Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1814

Know my name deur Refiloe Moahloli: ’n lesersindruk

$
0
0

Agtergrond: Larisa Koshkina | Pixabay

Titel: Know my name
Skrywer: Refiloe Moahloli
Illustrasies: Katlego Keokgale
ISBN: 9781776250721
Uitgewer: Pan Macmillan

Koop die boek by Graffiti.

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Know my name (in Afrikaans vertaal as Dis my naam) is, volgens Pan Macmillan se webwerf, bedoel vir ses- tot negejariges. Dit is ’n boek met hoofstukke, dit beslaan 70 bladsye en het ongeveer 13 000–14 000 woorde.

In hierdie boek begin Rorisang en Mo, haar tweelingbroer, die nuwe jaar by ’n nuwe skool. Rori wil graag, soos in haar ou skool, geken word en ’n merk maak, maar haar aanvanklike pogings eindig in mislukking. Sy staan in die skaduwee van haar broer en haar aartsvyand, Alicia. Sy maak uiteindelik haar merk by die Eisteddfod as pryssanger, maar eers nadat sy geleer het dat ’n goeie pryssanger ten eerste haarself prys.

Rorisang en Mo is 11 jaar oud.

Die storie word uit Rori se oogpunt vertel in die eerstepersoon. Ons ontmoet ook baie gou die ander karakters, met puik karakterisering wat sorg vir humor en spanning. Ons het hier te doen met ’n Suid-Afrikaanse Tswana-gesin: die streng ma wat met ’n ferm, liefdevolle hand regeer, die onbekommerde, sokkermal pa en die loskop seun wat moeiteloos deur die lewe gaan maar nogtans links en regs pryse inpalm. Die karakters word bekendgestel deur dialoog en aksies, eerder as direkte beskrywing. In Rori se geval kry ons ook innerlike dialoog en ’n uitstekende voorbeeld van wys sonder om te vertel op bladsy 13. Twee ander meisies by die nuwe skool nooi haar om by hulle te kom sit en “as soon as they do, the hotness I’ve been feeling in my face starts to cool down.”

Rori kry te doen met die tipiese probleme van kinders in die ouderdomsgroep sewe tot 13. Dit sluit in wedywering tussen broer en suster, ’n minderwaardigheidsgevoel teenoor sibbe, die onregverdigheid van ouers (wanneer sy gestraf word vir haar broer se oortreding) en die drang na onafhanklikheid (Rori wil haar eie YouTube-kanaal begin, maar haar ma weier). Die temas maak dit dus toeganklik vir lesers binne hierdie ouderdomsgroep, maar ek voel wel dat ses en selfs sewe nog ’n bietjie te jonk is vir hierdie boek. Ek het hierdie boek vir my sesjarige voorgelees en ek kon sien dit het nie soveel aanklank by haar gevind nie.

Die storielyn vind, na my mening, meestal as innerlike konflik plaas. Dis die storie van Rori se reis na selfvertroue en die oorwinning is oor haarself, eerder as ’n uiterlike teenstander. Dis anders as die gewilde storielyn vir hierdie ouderdomsgroep waar die onderdrukte die vyand of boelie, gewoonlik ’n klasmaat wat te alle koste wil wen, oorwin. Die meer komplekse storielyn voel minder bevredigend en selfs teleurstellend aan die einde. Ook beweeg die storie baie stadig – alhoewel daar spanning is – en word dit kompleks met baie karakters en verskillende situasies. Ek het byvoorbeeld gewens daar kon weer ’n sagtebalwedstryd wees vir Rori om haarself te bewys ná haar eerste mislukking, maar daardie bevrediging is my nie gegun nie.

Ten spyte van die ietwat komplekse storielyn is daar heelwat positiewe dinge wat ’n mens kan uitlig. Die illustrasies is modern en vang die oog. Die boek is ook vernuwend vir die Afrikaanse mark omdat dit uit die oogpunt van ’n Tswana-gesin vertel word. Die multikulturele agtergrond van die storie hou enersyds tred met kulturele veranderinge in Suid-Afrika en is andersyds ’n aansporing om hierdie verandering teweeg te bring. Dit is ’n antirassistiese boek.

Lees ook:

The post <i>Know my name</i> deur Refiloe Moahloli: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1814