Titel: The terminal list
Skrywer: Jack Carr
Uitgewer: Simon & Schuster
ISBN: 9781982152895
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
As jy ’n boek optel en sien dat die skrywer ’n voormalige bevelvoerder in die Amerikaanse Spesiale Magte was, dan weet jy die boek gaan wemel van “insider information” wat geen fiksieskrywer kan uitdink nie. Die detail in Jack Carr se debuutspanningsboek The Terminal List herinner sterk aan Andy McNab se vroeë werke, en dit is weens dié detail dat die Departement van Verdediging eers goedkeuring moes gee voordat die boek gepubliseer kon word.
Carr se hoofkarakter James Reece was nes hy ’n Navy SEAL-bevelvoerder.
Tydens sy laaste operasie in die Khost-provinsie in Afghanistan word Reece se hele eenheid uitgewis, so ook die reddingspan, met Reece as die enigste oorlewende. Met sy terugkeer na Coronado, Kalifornië, word sy swanger vrou Lauren en babadogtertjie Lucy in hul huis brutaal vermoor.
Vir iemand met Reece se opleiding spel dit net een ding uit – wraak. Om petrol op die vuur te gooi, ontdek hy dat hy ’n breingewas opgedoen het wat teruggespoor kan word na die massamoord in Afghanistan. Dit hits Reece aan om diegene wat tot by die top van die Amerikaanse regering strek, te identifiseer en uit te haal. Die regering het baie tyd en geld bestee om hom in ’n moordmasjien te omskep; nou jag hy hulle.
Alhoewel hierdie boek nooit enige literêre pryse sal inpalm nie, sluit Carr hom met hierdie aksie-belaaide debuut by die groot name in die politiese-spanningsgenre soos Brad Thor, Vince Flynn en Brad Taylor aan.
En om Mark Owen, die skrywer van die New York Times-blitsverkoper No Easy Day, aan te haal: “Trust me, you won’t be able to put this one down!”
Lees ook:
The post <i>The terminal list</i> deur Jack Carr, ’n lesersindruk appeared first on LitNet.