Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1801

The presidents. From Mandela to Ramaphosa, leadership in the age of crisis deur Richard Calland en Mabel Sithole: ’n resensie

$
0
0

The presidents. From Mandela to Ramaphosa, leadership in the age of crisis deur Richard Calland en Mabel Sithole. Penguin Books. 247 bladsye

 

............
Hierdie boek bekyk die gehalte en leierskapstyl van Suid-Afrika se vyf presidente sedert die demokratiese oorgang in 1994 en die invloed daarvan op die land, sy ekonomie en sy burgers.
...............

Hierdie boek bekyk die gehalte en leierskapstyl van Suid-Afrika se vyf presidente sedert die demokratiese oorgang in 1994 en die invloed daarvan op die land, sy ekonomie en sy burgers.

Calland is ’n bekende akademikus en politieke kommentator wat dekades gelede Brittanje vir Suid-Afrika verruil het en homself sedertdien diep in die politiek van hierdie land ingegrawe het. Sithole is ’n bekroonde uitvoerende kunstenaar, aktivis en programkoördineerder aan die Universiteit van Kaapstad.

’n Mens kry die indruk dat Calland se stem in hierdie narratief dié van Sithole oorheers, soos onder meer blyk uit die feit dat die (baie opwindende en lewendige) eerstepersoonsvertellings in die teks, wat handel oor politieke gebeure waar die skrywer persoonlik teenwoordig was, elke keer uit Calland se oogpunt vertel word. Daar is geen eerstepersoonsvertelling deur Sithole oor enige belangrike politieke gebeure waarby sy teenwoordig was nie. Dit skep die ongemaklike gevoel van ’n ongelyke inset, ’n oorhelling na die oogpunt van slegs een van die twee outeurs.

.............
Daar is geen eerstepersoonsvertelling deur Sithole oor enige belangrike politieke gebeure waarby sy teenwoordig was nie. Dit skep die ongemaklike gevoel van ’n ongelyke inset, ’n oorhelling na die oogpunt van slegs een van die twee outeurs.
.............

Laastens, wat die skrywers betref voordat ek oorbeweeg na die bespreking van die teks: Calland is so onlangs as verlede jaar in omstredenheid gedompel toe hy deur Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering, aangewys is as een van die paneellede wat moes aanbeveel of pres Cyril Ramaphosa in ’n staat van beskuldiging geplaas moes word as gevolg van die beskuldigings van wangedrag rakende sy wildsplaas, Phala Phala.

Calland het van die paneel onttrek nadat sowel die DA as die EFF aangevoer het dat hy bevooroordeeld ten gunste van Ramaphosa is. Indien hulle ’n punt beetgehad het, is dit bepaald nie duidelik in hierdie boek nie. Ramaphosa word met dieselfde meetsnoer as die ander vier staatshoofde gemeet.

Ter sprake is dus die bewindstydperke van Nelson Mandela, Thabo Mbeki, Kgalema Motlanthe, Jacob Zuma en Cyril Ramaphosa (tot Junie verlede jaar, wat seker maar is toe die boek ter perse gegaan het). 

Die meetsnoer aan die hand waarvan die vyf presidente beoordeel word, is etiese leierskap binne ’n raamwerk van “voortdurende krisis” waarin die skrywers aanvoer dat staatshoofde en regeringsleiers deesdae verkeer. Indien so ’n aanname – soos dit wil voorkom – wil veronderstel dat daar tans meer krisisse vir staatshoofde en regeringsleiers is as, sê maar, ’n eeu gelede, sou mens reken dit is ’n uiters kontensieuse vertrekpunt waarmee gemaklik verskil kan word. Leierskap op daardie vlak was nog altyd uitmergelend vir diegene wat daarmee toevertrou is.

............
Die meetsnoer aan die hand waarvan die vyf presidente beoordeel word, is etiese leierskap binne ’n raamwerk van “voortdurende krisis” waarin die skrywers aanvoer dat staatshoofde en regeringsleiers deesdae verkeer. Indien so ’n aanname – soos dit wil voorkom – wil veronderstel dat daar tans meer krisisse vir staatshoofde en regeringsleiers is as, sê maar, ’n eeu gelede, sou mens reken dit is ’n uiters kontensieuse vertrekpunt waarmee gemaklik verskil kan word.
................

Vyf aspekte van leierskap dien as raamwerk vir Calland en Sithole se beoordeling van die vyf presidente. Eerstens kom hul vermoë om ’n strategiese visie te ontwikkel ter sprake. Tweedens is daar die vermoë om daardie strategiese visie uit te voer. Die derde aspek is aanvoeling (nous) by strategiese denke, en die vermoë om buite die konvensionele raamwerk te dink. Vierdens verreken die skrywers die vermoë van elke leier om die politiek van die dag te bestuur, en laastens die leiers se kommunikasievaardighede – die vermoë om hul visie en hul praktiese bestuur van die land so oor te dra dat die publiek en die kiesers daarop inkoop.

Die hoofstuk oor Mandela is die eenvoudigste. Soos die meeste van ons wat daardie heerlike tydperk kon meemaak sou saamstem, was Mandela se bewind ’n goue vyf jaar in Suid-Afrika se geskiedenis. Mandela was geen heilige nie, maar het uitgestaan bo sy voorgangers, tydgenote en opvolgers as ’n gewone mens wat in sy gedrag bo die gewone uitgestyg het. Calland en Sithole wys veral op sy gewilligheid – trouens, sy aandrang daarop – om in die ope hof te getuig toe die destydse rugbybaas, Louis Luyt, beweer het Mandela het die instel van ’n ondersoek na die rugby-owerhede nie genoegsaam oordink soos die wet vereis nie, as voorbeeld van hoe hoog Madiba die reg, die regstaat en die Grondwet aangeslaan het, vergeleke met sy opvolgers. As mens kyk na die wyse waarop veral Zuma, maar ook deesdae Ramaphosa, verantwoordbaarheid in die hof vermy, is Mandela se gedrag inderdaad werklik merkwaardig.

Een van die boek se grootste punte van kritiek op Mandela se bewind is bepaald van toepassing – dat die ANC-koukuslede toe al gedwing is om die party se belang bo landsbelang te stel. Hiervoor word die suiwer proporsionele aard van die parlementêre stelsel tereg geblameer.

Nog ’n aspek waaroor Calland en Sithole die spyker op die kop slaan, is dat Mbeki se grootste flater was om die SAKP en Cosatu so algeheel te vervreem dat hulle (selfs) bereid was om Zuma teen hom te ondersteun by die ANC-konferensie in Polokwane in 2007.

Calland en Sithole maak die stelling dat die apartheidsregering van FW de Klerk traag was om die MIV/Vigs-pandemie te takel en te bestry omdat dit (volgens hulle) ’n swart en gay-siekte was. Hulle het in hierdie verband swak navorsing gedoen. Hulle blyk onbewus te wees van die klipharde werk van die destydse minister van gesondheid, Rina Venter, en aktiviste soos Reuben Sher. Sulke stellings dui op ’n mengsel van oningeligtheid en selfversekerdheid wat die skrywers geensins tot eer strek nie.  Dit blyk ’n taktiek van die twee skrywers te wees om Mbeki se verwerplike en rampspoedige (mens voel in die versoeking om te sê moorddadige) MIV/Vigs-beleid in ’n relatief sagter lig te stel.

..............
Calland en Sithole is voorts op losse skroewe as hulle aanvoer dat die vergroting van die presidensie onder Mbeki tot meer deurdagte besluitneming gelei het. Hulle bly ook in gebreke om te besef dat die agteruitgang van Eskom reeds onder Mbeki en sy minister van finansies, Trevor Manuel, begin het, omdat die vereiste herbelegging van wins in instandhouding en die bou van nuwe kragstasies klaaglik verontagsaam is. Hul sondes sal hulle besoek word!
..............

Calland en Sithole is voorts op losse skroewe as hulle aanvoer dat die vergroting van die presidensie onder Mbeki tot meer deurdagte besluitneming gelei het. Hulle bly ook in gebreke om te besef dat die agteruitgang van Eskom reeds onder Mbeki en sy minister van finansies, Trevor Manuel, begin het, omdat die vereiste herbelegging van wins in instandhouding en die bou van nuwe kragstasies klaaglik verontagsaam is. Hul sondes sal hulle besoek word! Dieselfde geld Mbeki se papperige beleid teen die voortdurende menseregteskendings in Zimbabwe tydens die bewind van Robert Mugabe, waaroor die skrywers darem strenger oordeel.

Dit is duidelik dat Calland en Sithole heelwat beter toegang tot ’n wyer verskeidenheid Mbeki-regeringsamptenare as amptenare van sommige van die ander vier presidensies het, en dat dit hulle dalk ’n bietjie te positief gestem het oor die Mbeki-jare. Hulle bewering dat die intelligensiedienste onder Mbeki so effektief was dat die onluste van Julie 2021 nie onder sy bewind sou kon gebeur het nie, toon dat hulle uit voeling was met die destydse werklikhede en getuig nogmaals (soos met die MIV/Vigs-stellings) van goedgelowige onkunde. Hulle is darem wel baie krities oor Mbeki se rol in en hantering van die wapentransaksie – die moeder van Suid-Afrikaanse demokratiese korrupsie. Watter afskuwelike nageslag het dié moeder tog nie voortgebring nie!

Die hoofstuk oor Motlanthe is so kort soos sy ampstermyn, maar bevat twee belangrike hoofpunte oor hoekom hierdie stil man van die Suid-Afrikaanse politiek so hoog aangeslaan word. Eerstens kon hy konsensus bou en tweedens het hy korrupsie bekamp. Sy persoonlike mening oor die positiewe rol van kaderontplooiing tydens sy bewind is regtig baie interessant in die konteks van huidige gebeure.

............
Ai, en dan kom Zuma aan die beurt. Calland en Sithole se ontleding van die “nege verlore jare” is netjies, en wyk nie af van die algemene konsensus nie. Dis deeglik sonder om werklik iets nuuts tot die diskoers oor die Zuma-jare by te dra.
..............

Ai, en dan kom Zuma aan die beurt. Calland en Sithole se ontleding van die “nege verlore jare” is netjies, en wyk nie af van die algemene konsensus nie. Dis deeglik sonder om werklik iets nuuts tot die diskoers oor die Zuma-jare by te dra.

Daar is twee uitsonderings hierop, wat ook die hoogtepunt van die hoofstuk vorm. Eerstens identifiseer Calland en Sithole ses “strategieë” van Zuma vir staatskaping: Kies jou teikens, neutraliseer diegene wat teenstand bied, plaas lojaliste in poste, hou op rekord hou van presidensiële besluite, neem die intelligensiedienste oor, en maak jouself ontoerekenbaar. Hierdie beweerde strategiese plan is lekker gespreksammunisie, maar dis ’n ope vraag of Zuma so planmatig was – ek dink nie hy het die kognitiewe vermoë daartoe nie. Die ander uitsondering op konvensie wat die uitkyk op Zuma betref, is dat die skrywers die sterkste bevindings van die Zondo-kommissie oor Zuma netjies en bruikbaar katalogiseer.

By verre die langste hoofstuk in die boek handel oor Ramaphosa se presidensiële vertoning tot omtrent Junie verlede jaar. Mens kry bykans die gevoel dat die hele boek eintlik maar daarop afgestem is. Om een of ander rede het Calland en Sithole dit nodig geag om Ramaphosa se presidentskap te vergelyk met, en te omraam deur, sommige skrywers se siening van Franklin D Roosevelt se bewind in die VSA, en veral sy eerste termyn. Dit is ’n heel ontoepaslike en onnodige vergelyking. Ten spyte hiervan is die hoofstuk oor Ramaphosa die beste en mees gebalanseerde in die boek. Dit bring nie werklik nuwe insigte nie, maar stel ons almal se teleurstelling in en hoop vir Ramaphosa baie elegant.

Op die keper beskou is hierdie boek bepaald die lees en die aankoop werd. Hoewel dit nie asembenemende nuwe insigte bring nie, is dit ’n bruikbare opsomming en bestekopname van presidensiële leierskap in ’n demokratiese Suid-Afrika. Dis nie ’n briljante boek nie, maar beslis ’n baie goeie een.

 

  • Jan-Jan Joubert is ’n politieke joernalis en skrywer wat tans besig is met ’n doktorsgraad in politieke wetenskap aan die Universiteit van Chester.

The post <em>The presidents. From Mandela to Ramaphosa, leadership in the age of crisis</em> deur Richard Calland en Mabel Sithole: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1801


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>