Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1799

Meer "killer" as die eerste, ’n resensie van Onke Mazibuko se The second verse

$
0
0

Titel: The second verse
Skrywer: Onke Mazibuko

ISBN: sagteband 978-1-4859-0472-4
ISBN: elektroniese formaat 978-1-7763-8012-1
Uitgewer: Penguin Random House SA

Daar stort ek sommer weer ’n traan toe ek die epiloog ’n tweede keer lees. Hoe magies is stories darem, hier sit en snik ek meelewend oor die lief en leed van ’n jong Xhosa man in die Oos-Kaap wat op die drumpel van die nuwe millennium ná talle terugslae sy pad in die lewe vind. The second verse is Onke Mazibuko se debuutroman en hy skryf of dit tweede natuur is.

Die storie begin in Oos-Londen, oftewel “Slummies”, in 1998; dit is die hoofkarakter Bokang Damane se gr. 11-jaar. Hy’t pas ’n opstel oor selfdood geskryf en die onderwysers is geskok en bekommerd oor hom. (Of dalk eerder oor die spogskool se naam as iets tragies sou gebeur?)

Bokang bevind hom in Mr Knowles, die onderhoof en beradingsonderwyser met sy aaklige bruin pak, se beknopte kantoor. “Punk-ass Knowles” spreek sy naam verkeerd uit as Bo-gang, nie Bokang nie. Hy’s in die moeilikheid want hy’t in sy skryfstuk aangevoer wat die wêreld nodig het, is meer genadedoodklinieke “waar jy R100 kan betaal en dan vredig uitgesit word”. Volgens Bokang los dit oorbevolking en mense se reg om te kies hoe hulle tot ’n einde wil kom sommer op een slag op, en kry jy depressiewe mense op die koop toe uit die pad. Jy kan selfs die organe herwin, hy reken dis ’n wen-wen-situasie.

...
Almal beweer hulle wil hom help, maar hy voel by tye absoluut verlate, verskeur tussen twee wêrelde, die hoofsaaklik wit topseunskool en sy problematiese ouerhuis.
...

Dié morele argument vlieg in geen verrassende wending nie natuurlik soos ’n loodballon by die uitgelese en hoogheilige St Stephen’s College. Konsternasie volg, sy ma word ontbied, hy moet die opstel oorskryf en nog ’n klomp terapiesessies by ou Knowles bywoon.  

Bokang is slim en hy kry gewoonlik goeie punte, maar ten spyte van sy afmaak van die opstelfoefie as ’n teoretiese oefening, blyk dit hy het inderdaad ’n “Suicide Manifesto” onder sy bed wat hy die heeltyd bywerk, met ’n lang lys moontlike opsies. “Suicide #11” behels byvoorbeeld om 50 albasters te sluk.

Almal beweer hulle wil hom help, maar hy voel by tye absoluut verlate, verskeur tussen twee wêrelde, die hoofsaaklik wit topseunskool en sy problematiese ouerhuis. Met sy Xhosa pa en Sotho ma en ligter gelaat is hy nie swart genoeg vir die swart skoliere nie en te donker vir die wit kinders (“Mellow-yellow, Ultra-mel,” spot hulle hom in een van sy vele nagmerries).

Die gesin bly in ’n middelklaswoonbuurt, maar sukkel finansieel en kan skaars hul leefstyl daar handhaaf of sy skoolgeld betaal – om nie eens te praat van sy inisiasie nie. En as hy nie eersdaags Ulwaluko, die tradisionele besnydenis en inisiasie, deurloop nie, kan hy nie as ’n ware Xhosa man gerespekteer word nie. Daarby het hulle net een kar en moet die drie kinders in ’n minibustaxi skool toe ry, skaars die soort wiele wat jou op die gewildheidsleer kry.

Sy briljante prokureur-pa, Ernest, hoewel charismaties en met ’n passie vir kennis en boeke, is ’n volslae alkoholis en dobbelverslaafde verkwister en afknouer wat gereeld vir dae aaneen verdwyn. Sy liewe ma, Khensani, is ver van haar komvandaan uit ’n gesiene familie van gemeenskapsaktiviste in Sebokeng in Gauteng. Sy doen haar bes vir die kinders, maar werk elke dag in Bhisho en is aan die einde van haar kragte en afgestomp ná jare saam met ’n ongelukkige, onvervulde monster van ’n man. Boonop is haar mediese fonds uitgeput en sal Bokang maar by die skool berading moet kry.

...
Geen wonder Bokang voel by tye of hy beheer oor sy lewe en toekomsdrome verloor nie. Hy wil in vrede rap en rym, teken aan sy en sy twee beste vriende, Senzo Fihla en Roscoe Munsamy, se strokiesprentboek en wens almal wil hom net uitlos.
...

Sy ma soebat by haar oudste seun dat hy en sy ’n slag weer soos in die ou dae met sonsopkoms see toe ry, net hulle twee by Bonza Bay, en sy probeer uitreik, maar hy voel verraai as hy later besef sy’t sy pa die omstrede opstel laat kry, wat sy Tata laat ontplof, en dat sy ma boonop troos soek by die soetsappige, skynheilige pastoor Mzoli.

Geen wonder Bokang voel by tye of hy beheer oor sy lewe en toekomsdrome verloor nie. Hy wil in vrede rap en rym, teken aan sy en sy twee beste vriende, Senzo Fihla en Roscoe Munsamy, se strokiesprentboek en wens almal wil hom net uitlos. Darem met uitsondering van sy jonger boetie en sussie, hy’s ’n wonderlike ouboet en probeer hulle beskerm. Hy voel verantwoordelik vir die 11-jarige Israel oftewel Izzy, wat ’n obsessie met rugby het en net groot en sterk wil word. Kleinsus Sizwekazi (Siz of Sizwe) is ses en die prinses van die familie, lief vir ballet en nog kinderlik onskuldig en vrolik. Albei smag na hul meestal afwesige Tata se liefde en erkenning. Maar nie Bokang nie, nie meer nie. As sy bakleierige babelas-pa hom dwing om die slordige tuin reg te ruk, sweer Bokang sy omstandighede gaan hom nie knak nie: “Ernest will not get the better of me, that’s for sure. Not now, not ever.”

Een seën van die tydvak is seker dat hy en sy vriende destyds die druk van sosiale media en kuber-afknouery gespaar is. Die laat-1990’s, toe die nuwe SA nasie se reënboogglans nog nie verdof het nie, word kleurvol en klankryk uitgebeeld, dis ’n tyd van Walkmans en foonkaarte en tieners wat Amerikaanse popkultuur en veral musiek na-aap en verafgod. Sy helde is Amerikaanse rappers soos Tupac Shakur en Busta Rhymes. Bokang se rap-naam is The Supreme Khon, en dié verskyn ook in sy deurmekaar drome waar hy immer op soek is na iets. Altyd die opdrag dat hy iets moet vind – maar wat?

Hy gaan soek maar solank dagga by sy ryk Afrikaanse skoolkennis JP, en dié gaan wys hom sy ouers se koivisse. Bokang se vryvloeiende rap-rymelary herinner hom aan die visse se moeitelose swembewegings – en JP pleit by hom dat hy nooit sy kuns en musiek moet opgee nie.

...
Dan gebeur dit: Bokang ontmoet vir Nokwanda Bilitsha, nogal by ’n telefoonhokkie.
...

Dan gebeur dit: Bokang ontmoet vir Nokwanda Bilitsha, nogal by ’n telefoonhokkie (dis die dae voor alle jong mense selfone gehad het). Sy’s lank, elegant, ’n Proteaspan-netbalspeler met ’n afro, koel soos ’n somerbries, uit ’n ryk familie en reeds in matriek by sy kollege se susterskool Meredith House. Bokang gaan kyk een van haar netbalwedstryde, en sy kry sy gesin se nommer in die foonboek en bel hom onverwags.

Sy’t groot drome vir die toekoms en weet reeds sy wil wegkom van haar stiefma en ongevoelige pa, in Kaapstad gaan studeer en die wêreld sien. Ten spyte van die feit dat sy eie pa soos ’n muur in sy pad staan, smee Bokang en Nokwanda ’n band oor hul disfunksionele gesinne en hy leer haar dagga rook. En so begin ’n opwindende maar gevaarlike verhouding, wat uitloop op ’n uitnodiging na haar matriekafskeid – sy’s ’n jaar ouer en boonop in ’n aan-af-verhouding met die skoolheld Napoleon Dikembe, agtsteman van die eerste rugbyspan, “so groot soos ’n minibus en so donker soos olie in ’n drom”, en hy’t ’n skrikwekkende reputasie.

Intussen help Bokang vir ’n wyle vir sakgeld sy pa met admintake by sy chaotiese regspraktyk en oorweeg dit om in sy voetspore te volg en sy kreatiewe drome te laat vaar ter wille van ’n Damane & Seun-praktyk wat reeds op die bordjie pryk.

Maar ’n jakkals verander van hare, nie van snare nie. Die toneel waar sy pa smoordronk en laat by Sizwe se langverwagte balletkonsert opdaag en voor al die ander ouers ’n vernederende bohaai opskop en Bokang die tragedie moet help beredder, met albei die jonger kinders in trane, is hartverskeurend. Hy verwys na sy verraderlike, gewelddadige pa as ’n krokodil wat later die aand wag om toe te slaan en hy moet uit sy kake probeer bly.

Bokang beskryf die impak van sy pa se drinkery, die onuitgesproke donkerte aan die hart van die gesin, as “the thing” en dis onder meer ook wat hom al ’n paar jaar tevore toe hy 12 was, in ’n senukliniek laat beland het. Hy sê op ’n kol: “The biggest mistake parents make with their kids is witholding the truth from them.” Boonop word hy by die skool geboelie, dis ingebed in die tradisie en hiërargie daar, uitpraat help nie. Dis volgens hom ’n “animal factory”.

Daar’s darem Nokwanda se matriekafskeid om na uit te sien, en sy pa van alle mense help hom om ’n pak te kry en ’n chauffeur en blink kar vir die aand, maar dan blyk dit daar was ’n misverstand en sy lewe val dramaties en morsig uitmekaar, vuisgeveg op die skoolgrond en al. In sy donkerste uur wonder Bokang: Is ek soos my pa?

Sjô, ek weeg The Second Verse versigtig in my hand. Dankie tog ons is nog net halfpad op pad na die 375 bladsye en deel III, IV en V lê nog voor. Laat ek nie die hele boeiende storie en ontknoping weggee nie, genoeg om te sê soos Tsjechof se rewolwer kom die manifes en kliniek van vroeër ter sprake, ’n kuier by sy ma se familie in Sebokeng (“[t]hey love Xhosa men out here”) bring perspektief en sy ouers neem uiteindelik ’n besluit oor die toekoms. Sal hy bos toe kan gaan en ’n man word – en weer met sy vriende Senzo en Roscoe versoen? Wat staan in die brief wat Nokwanda geskryf het, en wat gaan hy ná matriek doen? Daar wag nog ’n hele opwindende, maar taai skof op die lang reis na vryheid en volwassenheid vir Bokang Damane.

Die dialoog vloei heerlik gemaklik, dis eg Suid-Afrikaans en klink waarheidsgetrou aan die laat-90’s vir ’n uitgelese seunskool waar leerlinge uit ’n wye verskeidenheid agtergronde kom. Bokang word onder meer geboelie deur die “Batter and Brawl Twins”, soos hy hulle noem:

“What’s this kak I hear you tried to kill yourself?” Duncan asks.

“I didn’t.”

“What?” Chad says, putting pressure on my shoulder.

“I said I didn’t.”

“You see,” Duncan says, turning to his mate. “I told you it was kak. Listen, Dama-nee bru, you don’t ever kill yourself without my permission. Otherwise I’ll kill you myself. Okay? Say okay!” Chad crushes me harder against the wall.

Okay, I get it. Don’t kill myself without your permission, otherwise you’ll kill me. Right.”

“Lekker. Because I need you to do another project for me. I got a kak mark in my last science test. You gonna score me a lekker mark, neh?”

“Yeah, whatever, man.”

Dis beslis tieneromgangstaal, kompleet met “dap”-handgroete en die vriende wat skroomloos die n-woord tussen mekaar gebruik. Dit laat ’n leser angstig kriewel onder die kraag, maar dis seker hoe dit was/is? Konteks en herkoms bepaal toelaatbaarheid?

So lekker as wat die taalgebruik is, hoop ek wel om vir ’n wyle nie weer woorde soos “mad” en “dog” so gereeld onder oë te kry nie. Die sleng is so rojaal ingesprinkel dit krap later soos ’n vasgehaakte plaat of geroeste doringdraad.

The Second Verse is verdeel in boeke I tot V en strek van April 1998 tot Augustus 1999, Bokang se matriek-en-inisiasie-jaar. Die hoopvolle epiloog spring vorentoe na Februarie 2000.

...
’n Liedjie se tweede versie altyd meer “killer” moet wees as die eerste. Die ritme moet “slap”, die lirieke dieper en skerper, die gevoel meer intens.
...

Terloops, die titel verwys na ’n gesprek wat Bokang met sy beste pel Roscoe het, waarin dié kwytraak dat ’n liedjie se tweede versie altyd meer “killer” moet wees as die eerste. Die ritme moet “slap”, die lirieke dieper en skerper, die gevoel meer intens. Net so, as ’n mens volgens hom eers een keer in die lewe goed gedoen het, moet jy altyd daarna nóg beter wees. Later herinner Senzo hom ook daaraan om sy “second verse shit” te doen, om sy hart te volg.

Die grootword-manword-mondigword-verhaal is al op vele maniere in ons letterkunde verken, en dié roman is ’n uiters welkome toevoeging wat hopelik wyd gelees sal word. Dis ’n roerende, lekkerleesverhaal met heelwat humor en diep insig in jong mense se psige wat vir seker ook tot vrugbare gesprekke kan lei oor sake soos geestesgesondheid, depressie, selfdoodgevoelens en boeliery, dwelm- en alkoholgebruik, tradisie versus verwestering, die spanning van ras- en klasverskille in skole, en loopbaan-wat-jou-ouers-kies teenoor volg jou talente, hart en drome. Daar’s elemente aan die storie wat ’n mens herinner aan Huck se stryd met sy misrawele nikswerd-pa in Adventures of Huckleberry Finn, en heelwat om te vergelyk met The Catcher in the Rye, ook Holden Caulfield se verhouding met sy suster en in Bokang se geval sy kleinsus, Sizwe, en veral sy boetie, Israel.

Teen die einde kry hy meer begrip vir albei sy ouers se lewenspaaie en verkeerde afdraaie, en stap jy as leser ook waarlik in die brawe jong man se skoene en bekommer jou oor sy lot en toekomsplanne. Soos Atticus Finch vir klein Scout in Harper Lee se To Kill A Mockingbird sê: “You never really understand a person until you consider things from his point of view… until you climb in his skin and walk around in it.” Ons het soveel meer leer, luister en saamstap in hierdie verdeelde land en wêreld nodig. Bravo vir dié broodnodige debuut.

***

Die skrywer, Onke Mazibuko, is ’n praktiserende beradingsielkundige in privaatpraktyk wat onder meer met jong mense werk om die oorgang na volwassenheid beter te hanteer. Hy het ook nagraads in Londen en by GIBS gestudeer en is besig met ’n doktorsgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria.

In ’n onderhoud met Drum verwys hy na sy eie Oos-Kaapse tienerjare in die 1990’s en erken The second verse is semi-outobiografies, ook dat hy later in sy lewe besef het hy was waarskynlik self as tiener depressief. Hy wou ’n “coming of age”-storie vertel, “met die soort swaarkry en kwessies waarmee vandag se tieners steeds kan identifiseer” – en sy boodskap as skrywer én as berader aan depressiewe jong mense is onomwonde: Kry hulp.

Nota in dié verband: Oor die tema van jong Suid-Afrikaners en selfdood moet die onvermoeide werk van prof Lizette Rabe en die Ithemba Stigting genoem word – daar is talle hulpbronne op die stigting se webwerf en ’n volledige kontaklys vir diegene in nood. Ithemba beteken “hoop” in Xhosa: https://ithembafoundation.org.za/page/where-to-get-help.php.

Lees ook:

Waarom gesondheidswerkers Vrydag snaakse sokkies gedra het

The role of destigmatization campaigns in mental health and the legacy that is the #CrazySocks4Docs campaign

#CrazySocks4Docs celebrated at the Nelson Mandela University

’n Unieke noirdebuut: Junx deur Tshidiso Moletsane

The post Meer "killer" as die eerste, ’n resensie van Onke Mazibuko se <i>The second verse</i> appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1799


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>