou.
Soos die boek vorder, ontdek jy dat dié inligting ’n hooggeplaaste Suid-Afrikaner betrek en almal onseker is oor wie aan wie se kant is en wie deur omkoopgeld verlei is.
Dis ’n eenvoudige plan, met die rugsteuning van die Amerikaanse DEA (Drug Enforcement Administration). Dis nou te sê as Tex die aandag van die Islamitiese ekstremiste Al-Shabab in Cabo Delgado kan vermy; óf uit ’n skerpskutter se kruishare kan bly – een wat die Mecau-kartel se luitenante om onbekende redes meedoënloos afmaai.
Niks is eenvoudig in Tex Texeira se lewe nie. Maar as dit was, sou die boeke se avonture nie só lekker gelees het nie.
Die projek word ’n week waarin sy oorlewingsvermoë tot die uiterste beproef gaan word en waarvoor hy dalk nie heeltemal opgewasse is nie.
Elkeen van Wolmarans se vier speurromans waarin Tex die hoofrol speel, speel soos ’n lekker Sondagaand-aksiefliek in jou geestesoog af en jy is teen die laaste bladsy dankbaar alles en almal is gered en (meestal) ongedeerd, maar ook hartseer dat jy die karakters moet groet. Dis seker maar die aard van ons vraatsugtige kykgewoontes om net nóg ’n seisoen en nóg ’n seisoen op die sitkamerbank in te ryg. Wolmarans het die kuns bemeester om jou aandag gevange te hou en jou lank ná slaaptyd nog ’n paar bladsye laat lees.
Soos ek in vorige resensies genoem het, sy navorsingsvermoë is verbysterend en dié wat enige boservaring het, kan kwalik fout vind met sy weergawes van luiperdkruip, skerpskutters, of hoe jy ’n Huey tussen die bosse land.
En ook is – soos in vorige resensies genoem – die man se taalgebruik pragtig. Hy skets dinge só goed in besonderhede. Jy is dáár. Jy hoor die voêls, voel die onheil in die bedrieglike stiltes; ruik die muwwerigheid van toe vertrekke en natgeswete voete. Voel die moedeloosheid aan as die bose die goeie oorwin.
Van die mooiste beskrywings vir my was: “[Die] kamfoefleerjas is oortrek met kombuismop-toiings om sy vorm in die grasland te verberg” en “Die instinktiewe skut wat kennis bloot uit die lug kon assimileer. lemand wat natuurlik afstand kon skat, onbewustelik windaanpassings maak, bewegende teikens met gemak kon volg sonder dat die komplekse wiskunde in die pad van die skoot kom. Wat ander jare geneem het om te leer, kon Frans Mokoena in dae bemeester.” Dit het Tex – en sou enige ander man wat met dié teenstander opgesaal word - se broek laat bewe.
Daar is mooi woorde soos “dekverhaal”, “sneeuspoor”, “magsvakuum”, “krotbuurt-straatwysheid”, “dekvuur” en vele meer.
Ek wil my ook verbeel die skrif is effe groter en ek hoef nie saans met beurkrag wat herlaaibare gloeilampe vaaltrek, my Plus 1’s-brilletjie te dra nie. En in die geheel is die boek een groot genot.
Hier en daar is ’n herhaling: “[A]l geluid om ons is die Sentra se enjinblok wat kraak soos dit afkoel” en dan later, “[D]is stil, die tik-tik van die Huey se enjin wat afkoel die enigste geluid”; of die dwelmroetes deur OR Tambo wat drie maal genoem word.
Tex verwys ook na werkskollegas op hul vanne: Munro en Beula, maar skielik is daar óf net voorname óf voorname en vanne. Dieselfde styl word nie deurgaans gehandhaaf nie. Dalk net nog ’n oorlees deur vars oë wat nodig is?
Maar dan glip daar ander klein jakkalsies in wat my Afrikaanse oog wil laat spring: woorde soos “rotorblaaie” (lemme?), “kompromitteer”, “ekstraksie”, “detoneerders”, “insurgensie”, “anomalie”, “ekstraksiepunt” en “gerekruteer”, en nie veel verder af op die bladsye nie uitdrukkings soos kill teams en legit. Hy het geen probleem om Engels en Afrikaans te meng nie en dit lees amper meer natuurlik. Daar is sulke mooi Afrikaanse woorde, soos “afwyking”, “gewerf” en “opstand”, of “slagpenne” en “ontstekers”, dat bostaande woorde nie lekker op die bladsye vlot nie.
En ja, ek weet, daar is dié wat sê Afrikaans is ’n lewende taal wat aanpas en groei en buigbaar is, maar dié direkte vertalings – of dalk eerder woorde wat al meer in die volksmond gebruik word – staan vir my uit in ’n see van poëtiese Afrikaans – iets waarvoor Wolmarans bekend is.
Hoe dit ook al sy, die boek is die ideale vermaak vir ’n lang aand voor die kaggel met ’n glas rooiwyn. Die storielyn is goed ontwikkel, verklap net genoeg om jou te laat wonder oor die volgende kinkel, en die spanning is deurgaans teenwoordig.
Ek hoop daar is nog vele Texeria-avonture, want soos met goeie speurfilms en -reekse is ervaring, die vermoë om planne te maak en kop te hou, soms baie belangriker as moderne (feilbare) tegnologie – veral in die bos.
Lees ook:
The post <em>Dolos</em> deur Jaco Wolmarans: ’n resensie appeared first on LitNet.