...
Cut to the chase is ’n belangrike bydrae tot die akademiese veld van draaiboekskryf omdat dit vanuit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt geskryf is.
...
Titel: Cut to the chase
Skrywer: Janet van Eeden
ISBN 9781928215912
Uitgewer: Modjaji Books
Nie-skrywers verkeer dikwels onder die wanindruk dat as jy kan skryf, kan jy enige iets skryf. Elke skryfgenre het egter sy eie stel reëls, riglyne en strukture wat gevolg moet word om suksesvol te wees. ’n Goeie romanskrywer is nie noodwendig ’n goeie draaiboekskrywer nie en vice versa. Om ’n nuwe genre aan te pak, kan uitdagend wees, veral as jy nie weet waar om te begin nie. Bondig en tot die punt maak Cut to the chase ’n goeie wegspringboek vir enige skrywer wat sy of haar hand aan draaiboekskryf wil waag.
Dit is duidelik dat Van Eeden gemaklik is met klasgee en om informasie eenvoudig en verstaanbaar oor te dra. Die boek word op informele geselstrant aangebied wat dit maklik maak om deur te werk. Sy gebruik baie voorbeelde uit haar eie werk wat die leser daarop attent maak dat sy uit ondervinding praat en skryf. Van Eeden skroom ook nie om te vertel van die slaggate langs die pad wat sy self in vasgeval en moes navigeer nie. Vir ’n nuwe skrywer is dit gerusstellend om te weet daar is kenners by wie se foute jy kan leer.
Cut to the chase is ’n gebruikersvriendelike handleiding sonder oorweldigende gebruik van vaktaal wat vir die beginner intimiderend kan wees. Elke hoofstuk is bondig, fokus op ’n spesifieke onderwerp en word afgesluit met take wat die leser help om dit wat bespreek is, prakties in hul eie teks te gaan toepas. Indien jy getrou deur die boek werk en elke taak voltooi, kan jy aan die einde van die boek klaar wees met die eerste weergawe van jou eie draaiboek. Dit is geweldig nuttig om prakties dit wat jy lees, dadelik te kan toepas in plaas daarvan om net die teoretiese kennis op te doen en dan nooit by die skryf van jou teks uit te kom nie.
Die kombinasie van verskillende teoretici se benaderings tot draaiboekskryf, dien ook as ’n goeie inleiding vir die beginner tot ander skrywers en kenners in die veld. Elke hoofstuk word afgesluit met ’n leeslys van skrywers en boeke waarna verwys is vir verdere ondersoek en oplees.
Iets wat vir my steurend was, is die sydelingse opmerkings wat die skrywer oor ander kenners maak, spesifiek Robert McKee en Syd Field. Beide McKee en Field is gerekende teoretici in dié veld en hul boeke word hoog aangeskryf op internasionale vlak vir draaiboekskrywers. As outoriteitsfiguur kan ’n mens maklik jou lesers negatief beïnvloed teenoor ’n ander skrywer se werk waarby die individu dalk aanklank sou gevind het. ’n Beginnershandleiding moet die leser blootstel aan ander kenners in die veld en hul die vryheid gee om self verder te gaan lees en te besluit by wie en wat hulle aanklank vind of dan nie, sonder om deur die skrywer se persoonlike opinie beïnvloed te word.
Storiestruktuur, vertel- en skryftegnieke en karakterisering word baie bondig in die eerste drie hoofstukke bespreek met verwysings na onder andere Linda Seger, Christopher Vogler en Robert McKee se benaderings tot hierdie onderwerpe. Siende dat dit slegs ’n inleidende boek tot die onderwerp is, is dit seker te verstane dat daar nie in soveel diepte ingegaan kan word op die verskeie teoretiese aspekte nie, maar ek dink wel dat dié drie hoofstukke nog so ’n bietjie uitgebrei kon word. Dit sou nuttig gewees het om die hero’s journey-opsomming in hoofstuk een ook aan die hand van ’n voorbeeldteks te behandel om so ’n bietjie meer insig in die struktuur van ’n storie te kon kry. Die opsomming bied aan die leser ’n baie bondige samevatting van verskillende skrywers se benoemings van en benaderings tot die hero’s journey-storiestruktuur. Wanneer ’n mens begin skryf, is die struktuur van jou storie ’n belangrike aspek om in gedagte te hou, veral omdat die struktuur van ’n draaiboeknarratief anders verloop as dié van byvoorbeeld ’n roman.
Cut to the chase is ’n belangrike bydrae tot die akademiese veld van draaiboekskryf omdat dit vanuit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt geskryf is. Ons film- en televisie-industrie lyk en funksioneer anders as die Europese of Amerikaanse industrieë. Ongelukkig word die meeste akademiese handleidings binne laasgenoemde kontekste geskryf. Die laaste hoofstuk bied waardevolle raad en insigte ten opsigte van befondsing soek vir jou draaiboek binne die Suid-Afrikaanse industrie. Dit is ’n onderwerp wat nie dikwels in skryfhandleidings aangeraak word nie en wanneer dit wel gedoen word, word dit vanuit ’n internasionale konteks bespreek wat nie altyd toepaslik is hier in Suid-Afrika nie.
Enige iemand wat belangstel in draaiboekskryf, sal aanklank vind by Van Eeden se boek. Cut to the chase is kort en kragtig en gee al die nodige inligting deur jou aan die skryf te kry. Dit is nie die enigste handleiding oor draaiboekskryf wat jy ooit gaan besit nie, maar dit is beslis ’n baie goeie begin en inleiding tot die veld.
Lees ook:
Cut to the chase: Scriptwriting for beginners – an interview with Janet van Eeden
The post <i>Cut to the chase</i> deur Janet van Eeden: ’n goeie wegspringboek vir jong draaiboekskrywers appeared first on LitNet.