Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1801

Twee Suid-Afrikaners kan die wêreld iets leer: ’n lesersindruk

$
0
0

...
Indien albei boeke in Engels vertaal en reg bemark word, is daar geen rede dat hulle nie op die New York Times se blitsverkoperslys kan verskyn nie.
...
Titel: Ivoor
Skrywer: Jaco Wolmarans
ISBN: 9780624092629
Uitgewer: Tafelberg
Titel: Buit
Skrywer: Dibi Breytenbach
ISBN: 9780795710605
Uitgewer: Kwela

 

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

My vrou het vir ons seuns dieselfde Kersprentjie gegee om in te kleur. Terwyl ek na hul prente teen die yskasdeur kyk, dink ek: dit is hoe die politieke spanningsgenre deesdae lees. Dieselfde prentjie, net anders ingekleur.

Nie? Probeer gerus met elke boek ’n unieke lesersindruk neerpen.

Kom ek daag jou uit: skeur al die name van die voorblaaie af – Brad Thor, Brad Taylor, Dalton Fury, Jack Carr, ensovoorts. Dan vra jy jou af: wat maak dat hierdie boek uitstaan?

Die voorblaaie lyk meestal dieselfde en die titels weergalm eenders: Black site, Operator down, Black flag, Takedown, Full black, Black list. Die meeste skrywers is deesdae eks-spesialemagte of -CIA en hul boeke is deurdrenk met “insider information”. Almal ken uiteraard hul vuurwapens en die karakters is ’n kloon van een of ander spesialemagteoperateur. Selfs met die storielyne voel dit asof as jy die een gelees het, het jy almal gelees.

Waar is die The charm school (Nelson DeMille), The hunt for Red October (Tom Clancy), The day of the Jackal (Frederick Forsyth) en I am Pilgrim (Terry Hayes) van hierdie dekade? Laasgenoemde is in 2012 met die stelling “The only thriller you need to read this year” op die voorblad bemark, en dit is waarna ek as leser soek – daardie een of twee boeke wat bo die res uitstaan.

Ek het byvoorbeeld in die laaste week Coup d’état (Ben Coes) en The night agent (Matthew Quirk) gelees. Albei skrywers se name is op my wil-lees-lys wanneer ek in ’n tweedehandseboekwinkel rondsnuffel, maar nie een van die twee haal my boekrak nie. Ek het geen begeerte om die boeke weer te lees of vir my seuns te bêre nie.

Ek voel sterk dat die antwoord in Suid-Afrika lê. Jaco Wolmarans se Ivoor en Dibi Breytenbach se Buit sal nie net die leemte vul nie, maar sommer ook die genre upgrade. Indien albei boeke in Engels vertaal en reg bemark word, is daar geen rede dat hulle nie op die New York Times se blitsverkoperslys kan verskyn nie.

Ek belowe dit is nie omdat hulle plaaslike stemme is nie, maar omdat hul vars aanslag nuwe diepte in die politieke spanningsgenre bring.

Ek gee toe Wolmarans volg Andy McNab en Chris Ryan se formule, maar anders as die voormalige SAS-helde skryf hy asof hy op steroïdes is. Hy het ’n bewondering vir die recces sonder om ’n windgat ek-was-daar-atmosfeer te skep. Sy karakters is ook nie Rambo-superfigure nie. Hulle is emosioneel-weerbaar.

Waar baie skrywers op tegniese detail fokus om lesers in aanhangers te verander, spits hy hom toe om met sy videovervaardigersoog sy omgewing visueel te skets. Dit voel amper of ons lesers in die recces se voetspore loop. Sy bostonele leef met reuk en klank.

Breytenbach is ’n ervare krimiskrywer en gebruik haar ondervinding om vyf storielyne in Buit deur mekaar te weef. Kan jy dit glo; selfs ’n kannibaal en sadistiese reeksmoordenaar. Dit voel asof ons arme lesers teen die grootmeester Bobby Fischer skaak speel.

Omdat sy nooit op operasionele gebied was nie, gebruik sy die natuur om lesers uit hul slaapkamer te ontvoer en tot diep in die bos te sleep. Dit is egter haar metaforiese gebruik van natuurbeelde om die lesers deurentyd in die bos gevangene te hou wat Buit laat uittroon. En asof dit nie genoeg is nie, span sy die natuurbeelde meesterlik in om spanning op te bou, en selfs om spanning mee te skep.

Een van die bekendste visuele simbole in die rolprentvervaardiger John Woo se flieks (The killer en Mission: Impossible 2) was die wit duiwe wat gereeld tydens skietgevegte rondgevlieg het. Sy doen iets soortgelyks met duiwe wat koer, kwêvoëls, bromvoëls en uile wat roep. Sy fokus veral in die eerste helfte van die roman daarop asof sy die leser wil herinner dat jy nou in “donker” Afrika weghardloop. Sodra die leser die bosgeluide gewoond geraak het, raak dit stiller. Soos die stilte voor die storm.

Beide Wolmarans en Breytenbach se boeke staan in my boekrak op aandag, reg langs Stephen Hunter (Point of impact), AJ Quinnell (In the name of the father), Glenn Meade (Snow wolf) en James Thayer (White star).

Lees ook:

The post Twee Suid-Afrikaners kan die wêreld iets leer: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1801


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>