Titel: Veldhospitaal 12
Skrywer: Marinda van Zyl
ISBN: 9780624092087
Uitgewer: Tafelberg
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Die geskiedenis van Namibië, voorheen bekend as Suidwes-Afrika (SWA), is nie een waarmee die meeste Suid-Afrikaners goed vertroud is nie. Dit ten spyte van die noue historiese bande tussen die twee lande, met Suid-Afrika wat vir SWA effektief as ’n ekstra provinsie bestuur het vir baie jare lank. Sommige mense is bewus van die volksmoord wat daar plaasgevind het, en nog meer weet waarskynlik dat die gebied gekoloniseer is deur Duitsland, waarna die Duitsers die gebied verloor het tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918), voorheen bekend as die Groot Oorlog. Dit blyk dat baie van die gruwels wat daar afgespeel het, selfs vir baie inwoners van Namibië self, grootliks onbekend is. Die mens het dalk maar net dit in sy aard om lelike dinge dikwels te probeer begrawe en vergeet; of ’n aansienlike deel van die gemeenskap het die geneigdheid om altyd beswaar te wil aanteken teen mense wat wil gaan krap en delf in die groot nagmerries van die verlede.
Veldhospitaal 12 is so ’n krap-in-die-verlede-boek wat allermins as gemaklike leesstof beskryf kan word. ’n Mens sou seker die boek as ’n post-koloniale boek kan beskryf, want dis duidelik wie die cowboys is en nee, hulle is beslis nie die goeie ouens nie. Die boek is geskryf in die vorm van briewe, afgewissel met dagboekinskrywinge en, waar dit in die 21ste eeu draai, ook e-posse, SMS’e en WhatsApps. Dit maak die boek heel toeganklik en leesbaar. Daar is nie hoofstukke nie en die briewe lees asof dit elkeen ’n kort hoofstuk is.
Die hoofkarakter in die boek is ene Helmut Schumann, ’n 19-jarige mediese student wat in die jaar 1905 na die veldhospitaal gestuur word deur sy ouers. Helmut het van meet af aan ’n gespanne verhouding met sy ouers, wat hom verkwalik vir sy gedrag aan die universiteit waar hy sy vader in die skande gesteek het. Daar skuil natuurlik veel meer agter die storie, en dit dien as ’n belangrike motief in die boek wat die leser aan die lees hou.
Helmut rig sy briewe aan sy moeder en ook aan ene “Grete”, ’n huishulp van die familie aan wie Helmut baie geheg is, en wat hom help grootmaak het. Dit word dan afgewissel met dagboekinskrywinge. Helmut pleit gedurig tevergeefs dat sy ouers hom moet laat terugkeer na Duitsland, maar hulle weier. Spoedig versleg die gevoelens tussen hulle verder en vir groot dele van die boek skryf Helmut se ma eintlik geen meer briewe aan hom nie. Op sy beurt hou hy egter aan vir sy ma skryf, en hy gebruik die geleentheid om iets te dokumenteer van die skokgebeure by die hospitaal, waar amptenare onder die dekmantel van die mediese wetenskap gruwelike navorsingspraktyke beoefen, en die liggame van mense skend na hartelus. Boonop werk hulle dan ook saam om die eintlike redes vir die skokkende sterftes weg te steek, deur die een sterfte na die ander aan meer “aanvaarbare” mediese kondisies toe te dig, veral skeurbuik.
Die menseregteskendings wat daar plaasvind, en wat Helmut deels dokumenteer, is duidelik bedoel om sy ouers te skok (en ook die leser). Die mans wat deur die koloniale owerhede ingespan word vir arbeid word op uiters onmenslike maniere behandel. Hulle word swak gevoed en geklee. Helmut word al dieper en dieper by hierdie menseregtevergrypinge ingesleep. Hy is duidelik ’n slagoffer van sy omstandighede, maar in die proses verander hy ook in ’n medepligtige in die groot wrede koloniale masjien.
Vir die leser is dit duidelik: Helmut is geen held nie, maar ’n mens staan ook simpatiek met die situasie waarin hy hom bevind. Voorspelbaar wend hy hom dan tot ongesonde meganismes in ’n poging om sy emosionele welstand in balans te hou, veral verdowingsmiddels.
...
’n Mens kan nie help om te wonder of so ’n karakter werklik met soveel skynbare gemak hierdie soort details per brief met sy ouers en hulle huishoudster sou deel nie.
...
Hy ontmoet ene Anita en haar familie, wat ’n bietjie normaliteit aan sy bestaan bring, maar die verhouding loop later dood toe Anita en haar familie trek. Veel meer as dit wil ’n mens nie eintlik hier verklap nie, behalwe om te noem dat die spiraal steeds grotendeels afwaarts is. Nog skokke volg op Helmut se pad, voordat die storie uiteindelik ontknoop.
Daar is heelwat historisiteit aan die verhaal, maar die briewe is duidelik fiktief en so word daar ook ruim van fiktiewe karakters in die storie gebruik gemaak.
Die enigste stukkie kritiek wat ’n mens miskien teen die boek kan hê, is dat die briewe nie enduit oortuig nie. Die details wat Helmut in sommige van sy briewe verklap, is dikwels nie die soort van sake waaroor mense waarskynlik sommer net so maklik met mekaar sou gesels per brief nie. Helmut skryf byvoorbeeld liberaal oor enige saak van sy seksuele verhoudinge tot sy flirtasie met morfien, met al die gruwels wat hy aangesê word om te doen tussenin. ’n Mens kan nie help om te wonder of so ’n karakter werklik met soveel skynbare gemak hierdie soort details per brief met sy ouers en hulle huishoudster sou deel nie.
Dit is egter kleinighede in die groter prentjie.
Die oorwegende indruk wat ek van hierdie boek het, is dat dit ’n interessante onderwerp is wat op ’n boeiende manier verpak is. Deur die gebruik van briewe word die onderwerp op ’n toeganklike manier vir ’n leser aangebied.
Lees ook:
The post Toeganklik, nie maklik nie; ’n lesersindruk van <i>Veldhospitaal 12</i> deur Marinda van Zyl appeared first on LitNet.