
Salemstraat deur Erla Diedericks is beskikbaar by LAPA.
Titel: Salemstraat
Skrywer: Erla Diedericks
ISBN: 9781776359745
Uitgewer: LAPA
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Wat weet jy van kraaie? Ek het geweet hulle hou van blink goed, en dat Nadine sing van ’n witborskraai wat hiervandaan na Mosselbaai hoog gevlieg en laag gedraai het. Hier in die Overberg is hulle oral te sien, daar is ten minste een op elke vyfde kragpaal.
Erla Diedericks het gemaak dat ek nooit weer in my lewe met dieselfde oë na hierdie voëls sal kan kyk nie. Met haar boek Salemstraat het sy my al van die eerste bladsy af gevange gehou. Ek het baie lank laas so lekker gelees aan ’n boek. Die storie is so onvoorspelbaar soos die Kaapse weer. In Salemstraat kuier en bly die inwoners heel gemaklik langs mekaar en die lewe gaan sy gewone gang. Maar dis nou net hier waar al die moeilikheid begin, want hoe gewoon is jou bure se lewe? Daar is ’n gesegde wat ek al meer as een keer gehoor het; dit lui: Wat agter ander mense se toe deure aangaan, weet net hulle alleen. Maar wat gebeur as daar net een bly lewe nadat twee skote die buurt omvergooi? Net sy sal weet, intussen is die verdedigendes en die veroordelaars soms in een huis. Die reaksie van ’n pragtige rooikop boheemse vrou wat die hele buurt rondvra na haar mannetjieskat Millie se verdwyning veroorsaak diep en deurdringende vrae wat ewe ongemaklik en raaiselagtig is vir almal.
.....
In Salemstraat kuier en bly die inwoners heel gemaklik langs mekaar en die lewe gaan sy gewone gang. Maar dis nou net hier waar al die moeilikheid begin, want hoe gewoon is jou bure se lewe?
.....
In die straat bly ’n rondlopereggenoot MJ Riaan, ’n jong joernalis, met ’n lastige hoeveelheid testosteroon. Zeta die beautician wat haar salon van die huis af bedryf, wat weet hoe vol blou kolle die vrou wat ook in die straat bly, se lyf is. Die Russiese Natasja wat werk as ’n vertaler wie se voorsate sterk vroue is, weet watter rituele en inkantasies die bose kan verjaag. Dan is daar die getroude egpaar Stefaans en Nellie. Nellie kon uit ’n verhouding ontsnap wat deurspek was met mishandeling. Sy en Stefaans is op ’n goeie plek, hulle dryf gedurigdeur die spot met mekaar. Emilee is MJ se vrou, ’n konsertpianis wat nie meer hoef te werk nie, en dit is sy wat na haar kat soek en ook vermoedelik verantwoordelik is vir die geweerskote. Die ongeuiterde vraag in die straat is: Hoekom? En watter aandeel het elkeen van die inwoners aan MJ se dood?
In hierdie straat kruip daar meer weg as die kat wat gesoek word. Dit is wat Erla Diedericks met elke hoofstuk ontbloot, meesterlik uit die perspektief van elke karakter in elke hoofstuk.
Salemstraat is soos ’n legkaart waarvan die stukkies van elke item in die prent in afsonderlike sakkies gesit is. Jy trap in ’n baie fyn-beplande strik as jy dink dit maak die legkaart maklik.
Die boek lees maklik en heerlik. Voordat jy jou kan kry, is beurtkrag lankal verby en skyn jou leesliggie saam met die bedlampie tot die volgende fase weer die lig van die bedlampie afsit. Jy bly egter steeds lees, met of sonder Eskom se toestemming.
Salemstraat is ’n kragtoer van al wat ’n emosie en sosiale kwessie is. Gesinsgeweld, kindermishandeling, drankmisbruik, egbreuk, ontkenning en die leuens wat geglo word omdat dit makliker is as die erkenning van die waarheid. Dis amper iets soos seks, drank en die maanligserenade, of dan sex, drugs and rock ’n roll: Die polisie se onvermoë om pro-aktief op te tree, die wet se s-draaie en die sielkunde se studies wat alles saamwerk om alles wat verander, presies dieselfde te los.
Daar word deesdae baie meer gedoen om kinders bewus te maak van emosies, sodat hulle dit beter kan verstaan. Ek dink egter daar word nie genoeg gedoen om almal te leer hoe om emosies te herken en hoe om dit te erken nie. Waarom word woedeuitbarstings eers hanteer nadat dit mense reeds beskadig het? Maak die alombekende anger management deel van die vroeë kinderontwikkeling se skoolkurrikulum! Leer ons jong kinders wat narsisme is en hoe om die tekens daarvan te kan uitken.
Om emosies te ontken en te onderdruk, is ’n gewaarborgde uitbarsting of ineenstorting wat wag om te gebeur. En wanneer die pawpaw die spreekwoordelike fan strike, is dit allesbehalwe mooi en te verwagte. Mense wat as kinders in huise grootgeword het wat deur woede en vrees bestuur is, is lewenslank gekneus. Dit neem jare se berading en onvoorwaardelike liefde van ’n lewensmaat en vriende om die mure en selfverdedigingsmeganismes af te breek, net om ’n matige ongekompliseerde lewe te lei. Die onbestuurbare eksterne faktore raak al meer uitdagend, en as ons nie weet hoe om aanpasbaar te wees en hoe om ons emosies te beheer nie, gaan elke dag ’n slagveld wees. Dit is ongelukkig ’n sosiale sneeubal wat alreeds reusagtig is. Nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd kan dit daagliks in die koerantopskrifte gesien word. “Regeer” en “beheer” het sinoniem geword met “onderdrukking” en “armoede”, in alle vorme. Indien ons nie emosioneel veerkragtig is nie, gaan ons dit nie maak nie.
Die vrae wat Salemstraat wakkergemaak het, laat my soms glimlag oor my simpel gedagtes, net om dadelik weer te wonder of ek nie dalk iets hier beet het nie.
My buurman wat met sy hond voor my huis verbystap, kan dalk baie meer wees as net ’n man en sy hond … Wat gaan agter daardie deure aan? Waarom het hy dadelik sulke hoë mure om die huis gebou net nadat hulle hier ingetrek het? (Ek weet dat dit die wind keer om sy plantjies in sy mooi groentetuin flenters te waai.) Of is dit ’n goeie dekmantel, in die geval ’n betonverskansing, vir iets meer sinister?
Lees ook:
The post Oor kraaie en neste: ’n lesersindruk van <i>Salemstraat</i> deur Erla Diedericks appeared first on LitNet.